Digstring: Marlise Joubert. Waarskuwings

 

waarskuwings

 

ek moet jou waarsku teen die wind wat roer

die wind wat die hare van gordyne roer

ek moet jou waarsku teen die strooisel vere

wat die tarentale op ons werf kom los

ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels

kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer

in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku

teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang

want hulle blink verniet

ek moet jou waarsku

teen die maan se mistige oog

die son se roomwang teen jou gesig

ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer

met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai

ek moet jou waarsku

teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug

teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos

teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad

ek moet jou waarsku

teen my kissie van roospapier

waarin al my juwele is die krabbers die hangers

en die ringe van topaas

 

ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie

minder as woorde minder as water minder as brood

want die liefde het net oë vir mekaar

liefde is sonder bril in mekaar

liefde is oë vasgewaai inmekaar

 

liefde is sonder alles omheen

liefde is ’n dennewoud

liefde is ’n beurende dennewoud

waar die boskapper

onverpoos kap

 

ek moet jou waarsku

 

 

Uit:  passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007

 

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

 

Ek het gedig geskryf in dieselfde jaar toe ek ‘n manuskrip ingehandig het in 2006. Dag en datum kan ek mos nou nie onthou nie! Die laaste afdeling in my bundel passies en passasies [2007] nl. sleursange was ook die laaste reeks verse waaraan ek gewerk vir die bundel. Die inspirasie vir hierdie hele afdeling – die gedig waarskuwings ingesluit – was ʼn verruklike en insiggewende boek getiteld Technicians of the Sacred: a Range of Poetries from Africa, America, Asia, Europe & Oceania, [Jerome Rothenberg ;1985].  

Technicians of the Sacred

 

Dis ʼn massiewe volume wat probeer om die wêreld van  “ […] ‘tribal & oral poetries’/ of ‘savage mind’ wherever found”, bymekaar te bring. Kriptogramme ingesluit. Daar word verwys na die ‘primitiewe’ poësie, “carried by the voice, […] sung or chanted or spoken in specific situations.”(p.xxvi)  Daar is ook voorbeelde in van hoe die primitiewe digkuns by digters vandag steeds die impuls loslaat om uiting hieraan te gee dmv eietydse herskeppings. Om self ‘sjamaan’ te word. Die Amerikaanse digter, Anne Waldman, het onder andere afgekom op ʼn rowwe vertaling van die Maria Sabina [Mexikaanse] inkantasies, en die struktuur daarvan gebruik om haar eie gedig op te modelleer – ʼn lieflike en eietydse gedig getiteld Fast Speaking Woman. Die gedig het sy dan ook later by ʼn Poetry Performance geleentheid voorgedra/uitgespeel. Ek het ʼn klompie van hierdie verse wat tot my gespreek het, omgedig/vertaal/verwerk of slegs die struktuur gebruik vir die sleursange afdeling & dan het ek ook ʼn paar – ʼn reeks van 7 verse, [met die titel voordragte e.a. sange] – oorspronklike en eietydse gedigte geskryf [waarvan nommer 6 waarskuwings heet] wat poog om so min of meer dieselfde patrone of toonaard te volg as die sakrale en inkantasie-verse [chants]. Ek dink dit was bloot ʼn kwessie van onbewuste beïnvloeding en dat die ritmes en herhalings van reëls in my geheue vasgesteek het en soort van sy eie geïnternaliseerde ‘raster’ vasgelê het vir nuwe inhoude waaroor ek wou skryf. Die gedig, en so ook die ander in die reeks, het spontaan ontstaan en ook eers etlike weke later nadat ek omdigtings uit die boek gemaak het en dit allermins verwag het dat ek nog gaan byskryf vir hierdie afdeling. 

 

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

Ja, ek kon dit redelik vinnig afrond. My rowwe digwerk [handgeskrewe] is dikwels veel langer as die uiteindelike produk omdat ek alles neerskryf soos wat dit opkom. En dan begin ek weg te kap, reëls of strofes uit te laat totdat ek net die essensie en kern [wel, myns insiens dan!] oorhou. Ek vermoed dat ek hierdie vers ʼn paar keer deurgewerk het en klein veranderinge aangebring het, sonder om die ritme en gevoel van inkantasie heeltemal te verloor. Hoeveel weergawes daar was, kan ek nie onthou nie – dis te lank terug.   

 

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

Die vers is ‘gegee’. Ek skryf maar redelik intuïtief. In hierdie geval, het ‘waarskuwings’ ontstaan saam met die ander in hierdie reeks, juis nadat ek steeds ‘oorspoel’ was met die liedagtige toon van tekste uit bogenoemde boek – die beswerings en dansliedere uit vreemde en onbekende kulture, asof hierdie tekste en kriptogramme, ten spyte van eeue oud, tog dinge wat so universeel is bevat dat tyd en afstand geheel en al wegval. Ek dink nie ‘waarskuwings’ was ‘bloedsweet’ nie. Die gedig het vinnig gevloei toe ek begin het daarmee.

 

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “ordeningsprinsipe” toegepas?

 

Die gedig het maklik ontstaan, dit was asof ek toe reeds my ‘opleiding’ ontvang het deur my in te grawe in die oertekste en die oorspronge van die digkuns na die lees van ‘Technicians’, ook omdat ek van die ‘chants’  toe reeds vooraf omgedig het. Daar was eintlik geen doelbewuste ordeningsprinsipe nie.

 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansies) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

 

Nee, in die opsig is ek soos ʼn hermeet wat in sy berghut sit en lank wag om uit te spring. Ek wys vir niemand nie, ek is immer sku vir ʼn klankbord as ek nog besig is om aan ʼn gedig te werk. Merendeels omdat ek ook onseker is, en nog te na aan die gedig voel. Ek soek eers na afstand van die betrokke gedig. En soms duur dit maande lank voordat ek tevrede voel daarmee, met die onderskeie weergawes, of al dan nie.

  

Ek verkies om eers wanneer ek ʼn manuskrip met verse saamgestel het en nadat dit afgerond is na die beste van my oordeel, te wys aan iemand wie se mening ek vertrou. Dan word Louis Esterhuizen my eerste leser. Dis met uitsondering dat ek ʼn ongepubliseerde vers sal wys of gee of iewers publiseer, of iemand as klankbord gebruik. Nou en dan sal ek ʼn vers stuur vir iemand, maar nie om terugvoer spesifiek te vra nie. In die proses waar jy met ʼn redakteur saamwerk om die gedigte te verbeter [manuskrip-ontwikkeling], word daar ook nog laaste veranderinge aangebring. Eintlik dan die beste [objektiewe] klankbord vir my.

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Ongeveer ‘n jaar na voltooing en dit het in passies en passasies vir die eerste keer verskyn.

 

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Ek is nie seker nie. Albei miskien. Daar is nie vir my iets soos klinkklare feite in enige gedig nie. Die gedig is ‘n taalkonstruk met ‘n gefiksionaliseerde werklikheid. Dié afdelingstitel sleursange, wat ’n eie woordskepping is, dui reeds op die liedagtige of sangerigheid van die verse, en in hierdie gedig gaan dit ook oor die beswering van dinge wat die liefde kan bedreig en ‘bedrieg’. Dis net ʼn idee/perspektief [of cliché] wat na vore gekom het, iets om die veelkantige begrip ‘liefde’ weer te probeer belig en op ander maniere te ontgin. Fiktief miskien omdat dit niks met myself te make gehad het toe ek dit geskryf het nie. Die stem in die gedig is eerder iets soos ʼn sjamaan, die wysgeer, die gewete. Dinge wat genoem word soos tarentaalvere, ’n juwelekissie, die  molle wat wortels vreet is weer wel deel van my eie ervaringswêreld en vorm ʼn alledaagse of bekende werklikheid [en nie noodwendig vir ‘n leser nie]. En ja, in my slaapkamer hang vir jare al ʼn geliefde skildery van ʼn lammetjie met ʼn seer poot wat voor ʼn koolstoof staan… wat ek van ʼn student gekry het toe ek by die dept. Beeldende Kunste werksaam was. Sy was ‘n plaaskind en het vertel van die lammetjie wat hulle voor die koolstoof tuisgemaak het en hoe sy die prentjie  vasgevang het in ‘n skildery. Die skilder se naam? Ek weet nie. En ek kan dit helaas nie uitmaak op die skildery nie!

 

Ek het na die skildery gekyk, asof ek dit weer van vooraf ervaar. Die weerloosheid van die lam voor die vuur [liefde, wat kan brand as jy te naby kom] waar hy ‘n hittetjie soek om hom mee te verwarm het my verbeelding weer aangegryp en ek het dit o.a. gebruik as ʼn metafoor vir die liefde. Maar hierdie besonderhede is mos irrelevant vir die gedig op sigself. Dis maar net bietjie persoonlike agtergrond…

 

Is dit ’n narratiewe vers?

 

Nee, nie narratief nie. Dis slegs ‘n idee wat ontgin word. Met ‘n sangerige onderbou    ook as gevolg van die herhalende frase “ek moet jou waarsku”. Studente van die Drama departement by US het hierdie en ander verse in die sleursange-afdeling vrylik gedramatiseer vir 2007 se Versindaba poësiefees en ook ‘n narratiewe lyn bygewerk. Hier dan ‘n snit uit die video om na hulle verwerking te luister:

 

 

 

 

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Die liefde. Oor die bedreiging daarvan.

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

 

Ek het die inspirasie uit ʼn boek gevind, soos reeds genoem. Sonder die lees van “Technicians of the Sacred” sou hierdie vers en die ander in die reeks nooit ontstaan het nie. En ja, die skildery van die lammetjie het ook ʼn rol gespeel en was seker die aanvanklike impuls.

 

 

 

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

 

Nee. Net myself.  Eers as ek nie meer met die gedig wil worstel nie en hoop dat dit nou klaar is, sal ek miskien wonder of een van my tien moontlike lesers dalk eendag van hierdie gedig sal hou of nie.

 

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Ek is nie seker nie. My skryfstyl is gewoonlik liries van aard. Soms ‘praterig’. Dis wat my aanspreek. Of hoe ek bedraad is. Miskien het ek met hierdie vers my nog meer kon oorgee aan ʼn sangerige en inkanterende toonaard. En miskien het dit opgemaak vir die feit dat ek nie kan sing of chant nie.

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Nee wat, nie eintlik nie. Maybe die metafore oor tarentale, die molle, die honde wat in asblikke vroetel, ens. Maar dit tref jy mos ook in ander dele van hierdie kontinent aan.  

 

 

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Ja, ek dink ek kon dit redelik bevredigend afhandel. Maar is ʼn digter ooit heeltemal tevrede met sy/haar skeppings? Miskien vir ʼn kort euforiese look-ma-no-handles-oomblik. Op ʼn stadium moet jy maar laat gaan. Te veel gekarring aan ʼn gedig kan dit ook heeltemal doodsmoor. En dan sit jy met stukkende knieë en ʼn opgefrommelde fiets.

 

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

ʼn Paar resensente het baie positief daarna verwys. Waaroor ek dankbaar is. Daar was ook ʼn goeie bespreking van die vers deur Martjie Bosman in ʼn rubriek wat my verras het. Of lesers oor die algemeen daarvan gehou het, weet ek hoegenaamd nie. ʼn Digter kry mos selde terugvoer uit die anonieme leserskorps, of hoe? Dis immers my ervaring. Die leser is vir my onsigbaar en wat sy/haar ervaring by die lees van ʼn vers is, weet ek nie. Meestal is dit net vriende of mededigters wat jy persoonlik ken wat soms op ʼn vers sal reageer.  

 

 

Marlise Joubert

Marlise Joubert

Marlise Joubert is op Elim naby Levubu gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan op Warmbad (nou Bela Bela) in die Waterberge en verwerf ’n B.A. (Bibl.)- en Honneursgraad in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Sy word bibliotekaresse by verskeie instansies. Na 16 jaar by die Departement Beeldende Kunste van die Universteit van Stellenbosch, werk sy vir vyf jaar in Protea Boekwinkel op Stellenbosch. In 1971 debuteer Joubert met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Daarna volg nog vyf digbundels waarvan die jongste, passies en passasies, in 2007 by Protea Boekhuis verskyn het. Sy het drie romans gepubliseer, te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is reeds vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens”.

Bookmark and Share

21 Kommentare op “Digstring: Marlise Joubert. Waarskuwings”

  1. Desmond :

    Ek het ‘n swak plek vir sulke sangerige, inkanterende verse, waarin klank en ritme voortgestu word en betekenis (vir my in elk geval) so half dobberend agterna kom. As ek self so moes skryf sou ek heeltemal van enige betekenis vergeet en sou die gedig vassteek in ‘n soort mymerende, soms ekstatiese inkantasie. Maar nie hier nie: baie mooi gedig hierdie, Marlise. En “Digstring”: goeie idee.

  2. Bibi :

    Ek het ‘n swak plek vir lammetjies! Maar ek dink nie dis hoekom ek so mal is oor hierdie gedig nie. Dis ongelooflik mooi vir my, Marlise. En die omskrywing van die proses was ook fassinerend en inspirerend. Nog, asseblief.

  3. Marlise :

    Dankie Bibi & Desmond! Dis sielsverwarmend op hierdie koue reënerige oggend in die Bos. En Desmond, iets wat Rothenberg ook verduidelik in sy boek [in die afdeling The unity of ‘primitive’ thought & its shattering] wat eintlik aansluit by jou opmerking: “A sound, a rhythm, a name, an image, a dream, a gesture, a picture, an action, a silence: any or all of these can function as “keys.” Beyond that there’s no need for consistency, for fixed or discrete meanings. An object is whatever it becomes under the impulse of the situation at hand.”

  4. Desmond :

    Marlise, mooi aanhaling. Ek stem saam daarmee. Ek luister tans na Karl Stockhauzen se werk “Stimmung”, waarin 6 stemme mekaar so half mediterend en inkanterend volg in ‘n proses van transformasies en wording sonder voorafbepaalde ontwerp. Die aanhaling wat jy hier gee laat my dan ook aan daardie luisterervaring dink. Ek sal die CD een of ander tyd vir julle moet leen…

  5. Marlise :

    Bibi-lam, hoe bedoel jy – nog wat? Nog ‘n ‘sleursang’ hier opplak?
    Desmond, jy kan maar die CD gerus eendag vir ons leen!

  6. Bibi :

    Nog gedigte soos hierdie een, op nog presies sulke dae. En verkieslik nog stories oor lammers ook. 🙂

  7. Marlise :

    Helaas, Bibi, geen lammers meer nie, maar hier is een oor perde…

    perde

    perde is konings van heuwels
    en hawer van duine en torings van vuur
    perde is konings met mantels van blou
    oker amandel skimmel soos grou
    swarter as oonde witter as talk
    maanhaar verstroom in vleie van wind

    perde is konings met keile en hoewe
    wat ratel oor berge riviere en rif
    savannas en kranse en skeure met drif
    o konings van klip met hoewe in vaandels
    wat klop ametis ametis
    hoewe in steensimbaal
    dolomiet dolomiet

    robyn is die kykers van perde
    robyn soos die sterre teen skemer
    waar die stofwolk draai waar die sand
    in kringe soos poeier verdwyn

    bruin is die oë van perde
    bruin soos die maas op modder
    waar die son waterpansag
    in die somer kom lê

    perde is konings wat proes en galop
    oor pleine en plato’s van mense
    perde dra vragte van kinders en ridders
    of oues van dae soos ’n hut op die rug
    perde runnik alleen en verruk in ritmiese bome

    perde is visse in waterwoestyne
    swiepend van links en na regs
    en terug in die lug asof gode
    hul koppe in nette wil vang
    met hoewe in vaandels
    wat klop ametis ametis
    hoewe in steensimbaal
    dolomiet dolomiet

    perde is prinse wat die melkweg kantel
    die oggend se as die stadige pas
    perde is prinse en draf aan die hand
    met spelende spiere wat dans deur die land
    en klop ametis ametis

    perde is vroue wat geheime in paaie ontdek
    vroue met flanke wat glim in die sweet van die dag
    kampeer tussen mane en sneeu tussen wasem en gras
    wat kom lê in ’n stal soos ’n ster in ons pas

    perde is konings en prinse en visse en vroue
    perde is meer as salpeter van asem

    [Uit: passies & passasies, Protea Boekhuis, 2007]

  8. max rebo :

    Liewe Marlise, Waarskuwings is vir my meesleurend, eerlik, pragtig en hartseer tergelyktydig. perde daarby bevestig net dat ek jou bundel met alle geweld moet besit. Ek sal ook my opinie waag en sê dat Breyten en Carina Stander sterk staan as digters wat hulself as sjamane inspan. Ek wil ook voorstel dat Patti Smith, met haar beatnik konnektasies, moontlik kan kwalifiseer. (sy is een van my gunstelinge)

  9. max rebo :

    Liewe Bibi, hier is een…

    `n skaap

    vir die lewe van andere
    ten spyte van
    wei dae
    om op gras te speel
    wolke blêr
    om te eet
    saam
    `n middagslapie
    dra my met die prys op
    winkel toe.

    Oepsie, jammer, dit is nou nie eintlik wat mens `n gedig sou noem nie, dis `n bietjie te geforseerd. Miskien kan jy hom met die brein karnuffel en iets positief uit hom haal.`n Voorstel; druk eerder print en google vir jou `n origami voupatroon vir `n skapie, miskien werk my poging beter in 3D…As jy egter diepgang sou soek sal ek sê dat die lewe aan die begin staan en die dood ten laaste in die versie.

  10. Bibi :

    Eers vir Marlise…
    Baie dankie vir Perde! Ek is baie bang vir perde, maar die gedig maak hulle bietjie mak sonder om hulle van hulle wilde gees te beroof. Die perde in jou gedig sou ek (moontlik) kon ry.

    En nou vir Max:

    Die probleem met gedigte oor skape is dat Ted Hughes hulle reeds meer perfek as perfek geskryf het. Ek haal vir jou twee stukkies aan uit ‘What is the truth?’

    The sheep is a soft sort of rock
    For moonlight and sunlight and rain
    Quarried from the world’s sheepishness,

    The sheep is a small inland sea
    A wave on four legs
    A living foam, with a heart for a fish
    And blood of real sea-water
    And half-moon eyes.

    The sheep is a mobile heaven, it nibbles the hill
    a manageable cloud
    a cloud for a lawn or a field corner
    a small, patient cloud
    in whose shade the shepherd’s dog can rest
    a cloud going nowhere
    growing on the hillside
    fading from it
    a cloud who teaches quiet.

    Mooi ne? Ek is doodbang om my pen aan skape te waag, juis hierom. Ook – Billy Collins skryf ‘n lieflike gedig oor skape, “Flock”, in The Trouble With Poetry. Beslis die lees werd.

    Vir nou sal ek maar saam met jou vou! En almal aanraai om vegetaries te word, ter wille van die skapies.

  11. Bibi :

    Marlise, nog ietsie in die kantlyn.

    Ek het gister een of ander H-woord in die woordeboek opgesoek en toe op die woord ‘hawer’ afgekom. Ek’t dit hier langs my rekenaar op ‘n stuk papier geskryf en vier keer onderstreep in die oop dat ek sal onthou om dit eendag in ‘n gedig te gebruik. En kyk nou – hier duik hawer in jou perde-digsel op! Ek hou van sulke ‘fortuities.’

  12. Ted Hughes is natuurlik altyd fantasties, maar max rebo se gedig terg die leser. Mens kan gewoon nie anders as om dit twee, drie keer te lees nie. Bespeur ek die invloed van Johan van Wyk? Daar is veels te min sulke aweregse, absurdistiese stemme in Afrikaans! ‘n Verrassende vers, dankie!

  13. Bibi :

    Desmond,

    Ek dink ek hou so baie van Ted s’n omdat dit uit een van sy boeke vir kinders kom. Ek is ‘n intellektuele kleuter.
    🙂
    max – ek het nie jou gedig geprint nie, maar in my notaboek oorgeskryf as inspirasie (langs Billy Collins s’n). Ek dink ook Desmond is reg oor jou aweregse stem. Word die swart skapie van die Afrikaanse digkuns, toe!

  14. marlise :

    Max & Bibi: Dankie vir die kompliment Max & ek hoop dat ‘passies’ sal voldoen aan jou verwagtings as jy dit aanskaf. Bibi, noudat ek weet hoe jy lyk na julle optrede in die Protea Boekwinkel met die praatjie oor Nuwe Stemme, besef ek dat ‘n perd jou tinktinkielyfie sommer maklik sal afgooi. Ek dink ‘n ponie sal jou plesier gee en jou vrees vir perde in so mate verminder dat jy dit wel nader gaan waag aan perde eendag…Ek het 20 jaar gelede perdgery & dis ‘n wonderlike ervaring om oor ‘n oop stuk veld te galop. Dalk word jy ook eendag soos Klaas Geswind met zijn perd.:) Die hoop beskaam mos nooit nie.

  15. max rebo :

    Liewe Bibi en Desmond, dankie vir julle gawe woorde, dis veels te gaaf.Ek voel nou soos `n baie onoorspronklike skurk; die Ted Hughes gedig is werklik pragtig,ek sou nie ooit my versie gewaag het as ek sy gedig geken het nie,daar is tot wolke in syne ook.Baie dankie Bibi dat jy dit vir my geplaas het.My versie is so effentjies jou skuld.Die muse het kom rapporteer toe ek op jou ou blogspotte van 2009 geblaai het,daar was `n neutbruin hasie met die woorde “grass is for playing on”(waarmee ek heelhartig saamstem)Daar was ook geen gedigte oor skape op enige van jou blogs nie,maar hase wel volop.Ek het toe gewonder wanneer die talentvolle digter en skaapfan,Bibi, die ryk betekenis wereld van skape sou ontgin,daar is tog baie parralelle wat mens tussen die twee diere kan trek.Hulle wondersoete bestaan(wat in geweld eindig)is vir my net om `n produk te wees vir die mens.Selfs in gedigte moet hulle dra aan die simbole wat aan hulle toegeskryf word.Skape het veral ook bybelse bagasie.My versie het toe aangewei gekom…Ek wil baie graag aan jou se dat jy jou moontlike geestesdier moet verwelkom en juis `n gedig oor skape self moet aandurf.Jy het reeds `n uitstekende en `n flou voorbeeld van `n skaapdig.Konfronteer wat vir jou onkonfronteerbaar is,dit kan jou net sterker maak,daar is tog net jou eie verwagtinge waaraan jy hoef te voldoen.Sommige lesers geniet reeds jou kuns baie.

    Mooi bly.

    max rebo

    ns.The secret life of Be vind ek hilarious.

  16. Bibi :

    Marlise – ponies is ‘n goeie plan vir my. Perfek! Baby steps, tot ek ook eendag kan galop soos jy.

    Max – klein neutbruin hasie is ‘n kreasie van theo krynauw. jy kan nog van sy werk beleef by http://www.theokrynauw.com. Hy is baie talentvol, en ek dink sy werk sal dalk die muse sommer gou weer laat aanklop!
    Hase is wel volop oral waar ek gaan… hulle is (saam met skape) my obsessies en ek kan my ‘n lewe sonder hasies nie voorstel nie. Sodra ek braaf genoeg voel gaan ek die skape aanvat. Ek het so voel-voel al met die hase begin, maar die gedig is nog nie afgerond nie, so hy is nog te skaam om in die publiek te verskyn.
    Oor the secret life of Be… ek het al van die arme skepsel vergeet en haar nou vanaand weer ontdek, en ek dink ek sal dalk tog weer lewe in haar blaas. sy is my opwindende alter ego…
    dankie vir al die mooi woorde!
    oor en uit
    Bibi

  17. Ek hou verskriklik baie van die vers. Dis nie net ‘n uiters aktuele waarskuwing nie, maar ook baie mooi en sensitief aangebied.

  18. Leon Retief :

    @Marlise: Lesli en ek sit nou in Montreal waar ek ‘n kongres bywoon. Wat ‘n pragtige stad! Tot my spyt kon ek geen bundels deur Engelssprekende digters van Quebec opspoor nie, maar jou vers het darem getroos – dit is werklik uitsonderlik en ek beaam als wat Desmond gese het.

  19. Marlise :

    Dankie Krokodil dat jy van hierdie vers gehou het, & dankie Leon vir jou ook – ons sien uit na ‘n Buiteblik van jou af op Quebec! Leonard Cohen het van Montreal afgekom. Ek lees hierdie stukkie so pas op die internet: “Leonard Cohen was born and raised in Montreal, Quebec, Canada, in 1934. His father, died when Leonard was just nine years old. He learned to play guitar while he was in his teens and quickly joined a band called the Buckskin Boys.” As jy snuffel op die internet is daar wel heelwat digters in Quebec. En dalk loop jy vir Leonard ook daar raak?

  20. Leon Retief :

    Marlise, om digters van Quebec op die internet te vind is een ding, om hul boeke (dws in Engels) hier op te spoor is ‘n ander… 🙁

  21. Marlise :

    Mog’t troffen, dan Leon. Miskien in so weggesteekte 2de handse ou boekwinkeltjie…:)