Pieter Kleynhans. “Bitter brood”
Blogfokus
Die opdrag vir hierdie maand is nie so voor die hand liggend soos wat die redaksie mag dink nie, want as poësieliefhebber het ‘n mens tog seker meer as een “gunstelingbundel”. So sal ek altyd graag NP Van Wyk Louw se “Tristia” of Breyten Breytenbach se “Lotus” optel en met groot plesier daarin lees. Meer onlangs sekerlik HJ Pieterse se “Die burg van Hertog Bloubaard” en ‘n bietjie verder terug Johan van Wyk se “Heldedade kom nie dikwels voor nie.” Om natuurlik ook nie van Antjie Krog te vergeet nie; bykans ál haar bundels is uitsonderlik, maar haar bundel “Kleur kom nooit alleen nie” sal altyd ‘n gunsteling bly. So ook “Otters in bronslaai.”
Om ‘n nommer 1 gunsteling uit te sonder, is dus vir my ‘n onmoontlike taak.
Daarom sal ek eerder konsentreer op een van die “vergete digters” van Afrikaans en dit is GA Watermeyer. Sy gedigte het my nog altyd getref vanweë die aardsheid daarvan. Ongelukkig het hy hom tydens die opswaai van Nasionalisme baie sterk en direk aan die kant van die Nasionaliste geskaar en te midde van ‘n koppestamp met DJ Opperman en andere hom aan die verkeerde kant van die literêre spektrum bevind as gevolg van sy politieke agenda.
Dit is egter wanneer dié man liefdes- en erotiese verse geskryf het, wat sy ware krag volgens my na vore gekom het. Hierin is sy bundel “Bitter brood” (1965) vir my onvergeetlik en beslis ‘n gunsteling. Veral die gedigtereeks “Klein siklus” lees ek so gereeld as wat ek kan; sedert my skooljare al toe ek nog ‘n tjokkertjie was.
As voorbeeld:
I
Twee heuwels en die een vallei
kan nie ‘n man se dors bevry,
kan nie die donker bloed besweer
tot altyd helder wederkeer;
tussen die roosknop en die roos
styg die begeerte asemloos,
maar in die later, voller weet
dring dit terug in die vroeër leed:
word weer die wonding, die oop verlang -
dolk in die sterre, hoef teen die hang.
En dan ook nog die pragtige vers waarmee hy dié reeks afsluit:
Vir my vrou
Van al my heuwels van verlang
bly jy alleen die elder hang:
vallei van stilte en verskiet
wat wilgers stoot uit my verdriet
windbreek van deernis waar ek skuil
wanneer die nanag om my huil
die laagte se dorings en fontein
waar ek weer opstaan uit my pyn
om somersterk teen hierdie son
my gang te beitel uit beton.
Ek besef dat hierdie gedigte in vandag se tye maar ietwat “verouderd” klink, maar tog bly dit na al die jare nog steeds een van die mooiste voorbeelde van wat mense bedoel wanneer hulle praat van “suiwer poësie”; onopgesmuk, eerlik en vol van die wonderlikste sensitiwiteit.
Of ons digters van vandag nog hieraan voldoen? Ek weet nie. Ons digkuns het vir my so hard en berekenend geword. En tog, dalk is dit wat die tyd vandag van ons digters vra, is dit nie? Want waar kry ons vandag nog die rustige landelikheid waaroor Watermeyer byvoorbeeld in sy bekendste gedigte, “Reën in die voorwinter”, “Oestyd” en “Hings” kon dig?
Dankie vir die geleentheid om aan ‘n mooi inisiatief te kon deelneem.
Pieter Kleynhans






Hel, Pieter, ken ek jou?! Jy preek hier so reg uit my Bybel uit, want wat jy hier skryf het ek al hoeveel male self gedink (en gesê). Waarskynlik sal jy maar die boekprys moet wen vandeesmaand, want niemand, so lyk dit my, is lus om deel te neem aan hierdie uitdaging nie …
Nietemin, gister moes ek ‘n bepaalde gedig van Boerneef vir ‘n kliënt probeer opspoor. En toe sit ek stomgeslaan deur al die raakpunte tussen Watermeyer en Boerneef. ‘n Mens is geneig om Boerneef altyd met geestige verse te assosieer (waarskynlik agv die verse van hom wat in bloemlesings opgeneem word), maar dáárdie man het nou vir jou ‘n donker kant gehad wat selfs Watermeyer na ‘n Sondagskoolonderwyser laat lyk.
‘n Lekker bydrae deur jou. Baie dankie.
Louis
Boerneef, soos Hennie Aucamp in Woorde wat Wond aangetoon het, het ook ritse “beatnik”-gedigte geskryf. Hy (Boerneef) bly maar een van my heel gunstelingdigters in Afrikaans, en sy emosionele register is wyd en diep. Boerneef is vir my soos Chopin: beide kon die ‘klein’ kunsvorm en skynbaar ‘volkse’ idioom ontgin en aanwend om amper eindelose skakerings van emosie, van die geestige tot die diep depressiewe, uit te druk. Baie mense van my generasie met wie ek oor gedigte gesels dink dit is maar ‘n “party trick” wanneer ek Boerneef in dieselfde asem noem as Louw, Opeerman en Eybers. Maar nee, ek is heeltemal ernstig!! (Maar nou loop ek my eie Blogfokus vooruit, Louis…)
Watermeyer se nasionalistiese koppestamp met Opperman ten spyt, het Opperman hom darem (gelukkig)nie uit die Groot Verseboek geban nie!
Een van my gunstelinggedigte in Afrikaans, en waarmee ek glo Watermeyer homself in die poësiehemel ingeskryf het, is die onvergeetlike “Reën in die voorwinter”, verkieslik hardop gelees met ‘n sterk mansstem (en moenie die dubbelsinnigheid mislees nie!):
Vier mure teen die Suidewind -
my swartoogvrou, my blondhaarkind.
Kareehoutstompe in die vuur,
ketel en kaggel brons geskuur.
My bont koei lê op koringstrooi,
my swart haan roep die dagbreek rooi.
Soet deur die lang nag sing die reën;
moflammers sal ek vroeg-Mei speen.
Die wendam stoot sy uitloop oor -
blink breek my ploeg die middelvoor…
ek dink Watermeyer was dalk al klaar in die hemel toe hy dit geskryf het!
Het iemand dalk die volledige bundel? Ek soek dit al jare.