Carina Stander. visumkoors
Carina Stander.
Die laaste maand had ek nie ‘n enkele kuier sonder dat iemand op ‘n stadium begin spekuleer oor wat die gaafste plek vir kits-emigrasie is nie. Kanada? Australië? Singapoer? Hierdie naweek het die visumkoors my ook oorval - die drang om ‘n agterdeur, ‘n sleutelgat na ‘n ander land te vind. Net vir ingeval… Want al is ek skaamteloos lief vir my land en al woon ek in ‘n paradyslike kuswoud, is ek ook nou nie skoon besimpeld van optimisme nie. Tog kon nie eers Dilemma Malema se rampokkerpraatjies my koors so laat styg soos gister se besoek aan Port Elizabeth se eers befaamde pofadders en pikkewyne nie. In “Oppad in Suid-Afrika” (’n reisboek wat in 1997 gepubliseer is) pronk PE met sy Bayworld wat honderd jaar gelede deur F.W. FitzSimons gestig is - ‘n slangpark met 1 000 spesies waarvan sommiges gereeld vir serum gemelk is. Gister was daar dalk 15 slange by die park, dalk minder… Op dieselfde perseel is die oseanarium waar ‘n skool stompneusdolfyne vir dekades lank die wonderbaarlikste toertjies uitgevoer het - gister was dolfynloos. Glo weggestuur na Hong Kong om te gaan broei, vertel ‘n plakkaat. Glo verkoop omdat die een of ander flierefluiter die beskikbare R500 000 verduister het, skinder ‘n inwoner. Glo wat jy wil, sug ek, maar die swembad is vrot van die alge, die pawiljoen leeg en die pikkewyne wat onder ‘n hondebok saambondel, lyk bipolêr. En die Tropiese Huis wat ‘n paar jaar gelede nog die ene eksotiese plante en voëls was? Die is nou ‘n konferensie-sentrum… Toegegee, die lewensgroot dinosourusse wat grom en beweeg is oulik. En die seeleeu klap mooi hande. En dit alles saam is nie slegte waarde teen R40 per kaartjie nie. Maar dat Bayworld tot so onlangs as 2006 in Getaway se deksels netjiese “1001 Moet-sien-plekke in Suider Afrika” gelys is, dit laat my visumkoors styg. Is dit wat in vier jaar se tyd kan gebeur? Slaan my om met ‘n pap snoek…





Ek kan nie verstaan hoekom moet ons dolfyne in ‘n swembad aanhou om toertjies vir mense te doen nie. Ek was nog nooit by Bayworld nie maar kom gereeld in PE en die plek (Bayworld) het my net nog altyd gewalg. Kan jy jou voorstel daardie dolfyne is enkele honderd meter van die see gevange. Nee ek is jammer ek dink nie dis ‘n verlies nie eerder goedso dat die plek besig is om tot niet te gaan. Dis net baie baie tragies, die lot van die oorblywende dolfyne.
Lewies, ja-nee, as jy enigsins oor dolfyne in swembaddens voel soos wat ek oor dieretuine voel, dan is ons comrades. As jy nou regtig my stert wil laat hang, moet jy my nooi vir ‘n piekniek in ‘n dieretuin/ voëlpark. In Munich het ek in 1997 ‘n sjimpansee met ‘n appelboks oor die kop sien sit in ‘n hok van oranje vloerteëls. Jip, dit nogal in die ekovriendelike Duitsland waar Green Peace op daardie stadium die amptelik opposisie party was! In die Peruviaanse Amasone het ek afgekom op ‘n make shift dieretuin wat my moer so gekoer het, dat ek sommer die bosse ingevaar het - die gevange puma (bergleeu) skielik kort op my hakke. (Natuurlik het ek myself lam geskrik. Ja wragtag, that’s how activism bites you in the back.
Maak my president, Lewies, en saam met jou sal ek al wat kruipende, vlieënde, swemmende kreatuur is vrylaat. Oor my blog: dis nie eintlik die feit dat daar nie meer dolfyntoertjies by Bayworld is wat my ontstel nie. Wat my visumkoors gee, is dat die “state” van hierdie spesifieke staatsinstansie ‘n simptoom van ‘n groter verval in die land is.
Ja en dan (waar het ek dit gelees, ek dink in Danie Marais se essay?) gee niemand om vir die arme Tuna wat dolfynvriendelik gevang en opgeeet word nie. Ek eet die nogal daagliks as vulsel in my toebroodjies want volgens vroulief is dit nogal OK vir my dieet. Ai Carina jammer ek het myself vir ‘n blits oomblik oorgegee aan kwaai kommentaar op jou blog wetende dat jy dit nie so bedoel nie.
Hi nee, Lewies, jou kommentaar was heel geldig. Buitendien altyd lekker om ander aktivisse (sic) te ontmoet.:) Nou moet ek ook bybieg: die eintlike rede waarom ek my in Bayworld begewe het, is dat PE maar woes & winderig was & ek my 2,5 jarige op hande had. En ja, vir hom was die akwarium absoluut luuks. Hy is immers ‘n seuntjie wat teen die see grootword en daarom nuuskierig is oor wat alles wat doer binne aangaan. (Hy kan sowaar vir jou vertel van bottelneusdolfyne met spuitgaatjies bo die kop, wat die verskil tussen ‘n rob en ‘n walrus is en dat walvisse plankton vreet. Alles geleer op sy ma se skoot, boek in die hand soos dit hoort. Of in daardie skrousnaakse National Geographic Kids dvd’s.) Nietemin, die seeleeu van Bayworld wat hande klap - tragies soos dit is - veroorsaak nou nog dat hy elke aand sy eie robbe bad, visse voer & saam met hom in die bed bêre.:) Moedhou, comrades, die beskaafdheid sal ons nie oorval nie! Nog net ‘n paar jaar dan vat ons hom op sy eerste snorkel - die plek waar mens regtig leer liefhê.