Spesiale Nuuswekker. Lucas Malan

Lucas Malan

Lucas Malan (1946 - 2010)

 

 

 

 

 

 

 

 

Kyk mooi na jou werfgenoot, en let daarop

dat haar arms al hoe dringender boontoe reik,

hoe die voëls elders na skuiling soek –

en luister hoe dit smiddags ál stiller word

soos haar skaduwees diep in die grond in stort.

© Lucas Malan (“Kalender”) 

 

Daar is darem sekerlik meer goeie mense op hierdie aarde as wat ons waarskynlik besef, of sou wou toegee. Lucas Malan was één so ‘n mens. ‘n Goeie mens. Iemand met onkreukbare integriteit, ongeveinsde lojaliteit en ‘n besonderse waardering vir eenvoudige menslike dinge soos beleefdheid en bedagsaamheid. Iemand van wie jy altyd ‘n telefoonoproep of e-pos ter bemoediging te wagte kon wees wanneer dinge aan jou kant van die draad oënskynlik nie na wense verloop nie. Inderdaad, ‘n sagte, bedagsame mens, deur en deur. Maar nou ja, ook iemand wat sterk standpunt kon inneem en daardeur mense van hom vervreem het. En, helaas, nie juis vergewensgesind wanneer hy gevoel het dat hy te na gekom was nie.

As akademikus was hy natuurlik bekend vir die skoolboeke wat hy saamgestel of geskryf het; ‘n aktiwiteit waarmee Lucas hom tot onlangs nog bemoei het. Maar dit is waarskynlik vir sy onverdrote ywer vir en betrokkenheid by die digkuns wat hy onthou sal word. Nie net vir die hoë gehalte van sy eie digwerk nie, maar ook vir die werk wat hy so dikwels agter die skerms gedoen het om ander (en veral ook jonger digters) se werk te promoveer. So was die laaste taak wat hy na alle waarskynlikheid wou vermag, die oorskouende artikel wat hy vir die Versindaba-webblad oor die digkuns van Lina Spies wou skryf. Maar helaas, toe sy gesondheid versleg en die dokter hom ingelig het dat hy gehospitaliseer sou moes word vir ‘n klepvervanging in sy aorta, moes hy dié voorneme laat vaar …

Op persoonlike vlak is daar sóveel wat ons gaan mis: die talle kuiertjies in die netjiese wit huis in Darling, die witwyn en sigarette, een besonderse middagete in Yzerfontein; die entoesiastiese, meelewende gesprekke oor ‘n verskeidenheid onderwerpe, maar meestal oor die digkuns en nuwe publikasies.

Ai, Lucas. Dankie vir mooi herinneringe. Dankie vir jou meelewende ondersteuning. En veral: dankie vir jou vriendelikheid. En jou menslikheid. Ook vir die ruimte wat jy aan ons gegun het om op ‘n beskaafde manier van jou te kon verskil. Soms.

As huldeblyk plaas ek een van Lucas se verse wat vir hom persoonlik baie beteken het; ‘n vers wat hy na die dood van sy vriend Barrie Hough geskryf het, en wat op ‘n ironiese manier ook vir hóm waar geword het.

LE 

 

Deurnag

Barrie Hough (1953 – 2004)

 

Daar is net een lamp wat nog brand vannag

hier in die kamer van boeke wat deurnag praat,

wat aanspraak maak, vertel en vra; net een lamp

met die glans van ‘n sonsondergang in sy skerm

wat ‘n halwe maan óp laat staan teen die muur

waar die lamp in sy heuninglig staan. Net een

ligbron vannag wat nog skyn in die laatnaguur;

net een wat nog brand en soos ‘n mens bly kerm

dat dit tyd geword het om uit te doof, weg te gaan,

om ‘n einde te bring aan ‘n lamp se eenlingbestaan

onder die opslaanlig van ‘n verskeurde maan.

 

© Lucas Malan (uit: Vermaning, 2008: Protea Boekhuis)

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Spesiale Nuuswekker. Lucas Malan”

  1. Lenza Summerton-Meyer :

    Lucas: ‘n Mentor en ‘n stem wat ‘n mens uit waansin kon dra. Ek hoor hom nou sug:”Ag nou ja, Meisiekind, nou is dit ook verby.”

  2. Ai, my vriend, ai. Ons urelange geselse – meesal oor die foon die afgelope jare – en jou lag, jou weersin in pretensie, jou insig in die mens, jou liefde vir die natuur, jou sensitiwiteit, jou weerbarstigheid, jou woede, jou bulderende lag… Ai, Lalique, Loes, die dik digter van Darling, Lucas, ai… Het jy en Miems dit beplan dat julle my op dieselfde dag sou verlaat? God, ek verlang

  3. Anita de Kock :

    Ek is verslae en baie hartseer oor nog ‘n meester van die woord wat weg is – iemand wat soveel vir die Afrikaanse letterkunde en digkuns beteken het.

    Wat my nog meer hartseer maak is die feit dat hy nooit die erkenning daarvoor gekry het wat hy myns insiens verdien het nie – en nou is dit te laat.

    Rus in vrede Lucas, ek sal jou mis.

  4. Gerrit Olivier (Pretoria) :

    Toe ek deur sy verse soek na iets wat my sal troos, lees ek weer die gedig “Nagsorg” uit sy jongste bundel “Vermaning”. Dalk het Lucas in sy studeerkamer op die boonste verdieping van die huis in Hoogstraat gesit en oor Darling en omgewing Kaap se kant toe gekyk toe hierdie vers by hom opgekom het. Ek haal aan:

    “ʼn Donskombers, die kleed wat slapendes dek
    en verwarm, is vannag met pluksels wolk
    in ʼn netjiese blokpatroon uit die onderste laai
    van die hemel se groot linnerak gehaal
    en oor ons wyk gehang. Deur ʼn kuswind sag
    aangedryf om oor die dorp en township te waai
    en stadigaan na die suidelike kant te strek.

    Langsaam het die wolkelap uitgerek en uitgesprei
    na die kus ………na die Strand, Hermanus en so…………
    Groots was dit om te sien, so iets geweldigs en stil.
    Asof God besorg was oor ons,
    en ons gerus wou stel deur ʼn lam-wit
    wolk oor ons almal te hang. ʼn Volle uur lank”

    Mag die mooi herinneringe aan Lucas oor ons bly hang, net soos daardie wit wolk in sy gedig – en dan nie net vir ʼn uur lank nie – vir die res van ons dae. Mag ons daardeur getroos word.

  5. Loek, jou bliksem nou gaan jij nog dood ook. As jy daar Bo kom, as daar ‘n Bo is, vra Etienne wat van my haardroër geword het. Verbij is verbij maar jou vergeet Nooit.