6 Mei. Verjaarsdag - Rosa Smit
Veels geluk met jou verjaarsdag, Rosa. Mag die inspirasie ten opsigte van woord én kwas sodanig wees dat jy in die nuwe lewensjaar sommer héélwat kunswerke sal produseer.
Vir die leesplesier van jou lesers plaas ons die gedig uit jou gedigtekamer hieronder …
Vriendelike groete,
Louis & Marlise
DIE DANSENDE CHRISTUS
Na ‘n ikoon in die klooster “Rots van versoeking” in die Jordaanvallei
Klippe wou brood word
en jou pad wat strompelend
val en opstaan deur die erosiegeule
van die landskap,
waar wind vir veertig dae
in ander stemme praat,
het jou op ‘n oggend tempelhoog gelei
en daarvandaan Jerusalem gewys,
maar jy het woorde soos krummels brood gestrooi
oor lig en water en elke ander deurlugtigheid
en toe rooigejurk, jou hemelblou mantel
argeloos oor jou bruin skouer oop geplooi
en soos ‘n woestynbesie
hoog beginne raas
en dans,
knieë gebuig, gelig
gehuppel
en met elke sprong
versoeking triomfantelik
stof toe getrap.






