Onderhoud. NP Van Wyk Louw

Gedagtes vir ons tyd

N.P. Van Wyk Louw in gesprek met Louis Esterhuizen

“Dit is die tyd hierdie, ja, waarin ons moet lewe; ons moet sy probleme aanpak; niemand van vroeër kan hulle vir ons oplos nie.  Dit is gemeenplase die – hoef ons langer by hulle stil te staan?

Lewe uit ‘n tradisie…dit is leef in ‘n bestendige debat met die verlede.”

– N.P. Van Wyk Louw

 

“Die kunstenaar se hoogste ideaal is die radikaal teennatuurlike.”

– N.P. Van Wyk Louw

 

NP van Wyk Louw

NP van Wyk Louw

Nicholas Petrus Van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 in Sutherland in die ou Kaapprovinsie gebore. In 1920 verhuis die Louw-gesin na Kaapstad waar hy sy skoolloopbaan voltooi. Ná hy sy skoolloopbaan voltooi het, studeer Louw filosofie en Duits in Kaapstad en word hy vir ‘n tyd lank onderwyser, waarna hy doseer in opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad.In 1930 trou Louw met Joan Wessels. Die huwelik word egter na agt jaar beëindig. Van Wyk Louw is later met Truida Pohl getroud. In 1948 aanvaar Louw ‘n pos as hoogleraar in die Suid-Afrikaanse letterkunde, geskiedenis en kultuur aan die Universiteit van Amsterdam. Hy emigreer na Nederland waar hy tot en met 1958 saam met sy gesin woonagtig was. In 1948 ontvang hy ‘n ere doktorsgraad van die Universiteit van Utrecht. Met sy terugkeer vestig die Louw-gesin in Johannesburg waar Van Wyk Louw vanaf 1960 as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand dien.

N.P. van Wyk Louw sterf op 18 Junie 1970.

 

Jy word deur die gedempte stilte van ‘n gastehuis geneem na die stoep aan die agterkant waar ‘n lae tafeltjie met twee gemakstoele gesellig in die sagte lig van die laatmiddagson staan. Skerwe son deur die prieel se roesmooi blare. Jy sien die digter ‘n hele ent weg in die park langs die rivier; besig om met ‘n hond te speel. Die gasvrou roep na hom. Glimlaggend kom hy aangestap. A, my ondervraer spot hy kamma-ernstig en hou sy hand uit, jy’s ouer as wat ek verwag het, sê hy vriendelik. Sagter handdruk as wat ‘n mens sou verwag, dink jy. Delikate, hoë stem. Is dit nie absoluut verruklik hierdie tyd van die jaar in Stellenbosch nie, sê-vra hy terloops terwyl hy in die gemakstoel  terugsak; die oopgemaakte bottel chenin blanc na jou lig. Jy knik en hy skink die glase op die tafeltjie halfvol. Kyk dan vir ‘n oomblik ingedagte na die akkerbome verder weg langs die rivier. ‘n Mens vergeet eintlik hoe sag die son kan klou aan die goue akkerblare, sê hy sag; asof hy met homself praat. Ja, beaam jy, asof die jaar uiteindelik ryp geword het en net wag om gepluk te word. Hy kyk verras op, glimlag dan en tel tersluiks die notaboek wat langs sy stoel op die vloer lê op, skryf ‘n paar versreëls in ‘n elegante, vloeiende handskrif daarin neer; eers dan sak hy terug in sy stoel. Gefokus. Ernstig. Sal ons begin? Gereed. Die geleentheid van ‘n leeftyd, dink jy selfbewus.’n Onderhoud met ons grootste digter. Jy skraap jou keel terwyl jy die bandmasjien aanskakel en dit op die tafeltjie tussen julle plaas.

Prof. Louw, u was – en is waarskynlik nog steeds – een van ons bekendste en helderste taalaktiviste; en, soos u weet, woed daar tans op vele fronte weer ‘n stryd om die marginalisering van Afrikaans teë te werk. Dalk is dit ‘n retoriese vraag, maar waarom, sou u sê, is dit noodsaaklik om vir die voortbestaan van ‘n klein taal aan die suidpunt van ‘n komplekse kontinent soos Afrika te veg?

Dankie vir die geleentheid om weer oor aspekte wat my steeds na aan die hart lê, te kan gesels, Louis. En ja, inderdaad ‘n belangrike vraag om die gesprek mee te open. Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.

Dis egter nie óns verdienste, ons Afrikaners s’n, dat daar aan ons ‘n werktuig gegee is wat in twee sulke smidswinkels (so ver uit mekaar) en deur soveel eeue gesmee is nie. Dis aan ons gegee; gemaak het ons dit nie. Ons taak (en as daar ooit verdienste sal wees, kan alleen dit ons verdienste wees), óns taak lê in die gebruik wat ons maak en sál maak van hierdie glansende werktuig, hierdie tweesnydende swaard.

Ek sê dit met ‘n bietjie trots – maar juis hier moet alle trots ‘n bietjie nederig wees – ons taal het al iets gedoen om die vereniging van die “helder” Weste met die “magiese” Afrika uit te sê. Beeld en abstraksie, siening en begrip: in ons beste literatuur dra hulle gelyklik die tekens van hulle twee so verskillende oorspronge en ons moet praktiese oplossings vind om albei erfenisse van Afrikaans te bewaar.

En is dit maklik? Nee, ‘n ontsetting van moeilikheid.

Afrikaans kan net vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wél, maar tog ook altyd Europa.

Is dit maklik?

Maar kan ons gemak in ons situasie verwag?

En laat ons dit goed besef: as Afrikaans vir die leser vereenselwig word met die swaar-op-die-hande, die gekunstelde, die onleesbaar-bloemryke; en Engels daarenteen met die vrye, die vlotte – die taal waarin ‘n mens dinge kan lees wat diep in jou lewe ingryp … as dit gebeur, is dit klaar met ons taal.

Daar is vele voorbeelde van wanplegings jeens ons bruin Afrikaanssprekendes: u goeie vriend en mede-digter, Adam Small, is byvoorbeeld nog nooit deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy digwerk vereer nie; so het daar onlangs op LitNet – en vanoggend weer in Rapport – ‘n uiters onstellende, dog eerlike, brief deur een van ons vernaamste bruin digters, Clinton V. du Plessis, verskyn waarin hy ten slotte sê: “Ek het tot dié slotsom gekom: kom ons loop weg van Afrikaans en kyk nie ‘n oomblik terug nie. En as die taal op Stellenbosch en verder moet sterwe, dan moet dit maar so wees. Dames en here, ek het nooit gedink die dag sal kom nie, maar die dood van Afrikaans raak my koue klere nie.”  U kommentaar?

Een ding nog glo ek sterk: Laat ons nié, bruin of blank, na die verlede kyk; laat ons nie vra: “waarom het wit en bruin wat so naby mekaar was, uitmekaar geloop?” nie. Antwoorde en verwyte kan op hierdie vraag volg. Wat sou òf antwoord òf verwyt baat? Een verklaring sou kon lui: daar was ‘n tyd toe die blanke Afrikaner so wanhopig moes veg om ten minste ‘n kern van ‘n eie inheemse, by Suid-Afrika aangepaste oortuiging aan die lewe te hou, dat hy nie altyd helder kon sien nie. Sy verskoning sou dan wees dat sonder daardie kernoortuigings binne die volk, nòg wit nòg bruin blywend in hierdie land sal kan leef; as hy ‘n fout begaan het, kan hy slegs hoop dat die opregtheid van sy strewe méégereken sal word. En: ‘n mens wat nie kan sê: “Ek het gesondig” nie, is verlore. Dieselfde is waar van ‘n mens wat nie kan sê: “Ek vergewe” nie.

Maar kom ons buig die fokus weer terug na die kwessies van die taaldebat: u is tans op besoek aan Stellenbosch ten einde aan die komende taalberaad deel te neem en in die media word daar heelwat gewag gemaak van die krisis waarbinne die Afrikaanssprekende hom tans bevind; ‘n voortslepende krisis wat na die mening van talle kommentators tot die ondergang van die Afrikaanse taal en sy kultuur kan lei. Kan u dalk in breë trekke verduidelik hoe u dié krisis sien; en miskien ook ‘n kykie na hoe die taalraad …

Krisis?! Jy gebruik dié woord darem alte maklik, Louis. Het jy al noukeurig gaan sit en dink presies wat dié woord is wat so gemakliklik staanplek kry in die media vandag? Populêr, vaag, word die woord krisis maar al te dikwels gebruik in die sin van “‘n tydstip waarop dit baie kwaai gaan; ‘n moeilike, gevaarlike tyd; ‘n tyd van groot opwinding, van set en teenset van groot magte”.  Ek wil byna beweer dat dit reeds die gebruiklike betekenis van die woord in die onpresiese taal van die koerant geword het – by ons sowel as in Europa:  “Berlynse krisis”, “Koreaanse krisis”, “konstitusionele krisis”, “staalkrisis in Amerika”.

Maar krisis het nog ʼn presieser sin as dit.  As ek reg onthou, dan het die woord oorspronklik ʼn “skeiding” beteken – soos by ʼn waterskeiding bo op ʼn berg, waar twee helftes van ʼn druppel water uitmekaar kan loop om dan hul loop in twee aparte oseane te beëindig.  En dit lyk my asof die juiste betekenis van die woord in ons moderne tale nog altyd verband hou met die idee van ʼn skeiding, ʼn beslissing, ʼn oordeel.  ʼn Krisis is ʼn hoogtepunt; egter nie slegs ʼn hoë punt van ontsteltenis of inspanning nie, maar ʼn hoogtepunt van waar die uitslag in een van twee teenoorgestelde rigtings na ʼn onherstelbare finaliteit kan afloop; die krisis van ʼn siekte is nie bloot die kwaaiste stadium nie, maar eintlik die keerpunt, die punt waarop die beslissing tussen dood en lewe val.

En as ʼn mens jou nou aan die presieser betekenis van die woord hou – wanneer maak ʼn mens, of ʼn volk (of die hele wêreld) dan ʼn krisis deur?  Of, laat ons by die enger politieke vraag bly:  Wat kan vir ʼn volk ʼn krisis wees?  Tog seker nie net ʼn tyd van opwinding, ontsteltenis nie?

ʼn Nasionale krisis, so lyk dit my, kan alleen ʼn tyd wees wanneer die voortbestaan self van die volk op die spel kom; wanneer een van die moontlike uitslae die ondergang van die volk kan meebring.

Uiteraard is die woord “volk” wat u hier gebruik ‘n problematiese begrip binne die huidige diskoers aangesien dit nou nie juis ‘n polities-korrekte term is nie; maar is u van mening dat daar nog steeds iets soos ‘n “Afrikanervolk” bestaan en indien wel, wat sou die “aard” van hierdie volk dan wees?

Louis, in plaas van dat ‘n volk ‘n volksaard as besit het, waardeur hy besit of besete word (soos ons eie karakter besit en daardeur besit of besete word), moet ons dus die ding wat ons “volkskarakter” noem, eerder só sien: dit is ‘n stel reëls van dinge ongeveer wat ‘n individu binne sy volksgroep mag doen, of sê, sonder dat hy deur sy volksgenote as vreemd, afwykend, selfs kranksinnig, beskou word … Maar natuurlik, om van die massa-bevolking van Suid-Afrika as van “een volk” te praat – in werklikheid of potensiaal – is onrealisties, wie dit ook al is wat praat en in hierdie penarie help die nuwe begrip van volkskarakter wat ons opgestel het: dit word dan die stel reëls van wat mense kan sê of doen sonder dat hulle wanaangepas is binne hulle groep – en dan nou: binne ons Suid-Afrika met sy veelheid van volke.

Ons sal eenvoudig moet leer – of geleer word – wat die stel reëls is waarbinne ons mag praat oor ánder volke wat ons landgenote is, en die reëls van wat die uiterste grense is waarbinne ons mag optree wat hulle betref. Maar wát ons politieke toekoms in hierdie land ook mag wees, ons sal daardie stel reëls van onderlinge omgang nodig kry.

Of ons, soos ek uit my hart hoop, hier ‘n groep vrye, bevriende volke kry wat later uit eie beweging iets soos ‘n Gemeenskaplike Mark, ‘n Bond van Volke of wát ook al vorm … En of ons deur geweld, of deur ons eie, ons blankes se traagheid en oneerlikheid ‘n volksbredie kry waarin die minderhede opgelos en langsaam vernietig word … Watter van die twee paaie ons ook al gaan kies, hierdie stel basiese reëls sal ons nodig kry.

Maar is juis dít nie die probleem nie, Professor? Is ons nie reeds as “volksbredie” in die periode waar “minderhede opgelos en langsaam vernietig word” nie? Ek meen, daar bestaan sóveel groeperinge in ons land dat daar van ‘n Suid-Afrikaanse “karakter” of “identiteit” geen sprake kán wees nie. En selfs dié groeperinge is voortdurend in ‘n staat van onderlinge verwisseling, hetsy rondom arbeidskwessies, taalregte, gemeenskapsdienste, of wat ook al. Amper iets soos wat DJ Opperman in beroemde vers oor die draaikewers geskryf het: “O ek en jy! O ek en … skielik / uit mekaar verskrik … // O waar is jy? O waar is jy? / Dit kring om jou, dit kring om my, // met kring en teenkring mettertyd / tot ‘n verwikkelde onenigheid. / O sal dit ooit ‘n einde kry: / Die kring om jou, die kring om my / […] en kringend gaan om jou en my / die tyd verby, die tyd verby.” Is dít nie die krisis van ons tyd nie? Engels is immers gewoon nie “taal” nie; dit is ‘n magsbasis wat vanweë sy “nuttigheidswaarde” die verbryseling van alle groeperinge op alle vlakke van ons samelewing onderlê …

Weer daardie ongemaklike woord. Toegegee, by kleiner volke kan daar wel werklik “krisisse” voorkom; die vraag “to be or not to be” het hier nog sin.  En vir ʼn volk wat in die posisie van die Afrikanervolk verkeer, het hierdie vraag meer dikwels as vir die Nederlandse, bv., dringend en dreigend geword.  Daar was al tye toe dit moontlik gelyk het, miskien moontlik was, om die “Afrikanerprobleem” finaal op te los, om ons “toe te ploeg” of toe te gooi, om te maak dat ons as geestelike entiteit nie sal bly voortbestaan nie.  Sulke tye het ons al geken; ek laat dit aan jou lees van ons geskiedenis oor om vas te stel watter tye of tydstippe dit was.

Meer as een krisis is net skuim op ʼn glas bier; jy moet maar matig daarvan geniet anders vul dit jou net met wind.

Maar ons moet liewer teruggaan na die werklike krisisse wat in die lewe van ʼn volk kan kom; die tye waarin sy voorbestaan sélf bedreig word.  En ook hier moet ons (om dan maar twee groot woorde uit te spreek) die skyn en die wese van mekaar af skei.

Laat ek hier twee stellings probeer maak wat vir my latere argument noodsaaklik is:

  • 1. ʼn Volk is nie een wese nie; hy het geen eenheid van oorleg, geen eenheid van wil nie; hy maak nie een besluit nie. Hy bestaan uit tallose individue, en waar hy dus “besluit” of “kies”, is dit die resultaat van tallose oorwegings en beslissings, halwe oorwegings en lam beslissings;
  • 2. Omdat ʼn volk nie uit een siel leef nie, kan sy krisisse nie – soos by ʼn siel – op een stip van die tyd plaasvind nie. ʼn Volk kan nooit, soos Paulus op pad na Damaskus, deur een verblindende insig platgeslaan word nie; sy “skeidings” loop nie aan weerskante van tallose halfbewuste individue.

Dit lyk my dus daar is net drie soorte situasies wat ons, as Afrikaners, “volks-krisisse” kan noem, situasies waarin dit werklik om die bestaan self van ons volk sou gaan:

  • 1. Wanneer ons met militêre oorrompeling (soos Transvaal in 1899) of met toeploeg (massa-immigrasie e.d.m.) bedreig word.
  • 2. Wanneer ʼn groot deel van ons mense self daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voorbestaan. (Dink jy dit is onmoontlik? Praat maar met iemand wat werklik so twyfel – daar is genoeg – en kyk hoe byna aanneemlik hy sy argumente kan plooi.)
  • 3. Wanneer ʼn groot deel van ons volk in die gevaar sou kom om te meen dat ons nie in geregtigheid met ons mede-volke in Suid-Afrika hoef saam te leef nie: sou kon meen dat blote voortbestaan die hoofsaak is, nie regverdige bestaan nie.

 

U gee hier ‘n netjiese teoretiese uiteensetting van die begrip “volkskrisis”, maar is die water nie reeds oor die damwal nie? Onlangs was daar dan juis die uitspraak deur waarskynlik ons vernaamste lewende digter dat Afrikaans, byvoorbeeld, nog in óns tyd sal sterf; dat dit tot ondergang gedoem is vanweë marginalisering en die verlies aan status as “akademiese” taal. Daar was dan selfs belangrike ‘kultuurmanne” en kommentators wat hulle op die openbare verhoog van die sogenaamde “taalstryd” gedistansieer het, asof dit die taal sélf is wat verhoor en skuldig bevind word vir wandade van die verlede en nou verdíén om tot niet te gaan; dis tog absurd, is dit nie?!

Waarskynlik, ja, maar eers moet ons vra wanneer die tweede soort bedreiging van ʼn volk se bestaan sal kan voorkom – die, dat die meerderheid van die mense dit nie meer die moeite werd ag om as volk apart voort te gaan nie?  (Begryp helder: “as volk”; die individue elkeen sou kon voortgaan – miskien selfs welvarend voortbestaan – maar hulle sou nie meer ʼn onderskeie volk vorm nie; so sou ons, Afrikaners, elkeen los kon voortbestaan, maar opgeneem in ʼn Angel-Saksiese of Bantoe-volk.)

Dit is duidelik dat hierdie vraagstuk feitlik nie by ʼn ou kultuurvolk kan ontstaan nie.  Al sou miljoene Duitsers nog so twyfel of dit die moeite werd is dat daar ʼn Duitse volk op aarde leef, sal die volk tog , bo die individuele be- en vertwyfeling voortgaan.

By ʼn volk soos ons s’n is, is dit egter anders.  As ooit ʼn miljoen van ons (en hoeveel is daar nie nou nie!) ernstig sou meen dat ons as volk nie nodig is nie, dan is dit klaar; dan sal ons opstreef deur ʼn paar eeue, net so onherroeplik versand soos wanneer ons militêr oorrompel of deur massa-immigrasie toegeploeg word. “‘n Miljoen?” sê jy:  “Nooit!” En ek sê vir jou:  daar is geen miljoen nodig wat dit dink nie.  As daar duisend is wat intelligent genoeg is om te dink, en die gawe het om te skryf (d.w.s., soos jy gespot het, “kultuurmanne” is), dan sal hulle maklik die miljoen vind om te volg.  Een man wat kan dink en skryf, is maklik ʼn duisend mense se leier.  Ons geluk as volk lê miskien bloot daarin dat ons nog nooit ʼn duisend “kultuurmense” in Suid-Afrika teen ons gehad het nie.

Maar wanneer kan hierdie twyfel by ʼn volk opkom?

Alleen wanneer die mense reg het om te voel dat die geesteslewe van hul groep nie meer vir die individu genoeg is om van te bestaan nie; wanneer die groepslewe vir die enkeling ʼn gevangenis word; wanneer die taal te weinig bied om die honger van die verstand te versadig; die gangbare gedagtes van die volk, verstarrend, die mens isoleer van die ruim wêreld buite…Sulke dinge… [53]

Inderdaad staan mense wat behalwe die eerste soort gevaar ook nog die tweede as ʼn gevaar erken, ietwat hoër in die skaal.  (Jy moet my verskoon as ek hier van “hoër” en “laer” soorte mense praat; ek weet ons kan mense nooit op ʼn eenvoudige manier beoordeel nie – en tog het ons hier met ʼn rangordening van mense volgens hul waarde vir die volk te doen.)  Hiermee bedoel ek nie net die berugte toeploeg deur massa-immigrasie nie, maar elke poging om die Afrikaner tot ʼn hulpelose minderheid in sy eie land te maak; dit is alleen ʼn subtieler en stadiger poging om die “Afrikaner-probleem” op te los as deur miliêre oorrompeling, byvoorbeeld, maar nie minder drasties nie.

Maar juis omdat dit subtieler is, vereis dit tog al ʼn groter mate van insig om dit as gevaar te erken?

Weliswaar is dit moontlik dat ʼn mens ook ʼn groot aantal Afrikaners het wat hulle teen hierdie bedreiging sal versit, en wat tog geen oog het nie vir bedreigings wat nog subtieler is.  Dit sal die soort mens wees wat uiters aktief en trou op die suiwer politieke vlak is:  goeie organiseerders, wakkerlopers, bywoners van vergaderings, stemmers wanneer daar gestem moet word.  Ook hier weer, en sterker as tevore, moet ek sê:  laat niemand op hierdie werk of hierdie mense smaal nie.  Geen werk, selfs die geringste, wat vir die volk gedoen word, is sonder sy waarde of sy eer.

Maar ook moet ons erken:  die verdediging op hierdie front alleen laat nog weer ander kante oop.  As ons almal niks gedoen het behalwe hierdie werk nie, as ons oog alleen vir hierdie soort bedreiging het, dan is ons ook verlore.  Dan sal ons op ʼn dag vind dat ons eintlik ons stad nie meer wil verdedig nie, omdat daar vir ons niks waardevols binne is wat ons wil behou nie. 

Tog is diegene wat bereid is om die kopskuif te maak van blote voortbestaan na ‘n regverdige (of selfs regverdigbare?) bestaan, so min, Professor … Ek meen, die “onderploeg” van minderheidsgroepe en hul regte is só geskakeerd en verskuild; die voordele van die “groter bestel” so voor die hand liggend … Is dit enigsins moontlik om hierteen staande te bly?

Ja, die mense wat ʼn oog het vir die tweede soort krisis van ʼn volk, is ongelukkig baie kleiner in getal as die tipes wat ek reeds genoem het; maar juis daarom onontbeerlik.  Ek het byna lus om hulle die vitamines in die volksliggaam te noem, juis om die relatief geringe kwantiteit en hul noodsaaklikheid – maar ek is altyd bedug vir die “organiese denk” oor ʼn volk.  Dus sal ek maar sê:  hulle is die kultuurmense van wie ons gepraat het; die mense wat sorg dat die volk ʼn waardevolle besit het wat die moeite werd is om te behou.  En nie alleen die makers of skeppers van so ʼn besit –  denkers, wetenskaplike, kunstenaars nie – maar ook die wat die besit waardeer, hoed, versprei – lesers, kritici, onderwysers, die beste soort joernaliste, knap tegnici, ekonomiese leiers en baie ander; “propagandiste” in die oorspronklike en hoogste sin van die woord.  ʼn Volk wat ryk is aan hierdie soort mense, versamel iets wat hom as volk die moeite van die bestaan werd maak. 

Wat is daar wat verhinder dat ʼn lid van ʼn klein volk “wanhoop aan die staat”? Die wete dat daar vir hom binne die volk ʼn volledige lewe te leef is.

Dankie vir hierdie heldere uiteensetting, Professor. ‘n Mens kan maar net hoop dat die mense – en daarmee bedoel ek nét die Afrikaanssprekendes ne – hierdie woorde van u ter harte sal neem … Nietemin, ek sou ook van die geleentheid  gebruik wil maak om so bietjie met u oor ons letterkunde te gesels. In die media, en ook hier op die webblad, word daar die afgelope tyd heel krities gekyk na die letterkunde wat tans geproduseer word en die relevansie daarvan binne die teenswoordige bestel. Wat is u mening hieromtrent?

In elke beskaafde land word daar van tyd tot tyd harde, streng letterkundige kritiek geskryf.  En dit hoort ook so:  ʼn beskaafde land is ʼn land waar die geesteslewe op prys gestel word, waar altyd ʼn aantal mense te vinde is wat gesteld is op die peil van die intellektuele en kreatiewe lewe en dit van alles minderwaardigs wil suiwer. ʼn Sterk kritiese en polemiese beweging gaan dikwels met ʼn kreatiewe beweging saam – en dit geld nie alleen van die letterkunde nie, maar eweseer van die politiek, die godsdiens en ander vorms van die menslike aktiwiteit.

ʼn Volk se geestes – en intellektuele lewe slik dikwels so toe dat waar eers diep en vrugbare waters gestaan het, nog net ʼn breë gladde stroom eentonig oor die walle loop, sonder weerstand, sonder werking.  Dan moet daar ʼn geslag kom wat ʼn nuwe of hoër wal bou; wat die sterk waters “in die bek ruk” en dwing om hulself te versamel en nuttig te word.  Om op te dam, en beheers te laat stroom:  dit is die werk wat elke sterk geslag in die geestesgeskiedenis van ʼn volk met die volkskrag wil doen.  En dit is die take, onderskeidelik, van die twisskrywers en die skeppendes in daardie geslag.

So ʼn geslag deel dikwels die byna onmoontlike swaar taak onder mekaar uit:  een groep sal in hoofsaak die kritiese en polemiese werk verrig, ʼn ander groep die skep van nuwe waardes aanpak.  Maar die twee groepe hang ten nouste met mekaar saam en werk aan die een groot volkstaak.

Wanneer die proses aan die gang is, wil ʼn gemeenskap dit meestal nie weet nie:  dat hy vol sleurdink en verwarring sit; dat hy te slap is om sy probleme werklik deur te vors; dat die kultuur waarin hy leef, al ʼn wegwerplike kleed geword het; dat sy volksletterkunde grotendeels waardeloos is.  Dit is eers in ʼn later geslag dat daardie selfde gemeenskap besef wat vir hom gedoen is deur dié wat kwaai gekritiseer het.

ʼn Boek is nie een mens se eienaardige gedagtes nie; bloot reeds omdat geen gesonde mense volkome “eienaardig” is nie.  ʼn Boek kom uit ʼn deel van ʼn volk se gedagtelewe voort; en kritiek op ʼn boek is kritiek ook op dié stuk gedagtelewe. Daarom is kritiek ʼn teken van lewe by ʼn volk.  En kwaai kritiek kan ʼn teken wees dat ʼn gevaarlike siekte binne die gemeenskap bestry word met die sterkste lewenskragte waaroor die gemeenskap beskik.

In ‘n rigtinggewende essay deur Danie Marais, en daaropvolgende onderhoud, is daar heelwat gewag gemaak van ‘n oproep vir groter eerlikheid in ons digkuns, veral. Dat ons digters inderdaad bereid moet wees om vanuit ‘n posisie van onsekerheid te skryf ten einde juis die geestelike verwildering van ons tyd op ‘n eerlike, verantwoordbare manier te reflekteer … Die gevaar bestaan uiteraard dat ons hierdeur ‘n “programskrywe” met gepaardgaande voorskriftelikheid en vervlakking tot stand sal bring.

Die werking van die groot kuns is ʼn onbewuste didaktiek.  Sy strydbaarheid binne ʼn kultuur is nie soos die strydbaarheid van ʼn mens wat na iets streef nie, maar soos die strydbaarheid van dinamiet wat ook sonder wil ʼn gevaar is, wat van binne af oopruk, en vriend of vyand kwes wat daarby kom. 

Die groot kuns moet inderdaad iets van die verskrikking van die wêreld toon: die demonie van die vreugde en die noodsaaklikheid van die smart.  Dit het niks met die gewone indelings van die kunssoorte te doen nie en loop dwarsdeur hulle en deur alle grense heen. Maar verder:  ons ervaring die afgelope jare van hoe welig die “sensasie”-lektuur by ons gedy; …hierdie ervaring kan vir ons geleer het dat die ekonomiese wet ook in die kunste waar is: slegte geld dryf die goeie van die mark af.  Die moderne massa het eenvoudig ʼn neus vir wat sleg is; aan wat goed is, loop hy versigtig verby. In die vrye konkurrensie op geestesgebied sal die slegte die goeie byna altyd klop en mettertyd verdrywe.

En die soms geopperde aandrang op groter “aktualiteit” in ons digkuns?

Wat kleur vir die skilder is, is die woord vir die skrywer.  Dit is sy werktuig waarmee hy die wêreld buite hom bemeester, die wapen waarmee hy hom daarteen verdedig; dit is die een ding waarmee hy sy siel kan behou.  Wanneer hy aan sy eie verwarde gevoelens gestalte en duursaamheid wil gee, het hy alleen die woord; wanneer hy ʼn profetiese openbaring aan die wêreld wil bekendmaak, het hy alleen die woord; wanneer hy troos, of opstandigheid en die moed tot opstand aan almal wat ly, wil gee, dan het hy nooit anders as die ontroerde woord as vertroosting en as wapen nie.  Daarom, deur watter politieke, goedsdienstige of ander drif sy lewe ook al beheers word, is die groot skrywer woordkunstenaar sodra hy aan sy eintlike arbeid gaan.  Wanneer hy dit nie is nie, is hy alleen mens tussen ander mense, iemand wat deur die hartstog gedryf word, wat ly, wat kleinlik of heroïek is – maar nie kunstenaar nie; en wat hy skrywe, is sielkundige of historiese dokument, maar geen kuns nie. 

Saam met hierdie fyner besef van die waarde van die woord en feitlik net as keersy daarvan, gaan ʼn fyner waarneming van die uiterlike en innerlike lewe.  Die wêreld en die lewe rondom ons is oneindig voller en ryker as ons alledaagse waarneming.  En só eng is die verband tussen woord en wêreld:  die taal stel ons in staat om hierdie volheid en rykdom te rangskik, te beheer; sny as’t ware bruikbare, hanteerbare stukke daaruit, sodat ons nie in ʼn chaos maar in ʼn begrypbare, menslik wêreld staan.  Hoe fyner en presieser die taal en die woordgebruik van ʼn groep of individu word, hoe fyner word sy waarneming en sy intellektuele beheer van die wêreld.  Sonder die woord staan die mens magteloos voor sy eie gevoelslewe en die volheid van die aarde, en dit is een van die funksies van die groot literatuur dat dit die wêreld ryker en kleuriger maak, dat dit blinde drang en instinkmatige reaksies verhef tot daardie dinge wat ons “liefde” en “skoonheid” noem, en dat dit aan die vaagste en verwardste roeringe van die mens se hart mooi en vaste vorm gee.  Hierdie fyner waarneming van die innerlike en uiterlike lewe is net so wesenlik in die beste werk van ons jonger literatuur as die fyner woordgebruik, en is eintlik net ʼn ander verskyningsvorm daarvan.

Met hierdie twee dinge tesame is die oppervlakmate van die literatuur, sy lengte en breedte, aangetoon.  Wat die diepte daaraan gee en dit tot iets solied maak, is ʼn sekere universele gevoel, ʼn gevoel dat die mees gewone dinge nie los en alleen staan nie, maar verbind is tot en in ʼn heelal.  Dit is ʼn gevoel van die eenheid en die verwantskap van alles wat leef en bestaan.  Hierdie gevoel is die agtergrond en die voorwaarde van alle groot kuns, en die kuns is die blootlê van die wesenlike in alle gebeurtenisse en in die wêreld rondom ons.  Dit is hierdie gevoel wat van die beskrywing van die gewone of aanstootlike dinge groot literatuur kan maak, en, wanneer dit ontbreek, die beskrywing van presies dieselfde dinge banaliteite of pornografie laat word.  Dit is wat ons die eerlikheid in die kuns noem; dit is minder ʼn eerlik-wees teenoor die publiek as ʼn eerlikheid teenoor die lewe self.

Professor, tragies genoeg word ons letterkunde, en ook sy leserspubliek, juis deur groot verdeeldheid en onsekerheid (selfs wantroue) jeens “die ambag” gekenmerk. Teenoor die digkuns word dikwels die woedende verwyt ingebring, byvoorbeeld, dat dit “ontoeganklik” is of gewoon niks “te sê het” vir die deursnee poësieliefhebber vandag nie. U kommentaar?

Laat ek maar eers daarop wys dat die letterkunde omtrent (maar nie heeltemal) die enigste geestelike aangeleentheid is waaroor sulke onredelike woedes ontstaan [soos oor “duisterheid” in die letterkunde].  Niemand voel beledig dat hy die hoëre wiskunde nie begryp nie; en ons praat oor die atoombom met die salige wete dat ons niks van sy binnegoed weet nie. Selfs is ons gereed om soms te erken:  “Ek weet van die skilderkuns, die beeldhoukuns niks nie”; maar hier begin ons tog al ʼn bietjie irritasie voel wanneer daar iets voor ons kom waarvan kop en stert ongeveer eenders lyk.  Maar die politiek!  Van menslike verhoudings weet ons minder as van wiskunde, maar ons grondwet gee ons die reg om onsin oor hulle te verkondig, en die man wat wil betoog dat ons in dié sake nié-wetend is, vir dié gee ons gif in.  En nou is dit met die letterkunde presies soos met die politiek:  ons meen dat dit óók  “ons almal se goed” is, en ook hier het ons grondwetlik die reg op onnoselheid.

Laat ek weer sê:  daar is baie stukke letterkunde, ook in Afrikaans, wat ek nie by die eerste lees – of selfs ná herhaalde lees – verstaan het nie; hiervan het sommige later vir my óóp-gegaan (altans dit méén ek); en hoeveel daar is wat vandag nog vir my met sewe slotte gesluit is, weet ek nie; want dít is ons algemene menslike las:  wat ons wéét, is ons maar hálf seker van, maar van ons onbegrip kan ons nooit ʼn besef kry nie.

Maar moet ek nou boos wees op die skrywer omdat ek hom nie verstaan nie?  Moet ek nie eerder die fout by myself gaan soek nie?

En die stand van ons literêre kritiek?

Gelukkig ook glo ek as demokraat dat elkeen met die onvervreembare reg gebore word om onsin oor die literatuur -veral die poësie – te praat.

Sou u dalk verder hierop wil uitbrei?

Nee.

Goed, kom ons laat dit daar. Vervolgens sal u graag u mening wil inwin oor die kwessie van vertaling, want een van die nadele van ‘n veeltaalkultuur soos ons s’n is dat jy eintlik nooit ‘n sterk vertaalkultuur het nie; enersyds om tekste uit ander tale na die Afrikaanse leser te bring en andersyds om Afrikaanse tekste aan ‘n groter gehoor te bring … Sou u saamstem dat die hele kwessie van vertalings een van die grootste uitdagings in die pad van ons letterkunde is? Vir die skrywer, uitgewer sowel as leser. Ek meen, daar bestaan tans bykans géén mark vir vertaalde tekste nie en dit wil voorkom asof dié toedrag van sake op niemand se agenda is nie; allermins aan regeringskant, ten spyte daarvan dat hulle inderdaad volgens die grondwet verplig is om ál elf amptelike landstale én gevolglik hul onderskeie letterkundes in stand te hou en te verbreed.

Dankie vir hierdie vraag, Louis, want ek stem saam: in hierdie akker is daar sommer nog báie ploegwerk wat gedoen moet word. Myns insiens is die wêreldliteratuur ʼn volle orkes – nie ʼn dun en eensame fluit nie.  Elke taal, selfs die kleinste, is ʼn aparte instrument met ʼn eie timbre.  Literatuur wat in hom volmaak uitgespreek is, word ʼn onvervangbare verowering van die mens; gaan dit verlore, ly die hele mensdom skade.  Vir my wat geen Tsjeggies, Hongaars of Fins ken nie, is die bestaan van literatuur in dié tale ʼn rede om ten sterkste belang by hul voortbestaan te hê.

Daarom is die taal-imperialisme van die “groot groepe” een van die gevaarlikste vorms van die moderne barbaarsheid.  Soos alle barbare bedreig hy die waardes waarvan hy geen kennis het en wat hy nooit kan herstel nie.

Die klassieke literatuur van die wêreld is een; maar die tale waarin hy sy neerslag vind, is verskillend.  Daarom bly vertaling altyd een van die belangrikste werktuie van ʼn lewende kultuur.

Dit is verkeerd om groot bedrywigheid ten opsigte van vertaling as ʼn verslapping van die skeppende krag van ʼn tydperk te beskou.  In die literature wat ons ken, was die groot kreatiewe tydperke dikwels juis die tydperke waarin die nasionale literatuur honger was na die vreemde.  Die tydperk van Shakespeare was ook die tydperk van die groot Engelse vertalings:  die vertalers het na die hele Europese literatuur, oud en nuut, gegryp, soos Philemon Holland gesê het, “to triumph now over the Romans (én die Grieke, Franse, Italiane en Spanjaarde) in subduing their literature under the dent of the English pen”.

Professor Louw, ‘n laaste vraag: Indien ‘n mens “hoop” sou definieer as synde daardie vaste geloof dat ‘n situasie beter kan word, kan ons tans met sekerheid sê dat die Afrikaanssprekende in Suid-Afrika nie meer “hoop” het nie; en daarmee saam kom die onsekerheid, die vrees en selfregverdigende verwyt. Wat sou u sê is die rol wat die digter en die digkuns te speel het binne hierdie mynveld van vertwyfeling?

Daar is, ten eerste, ʼn romantiserende siening, waarin die digter beskou word as “leier”, as “voorloper” of “voorligter”, “profeet” van sy volk.  (Dit is meestal digters sel wat hulle self só beskou!) Hierdie beskouing is m.i. verkeerd.  Die profetemantel is vir my al om die skouers gehang – maar dit pas maar sleg.  Selfs van die grootstes, ʼn Hooft of ʼn Homerus, het nie hulle volke gelei nie.

Maar ook nie gevolg nie!

Want daar is ʼn ander, ʼn tweede, baie bekende en foutiewe beskouing:  dat die digter die volgeling, selfs die spieël, of erger:  die werktuig, is van ʼn sogenaamde volkswil, of gemeenskapswil. In sy krasste vorm kry ons dit in dié tipe staat wat van die skrywer ʼn “ingenieur van die openbare mening” maak: ʼn suiwer propagandis.

Dit bly vir my nog altyd so merkwaardig:  die grootste Engelse nasionale digter Shakespeare het gelewe in die tyd toe die Spaanse Armada sy land bedreig het – een van die ernstigste bedreigings in honderde jare – en by wete het hy geen woord (of weinig dan) oor hierdie groot krisis van sy volk geskrywe. 

ʼn Derde uiters individualistiese, beskouing sien weer die skrywer as bloot skrywende vir (en dalk oor!) homself en vir die paar geestesgenote wat hy kan oorhaal om na hom te luister.  Hy sou dan iemand wees wat in ʼn klein bohême speel.

En so is daar seker nog méér eensydighede.

Wat die digter wél weet: hy durf, in belang van sy volk, nooit eensydig wees nie:

Nóóit ʼn sektariër – hy mag nooit ʼn fragment van sy volk vir die geheel aansien nie:  nie die ryke of die arme nie; die “hoogste” of die laagste nie; nie die intellektuele of die eenvoudiges nie; nie die blonde of die bruine nie.  Hy durf selfs nie glo dat die één party, een kerkgenootskap, of een wátter fragment van die volk ook al, die hele volk is nie.

Hy durf hom nie volledig aan die ideologieë van een bepaalde tyd oorlewer nie; want hy moet weet:  idees, verskille, twispunte, ja, oënskynlik onversoenbare teenstellings – dié vergaan almal.  Ook hy, as mens, sal vergaan; maar biddend hoop hy dat die volk sal voortbestaan:  anders word sy hy lewe en werk sinledig.

Hy wil nie óf leier, óf werktuig, óf, spieël, óf bloot individualis wees nie. Maar soos elke gewone burger het hy die reg en die plig om hom met elke talent of krag wat aan hom gegee is, in te meng in die sake van sy volk én van sy gemeenskap.

Die plek van die digter is dus ʼn uiters ingewikkelde – hy kan maar dankbaar wees as dit nie vir om ʼn onmoontlike moeilike gemaak word nie.  Sy posisie is maklik om te verkleineer, maklik om te bespot.  Iemand moet net die woord “esteties” fluister!  Of “individualis”.  Of “on-Afrikaans”.  Van ʼn ander kant as sal gefluister word: nasionaal; klein! 

Die digter moet soms na verskillende kante toe skiet.  Ander kere moet hy van alle skiet vergeet.  Net werk en wees. Miskien is hy “soos ʼn suurdeeg wat ʼn vrou neem en in drie mate heel inwerk totdat dié heeltemal ingesuur is”, en watter krág die Here in suurdeeg wou sit, is die Here se saak Sy heilige saak.

Baie dankie vir die gesprek, Professor. Soos ons gebruik is, wil ek u vra of u nie dalk ‘n paar reëls by wyse van toegif hieronder te plaas nie? Miskien iets uit Raka?

Graag. Maar Raka? Nee. Liewers nie. Dalk eerder die volgende vers uit die gedigtereeks “Gedagtes, liedere en gebede van ‘n soldaat” in Die halwe kring wat reeds in 1937 verskyn het.

 

Miskien ook sal ons sterwe

 

Miskien ook sal ons sterwe

     en iewers ruggelings stort,

dat hierdie helder aarde

     in ons verdonker word.

 

Miskien sal niemand later

     mooi dinge van ons weet,

en nêrens sin te kry wees

     in al ons stryd en leed,

 

sal elkeen as hy magtloos

     naby die sterwe lê,

net hierdie eensaam wete

     uiteindelik nog hê:

 

dat ons nie kon gebuig word

     soos húl geweld dit wou,

en dat ons hoog kon lewe

     net aan ons bloed getrou.

 

© NP Van Wyk Louw

 

ERKENNING:

Gedagtes vir ons tyd – uit die prosa van NP Van Wyk Louw” wat deur PA Joubert saamgestel en in 1988 deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is, het as basisteks gedien vir hierdie verbeelde onderhoud.

Die gedeeltes waaruit toepaslike antwoorde oorgehewel is, is die volgende:

“Afrikaans”, 1959: pp. 5 – 8

“Afrikaans en Engels”, 1957: p. 12

“Bruin en wit”, 1960: p.23

“Digter en volk”, 22 Oktober 1963: pp.31 – 32

“Krisis vir ‘n volk is ‘n beslissing”, 1 Augustus 1952: pp. 49 – 51

“Krisis vir Afrikanervolk het drie fronte”, 8 & 15 Augustus 1952: pp. 51 – 57

“Kritiek is ‘n teken van lewe by ‘n volk”, 3 & 10 Oktober 1952: pp.57 – 58

“Kuns soos dinamiet”, November 1938: p.65

“Kuns: die slegte verdryf die goeie”, 31 Oktober 1956: p.65

“Letterkunde wat woedend maak”, 30 April 1958: pp.69 – 70

“Onsin oor die poësie”, 1970: p. 81

“Verlede en hede”, 25 April 1952: pp. 94 – 95

“Vertaling is werktuig van lewende kultuur”, 1945: p. 97

“Woorde en wêreld”, Januarie 1938: pp. 111 – 113

Bookmark and Share

Comments are closed.