Droedel: ‘n Nota langs jou kussing
‘n Nota langs jou kussing
(vry na Roberto Fernández Retamar)
vir Claire
Te veel herinneringe en té veel hoop
is daar al tussen ons gekonkel. Te veel lewe
by nabetragting gelewe vir ons reis om ooit te skei:
nie die jare wat ons in die gesig vat nie;
nie die jare wat ons net by benadering geleef het
nie die somer se aftog nie, kan ons meer skei
nie. Tyd, daardie veerboot van soveel vlugte, spoor
van soveel verlore liefdes, van Stellenbosch na Grahamstad,
van Bellville na Havana, na weemoed, na ontsetting
selfs, na meer illusies as in drome kon – soveel so dat niks,
behalwe dít wat alle dinge skei, ons meer kan skei nie.
Meisie van gister en môre, vrou van my lewe.






Pragtige vers! Is daar ‘n digbundel van jou al uit? Of oppad?
Roelien, dankie, maar nee, en nee. Ek hou vol, daar is ‘n verskil tussen mense wat nou en dan ‘n gedig by benadering kan naboots, en mense wat digters is… Hierdie een het ek so haastig gedoen, ek sien nou net voos plekke wanneer ek dit lees (my voos plekke, nie digter by wie ek gesteel het s’n nie…). Ek dink ek gaan later verbeteringe of veranderinge op hierdie blog pos.
Desmond, ek stem saam met Roelien. Hierdie is waarskynlik een van die héél mooiste liefdesverse wat nog op die webblad verskyn het. Veral die afbreuk tussen reëls 6 & 7 vind ek besonder interessant. Ek kon nog nooit mooi verstaan waarom soveel digters probeer om die dubbele “nie” in Afrikaans te vermy nie … Die evokatiewe krag daarvan is enorm! Ons moet net leer om dit kreatief te gebruik; soos jy hier doen.
Veels geluk.
Louis
Louis, dankie, jy is te gaaf! Ek moet darem bys^e, ek sou dit darem nie geplaas het as ek glad nie daarvan gehou het nie, en een van die goed wat ek wel van gehou het (en wat wel myne is, nie Retamar s’n nie!) is daardie spesifieke afbreuk en die opeenstapeling van die “nie’s”. So ek is nogal aangenaam verras dat jy dit noem! Nogtans, ek het die vers geplaas om Claire se oggend te verfraai (en my in haar goeie boekie te sit — jy weet mos, Herman de Coninck skryf tog so mooi oor daardie digterlike transaksie… :-)), maar in my EIE boekie is dit nog ‘n “onder konstruksie”. My probleem is net, ek gaan nooit terug na die halfgeboude huis om die “skirting boards” en die geute aan te timmer nie… My notaboeke lyk soos ‘n griekse dorp: al die huise is net half klaar.
En kyk vir Claire daar in die foto - sy lag maar net vir al jou halfklaar huise…
Claire is super pragtig! en die gedig… amper so mooi soos Claire. Skryf nog BAIE, Desmond!
**Bibi**
Dis nou ‘n gedig!