Pieter Hugo. Twee gedigte

Blogfokus

 

Dis al

 

Dis die blond,

dis die blou:

dis die veld,

dis die lug;

en ‘n voël draai bowe in eensame vlug -

dis al

 

dis ‘n balling gekom

oor die oseaan,

dis ‘n graf in die gras,

dis ‘n vallende traan -

dis al

 

- Jan F.E. Celliers

 

 

Afrikaans 

 

Dis Hollands, aangekom

oor die oseaan,

dis verslaaf in die Kaap,

dis gewa,  geskag,  geknal  -

WAS dit maar al

 

Dis die blank,

dis die broeder:

dis gekaap,

dis bevel;

en Die Taal verbleek in ‘n aparte klug -

that’s it

 

- Pieter Hugo

 

 

 

Uit: Die Stem van Suid-Afrika 

 

Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,

Deur ons ver verlate vlaktes met die kreun van ossewa -

Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.

 

Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:

Ons sal lewe, ons sal sterwe - ons vir jou, Suid-Afrika.

 

                                                           

- C.J. Langenhoven

Ontstem 

 

Uit die bloute, liewe hemel,

Uit die dieptes van die sand,

Op ‘n ver verlate vlakte,

Ruk die stem van die gevreesde

Dat die kranse antwoord gee.

 

Ons sal sidder op jou roepstem, ons sal offer, ongevraagd:

Ons sal sterwe, ons sal sterwe, met ‘n kreun wat gou vervaag.

 

Wat is die verborge talent van ‘n landmyn?

Om te wag,

Stil en rustig te wag

Dwarsoor ons geliefde Afrika

 

Uit die bloute, liewe hemel,

Uit die dieptes van die sand,

Op ‘n ver verlate vlakte,

Ruk die stem van die gevreesde

Dat die kranse antwoord gee.

 

Ons sal sidder op jou roepstem, ons sal offer, ongevraagd:

Ons sal sterwe, ons sal sterwe, ons sal sterwe, ons sal sterwe,

Ons aan stukke dwarsoor Afrika.

 

Wat is die verborge talent van ‘n landmyn?

Om te wag,

Stil en rustig te wag:

 

Nkosi sikelel’ i-Afrika

 

 

- Pieter Hugo

 

Bookmark and Share

Los kommentaar