Die nagevolge van swak kuns

Geagte leser, hoewel hierdie skrywe uit emosionele ontsteltenis stam, suiwer persoonlike ervaring, moet ek dit maar ’n mate van legitimiteit gee deur ’n paar wetenskaplike, weerkundige en estetiese vlaggies daaraan te hang. Wetenskaplik: water kan opdraande loop. Weerkundig: in Meimaand in Gauteng kan dit katte en honde reën. Esteties: selfs swak kuns het nagevolge.

   Om die kloutjie by die oortjie te bring. Tien jaar gelede is iemand wat homself ’n skrynwerker noem, aangesê en betaal om ’n dak op te rig. Weens morele, intellektuele en/of finansiële verval het hy homself skuldig gemaak aan swak vakmanskap, andersins bekend as boereverneukery. Swak vakmanskap het nagevolge. In hierdie geval ’n dak wat aanhou lek en lek en lek, teen enige wetenskaplike verduideliking in. Selfs Salomo het geweet hoe ergerlik dit kan wees, soos ’n vrou wat aanhou kyf.

   So tussen hemel en aarde, vir die derde naweek in ’n ry, wonder ek toe oor die nagevolge van swak kuns. (Daar is baie tyd vir dink wanneer jy so op jou agterstewe op en af teen ’n dak skuif, ’n blik verf tussen jou knieë vasgeklem). Maak dit saak as mens ’n swak gedig skryf, ’n swak skildery verf, ’n swak musiekuitvoering lewer? Maak dit tien jaar later nog saak? Honderd jaar? Met ander woorde, kan swak kuns iemand skade berokken?

   Nou kan jy seker vra, wat is swak kuns? Maar op daardie wankelrige hangbrug gaan ek my nie vandag waag nie. Kom ons aanvaar iets word werklik, deur konsensus, as swak beskou en nie net middelmatig nie. Hoewel middelmatigheid sy eie nagevolge dra, maar dit daar gelaat. Deur die blote psigiese aversie (ga! spoeg dit uit!) wat die werk wek, kan dit momenteel nagevolge het in ’n oordeelkundige kyker of leser. Net soos goeie gedigte, goeie skilderye, jou met ’n lied in die hart los, ’n gevoel van openbaring en verligting, onafhanklik van die tematiese inhoud, so kan swak gedigte jou ballonnetjie bars. Ag nee, blaai liewer om. Moenie eers kyk nie. Dis so esteties afstootlik soos ’n rommelverkoping op ’n vullishoop.

   Langdurige nadelige gevolge, honderd jaar heen, kan swak kuns gelukkig net hê indien jy dit toelaat. Jy hoef nie daarmee saam te leef soos met ’n lekkende dak of ’n kywende vrou nie. Jy maak die boek toe en voila! dis uit jou lewe uit. Gaan lees iets helders om jou mond mee uit te spoel.

   Net een waarskuwing nog: hou daardie boek toe en wys dit vir niemand nie, veral nie vir potensiële skrywers nie. Swak gedigte is miskien nie blywend skadelik nie, maar aanteel kan dit aanteel.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Die nagevolge van swak kuns”

  1. Pan Cogito :

    Uiters vermaaklik, Ilse! En skitterend geskryf. Ja-nee, voor die swak gedig staan ons sonder verweer. ‘n Mens kan jou wel afvra of daar wel iets bestaan soos ‘n “swak gedig” … Is ‘n “swak gedig” steeds ‘n gedig? Of is dit ‘n nie-gedig wanneer dit nie as “gedig” slaag nie. Selfs ‘n ondig. En as sulks is dit dan ‘n “onding”. Ag, jinne, hoe lekker gaffel ek nou. 🙂

  2. ilse :

    Jy is heeltemal reg, eintlik bestaan “swak digkuns” of “swak kuns” nie. Dis of kuns of dis nie. Maar wie gaan besluit?

  3. Desmond :

    Ek dink dit is Bob Dylan (of is die John Lennon) wat opgemerk het dat ‘n mens “oud” is wanneer jy meer antwoorde as vrae het… Wat kuns so wonderlik maak is dat die aantal vrae die aantal antwoorde altyd oorskrei; sowat so dat selfs die definisie van wat kuns is ‘n onbeantwoordbare vraag bly. En dankie tog! Die ondefinieerbare en onkodifiseerbare in kuns sal altyd die mag van die outokraat, die fundamentalis, die burokraat en die bemarker ontglip…