Berta Smit – Miskende Sestiger, miskende digter?

 

Berta Smit

Berta Smit

 Huiberta Johanna Maria (Berta) Smit (1926 – 1997) is gebore te Hopefield. Sy werk later jare as redakteur (Naweekpos) en uitgewersredakteur in Kaapstad.  Met gebruik van sestiger-elemente, deureenskuiwing van verhaalvlakke en achronologiese volgorde van die gebeure, verbeeld sy aktuele Christen problematiek. Met Die vrou en die bees (1964) word die allegorie as middel tot ‘n eietydse perspektief op die Christelike leefpatroon aangewend. Die Christen se opdrag om deur die werking van die Heilige Gees, die ou mens te kruisig, en om as geroepene uit te gaan om die naaste te red in Christus, word verken. Een plus een (1967) is ‘n voortsetting van haar onderneming om aspekte van die Christelike geloofslewe romankundig te verwerk. Dit spreek probleme rondom die verkondiging van die Woord aan – menslike ontoereikendheid teenoor die Ewige en die Absolute. Die man met die kitaar (1971) is gemoeid met die skrywerskap, met die siening van die skeppende verbeelding as werktuig van God. Dit lei tot ‘n vergestalting van die Christen se geloof in die vernuwing wat kan volg op vernietiging. Juffrou Sophia vlug vorentoe (1993), ‘n roman met ‘n postmodernistiese aanskyn, handel oor ‘n ernstige siek vrou se intense selfondersoek, na die 1994-bestel.  Smit verklaar haar geloof, via haar karakters, in die oortuiging dat skrywerskap ‘n werktuig van God is.

 

 

Berta Smit (1926 – 1997): Miskende Sestiger, miskende digter?

 

deur Amanda Botha

 

 

Berta Smit word onthou vir haar vier romans – Die vrou en die bees (1964), Een plus een (1967), Die man met die kitaar (1971) en veral Juffrou Sophia vlug vorentoe (1993). En veral vir haar kundigheid as uitgewer/redakteur by Tafelberg Uitgewers in die sewentiger en tagtigerjare. Haar betrokkenheid by skrywers soos Anna M Louw, Henriëtte Grové, Audrey Blignault, MER en Elsa Joubert, om enkeles uit te sonder, het haar vroeg reeds onderskei as knap teksleser en begeleier.

Dat sy in die geheim ook gedigte geskryf het, het eers bekend geword na haar dood in 1997 toe haar nagelate dokumente deur haar suster, Regina Smit, nagegaan is. Die enigste wat dalk van haar gedigte kon gesien het, hoewel daar geen werklike bewys daarvoor is nie,  was Ingrid Jonker, ʼn intieme vriendin van Berta. Die afleiding kan bloot gemaak word omdat daar in die korrespondensie tussen Berta en Ingrid dikwels oor die digkuns gepraat is.

Die gedigte wat in getikte vorm bestaan met enkele pen korreksies wat sy aangebring het, was in ʼn lêer onder briewe wat sy bewaar het. Sommige daarvan is met ʼn blou deurslag papier getik vir dubbele kopieë. Geen aanduiding is gevind wat enige opdrag inhou oor wat met hierdie nagelate ongepubliseerde werk gedoen moes word nie. Dit is ook nie duidelik waarom sy dit nie self vir publikasie aangebied het nie – nie eens in tydskrifvorm nie.

In Maart 2004 het ek Regina Smit by ʼn huldigingsgeleentheid vir die skrywer Audrey Blignault tydens die Woordfees op Stellenbosch ontmoet. Sy het my genooi om na haar woonstel in die Strand te kom om na die nagelate werk van Berta te kom kyk. Ek het Berta Smit wel geken, meestal deur kontak wat ek met haar gehad by boekgeleenthede.

Na ons ʼn rukkie gesels het, het Regina die lêer met die gedigte aan my gegee om na goeddunke daarmee te handel. In die lêer was nog ʼn enkele brief van Ingrid Jonker met ʼn gedig aan Berta, asook ʼn foto van die twee saam.

In gesprekke met vriende wat Berta goed geken het, onder meer met Audrey Blignault, was daar niemand wat ooit enige kennis gedra het dat Berta poësie geskryf het nie. Die afleiding wat ek gemaak het, was dat sy bedoel het dat dit in elk geval nie tydens haar lewe vir publikasie aangebied moes word nie. Die gesprek wat ek met Hennie Aucamp gehad het – hy en Berta was goed bevriend –  het dit ook bevestig dat nie een van haar naby vriende ooit van haar gedigte gehoor het nie en tewens uiters verbaas was dat sy wel so ʼn groot aantal gedigte nagelaat het.

Hoewel die kopiereg aan Regina Smit behoort, het ek haar verlof om wel op ʼn geleë tyd aandag te gee aan die bekendstelling van hierdie aspek van Berta se skrywerskap.

Ek het reeds laat in 2004 al die gedigte oorgetik om dit as lêer op my rekenaar te stoor.  In een stadium het ek gesprekke gevoer met Snowy Kruger om moontlik te kyk na ʼn program wat vir ʼn feesgeleentheid aangebied kan word rondom die gedigte en haar vriendskap met Ingrid Jonker. Dit het nie van die grond gekom nie en die gedigte het bly lê.

In November verlede jaar – na die Versindaba – was ek met besoek aan die digters, Louis Esterhuyse en Marlise Joubert, waar die nagelate verse van Berta weer ter sprake gekom het.  Hulle het onderneem om daarna te kyk en terugvoering aan my te gee. Só is besluit om die webwerf van Versindaba te gebruik om Berta Smit, as digter, bekend te stel. Al die gedigte is in die sestiger en sewentigerjare geskryf en moet in hierdie tydgleuf gesien word.

In ʼn onlangse gesprek met Hennie Aucamp het ons weer bestek opgeneem oor Berta Smit, as skrywer – en nou ook as digter. Hennie het sterk gestaan by sy mening dat Berta “die miskende Sestiger” is en dat dit nie korrek is om bloot te verwys dat sy in haar eerste drie romans elemente van die Sestigers gebruik het nie, maar dat sy inderdaad self deel van die vernuwing is wat deur die Sestigers ingelui is. Die traagheid om haar (ten onregte) so te erken, is volgens Hennie, waarskynlik oor die religieuse inhoud van haar werk.

Nou dat haar gedigte veertig jaar nadat sy dit geskryf het – en dertien jaar na haar dood – vir die eerste keer bekend gestel word, sou dit dalk wees dat hier ook sprake kon wees van ʼn verdere miskenning of dalk ʼn  vorm van selfmiskenning?

 

Anna M. Louw, Audrey Blignault, Elise Muller, Lina Spies en Berta Smit

Anna M. Louw, Audrey Blignault, Elise Muller, Lina Spies en Berta Smit

 

 

DIE NAGELATE GEDIGTE VAN BERTA SMIT

 

Aandgesang

 

Ek het vier mensies om ‘n lamp

van die ewigheid hoor sing:

“Aan U, o God” —– maar kan dié lied

deur die gedreun van bome dring?

 

‘n Silwer vliegtuig is getref

en’t in vlamme neergestort –

Maar die lied sing van ‘n helder lig

wat nooit gedoof sal word.

 

O skugter kleine lied vanuit

‘n vergete saligheid,

Hoe het jy deur die soekligte

gedwaal tot hierdie tyd?

 

***

 

Vertwyfeling

 

Dit is my vrees

dat na die kort bestek van dié klein uur

daar voor my dwase voete net

‘n donker niks sal wees.

 

O wat kan ek neem uit hierdie uur

wat – na die rose dood is – nog

deur al die jare heen kan duur?

Wat kan my teen die vrees behoed?

 

U woorde is vir my ‘n lamp

op elke pad,

‘n wit lig vir my voet.

 

By lamplig ook het ek gelees:

Ek is die goeie herder en

Ek is die Vader van die wees.

 

Maar die blare het skielik geritsel

en bewend grond toe gedraai

en ‘n rukwind deur die venster

het die kerse doodgewaai.

 

***

 

Eva

 

Die lig val blinkend oor die blare

van hierdie helder, slanke boom –

‘n God wat op die aandwind wandel,

Sy stille stem – was dit ‘n droom?

 

O, hierdie is die werklikheid:

die ryk vleis van die malse vrug,

die warm bloed in jou en my.

 

Maar toe jou bloed my liggaam raak,

die vrugte swel,

het ons die dun

draad met die hemel afgesny.

 

***

 

Lied van die Verdwaasdes

 

Daar was ‘n tyd toe daar ‘n God

in hierdie strate was,

maar ons het ‘n spies in sy sy gesteek

en nael Hom aan ‘n kruishout vas.

 

En hulle wat ons minnaars was,

hoe het hul ons verlaat!

Van al die liefde hou ons slegs

die koue as van haat.

 

Die hoë poorte lê verwoes

wat inlei na ons fees

en oor die helder ligte lê

die swart klad van ons vrees.

 

Hoe kon ons weet dat hierdie stad

wat so vol mense was,

sal eenmaal in die nag verbrand

tot koue, grysblou as?

 

Hoe kon ons weet dat koue angs

ons trotse wil sou breek?

Dat Hy wat eens verlate was,

Sy pyn op ons sou wreek?

 

O vreemdeling wat met die pad

verby die swart stad gaan,

bly staan en sien ons hoë muur

gebroke teen die sterre staan.

 

Toe Adam vlug uit die Paradys

het die water teruggetrek

en ver deur die nag geklaag

‘n Vuur het hoog oor die muur gebrand

Die wind het die warm as

wild getrooi oor die donker sand

en Christus het gesterf.

 

***

 

Skemervaart

 

Oor die water swenk een meeu en skree

teen die wolke voor die maan

Die see roep sag

en skuifel teen die rotse wat

So roerloos in die skemer staan

Die nag word stil

Die wind het langsaam-aan bedaar

En ons het ons seile oopgesprei

om die skemer tegemoet te vaar.

 

***

 

Brandende Stad

 

Die Engel het gespreek

en in die môre het sy wraak

hoog teen die lug gebrand.

 

Verskrik oor al sy leë dade

het ek gevlug

tot aan dié silwer waterkant

 

Ek het gekniel en in die water

my sondehande wit gewas

 

Toe het dit stil geword

‘n Voël het deur die lug gedrywe

en oor die water neergestryk

En ek het teruggekyk –

Die stede was verteer tot as.

 

***

 

Jeremia 2:13

 

Êrens

diep in die donker lê daar

‘n gebroke katedraal

‘n mat hang teen die ruite

en die stem van die nagvoël sidder

deur die verlate saal.

 

En buite is dit nag.

 

Maar die pelgrim sing deur die donker

van God en sy hoëpriester

en die seën wat hul wag.

 

Op die leë paaie soek hul

Om die regte weg te vind

Maar die voël lag skril deur die donker

die voël vlieg swart teen die sterre

en dryf weg op die wind.

 

***

 

Verlore See

 

Hulle staan

hoog teen die koue rotste

met die aand teen hul gesig

en deur die nagwind hoor hul

die stem van die groot oop see

Hulle slaap

maar selfs in hul trae drome

kan hul die branders hoor

‘n Vrou lig haar kop en luister

Die water roep maar die mense

het die weg reeds lank verloor.

 

***

 

Karoo

                        I

Ons dwaal oor die droë bodem

van ‘n verlate see

Net ‘n voë vlieg op uit die bosse

Hy klap met sy vlerke en skree.

Die voël is grys soos die bosse

wat sterf oor die droë land.

En ek soek

Maar die son brand geel in my oë

en die wind,

die wind kruip aan oor die bosse

en veeg teen my warm hand.

 

                        II

Die wind hang geel teen die berge

En hurk in die besembos

In die bruin stof om die doringboom

lê die spore van die bokke

wat trek na ‘n droë meer

Hulle swerf

met die wind teen hul hygende ribbes

En om hul donker skaduwees

van aasvoëls wat wag.

 

***

 

Die Eensame

 

Hoog bo die deinsige aarde

het hy in die sonlig gestaan,

Hy het afgekyk na die vlakte

waar die grys profete gaan.

 

Maar nou,

nou dat hy dwaal oor die aarde

is dit net grys sand wat hy sien.

 

Die spore van die profete

wat trek na die Heilige Land

het toegewaai in die skemer

onder die dooie sand.

 

Hoog teen die verwaaide paaie

gaan die eensame deur die wind

En die moeë ommantelde pelgrim

gaan langsaan by hom verby

Hy roep

Maar die wind skeur sy stem aan flarde

en die pelgrim gaan sonder woorde

geboë by hom verby.

 

Die wind sleep oor die heuwels

en deur die lug drywe die klag

van ongebore kinders

wat ween om hierdie nag.

 

(Die weergawe in Die Ruiter van 20 Junie 1947 is effens anders)

 

***

 

Bewolkte Lug

 

Die dag word grys en die stemme

Sterf langsamerhand weg uit die straat

Langs wit verlate paaie

staan die denne teen die lug

Die wind groei aan

en ek wag op die eerste druppels

van die reën teen my gesig.

 

***

 

1946

 

Ons dwaal deur die ruïnes

van Rome en Byzantium

en om ons sterf die vuur.

 

Hier is geen woord meer oor nie

slegs ou, verbleikte letters

teen ‘n verweerde muur.

 

Die hoë koelgroen tempel

is verbrand tot puin en as

ek kan geen stem meer hoor nie

as slegs die leë eggo’s

van stemme wat reeds was.

 

Ons self het die vlamme aangesteek

wat oor die mure brand

en nou moet ons vlug voor die donker gloed

wat deur die geskeurde vensters breek.

 

En waar is die glorie en drome?

Dis begrawe in die tempel

onder dooie as en roet.

 

***

 

Lied van die Siel

 

In die helder nanag kon ek

die stem van die branders hoor

die nag dryf uit oor die water

in suiwerheid saamgesnoer.

 

Ek haas deur die silwer skemer

oor die duine klamwit sand

en om my wentel winde

wat aanwaai oor die land

 

Maar die groot grys voël het sy vlerke

teen die nagwind oopgesprei

en sy lied hang donker tussen

die groot oop see en my.

 

Ver agter die wind in die water

en sy roep kan ek dofweg hoor

Maar die groot voël dryf om my skouers

en sy lied is in my oor.

 

Oor die donker duine gaan ek

terug waar die rooi lig brand

En agter my klaag die golwe

en breek teen ‘n leë strand.

 

***

 

Lied van die Blindes

 

Skaduwees gryp na die voete

van hulle wat dwaal deur ‘n dooie stad

 

hulle dwaal en hul soek op ‘n blinde pad.

hulle dwaal en soek na ‘n god

dwaal en soek

maar met die Drie Wit Ligte dryf hul die spot

 

“O wie sal ons sê waar om te soek

wie sal ons sê?

Ons weet van die brood en die wyn

en die Heilige Boek

maar die viole sal sing en die rooi lig sal brand

en die naakte dans moet begin”

 

In die winter swel die lemoene

en hul ronding is koel in jou hand

maar die aarde gryp na hul voete

en hul oë is blind,

blind van die rooi stof en die wind

wat waai oor die dooie land

 

“O wie sal ons red van hierdie dors?

wie sal ons kry uit hierdie stof

om ons te lei

na die waters van die rus?”

 

Ek is die Goeie Herder

Ek is

 

“Maar die viole sal weer klae en sing

die rooi lig sal ons liggaam skroei

die rooi lig sal ons oë brand

en opvlam in ons leë bors”

 

Die viole sal weer klae en sing

sing en klae en sing

die wind waai uit die Weste

die dans begin

 

die dans en die wind en die warm lig

 

maar die nag o die nag

die nag

wat buite op elkeen wag

 

***

 

Ween nie

 

Ween nie

omdat die klanke wegsterf nie,

Die stilte is so lawend sag;

Ween nie

omdat die vlamme geblus word nie,

Teer is die dieptes van die nag.

 

(Augustus 1944) 

 

***

 

Soldate

 

En miskien as alles weer stil is:

Die gedreun van vlerke deur die lug

En die geskreeu van ‘n bom,

Sal mense saggies van ons praat

In die dorpe waar ons van kom.

 

Miskien sal hulle saans gesels

In die kaggelvuur se gloed,

Van ons pynverwronge monde,

En ons hande rooi van bloed.

 

Maar ons,

ons sal niks meer weet nie

van die pyn en die smart

en die bloed,

Want om ons sal daar rus wees;

Die dood is baie soet.

 

***

 

Ekstase

 

Die dag het helder opgevlam,

‘n wilde vuur van goud in my;

Ek het die sonlig teen my bors gedruk asof

die gloed vir ewig in my siel sou bly.

 

Maar nou het hierdie koue skemer

sy weemoed oor die land kom hang;

Die son het vérweg doodgegaan,

Die nag word stil –

En van die vuur wat in my was,

bly net die pyn nog – en die as.

 

 

(Die weergawe in Die Ruiter van 20 Junie 1947 verskil van die oorspronklik getikte kopie)

 

***

 

Bewolkte Lug

 

Die dag word grys en die stemme

 

Sterf langsaamaan weg uit die straat.

 

Langs wit, verlate paaie

 

staan die denne teen die lug,

 

Die wind groei aan

 

en ek wag op die eerste druppels

 

van die reën teen my gesig.

 

***

 

Voor die Spieël

 

Hoe koud is hierdie helder glas

waarin ek staan in silwer lig

Die stilte is ‘n kamer rondom my

As ek my hande tot my reik,

ontmoet ek glas –

en elke mens moet eensaam bly.

 

(Die Huisgenoot – 20 Februarie 1948}

 

***

 

Waarskuwing

 

By hierdie tuin waar rose bloei,

gaan haastiglik verby,

jou liefde is vergeefs, want deur die dag

sal iemand kom om een vir een

die rose af te sny.

 

(Die Huisgenoot – 20 Februarie 1948} 

 

***

 

Telefoongesprek

 

Sal ek die rooi lied van die son,

die helder rose en

ekstase van my jonge bloed

in woorde vas kan vang?

Kan dit ons bind –

die  swart huis, koud

en sonder lewe wat

net aan ‘n dun draad hang?

 

(Die Huisgenoot – 20 Februarie 1948}

 

***

 

Gebed

 

Op hierdie ligte herfsdag sprei

U mild u goedheid uit oor my.

 

‘n Duif sak uit die sonlig neer

en sing, word stil en sing dan weer.

 

Die blomme in u lig gedoop,

vou langsaamaan hul blare oop …

 

God, dat u lig my kon genees

Om voor U weer ‘n kind te wees.

 

***

 

Dood van ‘n Vriend

 

In die maanlig kon ek nie onderskei

die lyne tussen jou en my.

Ek kon slegs in jou warm hand

die bloed voel wat in my ook brand

 

Maar jy moes sterf en oor jou graf

gooi  die sering en blare af.

En watter deel het ek aan jou?

O, wat in my bly na die dood

die lewe nog behou?

 

***

 

Gemaskerde Bal

 

Jou oë dra ‘n masker, maar

nie dit nie, want

ek voel jou hand, ‘n warm gloed

wat oor my liggaam brand.

Die saksofoon sing:  Dit, net dit!

Die palms in die halflig staan,

‘n soet oase, waar dié dors

se dor gloed dood moet gaan.

 

Ons bloed sal hier die sterre raak

en brand en juig en blindlings stort,

Maar God, waarom die koue skrik

as twaalfuur slaan en jou gesig

ontmasker sal moet word?

 

***

 

Aandgodsdiens

 

Ek het vier mensies om ‘n lamp

van die Ewigheid hoor sing:

O Goedheid Gods … maar kan dié lied

deur die gedreun van bome dring?

 

‘n Silwer vliegtuig is getref

En in vlamme neergestort,

Maar die lied sing van ‘n veil’ge hut

waar die mens beskadu word.

 

O skugter kleine lied vanuit

‘n vergete saligheid,

hoe het jy deur die soekligte

gedwaal tot hierdie tyd?

 

***

 

Verskietende Ster

 

En as die ster verskiet het, sal

net skadus agterbly?

Of sal dit deur die donker stort,

‘n vlammestreep, wat êrens teen

‘n donker, vreemde horison

die wagvuur van ‘n koning word?

 

***

(c) Regina Smit

Geplaas deur: Amanda Botha

28 April 2010

 

Bookmark and Share

Comments are closed.