Herman de Coninck - vertaling in Afrikaans
Herman de Coninck - vertaal deur Daniel Hugo
Denkend aan vroeëre gedigte
Ons was jonk, ons het die taal
soos ’n perd bestyg en uitdagend
oor die velde gery, lasso’s
van woorde geslinger na alles
wat ons wou verower. O,
dit was dolle roekelose ritte. Wees tog
maar versigtig, het die kritici agter ons aan geroep.
En saans het die taal nog gestaan en natril,
op stal in ’n gedig, runnikend
van heimwee na die maan
en na die verste betekenisse.
(Uit: Die lenige liefde, Protea Boekhuis, 2009)




