Pieter Hugo. Die geboorte van ‘n gedig.

Noudat ek ‘n gepubliseerde digter is, hmmm, hmmm, kug, kug, gebeur dit al hoe meer dat mense met ‘n laai vol gedigte vir my raad vra.  “Hoe moet ek maak om ook gepubliseer te word?”  Ek het die voordeel van ‘n pankop en baie plooie om my antwoord oortuigend gewigtig te laat insink:  “Geduld, geduld, geduld.”  “Maar, behalwe geduldig en dikvellig aanhou probeer ten spyte van terugslae en kritiek,” gaan ek dan voort, “moet jy baie gedigte lees en aanhou en aanhou en aanhou skuur en skaaf aan jou gedigte.”

 

Dis net daar waar die meeste laaidigters vassteek en verklaar dat hulle gedigte perfek en eenmalig neergeskryf is soos deur die muse aan hulle geskenk en dat dit heiligskennis sal wees om selfs ‘n komma of punt te verander.  Daar mag dalk hier en daar in die wereld ‘n digter wees wat perfekte gedigte klaargemaak op papier kan uitspoeg, maar ek is beslis nie een van hulle nie.  My gedigte gaan deur ‘n lang proses van die aanvanklike idee of inspirasie tot dit uiteindik ‘n geslaagde gedig is.  Dit kan soms baie maande en tot meer as 50 herskrywings beteken.

 

Laat ek die proses aan die hand van ‘n spesifieke gedig illustreer.  Een van my gedigte in Nuwe Stemme 4 is Honde:

 

HONDE

 

Ons honde blaf opgewonde

by die voorhekkie toe ek van die werk af kom.

Op die tafel lê ‘n briefie.

 

Hulle smeek keffend vir ‘n stappie.

Ek steek jou briefie in my sak

en ons gaan uit.

 

Die honde blaf uitgelate

toe ek hulle in die park loslaat.

Hulle snuffel oral vir verlore skatte en

ek sit onder ‘n boom en lees jou briefie.

 

Later blaf hulle al om my bene vir aandag.

Ek sit met jou brief,

met die brief in my hande.

 

Die honde blaf heelpad huis toe,

sleep my saam van hek tot hek.

Ek smyt die stuk papier in die drom,

gee die honde kos,

staar na die TV,

klim by jou

reuk in die bed.

 

Maar kyk nou net hoe het hierdie gedig se heel eerste weergawe gelyk:

 

DIE HONDE

 

Die

onrustigheid was skemeraand al klaar

in die lug. Iets. Was dit die wind wat nuk-

kerig aan my hare pluk toe ek met

 

die honde

in die park gaan stap? Of was dit die maan,

te vroeg te groot te geel? Of, skeurend deur

die stadsgebrom, die sirene, sodat

 

die honde blaf-

fend pluk aan hul leibande en my draf-

fend terug huis toe dwing, waar dit onrus-

barend donker is. Jy’t niks laat weet nie?

 

die honde blaf al

op die reukspoor van my skrik, maar ek hoor

niks, want ek het jou brief in die gang, op

pad uit my lewe uitgeskryf, gekry.

 

Die honde blaf al weer

die hele stad vol vir die maan en jou

selfoon lui sonder antwoord en ek bly

in die leë huis se dolleë bed rondrol:

 

die honde blaf al weer heelnag.

 

OK, OK, ek sal jou genoeg kans gee om klaar te lag vir die “juweeltjies” wat heel goed sou tuishoort in ‘n skopskietspanningsverhaal:  “die maan, te vroeg te groot te geel?”, “skeurend deur die stadsgebrom”, “onrusbarend donker”, en, die ergste van alles, “op die reukspoor van my skrik”!  Klim nou terug op jou stoel, vee die trane uit jou oë, en kyk weer na die ding.  Magtag man, om te kan leer uit jou foute moet jy mos foute maak om mee te begin!  Kyk nou verby die kakofonie van uitgeblertste emosies en jy sal sien ek het met ‘n spesifieke struktuur gespeel.  Die eerste reël van elke strofe bou, herhalend, geleidelik op:

 

Die

die honde

die honde blaf-

die honde blaf al

die honde blaf al weer

die honde blaf alweer heelnag.

 

Daarmee is twee geheime nou uitgelap.  Vir my is die digkuns een groot speletjie.  Ek speel heeltyd met woorde en met strukture.  As dit nie met ou bekende poëtiese vorme soos die sonnet of die vilanelle is nie, is dit met strukture wat ek self skep.  Die tweede geheim is dat hierdie gedig se ontstaan niks te doen het met enige emosies of herinnering nie, maar bloot ‘n poging was om te sien of ek ‘n gedig kon skryf met so ‘n “herhalend-groeiende” eerste reël.  Ten minste het ek daarmee geslaag.

 

Ek het egter dadelik besef die inhoud van die gedig is ‘n spul hoogdrawende spookasem.  In die lang en moeisame en heerlik bevredigende proses van herskrywing, het ek al hoe meer van direkte emosiebeskrywing wegbeweeg.  Ek glo ‘n goeie gedig is een wat so veel as moontlik in so min as moontlik woorde sê, sonder om dit direk te sê.  Met hierdie gedig het ek toe geleidelik, van een herskrywing na die volgende, al hoe meer gefokus op die handeling (gaan stap met die honde, ensovoorts) terwyl dit waaroor die gedig eintlik gaan (die einde van ‘n liefdesverhouding) toenemend net geïmpliseer is.  Totdat die gedig later so gelyk het:

 

DIE HONDE

 

Die

briefie lê op die tafel

toe ek van die werk af kom.

 

Die honde

smeek keffend vir ‘n stappie.

Ek steek die briefie in my sak

en sit hulle leibande aan.

 

Die honde blaf

uitgelate toe ek hulle in die park

loslaat. Hulle snuffel vir verlore

skatte in die struike en ek,

ek sit onder ‘n boom en lees jou briefie.

 

Die honde blaf al

om my bene vir aandag.

Ek sit met jou briefie in my hande.

Ek sit met ‘n verfrommelde brief

in my hande.

 

Die honde blaf al weer

heelpad huis toe, sleep

my saam van hek tot hek.

Ek smyt die stuk papier in die drom,

gee die honde kos,

staar na die TV,

klim by jou reuk in die bed.

 

Die hele donnerse wereld se honde blaf al weer dwarsdeur die nag.

 

Toe die gedig op hierdie stadium van ontwikkeling was, het ek kritiek gekry teen die inperkende effek van die “herhalend-groeiende” eerste reëls.  Omdat dit die ontstaansrede vir die gedig was, wou ek natuurlik eers nie verander daaraan nie.  Maar, gedagtig aan die goue reël van “kill your darlings”, het ek tog besluit om te sien wat sou gebeur as ek die borstrok van selfopgelegde vorm van die gedig afstroop.

 

Die resultaat is ‘n gedig wat, sonder foefies, baie suiwerder gefokus is.  En feitlik al wat oorgebly het van die oorspronklike poging, is die tema.

 

Die les wat hieruit te leer is, liewe laaidigters, is dat die muse dalk wel ‘n rol te speel het in die aanvanklike inspirasie vir ‘n gedig.  Dit is egter maar net die begin.  Dan volg daar meestal ‘n uitdagende én belonende geboorte- en grootmaakproses voordat die gedig selfstandig die wrede wêreld kan trotseer.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Pieter Hugo. Die geboorte van ‘n gedig.”

  1. Lewies Botha :

    Hallo, Pieter, ek het darem nou die blog geniet. Dis een van jou NS4 gedigte waarvan ek baie gehou het en dit is lekker om te sien hoe hy lewe gekry het. Ek is self baie behep met die ontstaan/geboorte proses van (my) gedigte en saam met die gedigte skryf gaar ek nog notas en voetnotas op van hoe sekere gedigte tot gedaante gekom, sommige het nogal ‘n heel interessante stamboek soos hulle afgebreuk het en uit weggooi brokke van ander nuwes geword het ens. (ek weet nie of ek nou dink my Literatuur eksekuteer sal eendag na my dood waarde vind in die goed en aan n akademie of iets skenk nie, sulke selfwaansin darem) ewenwel omdat ek al my skryfwerk met die rekenaar is moet ek noodwendig al my oorskrywings en ou weergawes “save” dit het nogal in ‘n taamlike argief bewaar sisteem en naamgee sisteem ontaard. (Miskien moet ek jou Bib ervaring hier inroep :)) Beste groete
    Lewies

  2. Lewies Botha :

    O ja en ek kannie help nie maar daardie “op die reukspoor van my skrik” is n juweel ek het nogal breed gesmile, dit moes n groot skrik gewees het en om dan nog te gaan stap na so skrik met die reuk in die spoor/broek.

  3. Ivan Mocke :

    Pieter, hier volg nog ‘n gedig oor honde deur David Meltzer vir jou. Dankie vir ‘n inspirerende stuk.
    Ivan

    Bark: A polemic

    Bark is what us dogs do here in Dogtown
    also shit on sidewalks door mats proches trails
    wherever new shoes walk fearless.
    Bark is what us dogs do here in Dogtown
    it’s a dog’s life
    we can’t live without you.
    Mirror you we are you.
    Beneath your foot or on the garage roof.
    You teach us speech bark bark
    for biscuits we dance for you.
    You push us thru hoops
    & see our eyes as your eyes
    but you got the guns the gas the poison
    all of it.
    Bark is what us dogs do here in Dogtown.

  4. Pieter Hugo :

    Ja Lewies.
    So is ons. Bewaar ALLES – sodat ons kinders eendag kopskuddend die stapels papiere kan verbrand (soos, volgens oorlewering, een van Bach seuns blykbaar in een besonder koue winter stapels van sy pa se komposisiemanuskripte in die kaggel verbrand het!)

    Soos jy kan aflei, bewaar ek al die weergawes van al my gedigte, maar, goeie bibliotekaris wat ek is, bewaar ek papierkopiee, alfabeties natuurlik! Ek het ‘n ewige wantroue in elektroniese bewaring. Die rekenaar kan geesgee, die tegnologie verander (wat sou dit jou byvoorbeeld help as jy ‘n spul gedigte op daai groot ou floppies gebere het? G’n rekenaar vandag kan die goed meer lees nie!)

  5. Louis :

    Mmmmm, ja, Pieter. Ek hoor van die kinders wat alle nagelate geskrifte verbrand. Maar daar is natuurlik uitsonderings ook. Soos Kafka wat aan sy vriend Max Brod al sy manuskripte nagelaat het met die eksplisiete opdrag om alles te verbrand. (Op daardie stadium was daar slegs enkele kortverhale in tydskrifte in druk. Sy enigste boekpublikasie – inslyks kortverhale – se hele oplaag is glo deur Kafka kort na publikasie opgekoop en verbrand.) Gelukkig het Brod sy vriend se versoek geïgnoreer en dié nagelate manuskripte vir publikasie voorgelê. En siedaar! Vandag word hy as waarskynlik dié belangrikste skrywer van die modernisme beskou.
    Maar goed, jou punt oor papier versus ‘elektroniese bewaring’is weldeeglik ter sake. So ook die kwessie tov “versamelde briewe”, want wie de hel skryf nog briewe?!
    En DIT is ‘n enorme verlies.
    Vriendelik,
    Louis

  6. Pieter Hugo :

    Eintlik word daar deesdae baie baie meer briewe geskryf as twee dekades gelede, Louis. Ons noem dit nou net nie meer briewe nie, maar e-pos, SMS, blog, whatever.

    Die probleem is dat dit alles elektronies is. As jy dit wil bewaar moet jy dit op papier druk, maar wie doen dit nou? Dit kitsaspek daarvan het ook die effek dat dit in ‘n kits geskryf word. Die weldeurdagte, literere aspek van woordkunstenaars se briewe is dus weliswaar verlore.

  7. Louis :

    Inderdaad, Pieter. Maar dit hang ook af wie die briefskrywer is en aan wie daar geskryf is. Verlede week het ek byvoorbeeld weer in Sylvia Plath se briewe gelees (wat sy hoofsaaklik aan haar ma geskryf het) en liewe hemel: wat ‘n vervelige spul! Ek is inderwaarheid spyt dat ek ooit dié boek gekoop het … Maar daarteenoor is Herman de Coninck se briewe uiters opwindend. So ook Van Wyk Louw se briewe aan sy broer. (Laasgenoemde waarskynlik die beste van almal omrede dit my siening en begrip van ‘n bepaalde tydsvak in ons geskiedenis heeltemal verander het.)
    Goed, ek veralgemeen. Ook Paul Celan se briewe aan Ingeborg Bachman is die moeite werd …
    Maar of ons ooit weer korrespondensie van dié aard in druk sal sien? Ek twyfel …
    Louis