Carina Stander. O, wat is die brand?
Die digters wie se werk ek bewonder, ontgin albei die bonatuurlike deur middel van woord én beeld. By sowel Breyten Breytenbach (skilderdigter) as Sheila Cussons (digter en etser) vind ons in bundel na bundel ‘n behoefte om in die bo-tydruimtelike in te beweeg.
In haar prosabundel, Gestaltes 1947 herroep Cussons ‘n herhaalde kinderdroom: “Dis ‘n brandende see en ek daarin, ‘n klein geparaliseerde liggaam ongeveer ses jaar oud… Ek is, erens in ‘n helder kol binne my paniek, bewus dat die enigste lig in my spartelende liggaam gekonsentreer is, want alleen die vlamme wat naaste aan my beweeg, is ‘n donker deursigtige rooi… Agter strek ‘n waterduisternis of ‘n duisternis van vuur – ‘n swart vuur met ‘n rooi hart en binne die hart my blink sparteling, terwyl ek herhaaldelik na my vader roep” (1982:5).
In 1974, ongeveer 45 jaar ná die vuurdroom, word “’n jarelange vermoede bevestig” toe ‘n gasoond in haar gesig ontplof. Twee jaar van hospitalisasie volg. Veloorplantings. Amputasies. En verse oor verminking en die herskepping van liggaam, siel, gees en aarde.
Ek was veertien jaar oud toe ek “Christ of the Burnt men” vir die eerste keer raakgelees het in haar bundel, Die swart kombuis (1978). Dié gedig gryp my sedertdien aan die hart. Die titel verwys na Thomas Merton: eens Cambridge student en agnostikus, later priester, Trapistemonnik, sosiale aktivis en digter. Cussons is sterk beïnvloed deur sy meditatiewe joernale en boeke oor die kontemplatiewe lewe. In The sign of Jonas skryf Merton: “I know well the burnt faces of the Prophets and Evangelists, transformed by the white-hot dangerous presence of inspiration… they are the burnt men.” (1961:220.)
“Christ of the Burnt Men”
(Thomas Merton)
Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en voet en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was -
- O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.
Cussons put uit ‘n breë verwysingsveld: skilderkuns, musiek, mitologie, letterkunde en die natuur, maar religie vorm die vernaamste stramien van haar poësie. Regdeur haar oeuvre is daar gesprekke met gelowiges oor eeue en kulture heen. As metafisies-religieuse digter praat sy by monde van mistici soos Franciscus van Assisi, Jan van die Kruis en Teresa van Avila. Mistisisme is ‘n strewe na die innige vereniging van die siel met God; ‘n aanraking tussen mens en God. So is daar byvoorbeeld die aardsmistiek, reismistiek, ligmistiek en die hermetiese wetenskap van Alchemistiese transformasie. “Christ of the burnt men” is ‘n voorbeeld van die bruidsmistiek waar die God-mens-verhouding vergelyk word met ‘n verhouding tussen bruid en bruidegom.
Daar is diep medemenslikheid in die beskrywing van die “skerts-oog blinkoog Christus” wat in ‘n visioen aan haar verskyn “met net die trekking van ‘n glimlag/ van uiterse pyn om die mondhoeke.” Op ‘n paradoksale wyse is Hy intiem betrokke en tog hou Hy haar vir jare op ‘n afstand dop. Waarom die skynbare afwesigheid? Die sleutel is in fragmente versprei oor die gedig: Hy wou haar oorlaat aan haar vrye wil, aan die avontuur om self te kies of sy agter Sy “ságsinnigheid” aan wil kom en “heeluit sê: gryp my hande.”
Vroeër het Hy homself “verdoesel”, maar nou verskyn Hy as ‘n “verwoede, stormende son” - ‘n alomteenwoordige, “kosmiese Christus.” Die verwysings na lig (“sengende”, “blink” , “brand”, “brandender”, “gloei”, “wit” en “son”) dui op wat Cussons elders die “omtoorvuur” noem: simbole van loutering en heiligmaking. Voorts herinner dit aan die vuurtonge van die Heilige Gees ná hemelvaart en aan die offerlewe van die feniks. In ikonografie is die feniks die samebinder van vuur en lug - ‘n vroeë-Christelike simbool van opstanding uit die dood.
Cussons sien haar eie lyding in die vyf kruisigingswonde van Christus: “in hand/ en voet en romp en hoof”. Dis asof die naby-dood-ervaring haar forseer om buite die bewustheidsdimensie te beweeg: eers met ‘n skyndood of introspektiewe afdaling, dan in die opstyging na God. Ná die opstanding uit die onderwêreld of vaevuur, bereik sy ex nihilo – ‘n plek anderkant die dood. Die inisiant word dus ‘n soort bonatuurlike wese – ‘n konsep wat sterk inspeel op onsterflikheid of die ewige lewe.
Digters wat die gees verken, maak graag gebruik van ‘n intuïtiewe skeppingsproses; ‘n misterieuse oriëntasie wat alte maklik in oorvereenvoudiging of newelagtige clichés verval. By Cussson word mistieke ekstase egter in beheersde, weldeurdagte taal weergegee. Elke woord is versigtig in die hand geweeg en trefseker geplant.
“Christ of the burnt men” is aanbiddingspoësie: ‘n beweging van God na mens en mens na God. Vir die digter word God ‘n waaragtige teenwoordigheid - iemand wat sy “raaksien, raak weet, raak het.” Sy, wat “altyd waaghalsig was”, bevind haar midde in ‘n spirituele én skeppende avontuur.
Hierdie essay het oorspronklik in Rapport Boeke van 1 Nov 2009 verskyn.






