Hennie Aucamp. Huldeblyk aan Lucas Malan

Om Vyfuur op ‘n herfsoggend

Lucas Malan (19.07.1946 - 15.04.2010)

Lucas Malan (19 Julie 1946 – 15 April 2010)

(‘n Huldeblyk deur Hennie Aucamp gelewer tydens die Gedenkdiens, Maandag 19 April 2010.)

 

***

 

As jy om sesuur opstaan, soos ek, merk jy dat dit nog donkerig is.  Om vyfuur op Donderdag 15 April 2010 moet dit nog nagdonker gewees het toe Lucas Malan gesterf het.  Vyfuur, soos dit in Lorca se groot klaaglied vir ‘n gestorwe stiervegter staan, maar nou effens aangepas vir dié geleentheid:

 

                        Vyfuur in die oggend.

                        O, wat ‘n vreeslike vyfuur in die oggend!

                        Dit was vyfuur op al die horlosies!

 

Dit was vyfuur die oggend op alle polshorlosies en wekkers; dit was vyfuur die oggend op die kerkhorlosies van Darling, Yzerfontein, Moorreesburg, Malmesbury, Koringberg en Piketberg, en verder aan en wyer uit, landoor.

 

Dis onvermydelik dat my rede met die doodsbegrip begin, want dit gaan om ‘n elegie vir ‘n gestorwe digter, maar my stuk gaan met ‘n opswaai eindig; met ‘n epifaniese oomblik waarin literatuur en teologie hopelik gaan oorvleuel.

 

Wat nie alle mense weet nie, is dat Lucas Malan ‘n leeftyd lank betrokke was by siekes en sterwendes; meesal intieme vriende.  Hy het sy vriend Billy Egan, die akteur, deur sy kankerkrisis gedra tot aan die laaste kalmte toe.  Hy het Gert de Villiers tydens sy stadige, tragiese sterwe gereeld besoek.  Hy was in ‘n sin ‘n sterwensbegeleier vir Johan van Rooyen, kultuurfenomeen.  En bowenal het hy die gestremde Ernst van Heerden op ‘n gereelde basis besoek en rondkarwei waar nodig, ‘n dekade lank en langer.

 

Lucas Malan was, as ek vir die soveelste maal met M.E.R. se kalwers durf ploeg, ‘n gewer en ‘n aangewer; van goeie, ouderwetse menslikheid in die eerste plek, en van kennis in die tweede plek.  Oor sy rol as opvoeder het ek iets gesê in die College-roubeklag van Die Burger van 16 April 2010, maar ek wil uitbrei op sy doodshantering wat maar net die keersy van sy lewenshantering was.

 

Hy, wat vertroud was met die afstandelike gelaat van die dood, het sy eie dood in die spieël gesien, en hieroor ‘n eie epitaaf geskryf:

 

Bestek:  2009

 

Diep middeljarig het ek geword

bo alle lus en verwagting, oud;

met vratte op die voorkop en ‘n klont

in die skrotum.  Onbegryplik.  Lélik

oud het ek geword

 

met gate in die gebit.  Mikro-spatare

in ‘n fyn borduurwerk op die enkel

aan die linkerkant, stempel die stand

van oorgewig.  Die ander een, regs,

swel weer op in die stygende hitte

van dié swelgende somermaande –

 

‘n Sorgwekkende geval het ek geword,

jaar na jaar.  Maar die geheue, die taai

ou bondel in die brein, dié hou nog kop.

Met elke lente, met ieder skemerdop

kom ál die tam welters weer aangekruip

 

om aan die geil vier van ons jeug,

die lyf se óú speenvreugdes te suip.

 

(Junie 2009)

 

Met hierdie gedig voeg Lucas Malan hom by die reeks ouer digters wat hul eie verval met selfironie waargeneem het, soos byvoorbeeld Barend Toerien en D.J. Opperman.

 

Opperman het sy grootse parodie op Prediker 12 nooit kon voltooi nie, en streng gesproke mag ek nie daaruit aanhaal nie, maar aangesien dit so mooi aansluit by Lucas Malan se “Epitaphe pour lui – même”, gaan ek dit tog waag met die eerste twee strofes:

 

Prys jou Skepper

 

Prys jou Skepper in die dae van jou jeug

vóór dat jy uitroep:  “Waar is my bril?”

vóór jy ‘n klankversterker aan jou een oor steek

en jou kunstande nie meer aan die tandvlees kleef.

 

Prys jou Skepper in die dae van jou jeug

vóór jou glas en lepe beef en stort

vóór jy teen die reuk van die dood

jou bepoeier en besprinkel en jy stuitig word.

 

 

Elders in dieselfde gedig, sê Opperman:

            …daar is geen medisyne

            Teen kaperjolle van die ouderdom…

 

Maar beide Malan en Opperman suggereer tog ‘n vorm van terapie:  ironie; en op sy beste, selfironie.  ‘n Ironie-Rus mag heling vir homself haal uit sy ironieë, maar wat van sy prooi?  Selfironie is iets anders; dit slaan wyer uit as ‘n eng gebruiksgeval; dit sê iets van ons almal se lewens; dit relativeer; dit laat ons lag.

 

En só moet Lucas Malan se gedig “Bestek” gelees word, as ‘n gawe aan ons wat agterbly, en nog moet leer om met ons mankemente saam te leef.

 

Maar daar is ook sy groot, tasbare gawes aan sy vriende.  Daar is die pragbundel wat Lucas Malan en Lina Spies vir my sewentigste verjaardag versorg het, teen groot opoffering in; daar was sy ontroerende stuk by my vyf-en-sewentigste verjaardag; en Lucas het gesorg dat daar ook ‘n feesbundel vir Abraham H. de Vries gekom het met sý sewentigste verjaardag. En net voor sy groot siekbed het hy met ‘n oorsigartikel oor die poësie van Lina Spies begin.

 

Lucas Malan het prakties omgegee vir mense.  Hy het ‘n talent vir vriendskappe gehad.  En dan was daar sy ander talent:  sy digterskap.

 

Hy het nooit sy digterskap soos ‘n knopie in sy lapel gedra nie.  Hy was doodgewoon ‘n oorwoë digter in alles wat hy gesê en gedoen het.

 

Hier, ter illustrasie, ‘n gedig wat ek in Die Burger van 15 April 2010 genoem het,  “Seisoen in Auvers”; ‘n gedig oor Van Gogh waarin die skilder se naam nooit een maal genoem word nie, maar tog deurstraal, is van sy tyd in die Midi:

 

Seisoen in Auvers

 

Om die jare te versamel

in ‘n reënval boord:

twee en dertig bome

 

groen mos, geil grond, donker aarde

 

Die veranderde werklikheid groei

in die slaglig van die son;

die dag lig ‘n hangbrug op die horizon

vir bote onderweg na die see

 

– maar hier waai die geel wind

al dae lank oor die heide –

 

‘n Boer gryp die grond met saad;

swaar soos die klei aan sy voete

spring sy skaduwee hom voor –

 

groen mos, diep leem, donker bloed:

“Ons sal ons doel nooit bereik nie”

 

In Auvers staan ‘n kamer gereed

om die laaste gerwe lig te vang

 

Dié pragtige gedig laat die ou vraag onstaan:  Kan skoonheid werklik troos?  Akute skoonheid kan, ironies, ‘n nóg dieper behoefte aan troos skep.  Kan tyd alle wonde heel?  Nie werklik nie, soos enkele nugter digters tereg uitwys.

 

Emily Dickinson het byvoorbeeld gedig:

 

            They say that “time assuages” –

            Time never did assuage –

            An actual suffering strengthens

            As sinews do, with age –

 

            Time is a Test of Trouble –

            But not a Remedy –

            If such it prove, it prove too

            There was no Malady –

 

En Rainer Maria Rilke het in een van sy briewe geskryf:

 

            “Even time does not ‘console’…it puts things in their place and creates order.”

 

Maar nou is dit juis die literêre nalatenskap van ‘n Emily Dickinson, ‘n Rilke, ‘n Opperman wat ons help om ‘n nuwe orde en ruimte vir onsself te skep ná ‘n groot verlies.

 

Wat ons op hierdie droewige dag moet aavaar, is dat Lucas Malan deel van ‘n onaantasbare stoet geword het, maar ons nie reddeloos agtergelaat het nie.  Ons het die gerwe uit sy goue erfprag.

 

Hennie Aucamp

17 April 2010

 

BEGRAFNISBRIEF 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.