Onderhoud I. Danie Marais

’n Toeris in eie land, Deel I

Danie Marais in gesprek met Louis Esterhuizen

 

(Let wel: Hierdie onderhoud het betrekking op

Danie Marais se essay, “Stilte in die hof!”)

 

 

Danie Marais

Danie Marais

  

Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ’n BCom-graad met regsvakke. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis in Kaapstad. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poëzie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en Universiteit van Johannesburg-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ’n misverstand, het in Maart 2009 by Tafelberg verskyn.

 

 

 

 

 

 

Danie, ten eerste – veels geluk met ʼn belangwekkende essay oor die stand van ons digkuns. In ʼn persoonlike opmerking het jy aan my genoem dat jy lank gewroeg het aan die skryf van dié betrokke essay … Wat was dan die katalisator wat jou daartoe genoop het om dié pleidooi  teen die kerkdeure vas te spyker?

 

Baie dankie vir die kompliment Louis, maar ek weet nie lekker waar om te begin met ’n antwoord op jou vraag nie. Want dit was geen enkele katalisator nie – dis ’n ding waaroor ek al lank broei.

Iets wat beslis ’n rol gespeel het, is my betrokkenheid by die Beeld Jeugberaad in die afgelope  vyf jaar. Elke jaar moedig ek en die ander gespreksleiers (Andries Bezuidenhout is ook ’n gereelde medewerker) al die 17-jarige toekomstige hoofseuns, hoofmeisies en toppresteerders aan om betrokke te raak by die gesprekke in Suid-Afrika; om nie uit die staanspoor te aanvaar dat hulle as lede van ’n Afrikaanssprekende minderheid onwelkom is by provinsiale of nasionale instansies waar besluite geneem word nie.

In 2008 het ons spesifiek met die jongmense gesels oor die refrein van Fokofpolisiekar se “Antibiotika”: “Ek’s net ’n toeris in my geboorteland.” [Terloops, Frikkadel (Zach du Plessis) het reeds in die destydse Vetkoekpaleis ’n soortgelyke sentiment verwoord toe hy min of meer gesê het: “Hoekom sal ek oorsee gaan, as ek saans in my eie woonkamer voor die 7-uur-nuus soos ’n vreemdeling kan voel.”] Ons het met die deelnemers die toeriste-sindroom bespreek wat volgens die vooraanstaande Poolse sosioloog Zygmunt Bauman ’n wêreldwye verskynsel is onder landsburgers wat op verskeie vlakke vervreem voel van besluitnemingsprosesse en ’n demokraties verkose regering wat soos ’n alien mother ship – ver, intimiderend en onbereikbaar – bo hul koppe dryf. ’n Toeris het regte, maar geen noemenswaardige pligte of verantwoordelikhede nie.

Ek het aangevoer dat dit nie net wit mense is wat in Suid-Afrika só voel nie – om deel te word van ’n nuwe, inklusiewe bestel moet almal sekere kulturele en taalvoorkeure by die huis los en fokus op ooreenkomste eerder as verskille binne gedeelde demokratiese ruimtes. As beswering van hierdie toestand van apatie en noord kyk – in vele gevalle letterlik met die oog op latere emigrasie – het ek aan die hand gedoen dat ’n mens ten minste probeer om jou in forums buite jou eie gemaksone te begeef omdat jy waarskynlik dan ander ervarings sal hê om jou vooropgestelde idees aan te toets.

En deels is ek ook oortuig hiervan. ’n Voorbeeld: Dit was nog altyd my droom om musiek oor die radio te speel en mense voor te stel aan al my onder die radar-helde wat in ’n regverdige wêreld ryk en beroemd sou wees. Omtrent drie jaar gelede het ek en Clive Smith toe ons konsep vir The Unhappy Hour by die gemeenskapsradiostasie Bush Radio in Woodstock gaan voorlê en daar het ’n begeesterde Zane Ibrahim, die destydse uitvoerende hoof van Bush, ons ’n kans gegee. Hulle wou boonop hê ons moet die program in Afrikaans aanbied, en nie in Engels soos wat ons aangeneem het nie. Sedertdien het ek agtergekom dat ware geluk die speel van sad songs op ’n Sondagaand is, maar ook dat ’n mens wel kan deel word van ’n gemeenskap wat nie oorwegend uit wit gesigte bestaan nie. Ek voel vanweë my betrokkenheid by Bush meer deel van Woodstock as wat ek ooit deel gevoel  het van Sunnyside in Pretoria, waar ek nog begin 2006 gewoon het. Deur Bush het ek mense ontmoet soos Wanda, die hip hop DJ  wat ook binnekort ’n jong swart mediese dokter gaan wees; mense wat my hoop gee vir Suid-Afrika en bevestig dat nie ons of hulle ooit almal so was nie. (Toast Coetzer en Erns Grundling het intussen ook lid van die Unhappy-span geword en ek is seker hulle sal kan dit beaam.)

Maar ja, dan is daar ander ontstemmende ervarings waaroor ek nie met die jeugberaaddeelnemers praat nie – soos byvoorbeeld Poetry Africa 2007, waar ek skielik intens bewus was van my ondraaglike Afrikaanse witgeid; waar ek wel by tye gevoel het soos ’n polities verdagte toeris in my geboorteland – ’n man wat altyd in sy wit vel en kloustrofobiese taalgemeenskap vasgekeer sal bly, maar vry is om hom te verkyk aan die mense en plekke om hom. En dis nie oor dit wat die vriendelike organiseerders of die oorwegend hartlike swart digters gesê het nie, maar oor al die onderliggende spanning, die verstikkende las van die geskiedenis, die klein insinuasies en innuendo’s, die vanselfsprekendheid waarmee sommige “goeie” linkse, aktivistiese buitelanders Afrikaans afmaak en minag wat jou teruggeboender in die hok van jou moedertaal en erfskuld laat voel.

Ek het, byvoorbeeld, voor die opening van die Poetry Africa-fees saam met ’n wêreldwyd gevierde Keniaanse digter van Indiese afkoms na ʼn radio-stasie vir ’n onderhoud gery. Ons het heel gemaklik oor ditjies en datjies gesels en toe vra sy my in haar hoogdrawende, gestudeerde Britse aksent of ek vanaand in Afrikaans gaan voorlees. Ek sê toe ja, maar daar sal ’n Engelse vertaling op ’n doek geprojekteer word. O, sy sien uit, sê sy, want ’n Duitse vriend het vir haar gesê Duits is die derde-lelikste taal in die wêreld. Tweede-lelikste is Nederlands, maar die lelikste is Afrikaans en sy’s nuuskierig om te hoor hoe dit klink. Nou wat sê jy ná so íets? Ek kon nie ’n woord uitkry nie.

Ek is weer herinner aan die woorde van ’n aangeklamde Ierse vriend een aand in ’n kroeg jare gelede. “White South Africans are like the tuna,” het hy gesê. “People would only stop eating tuna to save the dolphins caught in the same net. But nobody gives a shit about the tuna.” (Nou ja, intussen gee mense wel deeglik om vir die blouvintuna, so dalk is daar tog hoop vir die onaansienlike vis.)

En dan gaan lees jy die aand voor en waar jy nog die middag gevoel het (in die woorde van Fernando Pessoa in “The Tobacconist”) soos ’n hond wat deur die eienaar geduld word omdat hy skadeloos is, voel jy skielik soos ’n sirkusbeer of die olifantman en jy weet nie of dit nou net jou paranoia en neuroses is wat met jou mors nie en of dit net die nare ondervinding van die middag is nie, maar hoekom lyk almal nou skielik so vyandig. En jy begin wonder  of Afrikaans werklik so grusaam glottaal klink vir nuwe ore? Knetter die Afrikaanse konsonante altyd soos vanaand soos masjiengeweervuur? En hoekom voel jou gedigte skielik so onverstaanbaar, so asof die gehoor lankal die “mute”-knoppie gedruk het?

Maar die verwarring eindig nie daar nie. Ná die tyd word ek totaal verras deur verskeie opreg waarderende reaksies. ’n Skaam swart student kom vra vir my of sy êrens die Engelse vertaling van my gedig oor my bipolêre nefie se dood aan ’n oordosis kan kry. “It is the story of  my family,” sê sy. En die groot, jolige jong swart student wat ons bussie hotel toe bestuur, kom wens my geluk met die voorlesing. “Thank you, thank you,” sê ek kinderlik dankbaar, “I felt so strange.” En sy lag kliphard en lekker: “It’s just white guilt, man. We’ll make a Zulu out of you yet.”

En die punt wat ek met die lang relaas wil maak, is die volgende: Ek sukkel my gat af om te verstaan wat in hierdie land aangaan, maar ek kry dit nie reg nie. En gewoonlik skryf ek oor die goed wat my ten diepste pla, veronseker en met gemengde gevoelens vervul, maar hoekom het ek tot nou toe nog nie oor Poetry Africa geskryf of enige soortgelyke ervarings nie? Hoekom neem ek so dikwels nie aan gesprekke oor byvoorbeeld die taalkwessie deel nie, terwyl ek elke jaar die jeugleiers aanmoedig om dit te doen? Toe ek nog in Duitsland gebly het, het ek doelbewus my mond gehou oor my indrukke van “toestande” in Suid-Afrika. Daar is niks irriterender as ’n expat wat vir mense probeer vertel in watter land hulle eintlik woon nie, het ek geredeneer. Maar nou is ek al byna agt jaar terug in Suid-Afrika en ek bly steeds tjoepstil oor sekere situasies wat heftige innerlike konflik tot gevolg het.  [En ek vermoed verskeie ander wit Afrikaanse (en Engelse) digters doen dieselfde.] Ek swyg omdat ek bang is om te gaan krap in daai “paradoxical complexities of privilege, shame and resentment” waaroor Hoagland in sy essay “Negative Capability” skryf; omdat ek nie deel wil wees van die aanstigters wat groepe in Suid-Afrika verder van mekaar af dryf nie; omdat ek nie – soos hierdie lang, selfregverdigende betoog seker ook duidelik maak – as reaksionêr afgestempel wil word en dan terug hok toe gejaag wil word nie. Ek wil tog nie hê ’n fees soos Poetry Africa moet my nooit weer uitnooi nie – dit was per slot van sake ’n belangrike ervaring wat my opnuut laat nadink het oor “waar ek staan”.

Hoagland se werk, Major Jackson se essay “A Silence Big and Black”, die onlangse werk van Anton Kannemeyer en die skrikwekkende polarisering van die Suid-Afrikaanse samelewing het my egter oortuig dat dit die moeite werd is om na te dink oor die redes vir my en ander wit digters se stilte; en dat ek behoort te skryf oor dinge wat aan my krap en vreet  – nie omdat dit my plig as  digter of verantwoordelike burger of wat ook al is nie, maar omdat ek nog altyd soos Charles Bukowski geglo het: “The first thing writing should do is save your own ass. If it does this, it will automatically be juicy, entertaining.”

Kortom, ek stem saam met Ronelda Kamfer: “êrens diep binne my / weet ek waar ek staan”. Maar waar ek staan, maak my bang en dit maak my opstandig, want dit voel of ek deur Die Geskiedenis aangesê is om daar, in die hoekie, te staan en ek wil êrens heen met my woede en frustrasie, maar dan begin ek my skaam oor al die seëninge wat ek blykbaar nie wil tel nie en ek raak ontsteld oor ander Afrikaners se hatigheid en op die ou end gebeur daar nie eens ’n gedig nie.

 

Inderdaad karteer die digkuns ook die emosionele landskap van ʼn bepaalde taalgroep. Lees ek jou essay korrek indien ek dit sou saamvat as ʼn pleidooi vir meer aktuele temas in ons digkuns? Voel jy inderwaarheid dat ons digkuns “vals” – en daarmee gepaardgaande irrelevant – geword het, omrede ons digters die dwingende sosio-politiese temas met weldeurdagte en vernuftige verse probeer systap, eerder as om daaroor te skryf?

 

My essay is beslis nie ’n ongekwalifiseerde pleidooi vir meer aktuele temas in ons digkuns nie.

Laat ek dit onomwonde stel: Ek glo nie daar bestaan ’n inherente etiese plig wat enige digter  of ander kunstenaar noop om hom sosio-polities, in sy werk of elders in die openbaar, uit te spreek nie. Inteendeel, ek was jare lank geïrriteerd met verskeie Europese intellektuele wat as vanselfsprekend aanvaar dat Suid-Afrikaanse kunstenaars sosiaal betrokke moet wees, terwyl skeppende geeste uit die sogenaamde Eerste Wêreld hulle blykbaar met enige postmoderne foefie of absurde vorm van konseptuele nawelstaardery mag besig hou. So ’n houding impliseer tog dat die ryk demokrasieë van die noorde eintlik alle sosio-politiese probleme opgelos het en daarom nou vry is om te doen wat hulle wil, maar in Afrika is ons so desperaat, agtergeblewe en in die knyp dat wroeging voorgeskrewe is.

Goeie kuns is nooit propaganda nie en ek beskou ons digkuns ook nie as vals nie. Ek meen bloot daar is ’n opmerklike  swye oor die ras- oftewel kleurtema – ’n tema waaroor baie digters in die struggle-jare veel te sê gehad het. En hierdie swye is wit, want bruin en swart skrywers skryf openlik oor hul woede, pyn en frustrasie.

Die redes en moontlike gevolge vir hierdie stilte is interessant omdat dit myns insiens iets sê oor waar die denkende, digtende en lesende  wit Afrikaner hom of haar bevind. En dit is ’n bitter verwarrende plek.

Met ander woorde, ek sal bly wees as ons digkuns die huidige emosionele landskap van ons taalgroep nog meer volledig en waagmoedig wou karteer. Nie omdat dit noodwendig sake sal verbeter nie – ons weet almal die poësie is ’n nis waaraan groot korporasies, fundamentaliste en politici hulle min steur – maar omdat ek graag beter wil verstaan, omdat dit my en ander soos ek sal help om sin te maak van hul tentatiewe plekkie hier aan die suidpunt van Afrika en omdat ons dalk uiteindelik meer van ’n oop en minder agterdogtige gesprek sal kan aanknoop tussen wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes en -skrywendes.

 

Na aan die begin van jou essay sê jy: “Die gevoelighede oor die verlede lê nog te na aan die oppervlak van ons verdeelde samelewing.” Aangesien die lesers in groot mate bepaal watter bundels, en watter tipe poësie, deur die uitgewers as “bemarkbaar” beskou word, stuit ʼn mens voor die vraag of ʼn digkuns van die aard wat jy propageer, inderdaad móóntlik is in ons teenswoordige situasie van verdeeldheid en onsekerhede? Of is jy van mening dat sodanige poësie  juis nóú ʼn noodsaaklikheid is; sonder aansien des persoons, óf verkope?

 

Ek dink daardie gevoelighede lê nog te na aan die oppervlak vir Suid-Afrikaners om oor ’n inheemse grappie soortgelyk aan dié een oor die Europese hemel en hel te lag, maar ek glo beslis ons poësie-lesers is volwasse genoeg om gedigte soos dié van Hoagland te kan lees en waardeer.

Die digkuns wat ek propageer, word nie noodwendig deur ’n aanslag gekenmerk wat aanstoot gee nie. Dit vra bloot om ’n ander invalshoek. Die groot verskil tussen Hoagland en Kannemeyer se werk en die meeste ander kuns oor die tema is dat hulle nie die outobiografiese “ek” ontsien nie. Die meeste politiese betrokke werk oor die kleurtema kom vanuit ’n aktivistiese, betogende of ’n empatiese hoek. Deurdat Kannemeyer homself deurgaans as ’n wit Kuifie-figuur teken, maak hy homself deel van die verwarrende gemors. Hy gee implisiet toe dat sy bewussyn nog deurspek is van stereotipes en dat hy self in die oë van die ander gevange bly in die karikatuur van die wit kolonialis. Hy hou dus op om die empatiese, diep besorgde ooggetuie of agiterende kommentator te wees, maar word ’n problematiese, verskeurde deel van die groter, gekompliseerde prentjie.

Poësie waarbinne die ek-spreker as onbetroubare aandadige die mynveld van rasseverhoudings verken, maak die digter en leser ongemaklik, maar dit hoef nie noodwendig ’n negatiewe uitwerking op verkope of menseverhoudings te hê nie.  Ek praat uiteraard nie van haatspraak of blatant rassistiese tirades nie.

 

In jou essay maak jy die (veralgemenende) opmerking dat die aanspreek van aktuele temas soos die spanning rondom tale, kleure en kulture “stil” geword het sedert die 1994-verkiesing … Watter faktore, volgens jou, is in hoofsaak verantwoordelik vir dié “stilswye” en in welke mate verskil dit van vóór 1994?

 

Oor sommige van die redes het ek reeds in die essay gespekuleer, maar een belemmering is sekerlik die afwesigheid van ’n duidelike vyandsbeeld, soos die ou regime. Dis moeilik om tegelyk ’n ontstoke rebel of taalstryder én deel van ’n ekonomies bevoorregte minderheid binne ’n bedreigde spesie met ’n slegte naam te wees. Sodra jy bewus word van die land se enorme onderwyskrisis, kruipende armoede en werkloosheid, begin jy wonder of dit nie kleinlik is om al jou energie en tyd aan ’n taal- en kultuurstryd te bestee nie. Of moet jy jouself eers as Afrikaner en dan Suid-Afrikaner definieer? Maar hoe kan jy as Afrikaanse skrywer en/of joernalis anders as om ten diepste oor die toekoms van die taal begaan te wees?

’n Stryd vir Afrikaans is ook, soos Hunter Kennedy in Boeke-Insig gesê het, ’n stryd teen globalisering. Die wêreld beleef tans ’n massa-sterfte van tale namate die aardbol krimp en die groot handelstale al hoe sterker word. ’n Mens moet jou dus nie net plaaslik definieer nie, maar ook binne ’n vinnig veranderende globale konteks.

Voor 1994 kon Afrikaanse digters skryf met regverdige woede en die hoop op ’n beter, bevryde, demokratiese môre, maar nou twyfel ons heimlik aan ons bestaansreg en oorlewing binne daardie demokratiese bestel.

Ek glo al hierdie dilemmas lê digters lam. Maar dalk projekteer ek net? Miskien praat ek maar net namens myself?

 

[Word vervolg]

Bookmark and Share

Comments are closed.