Gerrit Komrij - vertaling in Afrikaans
Gerrit Komrij - vertaal deur Daniel Hugo
Die redding
Sy is die bediende van Mondriaan.
Sy was sy potte en porselein,
Sy sorg vir die koperglans van die kraan
En werskaf tot die laaste stof verdwyn.
Sy verhoed dat sy horlosies gaan staan,
Want as daar iets verkeerd loop, is Piet boos.
Sy sit sy pensele in die terpentyn.
Dit doen sy dag in, dag uit – vreugdeloos.
Maar op ’n oggend kom sy singend binne,
Uitgelate strooi sy stof oral rond.
Sy breek ’n pot en laat die wekker stik.
Daardie dag huil die muses van geluk.
Daar verskyn ’n haarkrul op Piet se linne
En uit sy blokpatrone steek ’n lont.
(Uit: Die elektries gelaaide hand, Protea Boekhuis, 2005)





