Onderhoud II. Danie Marais

‘n Toeris in eie land, Deel 2

Danie Marais in gesprek met Louis Esterhuizen

 

(Hierdie onderhoud is ʼn vervolg op Deel 1 en het steeds ook betrekking op

Danie Marais se essay, “Stilte in die hof!”)

 

 

Danie Marais

Danie Marais

Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ‘n BCom-graad met regsvakke. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis in Kaapstad. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poëzie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en Universiteit van Johannesburg-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ‘n misverstand, het in Maart 2009 by Tafelberg verskyn. 

 

In oorsese digkunste, veral die Amerikaanse en Latyns-Amerikaanse digkunste, bestaan daar natuurlik ‘n lang tradisie van aktuele digkuns met sy gepaardgaande harde en direkte aanslag op die leser. Normaalweg is dit ook meer toeganklike verse met veel minder resonansie as die gebruiklike liriese aanslag wat ons eie digkuns in ‘n groot mate kenmerk. Is ons plaaslike poësielesers en kritici ooit in staat om diesulke verse na waarde te skat, wonder ek meteens?

 

Laat ek uit die staanspoor sê: Die resepsie van poësie of enige kulturele produk bly vir my ‘n fassinerende raaisel. Ek is telkens verstom oor dinge wat gewild raak (onder die publiek en/of kritici) en net so gereeld oor boeke of musiek wat nie kopers of kritiese aanvaarding vind nie. Ek kan net beaam wat Margaret Atwood in Negotiating with the Dead: A Writer on Writing (2003) sê: Daar is net vier soorte boeke – goeie boeke wat verkoop; goeie boeke wat nie verkoop nie; slegte boeke wat verkoop, en slegte boeke wat nie verkoop nie.

Daar is ‘n element van geluk of toeval wat enige kunstenaar se loopbaan kan maak of breek. Neem byvoorbeeld punk-rock: Die Stooges, die MC5 en The New York Dolls was punk voor dit ‘n naam gehad het en hulle het almal kommersieel geflop en skouspelagtig privaat en op die verhoog uitmekaar geval. En toe, net twee jaar later, kom massa-werkloosheid en politieke onrus, en skielik is punk-groepe soos die Sex Pistols, The Clash en The Ramones sterre wat treffersparades verower. Die New York Dolls en die Sex Pistols het boonop nog dieselfde bestuurder, Malcolm McLaren, gehad. Dieselfde kan van die Beat-skrywers gesê word wat eintlik eers baie lesers in die volgende hippie-generasie gevind het. En sou Bob Dylan meer as ‘n kultusheld gewees het as dit nie was vir die folk-fanatiese blommekinders, die Viëtnam-oorlog en die revolusionêre tydsgees van die 60s nie? Ek twyfel.

Met ander woorde, of enigiets na waarde geskat sal word of hoegenaamd gelees sal word, is ‘n ope vraag. Aan die een kant meen ek dat die tyd ryp is vir poësie wat ons rasse-spanning en taalkwessies direk vanuit ‘n verwondbare, radikaal eerlike persoonlike hoek probeer deurgrond. Aan die ander kant is die behoefte aan eskapisme eers groot in sulke beroerde, onseker tye. In my ervaring was toegewyde poësie-lesers se behoefte aan eskapisme nog nooit so groot as die breër publiek s’n nie. Soos T.S. Eliot gesê het: “Humankind cannot bear very much reality.”

Maar wat die kwessie van resonansie betref: ‘n Harde, direkte aanslag in ‘n gedig oor ‘n aktuele kwessie sluit geensins resonansie uit. Soos my oorle’ eks- Duitse skoonpa altyd gesê het: “Jy kan doen net wat jy wil, jy moet dit net beter as die ander doen.” Neem byvoorbeeld hierdie gedig van Wisława Szymborska, vertaal deur Stanislaw Baranczak and Clare Cavanagh:

 

Vietnam

“Woman, what’s your name?”  “I don’t know.”
“How old are you?  Where are you from?”  “I don’t know.”
“Why did you dig that burrow?”  “I don’t know.”
“How long have you been hiding?”  “I don’t know.”
“Why did you bite my finger?”  “I don’t know.”
“Don’t you know that we won’t hurt you?”  “I don’t know.”
“Whose side are you on?”  “I don’t know.”
“This is war, you’ve got to choose.”  “I don’t know.”
“Does your village still exist?”  “I don’t know.”
“Are those your children?”  “Yes.”

‘n Gedig soos dié, wat ‘n aktuele kwessie in sy volle vervloekte verwikkeldheid uitbeeld, sal nooit oor resonansie hoef te kommer nie. Maar enige gedig wat tot ‘n lessie, ‘n eenvoudige stelling of eensydige propaganda vir ‘n spesifieke saak gereduseer kan word, is myns insiens nie poësie nie. Kinky Friedman se speurder sê altyd: “Put it on a bumper sticker for me.” En ek sê as jy ‘n gedig sonder enige verlies aan nuanse of betekenis op ‘n bumper sticker kan sit, is dit nie ‘n gedig nie, maar ‘n slagspreuk. [Hoewel daar sekerlik bumper stickers met poëtiese kwaliteite denkbaar is. Dalk moet ‘n mens reëls uit gedigte meer gereeld as graffiti of bumper stickers aanwend. Naby ons woonstel in Bremen was daar graffiti wat die Duitse digter Gottfried Benn aangehaal het: “Die Krone der Schöpfung, das Schwein, der Mensch” (Die kroon van die skepping, die vark, die mens.”)]

Ek ken nie die Latyns-Amerikaanse digkuns baie goed nie, maar die werk van die Chileen Ariel Dorfman (hier bekend as die dramaturg van Death and the Maiden wat onvergeetlik deur Polanski verfilm is) is vir my ‘n sprekende voorbeeld van iemand wat kop aan kop met politiek in sy poësie bots. Sy bundel In Case of Fire in a Foreign Land (2002) het my geruk soos geen koerantberig of dokumentêre film kan nie.

Hier is ‘n voorbeeld:

 

FIRST PROLOGUE:
SIMULTANEOUS TRANSLATION

I’m not so different from the interpreters 
in their glass booths 
at endless international conferences 
translating what the peasant from Talca 
tells about torture 
repeating in English that they put him on the cot 
stating in the most refined and delicate French 
that electric shock produces lasting transmissible effects 
finding the exact equivalent for rape by dogs  
pau d’arara I insulted the murderers 
finding a phrase without emotion 
that describes exactly the sensation
– please forgive any rhymes or rhythms you may find –
when the wall is at your back 
and the captain begins to say the word fire, 
trying to take the melodrama out of the sentences 
trying to communicate the essence and the feeling 
without giving in to the dark cloying current 
of what they are really saying 
they were torturing my son in the other room 
they brought back our compañero unconscious 
they put rats inside out compañera it’s Gods truth.
Not so different from them 
with their voices their dictionaries their notes their 
culture their going back home 
in Geneva in New York in the Hague, 
an intermediary, not even a bridge, 
simultaneous translation for good pay 
because we are specialists 
and the incredible thing is that in spite of us 
in spite of my river of interpretations and turns of phrase 
something is communicated  
a part of the howl 
a thicket of blood 
some impossible tears 
the human race has heard something 
and is moved.

 

Ariel Dorfman (Sien http://www.adorfman.duke.edu/ vir nog.)

 

Digkuns oor aktuele temas beteken nie noodwendig iets nie. Digters moet skryf oor die dinge wat hulle verruk of krap en snags wakker hou. As dit die maan of die geur van blomme is, is dit waaroor hulle moet skryf. En as jy voel dis uiteindelik net skoonheid wat oorbly en troos en wat derhalwe die moeite werd is om oor te skryf, is dit natuurlik ook ‘n legitieme siening. Om bloot opportunisties ‘n aktuele tema te pak, is futiel en treurig.

Dit sou egter dodelik vir ons digkuns wees, indien digters sekere temas wat wel aan hulle vreet, vermy omdat hulle bang is vir lesers en kritici se reaksie. Ek kan net namens myself praat wanneer ek sê ek het wel in die verlede uit vrees sekere gedigte wat ek eintlik wou skryf, liewer nie aangepak het nie.

 

By monde van Tony Hoagland se artikel “Negative Capability – How to talk mean and influence people“, maak jy die volgende uitspraak: ” Die digkuns van die afgelope dekades het gespesialiseer in empatie – ‘n onvoldoende strategie vir so ‘n emosioneel komplekse saak.” Myns insiens vorm hierdie verwysing die kern van jou pleidooi; uiteraard omrede dit neerkom op ʼn “konfronterende” benadering tot die leser. Verstaan ek dit reg? Maar, as teenargument: Is konfrontasie nie die uiterste vorm van empatie nie? En móét dié konfrontasie venynig en onbeskof wees, soos jy dit stel?

 

Die soort poësie waarvan ek (en Hoagland) praat, is in die eerste plek ‘n eerlike konfrontasie van die digter met sy eie ek; ‘n poging om sy verstrengelde polities onkorrekte binneste te ontwar – dit wat onder die oppervlak van die beleefde table talk oor ras en kleur aangaan. En as jy wil erns maak van die saak, verplig jy jouself om te wys wat jy opgediep het; om die foto’s wat jy as’t ware met jou diepsee-duikbol gaan neem het, te vertoon. Uiteraard leef daar nie net gedrogte daaronder nie, maar sommige van die foto’s kan jou en alle ander kykers skok.

Die konfrontasie (met die ek en die leser) hoef nie venynig en onbeskof te wees nie – dit moet bloot genadeloos eerlik wees, en genadelose eerlikheid grens maar dikwels in sosiale situasies aan onbeskoftheid en venyn, of kan maklik so verstaan word. Sodra jy daardie alewige wag voor jou mond verwyder, raak dinge potensieel gevaarlik.

‘n Gedig wat uit ‘n empatiese hoek geskryf is, kan natuurlik ontroer, maar dit maak selde die leser so ongemaklik dat hy oor sy eie teenstrydige emosies en opvattings begin nadink.

Deur die wag voor jou mond te hou, perk jy jou bewussyn en potensieel dieper begrip in. En goeie poësie veroorsaak, soos Owen Barfield beklemtoon het, ‘n verruiming van die bewussyn.

Hoagland verduidelik sy opvatting hiervan helder in sy kommentaar op sy gedig “The Story of White People” in The Washington Post. Hier is die kommentaar gevolg deur die gedig: “The Story of White People” is one of a dozen or so poems I’ve written on the subject of race in America, that toxic reservoir over which our playgrounds and city halls are built. I’ve tried to make the poems explorations unhindered by the hedging and filling of political corrrectness or middle class Caucasian guilt. Most of the poems use a strategy of crooked speech to vocalize the deep uneasiness and confusion white Americans feel towards brown Americans; the poems try to have dark fun with the verbal taboos and truths of what one of the poems calls “Negrophobia.” After all, we all know and feel a lot more than we pretend to, and our arrested speech is the essence of our arrested consciousness. In “The Story of White People,” I thought I would write in the other direction, looking at what we generally feel now about the changing status of whiteness.

 

The Story of White People

After so long seeming right, as in
true, as in clean, as in smart,
being smart enough at least
not to be born some other color

after so long being visitors
from the galaxy Caucasia
now they are starting to seem a little

deficient; leached-out, spent, colorless;
thin-blooded, indefinite-
as in being too far and too long
removed from the original source
of whiteness;

suffering from a slight amnesia
in the way that skim milk can barely
remember the cow

and this change in status is
mysterious, indifferent, and objective
as when, at the beginning of winter,
the light shifts its angle of attention

from the mulberry to the cottonwood.
Just another change of season,
not that dramatic or perceptible

but to all of us, it feels different.

_______________________________________

Tony Hoagland, “The Story of White People” from “Unincorporated Persons in the Late Honda Dynasty.” Copyright 2009 by Tony Hoagland. Used by permission of Graywolf Press.

( Sien: http://voices.washingtonpost.com/shortstack/2010/02/poets_choice_the_story_of_whit.html)

 

Soos jy weet, is daar in die randgebiede van ons digkuns etlike (jonger) persone wat wél die tipe poësie skryf waarvoor jy hier agiteer, maar om die een of ander rede verkies hulle om hul toevlug na ánder genrès te neem; of hulle is gewoon nie geïnteresserd om tot die saamstel van ‘n bundel te kom nie … Waaraan sou jy dié (vermydende) toedrag van sake toeskryf?

 

Ek dink jy’s reg. Daar’s beslis mense wat hierdie tema pak buite die, kom ons sê maar by gebrek aan ‘n beter woord, poësie-establishment, maar dit is sekerlik nie altyd poësie met die selfkritiese genuanseerdheid van ‘n Hoagland nie.

Twee lirieke rondom dié kleurtema wat beslis ‘n groot impak op jongmense gemaak het, is Fokofpolisiekar se “Oop vir misinterpretasie” (opgeneem in Nuwe Stemme 4) en Klopjag se “Nie langer”:

 

Oop vir misinterpretasie (‘n uittreksel)

 

my skoene is deur vroueslawe in die Verre-Ooste gemaak

dis nie my skuld nie

 

my korttermyn-geheue verval

tersiêre opvoeding nietig verklaar

dit is nie my skuld nie

 

elke jaar gaan vinniger verby

moet nie bekommer nie

jou verbeelding spring jou voor

dit was nog altyd so

 

‘n mens kan baie praat

tog sukkel om sin te maak

almal weet perspektief

is nie ‘n speelding nie

 

my vriende se bediendes het hulle met liefde grootgemaak

dis nie my skuld nie

 

ek herinner myself aan my pa

hulle moes grens toe gaan

dis nie my skuld nie

 

net die skoon word vermoor

net die sag kry seer

net die jonk glo

soos wat net die jonk van hart kan glo

 

***

 

Nie langer

 

Ek weet ons was verkeerd

Dit was op BBC, CNN en Carte Blanche

Die feite lê nou op die tafel

Kan ons asseblief aanbeweeg meneer

 

Refrein:

Want ek sal nie langer jammer sê nie

Ek sal nie langer jammer sê nie

 

Ek sal agter in die tou staan

Ons reënboog op my mou dra

 

Maar ek sal nie langer jammer sê nie …

 

Ek glo egter nie hierdie jongmense vlug so seer na ander genres nie. Dis myns insiens ‘n minder bewuste proses. Baie van ons jonger sanger-liedjieskrywers het eenvoudig in die voetspore gevolg van mense wat hulle geïnspireer het – Koos Kombuis, Valiant Swart, Battery 9, Gert Vlok Nel ensovoort. Dis met ander woorde minder ‘n doelbewuste verwerping van die formele poësie, maar eerder ‘n poging om jouself te artikuleer binne die idioom van jou helde en die mense wat jou geroer en laat dink het.

 

Toe mense soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en John-Henry Opperman van Klopjag begin lirieke skryf het, het hulle hulself nie as digters gedefinieer nie en ‘n bundel was dus hoegenaamd nie iets waaraan hulle gedink het nie. Hulle het in terme van lirieke, songs en albums gedink. (Ek raai nou, as ek verkeerd is, kan hulle gerus die saak regstel.)

              

Dat iemand soos Toast Coetzer nog nie ‘n digbundel publiseer het nie, is ‘n jammerte, maar ek verneem sy gebundelde lirieke van The Buckfever Underground is gelukkig op pad. Ek dink egter ook in Toast se geval was dit meer die gevolg van sy bitter vol lewe as dat hy nie in ‘n bundel geïnteresseerd was nie.

 

In my ervaring moet die liriekskrywers, oftewel rock-en-folk-digters, eintlik maar net uitgenooi word na poësie-geleenthede, dan kom hulle.

 

Maar kom ons vra gerus ‘n paar van hulle of hulle hulself as digters sien en of hulle graag bundels wil uitgee.

 

Danie, ten slotte, baie dankie vir die geleentheid om oor dié belangrike aspek te kan gesels. Soos gebruiklik wil ons graag die onderhoud afsluit met ‘n vers van die “ondergehoude” persoon. Het jy dalk ‘n vers in jou laaikas wat as voorbeeld kan dien van die tipe vers wat jy in jou essay voor pleit? (Enige ander “voorbeeldvers” sal ook nuttig wees, indien jy dit sou verkies …)

 

Ek voel nie ek het al heeltemal geslaag om die soort verse waarna ek soek, self te skryf nie. Maar hier is ‘n onlangse poging in dié rigting: (Dis opgeneem in die nuwe versamelbundel Onse mense wat rondom Marié Stander se werk ontstaan het – sien: http://versindaba.co.za/2010/03/29/onderhoud-marie-stander/)

 

Lizzie (c) Marié Stander

Lizzie (c) Marié Stander

Lizzie is 16

Net buite Stellenbosch is Lizzie
16 en swanger en bruin,
want die harde feite
en die fyn swart-en-wit lyne
van ‘n kunstenaar se tekening val soms
saam met die verflenterde kaalvoet-cliché,
die geoefende knop in die keel
van ‘n betrokke wit gedig.

En die digter lees sy vers –
‘n netjiese tragedie by die lig van ‘n kers –
en die klein gehoor doen die hartseerwals
sonder om op ‘n enkele belese toon te trap,
terwyl Lizzie se maag suutjies groei
in ‘n bloedige Bolandse somer
tot die kind uit die raam van sy stillewe ontglip
met ‘n nuwe ongeletterde gil –
‘n oerkreet wat al die welwillende wit
spookmusiek
uitdoof.

 

En hier’s twee pogings uit Al is die maan ‘n misverstand (Tafelberg, 2009):

Bismarck en die tuinman

 

Hier waar ek lê
in lou badwater
voel ek hoe die somerhitte druk.
Ek sweet
onder my papnat gewasde hare.
Die sonbesies buite
klink soos ‘n sameswering;
herinner my
aan my kuiers by Leon met die groot ore
toe ek 11 was –
Leon, die enkelkind in die groot huis
met ‘n swembad en ‘n tennisbaan
en al die jongste plate en ‘n ouma
wat altyd tuis was
om koekies en koeldrank aan te dra
vir ons wat na Wham of Michael Jackson luister.

Op die tennisbaan
het Leon my gemaklik geklop,
maar toe ek eendag ‘n stel wen,
het hy sy raket op die grond gegooi
en binne toe gehardloop.

Op die vuurwarm tennisbaan
het ek onseker agtergebly –
die kombuis se sifdeur wat agter Leon toeklap;
die sonbesies wat te kere gaan.
Bismarck die Rottweiler –
‘n knorrige, opvlieënde bliksem –
het tussen my en die agterdeur kom staan.
Vir Bismarck was ek bitter bang.
Hy’t eenkeer na my gehap.
In my nagmerries
het hy altyd van agter gekom.
Met die grom en die omkyk
was dit te laat.
Sy kake het maklik om my ribbekas gevou,
die tande wat in my vleis wegsink
soos stewels in modder.
Hy’t my in sy bek opgetel –
ek kon my hopelose tennisskoene in die lug
sien spartel.
Ek was te bang om te skree.

Maar die tuinier het vir my geglimlag
en gewaai.
Ek kon nooit verstaan hoekom
die tuinman met my vriendelik is nie.
Leon het my vertel
hoe hy die tuinman bekruip
wanneer hy die gras sny,
en hom met sy BB-gun skiet.
Kon ‘n mens ‘n verskil
tussen my en Leon sien?
Was die tuinman so bang vir Bismarck
soos ek?
Het hy Leon gehaat
soos ek hom sou haat
as ek die tuinman was?
Dat die tuinman vir Leon eendag
met sy tuinvurk sou doodsteek,
was nie vir my onwaarskynlik nie.
In die somerhitte en my angs
is sy wit glimlag
tot ‘n hatige gryns verwring.
Die bloed in my ore
het harder gesuis as die sonbesies.
Ek was naar en duiselig,
maar niemand het kom help nie,
niemand het my op die tennisbaan sien staan nie.
Ek het vriendelik vir die tuinman gewaai.

Wanneer ek bang vir binne
en bang vir buite
soos vandag in die bad dobber,
weet ek glad nie hoe om uit te klim nie.

Buite patrolleer Bismarck die aarde.
Binne glimlag die tuinman breed.

 

 ***

 

Daar lê ‘n ou vrou in die reën

 

Daar lê ‘n ou vrou
in die gietende Woodstock-winternag
voor ons huis.

Toe ek die knoppie vir die garagedeur druk,
sien ek haar –
die outomatiese deur het haar
swetsend
tot op haar knieë gedwing.
Weer druk ek die knoppie
en dadelik syg sy
weer neer –
plat op haar maag,
‘n bondel ellende sonder skoene
in my kopligte.

Ek gaan in en bel my vriend Clive.
Hy sê: “Moe’ nou net nie
soos ‘n slegte whitey
die polisie bel nie.
As hulle enigsins opdaag,
gaan hulle haar net bliksem
en êrens aflaai
en dan sukkel sy môre
om haar pad terug te kry.
Sy sal orraait wees.”

“Maar sê nou sy verkluim?”

“Daar’s baie alkohol in anti-freeze –
bergies verkluim nie sommer nie.
Vat vir haar ‘n stywe dop.”

My Ierse vriend Pat het my jare gelede
in ‘n Duitse kneipe gesê:
“As jy wil hê iemand moet ‘n probleem
vir jou oplos –
kry ‘n Duitse ingenieur.
As jy wil hê iemand moet ‘n gedig
daaroor skryf –
vra ‘n Ier om hulp.”

Ek het nog altyd meer Iers as Duits gevoel,
maar ek wonder waarvoor deug Duitse digters
en Ierse ingenieurs?
Terwyl my vrou in die bad sit,
ons baba salig slaap
en ‘n ou vrou voor ons huis
in die koue reën
bly lê.

 

(c) Danie Marais

Bookmark and Share

Comments are closed.