apostroof

apostroof.  Fanie Olivier. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5168-9. R130.

 

apostroof

apostroof

Fanie Olivier is een van ‘n hele handvol Afrikaanse digters wat, na lang digterlike swyes, in die afgelope jare aangenaam verras het met nuwe werke. [A]postroof, Olivier se sesde eie bundel (hy het ook enkele tematiese en geleentheidsbloemlesings en ‘n literêre dagboek saamgestel), volg 22 jaar na sy voorganger, Verklarings 1967-1987, wat in 1988 verskyn het.

[A]postroof is byna uitsluitlik toegespits op die digter se sowat 20 jaar lange verhouding met sy vrou, Rike. Sy was die dogter van die Vlaamsgebore en -getoë Rob Antonissen, toonaangewende kritikus en literatuurgeskiedskrywer in Suid-Afrika in die negentien-vyftiger- en -sestigerjare. Soos Olivier self, was sy vrou ‘n Afrikaans-dosent met aansienlike bykomende kennis van die Nederlandstalige kultuur en letterkunde. Vandaar dat meer as een maal in die bundel gewag gemaak word van “jou vlakkeland” in verband met Vlaandere. 

Rike Olivier is in 2007 oorlede as gevolg van ‘n rare, slopende siekte wat onder meer haar woordgeheue en derhalwe uitdrukkingsvermoë aangetas het. Blykens die gedig “tussenteks” het die digter haar as gaan uitstrooi in die Schelderivier op die grens tussen Nederland en Vlaandere.

Die bundeltitel is derhalwe om verskeie redes ‘n goedgekose een.

As retoriese figuur slaan “apostroof” op die aanspreking van afwesiges – volgens die WAT op die situasie “waarby die redenaar of skrywer hom afwend van hulle aan wie sy woorde eintlik gerig is en die persoon of saak waaroor dit gaan onmiddellik aanspreek”. In dié bundel betref dit, op dikwels ontroerende wyse, die aanspreek van die gestorwe geliefde; plek-plek egter ook van God (in gebedstrant, maar ook as verbeelde vroulike respondent in “geding”, die gedig op die agterplat).

Vergelyk in laasgenoemde verband die aanvangs- en slotgedeeltes van “en god as hy bestaan” (opgedra aan “jou, my vrou”):

neem haar na die soet soel dal

van warm skaduwees van malse gras waar

die sleutel in haar hand op alle deure pas

die paar gebare om haar skielik duisend

vlerke kry skitterend met betekenis verbind

[…]

                                                            maar op my knieë veral

o God, veral, laat woorde vir haar sin maak, oweral[.]

Die bandillustrasie vergestalt iets van die patetiek wat ook uit bostaande gedigslot opklink. Dit stel ‘n foto van ‘n 15de-eeuse pronkskild uit Boergondië, getiteld “U of die dood”, sentraal op die voorblad. Op die skild word ‘n ridder in knielende, deklamatories gebarende houding voor ‘n vrouefiguur met neergeslane oë voorgestel.

Die gedigskryf-motief, wat vanaf bladsy 22 in die bundel steeds sterker op die voorgrond tree, word ook al hierdeur aangekondig. Soos ook deur die bundelopdrag met sy parenteties gestapelde meersinnigheid: “vir rike – (vir die sinne wat sy [ge-]maak [het])”. Én soos deur die tweede van die bundelmotto’s (‘n frase uit W.E.G. Louw se “Die woord”): “alles wat genoem word, lééf”.

Poësie as teenwoordigstelling van die verlorene; die gedig as apostroof. Soos dit in “ewening” lui:

ek loop nou verder, soos in die poësie, met trae

tred, maar hou jou immers dig by my, onder my vel:

herken jou in ryme […]

Maar ‘n apostroof is ook ‘n grammatikale weglatingsteken, ‘n soort duiding van verlies. Nie alleen die pynlike verlies wat Olivier ervaar en verwoord is ter sprake nie, maar ook die woordvergetelheid waarin sy geliefde moes verval: in lewe én in sterwe – ‘n situasie met bykomend tragiese dimensies waar dit mense raak wat deurentyd met woorde gewerk en geleef het. Daar sit dus talle pynlike stekels in ‘n Persiese kwatryn soos die volgende:

 

            afwagting

 

en toe dit donker word die aand gee jy die gees:

jy hou, eenvoudig, asem op: dis klaar met kees.

en gegewe dié gegewe waarom sou jy

daarbuite later iets van jou, nou ‘n hiaat, wou lees?

 

Die rykdom aan aanhalings uit, eggo’s van en toespelings op allerlei ander tekste (literêre werke, liedjies, die Bybel, kerklike psalms en gesange, spreekwoorde en gesegdes) wat ons in apostroof hoor (soos voorheen in Olivier se oeuvre), funksioneer in die lig van bogenoemde tweërlei: Dit herinner aan wat verlore raak of geraak het, én dit verteenwoordig ‘n inskryf teen sodanige vergetelheid – teen wat dreig om ook die herinneringe aan ‘n woordmens soos sy oorlede vrou te vernietig. Ter illustrasie ‘n passasie uit “‘soveel gedigte gaan verlore'”:

            […] net deur [die flardes van ‘n verlore gedig] te noem, nóú,

deur oor dit wat weg is, te lees, te hoor

daarvan, word jy betrek: hoop jy dat ek

dit vind, voel ek hoe jy my aanpor […]

Die breë lyne van die verhaal van die onderhawige liefdesverhouding, vanaf die eerste liefdesgewaarwordings tot die berusting soekende, nadoodse nabetragtings, is uit die bundelgegewe af te lei. Die aanbod volg ‘n min of meer chronologiese volgorde en gebeure word geplaas in ruimtes wat deur die ingeligte as biografies getrou herken word aan die lewens van die Olivier-egpaar. ‘n Hele paar gedigte is, tekenend hiervan, gedateer en gesitueer.

Pragtige liefdesverse deurspek die bundel. Hartstog en patos staan in verwikkelde balans met bespiegeling en betragting, taal- en literêre spel, vinding- en insigrykheid. Één voorbeeld in sy geheel:

 

dis lekker hier waar die jare opgeskort

raak en tyd met verloop tog sy loop

neem: mens spelenderwys moet ouer word

en bowendien op die koop

toe ook wyser. aan die sak sout swaar

dra terwyl mens daaraan proe. en hoe

pikant lek die liefde nie uit die hart

en kom sit op die mou nie: toe,

toe jy kan dit nie ontken nie: verward

het veel minder betekenis as eers, rol

soos wyn van die tong af. klaar

met die dinge van ‘n kind, word jy vol

van die soelte van soveel te wees, soveel

te weet, soveel, helaas, ook te verlang.

 

en hier eenkant met die knop in die keel

oor ek jou liefhet, skor daarom in die sang

van die verloopte nugter digter, loer

ek na jou oor die onderdeur agter

die gordyn   het jou aan die snoer

onder die kombers. sagter

sagter kom jy aan bod, verjaar jy

sonder om eintlik verder te verjaar

hier in die soelte van die jaargety

staan my arms oop vir jou en klaar.

 

In aansluiting by Olivier se vroegste bundels, doer uit die vroeë jare sewentig toe die invloed van D.J. Opperman se “letterkundige laboratorium” op Maties sig duideliker in sy oeuvre laat voel het, is die verse in apostroof vaster van vorm; word Engelse sonnette en Persiese kwatryne opgemerk; kom paarrymende distigons en langer strofes met gevarieerde eindrympatrone en min of meer reëlmatige versreëllengtes voor. Dit sónder dat vorm-geyktheid die botoon voer. Daar is eerder iets liefderyk speels in die verstegniek, in aansluiting by die taal- en liefdespel wat dikwels die uitgebeelde verhouding kenmerk.

Kyk maar self hoe die potensiële strakheid van die paarrymende distigons in die gedig op die agterplat – in dié sin aansluitend by die plegtigheid en erns van die “geding” wat hier teen God gevoer word om die gestorwe geliefde as ‘t ware terug te eis – verbreek word deur ‘n gesprekstrant in te voer, en strofelengtes hier en daar verrassenderwys af te wissel, en ‘n woord soos “wys” grappenderwys op die Engelse “i rest my case” te laat rym – om sodoende terselfdertyd iets van ‘n vormlike ekwivalent te vind vir die “buitenissig[e]” skikking wat tussen subjek en God bereik word: “[…] / ‘kom, los die aangeleentheid nou; trek t’rug die aansoek. leer om te aanvaar. / kry ander woorde waarmee jy jou goed kan besig hou. op stuk van sake is daar // ‘n hele woordeboek om mee te werk, en ander aansprake wat jy behoort te maak. / ek het jou dáárvoor en híérvoor uitgekies – jy wéét ons het gemene saak.'”

‘n Mens kan wel kibbel oor ‘n enkele tikfout, en oor “Vlissingen” wat verkeerd gespel is in die bundel; dat enkele idiosinkratiese verwysings en woordkeuses of sintaktiese gesogthede troebel (kan) aandoen (“gorter lank reeds uit die pad geskouer: / lig word mos dowwer, ‘n mens ook ouer”; “ek lê hier / vasgekeer op ‘n kussing, deur voorafgegaan geketting / ingebed“).

Min afbreuk word egter hierdeur gedoen aan die aantreklike, boeiende, inderdaad ontroerende indruk wat apostroof op ‘n mens maak – om kontekstuele sowel as teksvergestaltingsredes.

Dié bundel neem eervol sy plek in langs ander (meermale geprese) Afrikaanse bundels van die afgelope dekade waarin die gedenking en huldiging van gestorwe geliefdes ‘n belangrike plek inneem: Anlen Marais se muur van berge (1999), H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000), Petra Müller se Die aandag van jou oë (2002), T.T. Cloete se Heilige nuuskierigheid (2007) en Dolf van Niekerk se Lang reis na Ithaka (2009).

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “apostroof”

  1. Daniel Hugo :

    Beste Bernard
    Fanie Olivier se versreëls “gorter lank reeds uit die pad geskouer: / lig word mos dowwer, ‘n mens ook ouer / … / alles trillend saamgetrek in en om haar skouer / as jy koorsig ril, al word die kamer kouer” verwys na Herman Gorter se gedig “Gij staat zo heel, heel stil” en spesifiek na die volgende reëls: “Uw schoudertjes zijn zo mooi, / om u is lichtgedooi, / warm, warm, warm …”

    Ek moet sê Fanie maak die intertekstuele pap nogal dik aan.

  2. Albert Versfeld :

    Vlymskerp waarneming, Daniel. Nou maak daardie vers vir my perfekte sin. Dankie daarvoor. Wat my egter altyd van interteks fassineer, is die vraag hoekom die digter hom daartoe wend. Iewers (ek dink dit kon in Marius Crous se onderhoud met Fanie Olivier gewees het) het hy verduidelik dat die apostroof ook in (veral griekse tragedies) voorkom wanneer ‘n karakter iemand agter sy hand verby aanspreek wat nié op die verhoog teenwoordig is nie … Maak dié gegewe nie dalk die “dik intertekstuele pap” juis funksioneel nie?

  3. Bernard Odendaal :

    Dankie, Daniel. Moeilike een om te beoordeel hierdie. Gorter (via die verskrywende verwysing) “uit die pad geskouer” deur ouer te geword het? Eintlik hierdie (gesogte) beeld (dag ek) wat my in die doeltreffendheid van die verwysing laat twyfel het. — Maar miskien moes ek hier weer die speelse inslag van belangrike dele van die bundel waarna ek verwys het, in gedagte gehou het.