Digstring: Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu

 

In die skadu van Machu Picchu 

  

In die skadu van Machu Picchu

vind die temalied van Il Postino my:

die storie van ‘n eenvoudige posman,

wen haar hart met Pablo se verse,

verby die vloei van die Urubamba,

in knetterende klanke van verlange.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

glip ‘n skaars vlinder verby my hand.

Die ruïnes van ‘n verlore Inka-stad

herwin in ‘n argeologie van woorde:

die digter, ‘n latter day-Bingham.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

volg ek getrou Pablo Neruda se reis

na die herwonne Inka-stad,

‘n wêreldwonder van graniet en klip.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

daal stilte soos stof oor die ruïnes.

‘n Fluit eggo, draal van berg tot berg

waar die Grootste Digter ‘n vers skryf:

soekend, speurend ‘n stil boodskap ontsyfer.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

soggens maagde tot ‘n songod geoffer.

Wat is ons offergawe hier, in ‘n ruimte

waar God en natuur volledig één word?

Hoe lank voordat ons U boodskap reg begryp?

In die skadu van Machu Picchu,

Ja, in die skadu van Machu Picchu.

 

(c) Joan Hambidge

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Joan? Hoe het dit ontstaan?

In Machu Picchu. Ek was tweekeer daar. In 1989 die eerste keer toe ek Verdraaide raaisels geskryf het tydens ‘n besoek aan ‘n hele paar lande binne Suid-Amerika en ‘n tweede keer in 2007 toe ek ‘n kongres bygewoon het in Rio de Janeiro en besluit het om weer Machu Picchu toe te gaan. Die gedig het ontstaan toe daar ‘n treinvertraging was terug na Cuzco. Ek het gewoon terug gegaan na die restaurant, gekyk na die manjifieke berg voor my en die gedig het letterlik in een sitting uitgekom. Toe hulle ons bagasie twee ure later afhaal, was ek reg om te vertrek.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar is uiteraard altyd ‘n eerste, tweede en derde weergawe van enige gedig. Maar hierdie is wel ‘n vers wat enkel uit genade, dadelik na my gekom het. Waarskynlik omdat ‘n mens binne so ‘n spirituele ruimte verkeer.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Die gedig is “gegee”, maar dan moet ek byvoeg: ek het Machu Picchu in die laat tagtigerjare uitgeklim – voordat dit begrens was – en met my tweede besoek weer twee keer opgegaan. Terselfdertyd het ek baie poësie gelees oor hierdie stad en die eerste weergawe wat opgeneem is in Verdraaide raaisels klink dan so:

 

El Condor Pasa

Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte.

– Pablo Neruda

 

In Machu Picchu, die heilige Inka-stad,

hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:

“die nagwind draai in die lug en sing”.

In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis

ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.

Heilige Machu Picchu bewaar sy gees

teen die onstuimige rivier en kil berglug

– sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.

Al die aangebode raaisels hier aanwesig

in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.

Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood

lê ‘n nuwe begin ópgesluit.

Met die aflegging van die self soos ons opbeur

na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,

pynlik bewus van ons argeloosheid

oor die krag van die lewegewende natuur.

Klim op, hoër na self-

loosheid – na stilte volledig.

Die kosmiese plan hier aanwesig,

argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan

van nuttelose oordaad of menslike verdelging.

So ook die reis in die self: ‘n smagting

na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.

Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

 

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “ordeningsbeginsel” toegepas?

Ek lees deurgaans glossariums oor hoe om te skryf; dus internaliseer ek vele tegnieke, bykans soos ‘n sanger wat elke dag sangofeninge doen. Ek lees byvoorbeeld tans weer Ruth Padel se The poem and the journey (Chatto & Windus, 2007) en Camille Paglia se Break, blow burn (Pantheon, 2005) ten einde meer te wete te kom oor hoé gedigte gestruktureer word.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek gebruik Johann de Lange as my klankbord. Hy is ‘n regte barometer van gehalte. Met ‘n groot aanvoeling vir onegtheid wat ‘n mens help met ‘n eerste weergawe. Dan wys ek ook verse vir twee ander persone: Henning Snyman en Wilhelm Jordaan. Beide reageer ook onmiddellik. Verder praat ek met Dolf van Niekerk en Charl Cilliers oor die digkuns. ‘n Mens behoef dikwels ‘n onmiddellike reaksie – en dan natuurlik, bied ek kreatiewe skryfkursusse aan waar so ‘n vers ook land. En verder geslyp word deur kritiese vrae.

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers het op Litnet verskyn en het in my bundel Vuurwiel (2009) verskyn. Daar is dan ook streng keuringsprosedures by Human & Rousseau. Daar was wel een oningeligte leser wat nie begryp het wat ek doen nie. Maar so ‘n verslag help dikwels meer as ‘n positiewe leesverslag. Madri Victor was ‘n goeie oor en ook wyle I.L. de Villiers het baie van die Machu Picchu vers gehou.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Ek verwys in die gedig na die film Il postino (1994), ‘n gefiksionaliseerde besoek van Pablo Neruda aan ‘n eiland: in Italië in die vyftigerjare. Die werklike bestaan van die Chileense digter van Isla Negra word verplaas na Salina, waar die verhaal verfilm is.

Net soos die Afrikaanse digter Neruda verplaas/verplant na Afrikaans…

Die gedig is ingegee deur die draalliedjie wat in die restaurant gespeel het en toe het ek die gedig begin skryf in ‘n Japannese notaboekie wat ‘n mede-kongresganger uit Tokio vir my persent gegee het!

Die film handel oor die mag van die digkuns en hoe dit ‘n mens se lewe verander.

Il Postino

Il Postino

 

 

 

 

 http://en.wikipedia.org/wiki/Il_Postino

 

 

 

Is dit ‘n narratiewe vers?

Dit is sowel liries as narratief. In die digkuns bly selfs die narratiewe gedig myns insiens altyd liries.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor die lewe en dood, die ontdekking van Macchu Picchu deur Bingham, die mitologie rondom die Inkas, die soeke na God en spiritualiteit, die soeke na die finale, groot gedig – en Neruda se siening dat God die grootste digter is. Die digter is dan ‘n latter day-Bingham of ontdekker….

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

Neruda se Canto general veral en die reeds genoemde Il postino.

Ek het die 1991 uitgawe van die Universiteit van Kalifornië-uitgewers gebruik en die Inkaterra-hotel waar ek gebly het tydens my besoek, se visitekaart ontdek ek vanoggend as ‘n boekmerk in die bundel!

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Myself. Op ‘n ewige reis na ‘n beter gedig of soeke na helderheid.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis waarskynlik meer liries. Ek is tans besig met ‘n reisbundel Visums by verstek en die liriese spring altyd uit wanneer ek oor Suid-Amerika dig.

  

Santiago de Chile

 

O geliefde, geteisterde stad:

ek verneem van jou ellende,

jou Costanero Norte afgesny

Santaguinos vasgekeer in

jou donker ondergrond en Estacion.

Ek stap in my gedagtes oor

die Alameda en wonder of Sanhattan

steeds staan. Smelt die sneeu op die Andes?

Weet die Cordillera de la Costa

van jou terugslag? Bloei die Mapoche?

Is die Tupungato-vulkaan

aan die sluimer en stotter?

O geliefde, geteisterde stad:

Las Chascona, daardie monument

is hopelik ongeskonde?

“Verby die land se mure,

neffens die sneeu se kristalwerk,

agter die rivier van groen lower,

onder die nitraat en dorings,

het ek druppels bloed gevind,

en elke druppel het soos vuur

gebrand.” Die digter

van Las Chascona se woorde

bly leef tot by Machu Picchu

en die moregloed van die Urubamba

se knetterende klanke van verlange

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, die alliterasie en assonansie in die gedig is eg Afrikaans: knetterede klanke van van verlange.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” of versaak?

Ek publiseer net ‘n gedig wanneer dit my bevredig. Jy moet egter dikwels ‘n vers “abandon”, los… “Jy voltooi nooit ‘n vers nie; jy versaak dit net”, aldus Paul Valery.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Absoluut. Dit is deur talle lesers uitgesonder as ‘n gedig wat met hulle gepraat het.

 

         Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009). Sy is ‘n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad.Joan behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman – ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2006) bevat ‘n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugène Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

 

Joan Hambidge lees hierdie gedig e.a. voor uit haar bundel Vuurwiel.  

[© NB Uitgewers] 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.