Onderhoud. Clinton V. du Plessis

Brutaal genoeg om ʼn digter te kan wees …

Louis Esterhuizen in gesprek met Clinton V. du Plessis

 

 

Clinton V du Plessis

Clinton V du Plessis

Clinton V. du Plessis publiseer verskeie dig- en kortverhaalbundels, waaronder geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, curriculum vitae, in god’s country: no. 2–21, Tussentydse verslag, Kort van draad en Brunch met twee. Van sy werk is ook in ’n hele aantal plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem en hy lees gedigte voor by kunstefeeste, insluitende die Twee tot Twaalf-fees in Nijmegen, Nederland. Nadat hy drie en ’n half jaar as rekenmeester in Johannesburg gewerk het, is hy terug op Cradock waar hy voltyds skryf en ook optree as rubriekskrywer vir Rapport en LitNet.

 

 

 

 

 

 

Clinton, die gehalte van jou verse, en ook jou reputasie as gevestigde digter, is sodanig dat uitgewers oor hul voete behoort te val om ʼn nuwe bundel van jou uit te gee. Waarom dan die besluit op die selfpublikasie van jou bundel gedigte, talk show hosts & reality shows  (2009: Ama-Coloured Slowguns)?

 

Wel, Louis, selfpublikasie was en is nog steeds vir baie bruin Afrikaanse skrywers dié opsie. Ek moet eerlik wees en erken dat ek vreeslik lanklaas kontak gehad het met formele uitgewerhuise, maar ons almal het hoofsaaklik, onaangename herinneringe van dié interaksies. Ons deel die gevoel waarvan Bruce Springsteen sing op sy, Born in the USA : “You end up like a dog that’s been beat to much/till you spend half your life just covering up.”

 

Ek moet erken dat gedigte, talk show hosts & reality shows, einde verlede jaar nogal as ietwat van ʼn verrassing gekom; nie net vanweë die inhoud nie, maar ook vanweë die formaat daarvan: gefotokopieerde verse op A4 papier wat met ʼn plastiese lêerformaat ingebind is. Uiteraard is hierdie ʼn moeisame en duurder produksieproses as die konvensionele boekformaat. Hoekom het jy juis op dié formaat in teenstelling tot gedrukte formaat besluit?

 

Ek het doelbewus probeer om die leser in ʼn “literêre hinderlaag” te lok, as ek dit so kan stel. Ek wou die boek as estetiese objek, op die oog af, ondergrawe, maar lesers moes (hoop ek) aangenaam verras wees met die aard van die inhoud. Die ou storie van “don’t judge a book by its cover.”

 

Op ʼn manier laat die voorkoms en aanbod van jou bundel ʼn mens onwillekeurig dink aan die 1980s toe little magazines en informele produksies van hierdie aard aan die orde van die dag was; vanweë spesifieke redes ten opsigte van sensuur en dies meer. Het jy met gedigte, talk show hosts & reality shows by hierdie tradisie aansluiting probeer vind?

 

Dié bundel is in dieselfde formaat as ʼn ander bundel van my wat in 1991 verskyn het, die titel daarvan was, in god’s country : no. 2-21. Dit was meer van ʼn woedende poëtiese vlugskrif wat sterk standpunt ingeneem het teen sensuur en vele eksperimentele werk bevat het. Ten spyte van die jongste bundel se uiterlike ooreenkoms en moontlike eerste indrukke, dink ek nie dit werk, inhoudelik, so vervreemdend op die leser in soos die destydse bundel nie.

 

Maar kom ons fokus vir ʼn wyle op die bundel self. Die titel, gedigte, talk show hosts & reality shows, is beslis ʼn ongewone en veelseggende titel. Kan jy vir ons ʼn aanduiding gee van wat dié titel alles vir jou impliseer?

 

Oral sluip daar grootskaalse vervlakking in – in koerante byvoorbeeld is daar fokus op korter grepe inligting, minder vir die krities ingestelde om oor na te dink, groter foto’s en grafika op die meningsblaaie. Ek was verbaas om te sien net watter groot lettertipe ʼn koerant soos Rapport gebruik in die redaksionele kolom! Skrywers, kunstenaars moet al hoe meer meeding met die banale. Die verhaal, die sprokie, die vermoë om te droom en te verbeel moet plek maak vir die realiteit van mense wat kitsroem op allerhande bedenklike wyses bekom het. Tussen dit alles deur kry jy dan nog die digter wat hoop om iets te kan skep wat sal duur…   

 

Die openingsgedig van jou bundel, “digters incorporated”, is ʼn besonder interessante

programvers vanweë die stelling wat dit maak. Die vers begin met  “ons is almal / (wel, byna almal) / weer terug / na vyf & twintig jaar / lees ons steeds / die tekens van die tye” en  eindig dan met: “die jonges, / met onvas stemme, sonder kompas, / probeer vergeefs terugloop / op ons spoor / Terug na die toekoms waar ons alreeds bundels gelede was.” Met dié vers lewer jy deur middel van die volgehoue inspeling op ouer bundeltitels nie net kommentaar op die “tradisie” waarvan jy deel is nie, maar ook die “jonger stemme” wat nog rigting soek. Is ek korrek dat hierdie vers ʼn bra negatiewe en bedrukte siening van die digkuns tans weerspieël?

 

Jy kan maar kyk – die werklik opwindende, standhoudende werk word nog steeds produseer deur die groot name van die tagtigs; mense soos jy, Joan Hambidge, Johann de Lange, Peter Snyders, Koos Kombuis, Floris Brown en ander. Daar was iets in die situasie in die land toe wat in almal se werk op verskillende maniere neerslag gevind het, dit het voedend en woedend op ons ingewerk. Soos Sipho Sepamla gedig het : “This land has done things to me.” Tans is daar nie baie wat my opgewonde maak nie, miskien Kabous Verwoed en Toast Coetzer; ek moet erken dat ek bevooroordeeld is teenoor die werk van Ronelda S. Kamfer, want enige persoon wat (net soos ek) mal is oor Bukowski kry ʼn onnatuurlike voorgee as ek ʼn mening moet uitspreek!

 

Clinton, bykans al die verse in gedigte, talk show hosts & reality shows getuig van verlies, vervreemding en frustrasie; soms teruggehoue en soms meer uitgesproke aggressief. Uiteraard is ʼn té intense emosie nie altyd tot voordeel van die gedig nie, aangesien dit ongemak by die leser kweek vanweë die ingeperkte “speelveld” met eie emosies en verwysings. Maar ek vermoed dat dit júís jou voorneme was om die leser uit sy sogenaamde “gemaksone” los te skud?

 

Gedurende jou ontwikkeling as skrywer is daar raad en dinge wat mense gesê het -sommige daarvan kom sit onder jou naels, die res loop soos water van ʼn eend se rug. Een van die dinge wat my altyd sal by bly kom uit een van die eerste keurdersverslae wat ek destyds van Petra Grütter (Müller) gekry het. Sy het opgemerk dat ek “brutaal genoeg is om ʼn digter te kan word.” Ek het daarvan gehou…dat digters ook met ʼn voorhamer, of soms ʼn AK-47 kan/moet werk of dan skryf! Die “ongemak” wat lesers mag ervaar, het ek eerstehandse kennis van toe ʼn leser van die destydse Upstream magazine letterlik ʼn vers van my uit die tydskrif geskeur, aan die redakteur teruggestuur het met ʼn briefie wat gelees het dat sy nie dit in haar huis wou hê nie! Dieselfde gedig (hieronder) het veroorsaak dat ek tydens Poetry Africa (1999) in Durban nie by ʼn (wit) Afrikaanse skool welkom was om aan leerders voor te lees nie.

 

songs and shadows from the past

 

uit die blou van onse hemel

solwandle ngudle, suicide by hanging

uit die diepte van ons see

bellington mampe, cause of death not disclosed

oor ons ver verlate vlaktes

james tyita, suicide by hanging

waar die kranse antwoord gee

suliman salojee: jumped from 7th floor window

ruis die stem van ons geliefde

ngeni gaga, natural causes

van ons land, suid afrika

pongoloshe hoye, natural causes

ons sal antwoord op jou roepstem

james hamakwayo, suicide by hanging

ons sal offer wat jy vra

hangula shonyeka, suicide

ons sal lewe

leong pin, suicide by hanging

ons sal sterwe

ah yan, suicide by hanging

ons vir jou

alpheaus madiba, suicide by hanging

ons sal lewe

ons sal sterwe

alfred makaleng, cause of death not disclosed

ons sal lewe

ons sal sterwe

repeat chorus to fade…

 

Die slotvers in jou bundel, “die taal”, eindig met die volgende reëls: “die taal wat ʼn boom wou word met baie wortels, wat wou tak en blaar oor afrika / die taal wat ʼn beitel wou word, kan nie meer reis nie / sterf, met sy meulsteen, sonder paspoort, / sonder land.” Hierdie reëls, en ook vele ander, is deurspek met intertekstuele inspelinge; asof jy ʼn literêre bestekopname wou pleeg … (Myns insiens is dit dan ook nie toevallig dat die tweede gedig in die bundel se titel “bestekopname” is nie.) Nietemin, stem jy saam met só ʼn lesing en indien wel, wat is die oogmerk (en uiteindelike oordeel) van dié bestekopname?

 

Ek dink dit is juis die interessante van die bundel – vir die nie-bysiende leser – daar is deurgaans ʼn gesprek aan die gang met ander digters en gedigte, met die problematiek van die land, plaasmoorde, die verwoesting van tik in die bruingemeenskap, die toekoms van die taal. Die leser moet maar self oordeel oor die resultaat van die bestekopname. 

 

Clinton, enkele dae gelede het jy ʼn insiggewende, dog ontstellende brief vanweë sy onverskrokke eerlikheid met as titel “Fokofafrikaans, ʼn swanesang” op LitNet geplaas. Maar, alvorens ek jou daaroor uitvra, wil ek jou kommentaar aanhaak by bepaalde standpunte wat tans op die Versindaba-webblad geopper word … Ten eerste, in die onderhoud met Danie Marais, maak hy die volgende opmerking: “Goeie kuns is nooit propaganda nie en ek beskou ons digkuns ook nie as vals nie. Ek meen bloot daar is ’n opmerklike  swye oor die ras- oftewel kleurtema – ’n tema waaroor baie digters in die struggle-jare veel te sê gehad het. En hierdie swye is wit, want bruin en swart skrywers skryf openlik oor hul woede, pyn en frustrasie.” Kan jy akkoord gaan hiermee of het jy ʼn ander siening hieromtrent?

 

Wel, goeie kuns mag miskien nooit propaganda wees nie, maar die meeste kuns is op een of ander manier propaganda (propaganda is volgens die HAT “georganiseerde verspreiding van inligting, nuus, menings, ens. met die doel om steun te werf vir of afbreuk te doen aan ʼn bepaalde persoon of saak, meestal met die bygedagte dat dit om ʼn beginsel gaan en nie bloot om gewin nie.”) Met die definisie ingedagte, sal ek wil verskil van Marais en sê dat alle digters/ skrywers/kunstenaars sekere agendas het, dat ons almal iets propageer. Miskien gee van die wit bevolking van die land liewer via hulle musiek uiting aan hulle woede, pyn en frustrasie of onttrek hulle in ʼn kuberrepubliek?

 

Miskien het hierdie “swye” ʼn langer aanloop. Onlangs lees ek juis weer ʼn 1989 essay deur Martin Trump getiteld : Afrikaner Literature : A View. Hy vra onder andere daarin : “Is Afrikaner literature nothing more than a long master-narrative in praise of repression? Trump wys dan daarop hoedat van die Sestigers se aanvanklike fiksie buite die landsgrense afgespeel het: “Much Sestiger fiction is set outside South Africa, usually in Europe or at least in discernibly non-South African locales. In a small number of cases, writers chose to locate their stories outside South Africa in order that they might comment critically on topical issues in the country in a way that remained veiled and therefore not easily vulnerable to censorship. However, by far the largest number of stories are set outside South Africa because of the writers’ urge to broaden there literary focus and bring freshness to what they felt was staid, provincial literature. By doing this, in a very literal sense they extended the boundaries of Afrikaner literature. But for all the formal excellence of Sestiger stories by writers such as Rabie, Breytenbach, Barnard and De Vries, what they failed to do in their works was face up to the increasingly problematic aspects of South African society.”

 

In ʼn voetnota by hierdie stelling wei hy dan verder uit : “Significantly, none of the Sestiger story collections have appeared in English, although a substantial amount of Breytenbach’s later, more politically commited poetry and prose works have been translated not only into English, but also into a number of other languages.”

 

Ten slotte, miskien is daar ook iets te leer uit die inskripsie op een van die mure by die Setlaarsmonument in Grahamstad:  “We must take root and grow, or die where we stand.”

 

In jou brief aan LitNet verwys jy na Adam Small en gebruik ʼn aantal uitsprake van hom as aanhalings om bepaalde punte wat jy maak, te staaf. Een daarvan is die opmerking dat hy (Small) ʼn probleem het met “daardie soort wit mens wat my pyn beter vertolk as wat ek (hy) dit self kan doen,” wit mense wat dan “lang trane huil” terwyl hy reeds onder die kombers “besig is om te lag.” Is hierdie vir jou ʼn algemeen-geldende standpunt? Hoe voel jy byvoorbeeld oor Marlene van Niekerk se nuwe gedigte wat onlangs op die webblad geplaas is?

 

Ek dink daar bestaan ʼn algemene gevoel van ongemaklikheid, selfs moerigheid onder mense wat aan die ontvangkant van ongeregtigheid was, as daar voorgegee word dat die volle omvang van iemand se pyn en vernedering nou kwansuis so goed deur iemand van die ander kant begryp kan word. Jy kan jou nie net dinge voorstel voordat jy nie werklik ʼn pad in iemand anders se skoene gestap het nie.

 

Ek is mal oor Marlene se verse wat geskryf is in, soos Peter Snyders dit noem, Neo-Afrikaans. Marlene help hiermee juis om ‘n beswaar van die Deense linguis Otto Jesperson (soos aangehaal in Snyders se artikel oor Neo-Afrikaans in Akuut van Desember 1987) te ondergrawe: “We set up as the best language that which is bound in the best writers, and count as the best writers those that best write the language. We are therefore no further advanced than before.” Hiermee gee sy ook verder  gestalte aan ‘n opdrag in een van Jeremy Cronin se verse : “We must learn to speak with the many tongues of this country.”

 

Die fokus van jou brief aan LitNet is uiteraard die bruin Afrikaanssprekende en sy posisie binne die hele taaldebat wat tans in die media gevoer word. Na jou inleidende opmerkings maak jy die volgende stelling: “Daar is baie gepraat, maar of daar werklik na die bruin stemme geluister is, daar waar dit saak maak, betwyfel ek sterk.” Kan jy dalk hierop uitbrei? (Ongelukkig kwalifiseer jy nie dié stelling verder in jou brief nie …)

 

My vriend in die woord, Jason Lloyd, merk altyd op dat dit belangrik is dat jy jou gesprek/debat voer binne hoorafstand van diegene wat werklik mag het en die uitkoms kan beïnvloed. Wat ek daarmee bedoel is dat ons in ʼn klein dampkring met mekaar praat oor die toekoms van die taal, dat ons in Afrikaanse koerante dit uitmaak as ʼn saak van lewe en dood, terwyl die oorgrote meerderheid burgers in die land, onbewus is van die debat en (glo ek) nie ʼn duit daarvoor omgee nie. Ondanks die verskansing van taalregte in die grondwet, het die regering doodeenvoudig nie die kapasiteit om dit in praktyk te laat gebeur nie; daar is ander, verskoon die woord, brandender behoeftes wat elke aand op televisie oorkook waarna hulle moet omsien.

 

Verderaan in jou brief stel jy egter die volgende vraag wat by bogenoemde stelling aanklank  vind: “Bevind die bruin Afrikaanse skrywer hom nie nou, in ʼn nuwe bedeling, in ʼn veel meer gemarginaliseerde omgewing as sy wit eweknie nie?” Maar is hierdie toedrag van sake nie dalk deur eie toedoen nie? Ek meen, bykans alle uitgewers loop tans met bedel-oë rond op soek na manuskripte van bruin Afrikaanse skrywers, en tog volhard die bruin skrywer feitlik deur die bank met selfpublikasies; net so weet ek en Marlise vanweë die vele inisiatiewe waarby ons die afgelope jare betrokke was, hoe moeilik (en frustrerend) dit is om kollegas vanuit die bruin gemeenskap “betrokke” te kry … Selfs waar dit primêr gaan om ondersteuning van die spesifieke individu en sy skryfwerk. (Natuurlik is daar uitsonderings, soos Willem Fransman en Floris Brown, byvoorbeeld.) Maar, wat is volgens jou die redes vir die bruin Afrikaanse skrywer se “onwilligheid” om na vore te tree? Is dit ʼn kwessie van wantroue, gebrek aan selfvertroue of gewoon “belangeloosheid”?

 

Ek het reeds hierdie punt so effe aangesny by jou eerste vraag hierbo, maar miskien moet ek uitbrei. Ons kom uit ʼn tydvak toe ons by verskeie berade en saamtrekke skouers geskuur het met die persone wat aan die beheer gestaan het by van die uitgewershuise. Bruin skrywers was baie opgewonde oor gebeure soos die ontstaan van Kwela, daar het ʼn hele klomp name op die toneel verskyn en skielik was alles weer soos tevore – hierdie was net ʼn korttermynprojek, ons is deur die haai ingesluk en op die rotsagtige strande uitgespoeg. Van die ouer skrywers onthou hierdie dinge. Ek kan jou eindeloos verveel met stories oor hoe ek deur van die uitgewershuise behandel is, hoe daar deur wit meningsvormers binne die skrywersopset, neerhalend verwys is die skryfwerk van mense soos Peter Snyders en E K M Dido. Dit voel nog asof daar ʼn kwota bestaan vir bruin skrywers om gepubliseer te word, dat die deur so effe oopgemaak word totdat die regte aantal binne en dan weer toegemaak word – asof iemand iewers sit met ʼn lys waarteen afgemerk word ; bring nou ʼn gay bruin skrywer, dan weer ʼn jong vroulike bruin skrywer, dan weer ʼn ouerige bruin vroulike skrywer, dan weer ʼn gestremde bruin skrywer.

 

Gaan lees maar weer wat het Robert Pearce te sê gehad het in Die Reis na Paternoster. As ek daardie mooi Kaapse uitdrukking kan gebruik om die bruin skrywers se gevoel raak saam te vat dan is dit : “die uitgewershuise vat ons vir ʼn one.” Selfs in Ryno Lategan se boekwinkel in Sewende Laan bestaan daar nie bruin Afrikaanse skrywers of boeke nie! Kyk gerus volgende keur na die titels op die boekrakke wat vertoon word!!!  

 

ʼn Laaste vraag: In jou brief maak jy ten opsigte van die “taalstryd” onderskeid tussen ʼn Wes-Kaapse en Oos-Kaapse-groep. Jy onderskei hulle deur enersyds na te verwys as synde met goeie en eerbare bedoelings” (die Wes-Kaapse groep) en andersyds die Oos-Kaapse groep wat glo dat “nie-alles-wat-aan-my-opgedis-word-is-die-evangelie-nie”. Kan jy dalk kortliks uitbrei om dié onderskeid? Wie is die rolspelers en wat is die hoofpunte van die onderskeie groepe?

 

Hierdie is ʼn komplekse situasie wat baie mense vermy om aan te spreek. Kortliks net dit -ondanks die geskiedenis van die Wes-Kaap met onder andere sy slawerny en dopstelsel skyn dit asof dit nog steeds ʼn geval is waar bruin mense teenoor swart mense afgespeel word. Dit is miskien belangrik dat bruinmense moet besef dat hulle heil nie noodwendig by die groep lê met wie hulle taalbande deel nie. Soos ek sê, dit is ʼn komplekse saak en ek sal dit graag in meer diepte op ʼn ander forum wil bespreek.

 

Clinton, dankie vir die gesprek en die geleentheid om uit jóú woorde te kon drink. Mag ek vra of jy asseblief so vriendelik sal wees om vir ons lesers hieronder een van jou nuwe verse te plaas?

 

Dankie ook aan jou vir die geleentheid om ʼn paar gedagtes te kon deel en voorspoed met hierdie blad.

 

 

die taal

(vir ampie coetzee, na ingrid jonker se, die kind)

 

die taal is nog nie dood nie

die taal draai sy gekneusde gesig na sy moeder

afrikaans skreeu skreeu die kleur

vol van verwyt & verbittering

in die taalrepubliek van die gekoesterde tong

 

die taal draai sy gekneusde gesig na sy vader

dra die sonde van die geslagte

afrikaans skreeu skreeu die kleur

van ongeregtigheid & suiwer bloed

in die kerkhowe van die stommes sterf die klank

 

 

die taal is nog nie dood nie

nog by magersfontein nog by kammieskroon

nog by pella nog by kakamas

nog by die konstitutionele hof

waar hy lê met ʼn strop aan die nek

 

die taal is die murg in die bene

maar die taal is ook tenger & weerloos

die taal is uitgesluit by al die vergaderings & wetgewings

die taal staan buite, kyk deur die tralies van die land in die oë

van die moeders

die taal wat net wou soepel lê in die mond van ʼn mens is nêrens,

roggel, weifel, vergeefs…

 

die taal wat ʼn boom wou word met baie wortels, wat wou tak en blaar oor afrika

die taal wat ʼn beitel wou word, kan nie meer reis nie

sterf, met sy meulsteen, sonder ʼn paspoort,

sonder ʼn land.

 

 

(c) Clinton V. du Plessis (uit: gedigte, talk show hosts & reality shows, 2009: Ama-Coloured Slowguns)

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.