Nuwe Stemme 4

Nuwe stemme 4. Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04873-2. R150.

 

Nuwe stemme 4

Nuwe stemme 4

Sedert die publikasie van Nuwe stemme 1 in 1997 het daar ongeveer elke vierde jaar daarna nog ’n Nuwe stemme-opvolg by Tafelberg verskyn, sodat ons nou by nommer 4 staan.
Laasgenoemde is op vanjaar se Woordfees te Stellenbosch bekendgestel, en om dit in breër verband te plaas betrek ek in hierdie bespreking ook van my waarnemings omtrent die voorafgaande nommers, naamlik soos dit in 2005 in die tydskrif Spilpunt gepubliseer is.

Die reeks debutante-bloemlesings is ’n nuttige instrument wat deur die NB-uitgewersgroep ontwikkel is in die laat-1990s, ’n tydvak van gedwonge herstrukturering en besuiniging in die Suid-Afrikaanse boekebedryf. Dus was die Nuwe stemme–konsep (voortaan afgekort as NS) ’n teenvoeteroplossing vir die finansiële risiko’s verbonde aan die uitgee van (veral debuut-) solobundels.

Met NS kon NB-uitgewers egter ook ’n stimulant- en ontwikkelaarsrol speel. Die verklaarde bedoeling was om digters met afgekeurde bundels deur die publikasie van ’n keur uit hulle werk aan te moedig om in die rigting van eie, geslypte bundels voort te werk. By wyse van openbare uitnodiging kon ook bydraes gelok word van digters wat nog nie wou of kon waag om bundels voor te lê nie.

Digters is bygestaan om hul gekeurde verse na bevrediging van die samestellers af te rond. Wat NS 1 en 2 betref, is dit hoofsaaklik per korrespondensie gedoen. In die geval van NS 3 (en nou ook NS 4) is daar ook slypskoolgeleenthede gereël.

Of die bedoelde aanmoediging tot eie bundelafronding veel vrugte afgewerp het? As ek reg tel, het slegs 1 van die 11 debutante in NS 1, maar 8 uit die 16 in NS 2, en 3 van die 20 in NS 3 al eie bundels die lig laat sien. (Na verneem word, volg debuutbundels van Melt Myburgh en Jasper van Zyl, onderskeidelik veteenwoordig in NS 2 en NS 3, later vanjaar.)

Waar Antjie Krog en Alfred Schaffer in hul inleiding tot NS 3 vyf jaar gelede nog kon beweer – in daardie stadium tereg – dat klaarblyklik nie veel in hierdie verband gepresteer is nie, begin die prentjie tans anders daar uitsien. Dis dus gepas om NB-uitgewers te prys oor die bydrae wat op hierdie wyse gelewer is tot ’n tans lewenskragtige Afrikaanse poësiesisteem (waarbinne jaarliks rondom 20 digbundels verskyn).

Dat bloemlesingsamestellings nie vry van persoonlike voorkeure of van ideologiese en literatuurbeskoulike oorwegings geskied nie, is nie nuus nie. Die verantwoordings sowel as die aard van die samestellings van die vier nommers van NS is derhalwe boeiende inligtingsbronne in hierdie verband.

Opvallend is dat nuutheid (’n estetiese maatstaf) en verteenwoordigendheid (eerder ’n sosiaal-politiese kriterium) deurgaans as opname-oorwegings naas mekaar genoem word, hoewel telkens in verskillende voorkeurverhoudings tot mekaar.

In NS 1 is uit die drie-paragraaf-lange inleiding af te lei dat sowel die – soos dit daar lui – “ryke verskeidenheid” van stemme uit “die Suid-Afrikaanse leefruimte” en uit “die breë Afrikaanse spraakgemeenskap”, as die moontlikheid dat die opgeneemde gedigte “in die volgende eeu steeds vars en sterk sal klink”, in berekening gebring is. Dat dit, soos reeds genoem, ook gaan om “digters wat die potensiaal het om selfstandig te publiseer”, beklemtoon egter weer die belang van die estetiese oorwegings. Waarskynlik vandaar dat die samestellers (Anastasia de Vries en George Weideman) eerder minder digters gekies het om op te neem (11 uit 70 voorleggings), maar dan ’n meer definitiewe profiel van elkeen se werk verskaf het deur byna telkens tussen 10 en 15 gedigte in te sluit.

’n Soortgelyke balans van oorwegings is uit die samestelling van Nuwe stemme 2 af te lei, hoewel in die verantwoording van vyf paragrawe uitvoeriger uitgewei word oor die “verskeidenheid”-maatstaf. Die verskeidenheid sowel as die nuutheid wat die samestellers probeer het om in dié bloemlesing op te vang, betref egter eerder stilistiese en toonaardfasette (“op en wakker, soms raserig, soms gewaag, en ook woedend”; na deeglike beraadslaging is byvoorbeeld ook besluit om gedigte met ‘n sterk aanleuning “by Engelse segswyses” op te neem). Tematiese vernuwings, soos die ervarings van uitgewekenes en soekers na “interne asiel”, word egter ook as opname-oorwegings aangegee.

’n Mens kom dus tog tot die gevolgtrekking dat die estetiese oorwegings vir die twee NS 2-samestellers (Petra Müller en Nèlleke de Jager) swaarder geweeg het as sosio-politieke redes. Is dit miskien daarom dat dit die samestellers nie gehinder het dat slegs 1 van die 16 debutante in NS 2 bruin was nie, terwyl die ooreenstemmende syfers in vorige nommer 3 uit 11 was?

Hoe dit ookal sy, ook die samestellers van NS 2 het ten gunste van minder digters (16 uit 200 voorleggings) en ’n ruimer aantal gedigte per digter (gemiddeld sowat 10) besluit, om sodoende die ingeslote digtersprofiele sterker af te teken.

Dié profielskeppende funksie word toenemend prysgegee in die derde en vierde nommers van die reeks.

Slegs 2 van die 20 ingeslote digterskappe in NS 3 word verteenwoordig deur 10 gedigte of meer. Van 6 digters is slegs 4 of minder verse opgeneem.

In die verantwoording word die nuutheidskriterium sterk beklemtoon. Tematiese sowel as stylvernuwings met betrekking tot die Afrikaanse poësietradisie word aangelê as belangrike maatstawwe. Dit word voorts duidelik dat wat vernuwend geag word, dikwels te doen het met maatskaplike en politieke omstandighede. Bruin mense word byvoorbeeld deur Krog en Schaffer “beny” omdat hulle “op ‘n goudmyn van nuwe woordeskat, nuwe agtergronde en nuwe temas sit”.

Twee stilistiese “verkennings” wat verder in hierdie verantwoording van meer as 3 bladsye uitgesonder word, is die benutting van “die bekende gebrandmerkte Engfrikaans” en die terugkeer “na ou geykte Afrikaans” om dit te “verbrokkel […] tot feitlik betekenislose stukke”. Beide “verkennings” word deur die samestellers geïnterpreteer as ’n duidelike poging van “die jonger digters” om weg te kom “van die bagasie van die ouer digters en hulle verlede”.

Die weerspieëling van die volle spektrum van die Afrikaanse taal- en sosiale werklikheid blyk dus ’n rigtinggewende oorweging by Krog en Schaffer te gewees het, selfs wat betref stilistiese aspekte. Om watter ander rede sou meer as 10 gedigte van Vernie Plaatjies weer ingesluit word, terwyl hy reeds in NS 1 as debutant blootstelling geniet het met eweveel gedigte? Saam met Plaatjies is daar dié keer 5 bruin digters se werk opgeneem (25% van die totaal – ongeveer soos in NS 1).

Vir die samestellers van NS 4 is insluitendheid ’n ewe dominante oorweging, hoewel nie in die sosiaal-politieke sin van die woord nie. Danie Marais en Ronel de Goede sonder stilistiese en tematiese verskeidenheid uit as “een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie”, maar slegs twee van twee-en-twintig digters is nie wit nie.

Die verskeidenheid wat hulle in die “Verantwoording” van amper drie bladsye beklemtoon, betref eerder poësiebeskoulike aangeleenthede. Hulle het vermy om vas te hou aan “rigiede, vooropgestelde idees oor die poësie”, maar beskou – in ’n mate anders as Krog en Schaffer – ook nie vernuwing of oorspronklikheid per se as “’n oplossing” nie. Hulle gebruik die beeld van poësietradisie as “’n rivierdelta en nie ’n enkele stroom nie” om hulle poëtikale openheid te beskryf.

Gedigte van vaster en vryer vormgewing staan dus oral langs mekaar in die bloemlesing; liedtekste (deur Hunter Kennedy van die rockgroep Fokofpolisiekar) en liries belydende verse langs gedigte (deur veral Hennie Meyer, maar ook Jan A.F. du Plessis, Francilié Hoek en Pieter Hugo) wat primêr op tipografiese effekte vir hul trefkrag steun; gedigte wat eie ervarings uniek uitdruk langs verse waarin vir impak staatgemaak word op opvallende, soms parodiërende intertekstuele toespelings; werke in Standaardafrikaans langs gedigte waarin niestandaardvorme daarvan benut word om bepaalde leef- en belewingswêrelde outentiek weer te gee.

Vandaar dat die fokus nog verder as in NS 3 weggeskuif word vanaf die profilering van bepaalde indiwiduele digterskappe, in die rigting van beeldvorming van iets meer kollektiefs, naamlik van (aspekte van) ’n bepaalde tydsbestek in die Afrikaanse poësiegeskiedenis.  Iets soos De Goede voorheen met Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 gedoen het (in 1997 onder haar huweliksnaam Foster, en in samewerking met Louise Viljoen).

Nes in NS 3 is min gedigte (ses of minder) per digter opgeneem. Dié keer is hulle selfs nie eers bymekaar onder die digtersname geplaas nie, maar kom die verse van ’n bepaalde digter verspreid – as ’t ware buite die konteks van die spesifieke digterskap – in die bloemlesing voor. In die inhoudsopgawe agterin die boek word die gedigte van elke digter wel onder sy/haar naam gelys: alfabeties volgens die beginletters van die gedigtitels (nes die digtersname alfabeties volgens vanne vermeld word).    

Meer digters (22 uit ’n oorspronklike 250 insendings), maar minder gedigte per digter as voorheen; gedigte nie geplaas volgens digterskap nie, en in die inhoudsopgawe in ‘neutrale’ alfabetiese volgorde gelys… Daar sit iets ‘onpersoonliks’ hierin. En as ’t ware ter bekragtiging hiervan, is vir die eerste keer in die reeks geen biografiese sketse van die digters in die bloemlesing ingesluit nie. In die “verantwoording” word lesers wel na die internetwebblad LitNet verwys vir “nadere inligting” en “volledige onderhoude” met die digters. Dis egter duidelik dat ’n spesiale poging van die leser vereis word om ’n beeld van die indiwiduele digterskappe te probeer vorm.

Blykens die drie afdelings waarin die bloemlesing verdeel is, is vir ’n tematiese rubrisering gekies. Maar nou word die nette met die afdelingtitels telkens so wyd gegooi, en probeer dit kennelik sulke uiteenlopenhede saamknoop (“Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd”), dat ek twyfel of die identiteite van die verskillende afdelings vir die leser helder sal wees – die verduideliking van die gekose titels in die verantwoording ten spyt. Self erken die samestellers dat “van die gedigte ook in ander afdelings sou kon figureer”.

Maar nou het dit hoog tyd geword dat ek my respek betuig vir Marais en De Goede se poging om met NS 4 iets ánders te bied as bloot ’n versameling van opkomende digterskapsindrukke; om iets meer samehangends – ’n poëtiese tydsbeeld, soos gesê – te skep.

Laasgenoemde behels myns insiens ’n karnavaleske, grens- en hiërargie-vervagende  inklusiwiteit – ’n weerspieëling van die stilistiese en tematiese verskeidenheid waarvan in die samestellers se verantwoording gewag gemaak word. Dis ’n beeld verwant aan die indruk wat die gewilde Afrikaanse kunstefeeste oral in die land op ’n mens maak – daar waar digters byvoorbeeld meermale in samewerking met musiek- en visuele kunstenaars optree. NS 4 is, soos sy voorgangers, ’n kind van sy tyd.

En inderdaad word daarin geslaag om “tog interessante gesprekke tussen digters, gedigte en betekenismoontlikhede [te] bewerkstellig”, soos die samestellers in die “Verantwoording” hoop. Ek noem ’n paar dinge wat my opgeval het.

Intertekstueel is werke van N.P. van Wyk Louw (veral sy ”Karoodorp, someraand”), Gert Vlok Nel, Breyten Breytenbach en Elisabeth Eybers op die voorgrond as lewende Afrikaanse tradisie in NS 4. Daarby is dit duidelik dat die plattelandse wêreld van plaas en dorp steeds ’n belangrike bron van Afrikaanse digwerk is (ook via toespelings op die genoemde gedig van Van Wyk Louw, en op Gert Vlok Nel se Beaufort-Wes-verse en -lirieke).

Niestandaardvorme van Afrikaans is grootliks funksioneel benut, en “Engfrikaans” nie uit die onmag wat deesdae so dikwels spreek uit die radbraakspraak van baie Afrikaanses nie. In twee gedigte van Bibi Slippers, naamlik “words of the day” en “OMW!”, is die Engels byvoorbeeld oorheersend, maar dan as spesifieke onderwerp én as refleksie van soveel hedendaagse Afrikaanse mense – as “nuwe indigents (nuwe behoeftiges) – se ironiese belewenis van hul “exile condign” (verdiende ballingskap) in ’n Engels-oorheerste wêreld.

Of daar “opwindende moontlikhede” vir al 22 die bydraers voorlê as digters, soos in die “Verantwoording” voorspel? Dit sal die tyd maar moet leer.

Soos eintlik verwag kan word van ’n bloemlesing van hierdie aard, bevat NS 4 heelwat wat minder indrukwekkend is, selfs studentikoos aandoen.  Vergelyk onderstaande vers van Hunter Kennedy, wat (bedoeld of nie) tog ’n bietjie tam aandoen, sosiale kommentaar ten spyt:

 

            Bokbefok

 

            ons het saam met Bok gaan probeer tuna vang

die weer was te kak so toe drink ons maar

06:00

Jägerbombs

vissermanne

hulle het hom uitgevra oor “de la Rey” en hy het verveeld

en nugter gelyk

en toe ná al die vroumens- en kaffer-grappies

het die ooms

niks oorgehad om oor te gesels

behalwe die weer nie[.]

 

Aan die ander kant is daar weer ’n paar digters wie se werk sterker, frisser aandoen. Ek het in die lees regmerkies moes maak – uiteraard as spieël van eie poëtikale voorkeure – by gedigte van Lewies Botha, Corné Coetzee, Francilié Hoek, Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Bibi Slippers, Adél Steyn en Marius Swart.

Die heel eerste gedig in die bundel (deur Annie Klopper) is een van dié wat my bybly, en ek sluit graag dié resensie daarmee af.

 

            hoe om ’n dorp te verf

 

            begin by die posbusse –

massiewe gholfballe, skoene, pampoene

geskakeer met fyn skadu’s van roes

verf dan die skoolbusse

skeur die banke en skryf op die dak

woorde wat rym met “oes” en “ak”

(onthou om spelfoute te maak)

skets die skoolmure na aan mekaar

om drome in te perk en daar te bewaar

teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till

’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil

’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe

’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe

’n kind wat rook agter ’n stegie se muur

en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur

laat alles dan verbleik en verweer

spoeg op die sypaadjies

boor gate in die teer

en herhaal

’n paar honderd maal

herhaal[.]

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bookmark and Share

Comments are closed.