Bernard Odendaal. Afrikaanse digkunsontwikkelinge die afgelope dekade

(Voordrag gelewer by ’n byeenkoms van Dames Perspektief, Bloemfontein, 13 Maart 2010)

Hierdie oorsig oor ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie die afgelope dekade moet noodwendig bondig en onvolledig wees. Tematiese ontwikkelinge in hierdie tydperk sluit nou aan by wat ek in my Perspektief en profiel 3-oorsig oor die Afrikaanse poësie van 1998 tot 2003 as dusdanige tendense aangetoon het, en ek gee hier dus min aandag hieraan.

Dis nou al ou nuus dat die publikasie van Afrikaanse digkuns by die hoofstroomuitgewers van 10 jaar gelede, dié uit die NB-stal, destyds ’n laagtepunt bereik het. Digters was dikwels genoop om bundels deels of totaal self uit te gee (soos selfs die pryswennende Zandra Bezuidenhout, met haar debuut dansmusieke van 2000).

Gelukkig het Protea Boekhuis en Lapa-uitgewers daardie selfde jaar tot die Afrikaanse digbundelmark toegetree, later ook PRAAG en Genugtig!, en deesdae selfs Engelse uitgewerye soos UMUZI en Random House. Ook NB kon sy uitgewershuis intussen in orde gekry. Vandag verskyn daar jaar na jaar ongeveer 20 behoorlik gekeurde en geredigeerde digbundels, waaronder telkens ’n paar debute.

Tafelberg se Nuwe stemme-reeks, waarvan deel 4 (saamgestel deur Danie Marais en Ronel de Goede) verlede week by Woordfees in Stellenbosch bekendgestel is, het ook ’n belangrike rol gespeel om digdebutante voorlopig onder die aandag van die leserspubliek te bring. Daardeur is opkomende verskunstenaars aangemoedig om te werk in die rigting van eie solobundels. Van die 16 debutante in Nuwe stemme 2 (saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager), wat in 2001 gepubliseer is, het byvoorbeeld die helfte intussen met eie bundels vorendag gekom.

Geleentheidsbloemlesings soos As die son kom oogknip (samesteller Fanie Olivier, 2002), Honderd jaar later (samesteller Johann Lodewyk Marais, 2006) en My ousie is ’n blom (samesteller Charl-Pierre Naudé, 2006) het in ’n mindere mate tot laasgenoemde bygedra.

’n Ander belangriker impuls tot die hernude bloei in die Afrikaanse poësie, veral in die openbare belangstelling daarin, was die florering van Afrikaanse kunstefeeste. Hiertoe het die inisiatief van Louis Esterhuizen, bestuurder van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch, en sy vrou Marlise Joubert om sedert  2005 elke jaar ’n Versindaba daar in die Boland te organiseer, waarskynlik die meeste bygedra.  

Joubert noem in haar “Inleiding” tot Versindaba 2009 dat 95 digters in die 5 jaar van die bestaan van die indaba daaraan deelgeneem het. Dit verteenwoordig ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld. Wat meer is: Die fees, en die daarmee gepaardgaande bloemlesing, speel kennelik ’n stimulerende rol in die bedrywighede binne die Afrikaanse poësiesisteem, terwyl dit ook die media-aandag trek.

Nicol Stassen (besturende direkteur van Prota Boekhuis wat die Versindaba-publikasie borg) skryf in sy “Voorwoord” tot die einste Versindaba 2009 dat dit vir hom voorkom of die verskeidenheid van die Afrikaanse digkuns toegeneem het (beide in temas en tegnieke) oor die 5 jaar bestaanstydperk van die indaba. Dit gebeur volgens hom ook al hoe meer dat “poësie in ander tale neerslag in Afrikaans vind”, waaronder ’n klein maar merkbare toename in gepubliseerde bundels vertaalde digkuns in Afrikaans gereken moet word. Ook die gebruik om “belowende digters te nooi” en van hul werk in die bloemlesingsreeks op te neem, het vrugte afgewerp: “’n Beduidende aantal het sedertdien hulle debuutbundels gepubliseer,” skryf Stassen.

Jannie Mouton, wie se stigting vanaf die begin die hoofborg van die Versindaba was, het in sy verwelkomingstoespraak tydens 2009 se fees uitgewys dat daar rondom 2005 sowat 10-12 Afrikaanse digbundels per jaar verskyn het; tans tel hy rondom die 20, soos ek ook aan die begin genoem het.

Voeg hierby die stimulerende en in die oog plasende bydraes van poësiekompetisies en –slypskole, ook via internet, en die groeiende aantal sentra waar voor- én nagraadse kursusse in Afrikaanse kreatiewe skryfwerk gevolg kan word (Universiteite van Suid-Afrika, Pretoria, die Vrystaat, Kaapstad en Stellenbosch, ook Noordwes-Universiteit op Potchefsroom). Ook die verskeidenheid pryse wat met digbundels verower kan word, is in hierdie verband te noem. (Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters van 2008 het ’n ongehoorde 4 pryse as debuutbundel vir hom binnegehaal, onder meer die Proteaprys geborg deur Nicol Stassen, uitsluitlik vir digkuns bedoel.)

En dan het ek nog nie eens webwerwe soos LitNet, Woes, Roekeloos, Huis vir Afrikaanse poësie, Komsat digitaal, en Verskrit genoem nie – virtuele ruimtes waarin na hartelus gepubliseer en soms ook kennersterugvoer verkry kan word. ’n Verskynsel wat verbaas in hierdie verband, is die webtuiste Versindaba, wat sowat 9 maande gelede geloods is deur die einste Louis Esterhuizen en Marlise Joubert.

Hoewel net reeds gepubliseerde digters hier gedigte kan plaas, bied dié werf skakels na al die genoemde webwerwe, en verder ’n soort eenstopdiens vir die Afrikaanse (en al hoe meer ook die Nederlandstalige) digkuns: nuuswekkers met skakels na allerlei belangwekkende gebeure wat poësie in die hele wêreld betref, bekendstellings van en resensies oor nuwe digbundels, essays en artikels oor digters en digkuns, blogs bedien deur digters in Suid-Afrika en die Lae Lande, ensovoorts. Na net 9 maande het dié webblad verlede maand (Feb 2010) 8,503 indiwiduele besoeke uit 79 lande gehad, waarvan 63.4% nuwe besoekers was. 10 Maart 2010, 3 dae gelede, was die eerste keer dat ‘n duisend besoeke op een dag gebring is.

Dit beteken dat dié webblad 127,72% bo die wêreld-gemiddeld vaar vir aantal besoeke per poësiewebblad – nie sleg vir ’n ou klein taaltjie aan die uithoek van die wêreld nie, skryf Louis Esterhuizen in ’n e-posbrief aan my.

Waar die poësie dus rondom 2000 as ’n nogals bedreigde genre in die Afrikaanse letterkunde gesien kon word, is dit sedertdien sodanig gekoester en gestimuleer dat Leti Kleyn (2008a), in ’n bestekopmaking van die stand van die Afrikaanse poësie tussen 2004 en 2007, tot die gevolgtrekking kom dat dit as genre “nie meer aan die spreekwoordelike agterspeen suig nie”; trouens, dat dit selfs as ’n bevoorregte genre beskou kan word. 

Parallel aan die groeiende belangstelling loop wat as ’n demokratisering van die Afrikaanse digkuns genoem kan word: ’n oopmaak van die toegang tot die poësiesisteem (deur die genoemde slypskole, skryfkunskursusse en geleentheidspublikasies) en ’n strewe om die hiërargieë van “hoog” (of elitêr) en “laag” (of populêr) daarin gelyker te maak.

Die keuring by toelating tot slypskole of tot publikasie op veral webwerwe (behalwe Versindaba) is minder streng of ongeveer afwesig. Volbloeddigters, rocksangers en liriekskrywers boer saam op verhoë in bekgevegte (i.e. blitsdigkompetisies) en “shows” (soos OOPMOND, KLANKDIG en SKEMERVERSE op die afgelope Woordfees). Digters soos Koos Kombuis, Gert Vlok Nel en Toast Coetzer word sangers, en rockers soos Andries Bezuidenhout, Steve Hofmeyr, Hunter Kennedy en Jak de Priester maak andersom. Amanda Strydom, Johannes Kerkorrel, David Kramer, Stef Bos, en derglike publiseer hul lirieke as (glansend gebinde) “digbundels”. Talle CD’s van makers van ligte musiek spog met toonsettings van gedigte (Laurinda Hofmeyer, Herman van der Berg, Anneli van Rooyen, Andries Bezuidenhout, die rockgroep DKW, ensovoorts). 

Verwant aan die podium-optredes van digters is die wyse waarop woordkunstenaars as vennote van visuele kunstenaars op kunsuitstallings by feeste opduik. Vergelyk

·         die “Uit die palm van die land”- en “ALLOOI”-projekte in 2008 en 2009 op die Volksblad-kunstefees;

·         Strijdom van der Merwe se “Haikoes. Gebede vir die landskap”-projek by die KKNK van 2008, waar haikoes deur Afrikaanse digters op Tibettaanse vlae in die Kleinkaroo-landskap rondom Oudtshoorn uitgestal is;

·         of die “Kreatiewe Kreature”- en “Oor die einders van die bladsy”-projekte onder leiding van Franci Greyling van die Noordwes-Universiteit, wat, soos die genoemde ALLOOI-uitstalling, ook op die afgelope Woordfees in Stellenbosch te sien was.

En dan het ek maar net enkele voorbeelde genoem.

Die “demokratiseringstendens” in die Afrikaanse poësie word waarskynlik op sy daadwerklikste gedemonstreer as ’n mens die 2000- en 2008-uitgawes van Groot verseboek (beide kere met André P. Brink as samesteller) vergelyk met vorige uitgawes (onder samestellerskap van D.J. Opperman). Uiteraard weerspieël die verskillende samestellings die poësiebeskouings van die indiwiduele samestellers, maar hulle is ook uitings van heersende ideologiese en derhalwe ook heersende poësiebeskoulike houdings.

Kritici soos Hein Willemse (1999) kon byvoorbeeld oortuigend aantoon dat D.J. Opperman se verseboeksamestellings wesenlik ’n Afrikanernasionalistiese belewing vergestalt het, met literêr-historiese belang en estetiese gehalte as verdere deuslaggewende kriteria. Met GV2000 en die 2008-uitgawe val die klem steeds sterker op insluitendheid; staan dit klaarblyklik in die lig van die Suid-Afrikaanse “reënboognasie”-ideaal van ná 1990.

Alleen al die omvang van GV2008 – drie dele wat in totaal 1 300 bladsye gedigte bevat (’n groei van meer as 40% op GV2000) – getuig van die strewe na insluitendheid. Let ook op hoe, in ’n aansienlik groter mate as voorheen, digters of gedigte ingesluit is wat “slegs” in geleentheid- en introduksiebloemlesings (soos Nuwe stemme) gepubliseer is; of hoe Brink begin het om al hoe meer gedigvertalings in Afrikaans en selfs liedtekste of lirieke op te neem. Iets wat Opperman glad nie gedoen het nie.

Dis egter nie slegs die groter verskeidenheid vennootskappe na buite wat die Afrikaanse poësie gesluit het of die groter “sigbaarheid” en populariteit van die Afrikaanse poësie wat uitings van dié demokratiseringstendens is nie. Belangrike ontwikkelings in die aard van toonaangewende digkuns moet ook verreken word.

Tydens Versindaba 2006 op Stellenbosch is nogal skerp oor tendense in die Afrikaanse poësie verskil. Breedweg gestel, is daar twee teenstellend geagte strominge onderskei (Odendaal, 2009):

·         ’n meer tradisioneel liriese verskuns, waarin ‘verdigtende’ elemente soos hegte klankstrukturering, ritmiese gestileerdheid, beeldsamehang, stilistiese kompaktheid, betekenisimplikasie-vermenigvuldiging asook die uitbuiting van vormgewingskodes oorheers;

·         en ’n vryer, spontaner en toegankliker poësie, dikwels gekenmerk deur die benutting van spreekritmes en ’n meer verhalende inslag.

Laasgenoemde tendens is deur een gespreksinleier (Phillip John) as “anti-poësie” bestempel. Ander deelnemers, waaronder een van die digdebutante van daardie jaar, Danie Marais, het gemeen dit verteenwoordig dalk ’n vernuwende koers in die Afrikaanse digkuns.

By Versindaba 2007 het Lina Spies haar, in haar Dana Mouton-gedenklesing getiteld “Wat is poësie?”, in geen onsekere terme nie geskaar by die opponente van die “praatpoësie” – laasgenoemde ’n bestempeling wat al meermale aangaande die tweede van die hierbo geïdentifiseerde soorte verskuns gebruik is (onder andere deur Hambidge, 2006:5, en Hugo, 2006). Spies (2007:108) meen onder meer dat

·         hierdie soort Afrikaanse poësie van die jongste tyd, waar dit volgens haar “’n ongekende bloeityd [beleef] gesien al die literêre geleenthede waartydens digters in die kollig staan, hulle verse voorlees en geapploudisseer word”, alte veel “bly steek in die anekdotiese;

·         [dit] word verhalend en prosaïes;

·         wek die indruk van poësie te wees deur kunsmatig gevormde versreëls sonder ritmiese noodsaak”.

Van watter digters se werk praat ons hier? Onder die jongeres waarskynlik die werk van Marius Crous, Danie en Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Andries Bezuidenhout, Johannes Prins, Toast Coetser, Jelleke Wierenga, en derglike – maar gevestigde digters soos Antjie Krog, Charl-Pierre Naudé, H.J. Pieterse, Marlise Joubert, Louis Esterhuizen, Johann Lodewyk Marais, en derglike se werk het eweneens betrekking.     

Hoewel ek nie in enige besonderhede daarop kan ingaan nie (vergelyk Odendaal, 2009), wys ek graag daarop dat die opvatting dat poësie wesenlik liries van aard is, eers sedert die 18de eeu, toe die Romantiese lewens- en kunsbeskouing sy invloed laat geld het, oorheersend geword het. Die domein van die verhalende literatuursoort is terselfdertyd toenemend as die van die romankuns gesien.

Uit daardie Romantiese siening van die verskuns het in die twintigste eeu ’n outonomistiese – en oorwegend taalpragmatiese of retoriese – fokus op die “wêreld in woorde” van veral die enkelwerk voortgevloei. Hierdie ontwikkeling het waarskynlik verder bygedra tot die onderbeligting van die vertellende/verhalende samehange in enkelgedigte, gedigreekse en bundelgehele in die grootste deel van die twintigste-eeuse literatuurstudie.

Die oplewing in die verhalende soort “praatpoësie” is nie uniek aan Afrikaans nie; soortgelyke tendense kan byvoorbeeld in onlangse tye ook in die Nederlandstalige en Engelstalige sisteme bespeur word.

Vergelyk die volgende, inderdaad dikwels diskusseerbare, uitsprake (deur die samesteller, Niel Astley) in die inleiding tot die Engelstalige bloemlesing Staying Alive. Real poems for unreal times (wat ook vertalings uit ’n verskeidenheid ander tale bevat). Dié boek het sedert die aanvanklike publikasie daarvan in Britttanje in 2002 – ’n jaar later ook in bygewerkte formaat in die V.S.A. – ’n yslike verkoopsukses geword. In Brittanje was dit binne ’n week die topverkoper onder digkunspublikasies. ’n Paar Astley-uitsprake:

·         The best contemporary poetry is life-affirming and directly relevant to all our lives. (Bladsy 19)

·         My aim has been to select strong lucid poems by a wide range of poets which will speak to intelligent readers everywhere. (Bladsy 19)

·         [C]lear poems with […] power […] are often formally complex. Their immediacy and directness may have been achieved only after much reworking. That kind of artistry is unobtrusive and does not draw attention to itself, for the poem and the “message” are one and the same. (Bladsy 20)

·         In Brittain, Staying Alive was attacked by […] academic poets for ignoring “a century of poetic invention and exploration.” But this isn’t a book for poetry’s avantgardists and experimentalists, for those who’ve cut off poetry from its readers. (Bladsy 25)

Die oplewing in die narratiewe, “praterige” vers moet dalk in samehang gesien word met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” (of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer). ’n Aangewesenheid op sogenaamde klein vertellings wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied, is hierdeur in die hand gewerk  (Vaessens & Joosten, 2003:86-87). Sulke klein vertellings, waar hulle neerslag in die poësie vind, vertoon daarom dikwels duidelike trekke van die outobiografiese.   Stolk (2007:1129-1130 & 1137) wonder selfs of daar ’n verband kan bestaan tussen die oplewing in narratiewe digwerk en die oorgang na wat hy, vertaald,  “’n deelnemende internetkultuur” noem.

Maar as jy van die “outobiografiese” in die poësie praat (iets wat al in 1999 deur Helize van Vuuren as ’n opvallende tendens in Afrikaans uitgesonder is), is jy al weer na aan die liriese inslag. En soos Neil Astley voorin Staying Alive uitgewys het, beteken narratiewe en meer toeganklike poësie nié dat ingeboet word wat betref stilistiese en vormlike afwerking nie. Jonger onlangse Afrikaanse pryswenners soos veral Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, Loftus Marais en Gilbert Gibson se werk munt uit in die geslypte aard van die indiwiduele verse, die hegtheid van die bundelopbou, die resonansie van die intertekstuele spel en die verwoording van boeiende en verdiepende raaiselagtighede wat daarin voorkom. Voeg hierby die verwikkelde werke van “ou staatmakers” soos Antjie Krog, T.T. Cloete, Breyten Breytenbach, I.L. de Villiers, Pirow Bekker, Johann de Lange, Johan Myburg en Lucas Malan wat in onlangse jare verskyn het, en dis duidelik dat hier nie sprake kan wees van ’n oorheersing van die “praatpoësie”-stroom in Afrikaans nie.

Die situasie maak eerder ’n indruk van verskeidenheid, lewendigheid, bloei. Tekenend hiervan is die “hertoetrede” van digters van wie ons lank laas as digters gehoor het: Jeanne Goosen wat na 32 jaar weer met ’n bundel, elders aan diens (2007) vorendag gekom het; I.L. de Villiers ná 27 jaar weer met Jerusalem tot Johannesburg en Vervreemdeling; Henk Rall na 26 jaar met Geskrifte van ’n vermiste digter; Rosa Smit en Fanie Olivier na 21 jaar met, onderskeidelik, Die begeleiding van duiwe en Apostroof; Johann de Lange na 14 jaar met Die algebra van nood

Die veroudering- en bejaardheidstematiek is nie verniet ’n opvallende preokkupasie in ’n hele paar bundels uit die afgelope dekade nie. Ek noem enkeles: Barend Toerien se Die huisapteek; Petra Müller se Die aandag van jou oë; Pirow Bekker se Stillerlewe en Van roes en amarant; I.L. de Villiers se genoemde twee bundels; Antjie Krog se Verweerskrif; Breyten Breytenbach se die windvanger; T.T. Cloete se Heilige nuuskierigheid.

Hiernaas staan egter die toetrede van debutante wat soms nog in hul twintigerjare is (Carina Stander, Loftus Marais, Danie Marais, Ronelda Kamfer en later vanjaar ook Jasper van Zyl), en in wie se werk byvoorbeeld die aktuele expat-problematiek (Suid-Afrikaners wat hul heil oorsee probeer soek) en vrae na ’n Suid-Afrikaanse en/of Afrikaner-identiteit meermale prominent is (soos, natuurlik, ook in “ouer” digters se werk: Wessel Pretorius, Wilma Stockenström, Antjie Krog, Breyten Breytenbach – noem eintlik maar op) .

’n Terrein wat my persoonlik ’n bietjie bekommer, is die van die poësiekritiek. Dit lyk of die ywer rondom die bevordering van die Afrikaanse poësie, en die demokratiseringstendens daarin, ’n ongeduld met streng kritiek in die hand gewerk het. Kort-kort is daar skermutselings in die pers en op die internet oor resensies waarin meer negatief oor bundels geoordeel word. ’n Uitgewer soos LAPA het (by monde van Dineke Volschenk – kyk Kleyn, 2008b) sommer reguit gesê dat sulke resensies die publikasie van nuwe digbundels kan ondermyn – ’n indirekte dreigement dus.

Bydraend tot die erns van die saak is die afskaling of sluiting van Afrikaans-departemente oral aan tersiêre instellings in die land, sodat daar eintlik maar ’n handjievol poësiespesialiste onder literatore oorgebly het wat meer vanaf ’n objektiewe afstand na verwikkelinge sou kon kyk. Nou kom dit al hoe meer voor dat digters moet inspring om ander digters se werk te resenseer. Die gevaar van baantjies vir boeties word alte groot. 

’n Kwessie wat ek ten slotte graag wil uitlig, is die benutting van niestandaardvorme van Afrikaans in die onlangse poësie. Soos ek in die oorsig op die Afrikaanse digkuns van 1998-2003 in die derde deel van Perspektief en profiel (2006) aangetoon het, hang dié tendens in ’n sekere sin met die verpopulariserings- of demokratiseringstendens saam. Dis trouens ’n besondere uiting van die strewe na spreektaligheid wat ’n uitstaande kenmerk van veel van die twintigste-eeuse Afrikaanse poësie is, en eintlik vanselfsprekend sal voorkom in die hierbo bespreekte “praatpoësie”.

In die Groot verseboek-uitgawes onder Brink se redakteurskap word die benutting van niestandaardvariëteite van Afrikaans dan ook besonder opvallend gemaak. In beide word afgesien van D.J. Opperman se kniebuiging voor die norm van Standaardafrikaans. Brink (2000: i & iii)  bemerk in Opperman se destydse modernisering van “die geradbraakte of skryf-soos-jy-praat taal van die Eerste Taalbeweging”, asook in sy hantering van Peter Blum, Adam Small en Boerneef se taal-“kaperjolle” as “curiosa”, ’n oorwegende “ideologiese konstruksie”, by implikasie dié van Afrikaner-nasionalisme met sy sentralisering van ’n “Algemeen-Beskaafde” norm.

Brink keer dus in sy samestelling terug “na die oorspronklike skryfvorme, in aansluiting by die verruklike verskeidenheid van afrikaanse (met ’n kleinlettertjie) wat deur jonger generasies geskryf word” (Brink, 2000:iv). 

So word die aandag gevestig op ontwikkelinge op die breër Afrikaanse taalterrein wat hulle veral sedert die 1980s gemanifesteer het, naamlik die groeiende bevraagtekening van die hegemonie van Standaardafrikaans en die opkoms van wat al “Alternatiewe Afrikaans” en “Aktuele Afrikaans” genoem is, asook van “Loslitafrikaans” of “Engfrikaans”, “Kaaps” en “Griekwa-Afrikaans” in die media en/of letterkunde (Odendaal, 2006:109). 

Uit die Afrikaanse literatuurgeskiedenis blyk dat die gebruik van (elemente van) niestandaardvariëteite van Afrikaans in die poësie in die eerste plek maatskaplik-politiese oorspronge of oogmerke kan hê. Dit kan die uiting wees van bepaalde streeks- (Boerneef, George Weideman, Thomas Deacon) of groepsidentiteite/-realiteite (byvoorbeeld Adam Small en sommige van die latere sogenaamde Kaapse Vlakte-digters).

Andersyds (of tegelykertyd) kan dit ‘n vorm of onderskraging van maatskaplik-politiese verset of ideologiekritiek wees, naamlik as ‘n teenvoeter vir of ter ondermyning van die standaardvariëteit soos gesien as  as toegeëien deur die voormalige Afrikanermaghebbers (Peter Blum se “Kaapse sonnette”, Adam Small, enkele Kaapse Vlakte-digters).

Die gebruik van niestandaardvariëteite van Afrikaans kan in die tweede plek literêr-strategiese funksies hê.

 

Bookmark and Share

25 Kommentare op “Bernard Odendaal. Afrikaanse digkunsontwikkelinge die afgelope dekade”

  1. Johann :

    Beste Bernard –

    Met al die waardering wat ek het vir jou oorsig, is daar tóg dinge wat krap. Daar is name wat ontbreek & daar behoort te wees. Dis duidelik dat jou fokus oorwegend op debutante die afgelope dekade is. As jy jou stuk meer pertinent so betitel het, sou hierdie besware nie opgeduik het nie.

    Die afwesigheid van figure soos Daniel Hugo & Joan Hambidge, om maar twee voor die hand liggende name te noem, is opvallend. Daar gebeur darem meer in die poësie as wat die nuwe generasie produseer, daar is meer variasie. Hierdie figure het ook nie volledig gevorm soos Dionusos uit die dy van Zeus gepeul nie, hulle het hulle voorgangers gehad, & dis nódige konteks. Waar is Adam Small wanneer dit kom by Ronelda Kamfer, waar is Stephan Bouwer, die natuurlike voorloper vir Loftus Marais?

    Ek voel dat jy in jou fokus op wat sg. nuut is (ook net nuut op die oppervlak – wérklike vernuwing het ons nog nie weer sedert Cloete gehad nie) die bydrae van ander digters verwaarloos het. Alhoewel jou voordrag gelewer was by ’n byeenkoms van Dames Perspektief dink ek jy moes dit bygewerk het of anders struktureer het voor publikasie op Versindaba.

    Groete,
    Johann de Lange

  2. Bernard Odendaal :

    Johann, jy het natuurlik volkome reg dat die oorsig onvolledig en eklekties is – ek het trouens reeds in die heel eerste paragraaf van die praatjie iets in dier voege erken.
    Miskien moes ek die woord “enkele” vooraan die opsrkif gevoeg het – toe ek die bloginskrywing plaas, wou ek, maar het weer daarteen besluit omdat ek die opskrif kort wou hou.
    En ek het ‘n paar weke gehuiwer voordat ek die praatjie op my blog geplaas het, aangesien ek oorweeg het om dit uit te brei. Toe daar verlede week die vooruitsig opduik dat ek in elk geval binnekort ‘n meer volledige oorsig sal moet skryf vir ‘n ander publikasie, dag ek om hierdie weergawe, met sy fokus op die groei in kwantiteit en verskeidenheid, dan tog maar so in my blog te publiseer.
    Jou opmerking oor “werklike vernuwing” is een wat ek beslis in die oor sal knoop vir toekomstige navorsing. Ek dink nogal daar is (minstens) ‘n strewe na, ‘n beywering vir vernuwing te bespeur by van die digtersname wat ek in my oorsig noem.
    Of so iets al daadwerklik teweeggebring is? Dit sal die tyd en heelwat meer ondersoek moet leer.

  3. Bernard Odendaal :

    Johann, kan dit wees dat die Afrikaanse digkunssisteem die afgelope dekade en ‘n half ‘n soort handhawings- en konsolidasiefase deurgegaan het – en dat die platform van institusionele stewigheid nou geskep is vir eksperimentering, kritiese (self-)beskouing, vernuwing om plaas te vind? Vandaar byvoorbeeld Danie Marais se versugting dat politieke korrektheid (om dit onpresies, eintlik “platweg” te stel)ter wille van openheid en egtheid oorkom moet word? En vandaa nog ander se bepleiting van ‘n anderse, “dunner”, minder markante maar ewe “gemotiveerde” soort prosodie wat nader aan die “morsige” aldag en sy spreektaligheid staan – ‘n prosodie waarvan die kontoere vir my nog nie so helder is nie?

  4. Joan Hambidge :

    Beste Bernard

    Met al my waardering vir jou werk as kritikus op die Versindaba-webblad, skaar ek my by Johann. Jy gee ‘n skeefgetrekte weergawe van die ontwikkelinge die afgelope tyd. Dosente doseer kursusse oor kanonisering en studente lees hierdie bydraes. ‘n Te groot fokus op debutante of nuwe stemme is beslis nie in orde nie. Dieselfde geld jou resensie van Nuwe stemme 4 wat min verraai oor die jongste bundel en te veel fokus op die voorgangers.
    Jy skryf onder andere:”Nou kom dit al hoe meer voor dat digters moet inspring om ander digters se werk te resenseer. Die gevaar van baantjies vir boeties word alte groot”. Dit is / was nog altyd ‘n probleem hier te lande. Elders word digters ook deur digters geresenseer.
    Juis omdat jou lesing ‘Afrikaanse digkunsontwikkelinge die afgelope dekade’ in soveel besonderhede ingaan op sekere aspekte van die digkuns, is die hiate des te opvallender

  5. Charl-Pierre Naude :

    Dis opvallend dat dit makliker is om ‘n dooie digter/kritikus, soos D.J. Opperman, te kan kritiseer vir sy ideologiese blik, as om ‘n lewende praktisyn te kritiseer. Sou dit in sigself ideologiese bevangendheid kon verraai?

    Die Afrikaanse kritiek, selfs die Afrikaanse letterkundige gesprek in die breedste moontlike sin, sal eers werklik op vaste voete van selfbeskouing staan as deelnemers onomwonde kan sê: “So-en-so lewende persoon se idee van ‘kanonisering’ verraai ‘n so-en-so ideologiese blik.” Gewoonlik wanneer dit gebeur, het jy ‘n “kussinggeveg” of iets dergeliks, pleks van ‘n gesprek.

    Terloops: Wat hét die werk van Hugo of Hambidge in die laaste twee dekades bygedra tot die tema van ontwikkeling (wat die gekose tema is van Bernard Odendaal se artikel hierbo)? Verwysing binne hierdie tema na daardie genoemde digters sou myns insiens eerder in ‘n ander tydsbestekfokus tuishoort.

    As daar iets negatiefs is wat opval in Bernard Odendaal se skrywe hierbo, is dit die omsigtigheid daarvan. Omsigtigheid is nie dieselfde as versigtigheid nie. En ek dink omsigtighheid kan afbrekend wees, en is juis ‘n uitvloeisel van ‘n oorbewustheid van ingegrawe belange, en omringende oorgelewerde beskouings. “Omsigtigheid” word veels te dikwels verwar met “oorwoë”. Dis eweneens nie dieselfde nie. En ek sê dit ondanks my eie respek vir jou as kritikus en kommentator sowel as digter, Bernard. (Terloops, dit is ‘n baie goeie artikel hierbo, na my mening. Ek verskil van beide Joan en Johann hierin. Die strekking van die skrywe hierbo is van meet af duidelik: dis hoofsaaklik opsommend, nie analities nie, en as sulks baie informatief. ‘n Artikel kan nie altyd albei daardie dinge gelyktydig wees nie.)

    Maar, meer belangrik: As “kanonisering” op werklik krities-beskouende manier gedoseer word, sal die lees soos hierdie bydrae van Bernard geen skade of verwarring of “skeefgetrekte blik” kan meebring nie. Dit sal slégs kan bydra.

    Om daardie sin van Joan Hambidge in verband te bring met my stelling in my eie paragraaf 2: Die gestelde verwysing na “kanonisering” verhef universiteitsdenke onkrities as vanselfsprekend bo ander bydraes. En dit verraai ‘n hierargiese ingesteldheid wat lankal net so uitgedien is soos Opperman se Afrikaner-nasionalistiese blik van destyds. Hiermee meen ek nie dat universiteitsdosering nie ‘n sentrale rol in kultuur moet speel nie. Dit moet. Maar dit moet eweneens sigself bewys, net soos enige rol in die breër gesprek buite om dit: en dit moet dit doen, every step of the way. Nou dit gebeur nié in die geval van elke kommentator aan ‘n universiteit verbonde nie …

    In Amerika sal jy ‘n skrywer kan kry wat geen graad het nie, wat ‘n professor word. Dít is die mate waarin akademiese denke daar homself in interaksie plaas met die breër gesprek. Dis ondenkbaar hier by ons.

    “Kanonisering” in Afrikaans is nader as ooit te vore aan ‘n meer driedimensionele selfbeskouing, ondanks die tekortkominge, soos die een genoem in die voorafgaande paragraaf.

    En te oordeel aan sommige van sy skrywes op Versindaba, doen Bernard Odendaal meer om aan die Afrikaanse kritiek ‘n spieël voor te hou as die meeste ander kommentators.

  6. Charl-Pierre Naude :

    Vergun my ‘n voetnota of twee: Die houding wanneer in kritiese gesprek met mede-praktisyne van die letterkunde tree, moet liefs spesifiek wees, ten opsigte van bepaalde punte, en liefs met respek. Sodoende kan mens by gesprekspunte bly, en hulle interessant hou.

    Dankie aan Bernard, Joan en Johann vir die geleentheid tot my eie kommentaar.

  7. Bernard Odendaal :

    Charl-Pierre,
    ek gee graag toe dat my geimpliseerde aanname omtrent akademici as meer objektiewe kritici ‘n fout is. Daar het ek in die slaggat getrap om wat in die verlede oorwegend plaasgevind het, as maatstaf te neem.
    Ek dink dit sal selfs opwindend wees as ook mense wat nie noodwendig digters is nie, maar buite die literêr-akademiese geledere staan, en wat steeds met die oortuigingskrag van digterlike fynvoelendheid en van onderlegdheid in die vakgebied kan skryf, tot die kritiese debat in Afrikaans kon toetree.
    Maar van waar, Gehasi?
    Dalk veroorsaak die ernstige terugsnoeiing in Afrikaanse literatoregeledere dat daardie potensiaal op onverwagte plekke tot bot kom?

  8. Louis :

    Ek is bly die kwessie van “vernuwing” kom hier ter sprake, want dit gee my die geleentheid om iets kwyt te raak wat my al lankal op die longe lê. Praat ons nie dalk te gou van “vernuwing” nie? Ek meen, kan iemand wat “anders” of “uniek” skryf, werklik “vernuwend” wees? Impliseer “vernuwing” nie terselfdertyd ‘n mate van navolging deur ander digters nie? So was Breyten werklik vernuwend; ook Ingrid Jonker. TT Cloete? Hy is ‘n fantastiese digter, maar enig in sy soort, en het daarom “verruiming” gebring en selfs “ontwikkeling”. Maar “vernuwing”? Ek weet nie …
    Nietemin, gesien binne konteks van bogenoemde was Gert Vlok Nel waarskynlik ons laaste werklik “vernuwende” digter. Maar kom ons speel ‘n agtertoekykspeletjie: Gert Vlok Nel kon skryf soos hy geskryf het omdat daar ‘n Johan van Wyk was; hy kon skryf wat hy geskryf het omdat daar ‘n Wopko Jensma was; hy kon skryf wat hy geskryf het omdat daar ‘n Breyten (van “Skryt”-faam) was; hy kon skryf wat hy geskryf het omdat daar ‘n Lucebert was … Die punt is: Ons moet myns insiens mooi onderskei tussen wanneer ‘n digter die digkuns “verruim” en wanneer hy of sy dit inderdaad “vernuwe”. Aan die ander kant: geen digter ontstaan in ‘n “vakuum” nie en boonop kan die bloedlyn ook in invloede buite ‘n bepaalde digkuns gevind word. So staan Johan van Wyk se bundel “Bome gaan dood om jou” direk in die skadu van David Byrne se lirieke op Talking Heads se album “Fear of music”.
    Of die nuwe generasie digters waaroor ons so opgewonde raak werklik “vernuwend” is? Net die tyd sal leer … Maar ai, laat ons ten minste hoop op ‘n indringende “verruiming” of “verbreding” van ons digkuns.

  9. Esma :

    Voordat iemand nie verduidelik wat presies bedoel word met vernuwing & met verruiming nie, kan ek hierdie gesprek nie juis volg nie. Gaan dit oor tematiese verruiming/vernuwing, oor ‘nuwe’ stylverskuiwings, oor vormbeheer. Wat dan? ‘n Duidelik definisie vir die uwe wat ‘n leek is, plus voorbeelde (!) sal van hulp wees as iemand so gaaf sal om die moeite te doen.

  10. Louis :

    Heeltemal gelyk, Esma & Johann. Esma se vraag eerste: vernuwing en/of verruiming gaan myns insiens oor ‘n unieke benadering tov sowel tematiese as stilistiese vormbeheer. Sommige digters word as “vernuwend” beskou omdat hulle oor ander temas skryf as die meeste digters (soos Breyten toentertyd, of selfs Ingrid Jonker). Ander skryf dalk oor gebruiklike temas, maar op ‘n totaal ánder manier, terwyl ander weer (soos Johann se voorbeeld van TT Cloete) op tematiese sowel as stilistiese manier “uniek” is. En daarmee gee ek Johann gelyk. En ja, allerweë word Cloete gesien as “vernuwend”. My vraag is egter of dit werklik “vernuwend” kan wees wanneer daar geen “navolging” is nie. Na Breyten en Gert Vlok Nel was daar etlike (veral jonger) digters wat “soos hulle” probeer dig het; daarteenoor het Cloete vele digters geïnspireer om meer waagmoedig die moontlikhede van taal te ontgin en nuwe, onverwagse temas te betrek. Maar niemand het probeer om “soos Cloete” te dig nie; waarskynlik omrede niemand daartoe in staat sal kan wees nie …
    Elkeen van die name wat jy noem, het in hul eie, kenmerke digstyl voortgewerk, “verryk” en “verruim” deur Cloete se aanslag, ja. Maar “vernuwe”? Ek weet nie …

  11. Daniel Hugo :

    Ek verskil van jou, Louis. Tom Gouws kom in heelwat gedigte baie na aan ‘n Cloete-epigoon te wees.

  12. Joan Hambidge :

    Kyk na die invloed van Cloete op die geslag van 80: De Lange, Johann Lodewyk Marais, Antjie Krog, Tom Gouws…

    Cloete het iets nuuts gebring: die gebruik van wit ruimtes in gedigte wat die gedig tussen strofes dubbelsinnig maak, sodat jy dit vorentoe en agtertoe kan lees; die ontginning van klank; die inbring van die intellektuele diskoers binne ‘n dikwels banale gegewe; rymontginning…

    Ek verwys lesers na my essay Die hipnose van die digkuns op Litnet.

    Cloete is verruimend en vernuwend. Tematies wyd: natuurverse, verse oor die kosmos, die lewe/dood. Trouens, die konsep van jukstaposisie is eie aan sy digkuns.

    Tegnies vernuwend en tematies vernuwend.

  13. Louis :

    Okei, Joan en Johann – nou’t julle die één woord gebruik wat my argument van die tafel af vee en dit is die woord “invloed”. Natúúrlik het Cloete ‘n enorme invloed op ‘n hele galery digters gehad en kan natuúúrlik daarom as “vernuwend” beskou word. Maar was hy alleen hierin? Wat is die rol van ander woordbewuste en/of taalgerigte (dêmmit, hoe aangekoek is ons terminologie nie, maar julle weet wat ek bedoel) digters soos Stockenström, Hugo en Gibson in die groter bewustheid rondom taalgevoeligheid die afgelope klompie jare? Sou julle kon argumenteer dat daar ‘n bepaalde groepering van digters rondom Cloete tot stand gekom het – soos in die mate wat daar byvoorbeeld tans ‘n bepaalde groepering rondom die “praatpoësie” van Charl-Pierre Naudé en Danie Marais besig is om te ontstaan? En, indien ek nog ‘n swaaibal mag aflewer: Is laasgenoemde nie dalk júís in reaksie op eersgenoemde nie?
    Waarskynlik is dit so dat ‘n beskrywing soos “vernuwing” verskillende betekenisse het binne ‘n digkuns waar 200 bundels per jaar verskyn en een met ‘n skamele produksie van 20. Binne ons spesifieke omstandighede sal ons vernaamste digters waarskynlik altyd “uniek” en alleenstaande wees met ‘n wye invloedsfeer eerder as ‘n aantoonbare “literêre beweging”. Maar wat van ontluikende digters soos Hunter Kennedy en Toast Coetzer wat nog nie eens ‘n bundel geproduseer het nie en reeds oor ‘n kultus-aanhang beskik wat menige “gevestigde” digter maar net van kan droom? Ook húlle is vernuwend in die ekstreme, is dit nie?
    Miskien is die belangrikste gevolgtrekking wat ons kan maak, die volgende: Dat, binne ‘n klein opset soos ons s’n, ALLES met mekaar verband hou en dat ons digkuns AL haar digters nodig het, aangesien elke publikasie ons digkuns “verruim” of ontwikkel. En dít, myns insiens, is die murg in ons pype. Verskeidenheid.
    En dít is die rede waarom ek sommer baie opgewonde is oor Nuwe Stemme 4. Of daar “vernuwende” digters in opgeneem is, weet ek nie. Maar myns insiens beslis “eiesoortige” en “unieke” digters.

  14. Bernard Odendaal :

    Van Wyk Louw het mos vier vlakke aangedui waarop literêre vernuwing kan plaasvind (hoewel hy dit spesifiek oor die prosa gehad het): tematies, stilisties, struktureel en wêreldbeskoulik (ideologies). Laasgenoemde synde die radikaalste, daar dit gewoonlik ook die ander vlakke raak.
    Tans het Afrikaanse mense (nie net Afrikaners nie) myns insiens in ’n ideologiese doodloopstraat beland, in die dryfsand – ek weet nie mooi watter beeld om te gebruik nie. Dis selfs meer as ’n beskoulike dilemma: ’n (voort-)bestaanskrisis. Die felheid en dringendheid van die Afrikaans-debat met betrekking tot byvoorbeeld die Universiteit van Stellenbosch druk na my gevoel iets daarvan uit. En daardie gedig van Hunter Kennedy in Nuwe stemme 4 wat ek in my resensie so “studentikoos” gevind het, ook. Ook Angus Buchan se Mighty Men-saamtrekke waarheen veral Afrikanermans in hulle hordes stroom…
    Waarnatoe nou? hoe nou? verbeel ek my hoor ek oral.
    In elk geval bevind ek my nou al ver in die oop veld van bespiegeling. Daarom kan ek seker maar ook bely dat ek al gewonder het of die (aspekte van die) bedrywigheid in die Afrikaanse poësie wat ek in die ontwikkelingsoorsig hierbo probeer skets het – waaronder die “terugkeer” van ’n paar ouer digters wat lanklaas van hulle laat hoor het – nie hiermee verband hou nie.
    Of is dit alles maar net toeval?
    In sy voorwoord tot die bloemlesing Staying Alive. Real Poems for Unreal Times (wat ek ook in die oorsig hierbo vermeld) haal samesteller Neil Astley die kritikus John Carey soos volg aan: “In New York since September 11 many people have felt poetry the only adequate response, as poems pinned to the boardings around Ground Zero show… Only poetry can mend a rupture in our civilization. Poetry will not go away, however generally ignored, and this is not only because, as Larkin said, we will always be surprising a hunger in ourselves to be more serious, but also because life will not tire of throwing things to be serious about in our way.”
    Die akute behoefte aan “min maar suiwer woorde”.

  15. Johann :

    Bernard, ek laat die volgende in julle midde. Ek vermoed dit is die tipe uitspraak wat straks lig kan werp op al die rondtastery hierbo:

    “People like direct poetry only in times of injustice, times of communal silence. Times when they are unable to speak or act. Poetry that whispers or suggests can only be felt by free men. By the citizen who can speak up and does not have to give that task to another.” —Mourid Barghouti, I Saw Ramallah

  16. Desmond :

    Bernard en Johann, jammer vir die lang aanhaling wat volg, maar dit sluit aan by hulle aanhalings hier bo. Dit is die flapteks van Robert Pinsky se Democracy, Culture and the Voice of poetry:

    “The place of poetry in modern democracy is no place, according to conventional wisdom. The poet, we hear, is a casualty of mass entertainment and prosaic public culture, banished to the artistic sidelines to compose variations on insipid themes for a dwindling audience. Robert Pinsky, however, argues that this gloomy diagnosis is as wrongheaded as it is familiar. Pinsky, whose remarkable career as a poet itself undermines the view, writes that to portray poetry and democracy as enemies is to radically misconstrue both. The voice of poetry, he shows, resonates with profound themes at the very heart of democratic culture. There is no one in America better to write on this topic. One of the country’s most accomplished poets, Robert Pinsky served an unprecedented two terms as America’s Poet Laureate (1997-2000) and led the immensely popular multimedia Favorite Poem Project, which invited Americans to submit and read aloud their favorite poems. Pinsky draws on his experiences and on characteristically sharp and elegant observations of individual poems to argue that expecting poetry to compete with show business is to mistake its greatest democratic strength – its intimate, human scale – as a weakness. As an expression of individual voice, a poem implicitly allies itself with ideas about individual dignity that are democracy’s bedrock, far more than is mass participation. Yet poems also summon up communal life. Even the most inward-looking work imagines a reader. And in their rhythms and cadences poems carry in their very bones the illusion and dynamic of call and response. Poetry, Pinsky writes, cannot help but mediate between the inner consciousness of the individual reader and the outer world of other people. As part of the entertainment industry, he concludes, poetry will always be small and overlooked. As an art – and one that is inescapably democratic – it is massive and fundamental.

  17. Johann :

    Om aan te sluit oor jou opmerking oor VWL se uitspraak rondom vernuwing in die prosa sou ek dit wou waag om te sê dat Cloete se invloed veelal op tematiese, stilistiese, & strukturele gebied deurgewerk het. Hoewel hy ‘n unieke wêreldbeskouing binne sy eie oeuvre uitgebou het, het daar nie invloed van uitgegaan op die breër strominge nie.

  18. Louis :

    Sjoe, Desmond. Wat ’n aanhaling … Dankie daarvoor. In my soeke na waar om dié boek te bestel, het ek die eerste hoofstuk op de internet kon raaklees. (Gaan kyk by: http://press.princeton.edu/chapters/s7329.html) As toegif by jou aanhaling, die volgende: “But it is historical memory that tempers both of the imagined extremes of culture, the barely habitable polarities of total undifferentiation and total fragmentation. Memory resists uniformity because it registers fine gradations; memory resists the factional because it registers the impure, recombining, fluent nature of culture. It is memory that eventually undermines the apparently total successes of both the colonializing Conquistador and the leveling Visigoth. The fantastic element in democratic memory exaggerates the anxieties of uniformity and fragmentation.”
    Die voorhamer-aanhaling is egter wanneer Pinsky vir Alexis de Tocqueville soos volg aanhaal: “Thus not only does democracy make every man forget his ancestors, but it hides his descendants and separates his contemporaries from him; it throws him back forever upon himself alone and threatens in the end to confine him entirely within the solitude of his own heart.”
    Terloops, ek kon toe wel ’n verskaffer opspoor en het summier twee kopieë bestel – een vir myself en een vir wie ook al belangstel. Pinsky is inderdaad ’n fyn denker en ’n meester. Dankie, dankie, dankie.
    Louis

  19. Charl-Pierre Naude :

    Hallo Bernard,

    Ek dink nie daardie fout was joune nie. My voorbehoud was oor een van die opmerkings hier bo, wat lui: “Dosente doseer kursusse oor kanonisering en studente lees hierdie bydraes (soos joune).”

    Overgetsynde se ek op daardie (die aangehaalde) punt: As “kanonisering” gedoseer word op ‘n wyse wat voortdurende kritiese beskouing van die sogenaamde kanon in die hand werk, sal alle beydraes (self swak bydraes) waardevol wees. Want vir die kritiese gees is niks gevaarlik of benouend nie of misleidend nie.

  20. Johann :

    In sy bespreking van die gedig “21 november 1981” deur Jan Eijkelboom op Meander se webblad maak Joop Leibbrand die volgende interessante opmerking:

    Meestal ontstijgen gedichten die dicht op de actualiteit zitten, het niveau van gelegenheidsgedicht niet. Of ze nu te gemakkelijke waarheden debiteren, te nadrukkelijk geëngageerd zijn, of mank gaan aan de retoriek van te grote woorden, ze zijn haast per definitie oppervlakkig, eendimensionaal; ze blijven steken in een uit de buitenwereld afkomstige aanleiding, geven daarop alleen maar een reactie. In dit verband zegt Hugo Brems streng: “In de poëzie moet de illusie blijven bestaan dat er daar wezenlijker dingen over het leven te vernemen zijn dan in de alledaagse werkelijkheid. Dat kan alleen door de échte werkelijkheid op afstand te houden.” (De dichter is een koe, 1991).
    [http://klassiekegedichten.net/archief/klas044.html]

  21. Desmond :

    Louis, ja, interessante aanhaling van De Tocqueville! Hy het natuurlik ‘n bepaalde soort liberale demokrasie in gedagte… een van die beste literere gesprekke met sy idees oor Amerika en die demokrasie ss sekerlik Richard Ford se roman, Independence Day. Die hoofkarakter, Frank Bascombe, en sy seun ry mos deur (‘n deel van) Amerika met De Tocqueville se boek op die motor se agtersitplek. Bascombe reflekteer deurgaans op die boek, op Amerika, en op isolasie vs. gemeenskap, of onafhanklikheid vs. afhanklikheid. As ek nou reg onthou; dit is ook al ‘n klompie jare gelede…

  22. Charl-Pierre Naude :

    Meestal/ Nie noodwendig nie.

    Die opmerking van Johann hierbo kom buite konteks voor. Ek volg dit nie heeltemal nie.

    Ons weet dat Odendaal een van die organiseerders was van ‘n belangrike onlangse simposium oor die aard van die eietydse verhalende liriese vers in Afrikaans, wat ou opvattings in Afrikaanse kritiek gerelativeer en opnuut gekontekstualiseer het. Danie Marais (een van “Nuwe Stemme” se samestellers) en ekself het daar gepraat. Ons gelewerde referate is op Versindaba by “Artikels” te lees.

    Johann (de Lange) se opmerking en aanhaling uit Leibbrand wek die indruk dat dit van die eietydse strominge in die Afrikaanse digkuns, soos onder andere hierbo aangetoon, op veralgemenende wyse verminderd wil voorstel. Dis nie wat Leibbrand gedoen het nie. Ons weet tog lankal dat daar ‘n konserwatiewe element is in die Afrikaanse poësiekritiek wat alles wat buite-om die oorgelewerde retoriek van die Afrikaanse poesie val, as sogenaamd anektoties wil voorstel, en dus so wil afmaak. En hierdie opmerking van Johann weerspieël ongelukkig daardie siening.

    Wat Leibbrand hierbo in Johann se aanhaling kwytraak, is heeltemal korrek. Maar die onderskeidende woordjie in sy betoog is “meestal”. Anekdotiese poësie, soos dit dikwels ook voorgekom het en steeds voorkom in die sogenaamde “polities betrokke” vers, en soms gesien kan word in die digkuns wat byvoorbeeld deur Poetry Africa bevorder word, is inderdaad meestal oppervlakkig en eenduidig. Meestal. Oftewel, soms.

    Feit is: Die nuwe verhalende liriese poësie, oral ter wereld, kan die alledaagse realiteit net so kompleks maak soos ander vorme van die liriese poësie, en dit selfs soms beskaam. Dis ‘n stroming wat by die dag beter gevestig raak, ook in Afrikaans. Die kwessie is al ad infinitum bespreek.

    Trouens, dieselfde Joop Leibbrand oordeel heel positief oor verhalende strominge in die onlangse Afrikaanse poësie (in dieselfde tydskrif, Meander). Hy was die resensent van ‘n digbundel deur myself, “Sien jy die hemelliggame”, asook een deur Danie Marais (“Al is die maan ‘n misverstand”), wat albei ruim van verhalende elemente gebruik maak. Gaan lees maar albei resensies op Meander se webwerf.

    Die verhalende vers val nie noodwendig in die anekdotiese of die alledaagse vas nie. As hierdie terme nie onderskeidend gebruik word nie, is hulle misleidend en erg vervlakkend.

  23. Danie Marais :

    Beste Johann, in daardie geval hoop ek die Leibbrand-aanhaling was nie ‘n reaksie op my essay nie. My skrywe was nie ‘n pleidooi vir die fokus op aktualiteit nie, maar eerder ‘n spekulasie oor die redes waarom wit digters, ek inkluis, die kleurtema so graag vermy sedert ’94, terwyl dit ons tog op allerhande maniere raak.
    Ek dink enige poëtiese aanslag of fokus hou gevare in vir die digter. Die vrye vers en die vormvaste gedig het elk hul eie moontlikhede en slaggate. Ek glo ook nie een is noodwendig beter as die ander nie. The proof of the pudding is in the eating.

    Groete
    Danie

  24. Charl-Pierre Naude :

    Dit is inderdaad ‘n gevaar, soos jy met reg herbeklemtoon, Johann. Wat duidelik word, is hoe stellings, riglyne, gesteldhede, veral in die letterkunde, almal hul begrensing het. En wanneer mens nader aan daardie begrensing beweeg, DAN raak dinge werklik interessant. Dis dan dat die ding begin ruk. As mens Danie en Johgannse stellings hier teen mekaar laat inspeel, voele mens die begrensings aan.

    As aktualiteit ‘n sleutel is tot die poetiese, dan behoort dit in orde te wees? Ek lees nou die dag ‘n paar verse van Hans Magnus Enzensberger in Nederlands vertaal. Hy fokus amper altyd op die aktuele. Maar wat duidelik word (veral by hom) is dat wanneer die aktuele poeties aangewend word, word dit amper on-aktueel. Die digterlike is per definisie die ontkragtiging, die vernietiging van enige aktualiteit, al lyk die gedig ook hoe aktueel – omdat die aktuele sy volledige betekenis binne die durende moment vind, en die digkuns amper altyd in wese “afgeloop” is. Dis uit die ryk van “afgeloopte dinge” wat die digkuns kom, al roep dit die oomblik ook op. Met ander woorde aktualiteit in die gedig wat waarlik gedig is, is oeverblindery. En die aktuele vers wat sy eie aktualiteit nie kan oorstyg nie, word dan ook nie genoegsaam gedig nie.

    Maar ja, hierdie stelling van my het seker ook maar sy begrensing.

  25. Johann :

    Danie, beslis nie ‘n reaksie op jou stuk nie, eerder as aansluiting by ‘n groter debat wat al dekades aan die gang is. Leibbrand het bloot vir my iets goed verwoord wat deel uitmaak van my persoonlike poëtiese credo. Hoe ookal, soos jy sê, watter aanslag mens ook vat in jou skryfwerk, elk het sy slaggate & elk is ‘n koorddans wat bo alles baláns eis.