Digstring: Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand

Taxi-rit ná die aand 

Weer op Melvillesypaadjie vomeer,
nou metertaxi ons skommelend naar huis.
Lense fokus loop en val met Empire langs,

skrams deur Hillbrow (klinkersteen skullfuck Corbusier),
in Louis Botha by metro-cops en kapers verby.
Dreine soog oopkeel aan die maan,

hul deksels skroot vir ʼn high-rise in Beijing.
Aan pale wurg ligvaandels in slierte,
gelynch deur een of ander kontrakteur

met ʼn better connection dan al die ander
bloedsuiers, klaplopers en woekeraars.
“Ek verlang terug,” bibber jy,

“na ʼn bus uit die neëntien dertigs.”
Ek hoes: “Yl weerkaatsings van nóú…”
Weimarbusse het lank gelede rymelik verroes.

“Home, James! And don’t spare the potholes,”
giggel jy. In minibusvensters sit hulle suf,
waiters en casuals wat huis toe gaan.

 

© Andries Bezuidenhout

 

 

 

Let wel: Hierdie gedig is as wenner vir April se Blogfokus aangewys. Die opdrag was om ‘n eietydse vers in antwoord op ‘n klassieke Afrikaanse vers te skryf. Andries Bezuidenhout se antwoorde moet dus teen hierdie agtergrond gesien word;

ook met Elisabeth Eybers se gedig “Busrit in die aand” wat hier gelees kan word.

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Andries? Hoe het dit ontstaan?

In April hierdie jaar. ʼn Kollega, wat deel is van die internasionale anargistiese beweging (ʼn nadraai van die sogenaamde Wobblies – oftewel die Industrial Workers of the World), het my ʼn ruk gelede uitgevra oor Afrikaanse werkersklasgedigte. Hy het vorendag gekom met ʼn studie wat werkersklasgedigte van Afrikaners uit die dertigs en veertigs met dié van die African werkersklas van later vergelyk. “Busrit in die aand” word ook in die studie bespreek. Dit het my met ander oë na die gedig laat kyk, alhoewel dit eerder ʼn gedig is waarin werkers voorkom as ʼn werkersklasgedig. Ek weet ook nie of “werkers” hier heeltemal na die werkersklas verwys waarin my kollega geïnteresseerd is nie. Dis eerder wit, witboordjie kantoorwerkers uit die dertigs. Maar ek stel in elk geval op die oomblik in die dertigs belang, omdat dit vir my voel asof daar eggo’s daarvan is in die tye waarin ons nóú leef. Toe Versindaba se tema vir die maand aangekondig word (ʼn antwoord op ʼn “klassieke” gedig), het ek onmiddellik aan “Busrit in die aand” gedink en aan my antwoord begin werk.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit was amper nie betyds reg vir die einde van die maand vir Blogfokus nie. Ek het veel daaraan getorring. Dis steeds nie klaar nie. Die oorgang na die laaste strofe werk nog nie.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Baie daarvan kom uit die oorspronklike teks, wat dit maklik maak om te dink oor die verskille tussen hoe mense in busse ry tóé en nóú. Dis kwessies waaroor ek in elk geval wonder. En soveel het tussen tóé en nóú met busse gebeur – Rosa Parks, apartheid en busbankies, die Alexandra busboikot. O, my siel, daar’s ryke stof!

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Dit moes soos die oorspronklike vers lyk, maar steeds heeltemal eietyds wees. (Ek wil nie die woord “modern” hier gebruik nie, want die oorspronklike gedig is stilisties diep modern.) Ek het heeltemal afgewyk van die oorspronklike wat rym en metrum betref – dit ritmies afgebreek en slegs binnerym gebruik.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ja, Irma du Plessis. Ek het verder geskaaf ná haar kommentaar. Ek het oorweeg om dit ook aan Marlene van Niekerk en Willem Anker te stuur vir kommentaar, maar die maand was te dol.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek moes dit maar elektronies ophang voor die einde van die maand – reguit blog toe. Ek weet nie wat ek verder daarmee moet maak nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Al feit is die eerste reël. Die res is eerder vrees as fiksie.

Is dit ‘n narratiewe vers?

Eerder anekdoties.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan oor die verskille tussen busritte in Johannesburg in die dertigs en nóú. Dalk ook oor toestande wat ʼn oplewing in fascisme voorafgaan. Veel meer as dit wil ek nie hier sê nie.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot stand koming van dié betrokke vers gehad het?

Karl Polanyi se boek The Great Transformation. Dis kort na die Tweede Wêreldoorlog geskryf en is vandag steeds relevant (dis nogal ontstemmend). Ook gesprekke met Irma oor iets wat Walter Benjamin geskryf het oor Joodse intellektuele wat nie betyds tydens die Tweede Wêreldoorlog uit Parys gevlug het nie, al het hulle geweet hulle moet. Sien ook jou eie bundel, Liefland (Protea Boekhuis, 2004), bladsye 38 en 46. Ek het daar gaan steel.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nie juis nie, soos enige narcissis.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Goeiste. Al my verse verskil op die oomblik van mekaar, omdat ek rondval op soek na iets nuuts. Dalk het dit meer gemengde taal en dialoog in as gewoonlik. Dis maar omdat dit “in reaksie” is.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die plekverwysings, anders as Eybers s’n. Maar hoekom dink ek Eybers se gedig gaan oor Johannesburg? Dalk as gevolg van haar vers oor Wespark. Ek sien die bus naby Wesparkbegraafplaas verbyry as ek dit lees. Dalk is my poging meer postkoloniaal as Suid-Afrikaans. Maar postkoloniale Suid-Afrika is waarskynlik ʼn baie spesifieke plek. Dis Johannesburg.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Die einde van die maand het in my nek geblaas. Dis nog nie klaar nie.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Daar was nie eintlik enige openbare reaksie van lesers waarvan ek bewus is nie. Ek is egter baie in my noppies oor die prysgeld vir die poging. Met my vorige besoek aan Stellenbosch het ek die nuwe vertalings van Szymborska en apostroof gekoop. Beide het ek in die huurmotor vergeet, omdat ek alweer laat vir my vlug was. Nou kan ek die twee boeke weer aanskaf sonder dat dit my kredietkaart knak.

 

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout is ‘n sanger, digter en akademikus. Hy is ʼn lid van die Afrikaanse rockgroep die Brixton Moord & Roof Orkes. Die orkes het twee CD’s vrygestel, Spergebied (2002) en Terug in skubbe (2004). Hy het ook twee solo-CDs, Insomniak se droomalmanak (2003) en Bleek Berus (2009), vrygestel. Hy skryf ‘n tweeweeklikse rubriek vir Rapport. Sy debuutbundel Retoer is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer en ʼn versameling koerantrubrieke, Toeris in Hillbrow, kom binnekort by Human & Rousseau uit. In die dag werk hy as sosioloog aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.