Bibi Slippers. Huppel-huppel oor die hangbrug.

Toe ek in Nieu Seeland gebly het, het ek een dag oor ‘n baie dodgy hangbrug geloop.  Eintlik half gehardloop, want dit het so semi begin reën.  Die een foto wat ek van die uitstappie geneem het is totaal uit fokus en onduidelik, maar het die verby-swoosh van die ervaring eintlik heel mooi vasgevang.

Ek het vergeet van die hangbrug en die foto tot ek noudiedag Annie Klopper se brug-gedig in haar verskamer raakloop.  Van toe af dink ek onophoudelik aan brûe en oor mense en oor ons interaksie met mekaar en met brûe.  Ook oor struktuur in gedigte, maar dit eers later.

Wanneer dit by brûe kom lei ek ‘n baie onverskillige lewe.  Anders as Annie (‘n wyse meisie…) loop ek sommer sonder enige voor- of nabetragting oor enige ding wat net wil-wil lyk na ‘n brug.  Ek loop haastig en blindelings, in enige rigting, na enige iemand toe.  Ek loop oor enige iets.  Ek het nie ‘n saak met ontwerp of ingenieurswese of boustyl of materiaal nie.  Ek loop oor stukkende brûe wat duidelik nie betroubaar is nie, brûe wat agter my inmekaarval en brûe wat eintlik net in my verbeelding bestaan.  Ek loop oor liedjies, oor prentjies, oor lawwe sms-boodskappe.  Ek loop graag oor vingers wat aan snare pluk, ek hardloop sommer oor mooi woorde op papier.  Ek het onlangs ‘n kloof van woede en verraad oorgehuppel op die twyfelagtige struktuur van die volgende skribbel:

Al is dit ‘n oulike prentjie was dit Baie Dom.  Baie Baie Baie Dom!  Maar die wankelrige brug is ek oor, en dit was nie lank voor ek my alleen aan die verkeerde kant van ‘n verskriklike afgrond gevind het, met geen pad terug in sig nie.  Maar soos ek reeds gesê het…  “onoorbrugbaarheid” is nie eintlik ‘n konsep waarmee ek enige verbinding voel nie.   So ek het probeer brugbou, op elke moontlike manier wat ek ken.   Ek het liedjies geluister, oor en oor dieselfdes, veral die een en die een.  Ek het gelees en gelsaap en gesonde kos geëet.  Ek het gaan stap en gaan draf en gehuil en gedink.  En uiteindelik het ek versigtig ‘n brug begin dig.  Woord-vir-woord ‘n roete na myself toe terug gedig. Net so dodgy soos my destydse hangbrug, maar goed genoeg vir my eie onkieskeurige voete.

Terug by myself en met tyd om my dig-brug te inspekteer is die tekortkominge duidelik.  ‘n Aanmekaargeflansde dig-brug is wat dit is:  baie handig in ‘n noodgeval soos dié, en ‘n wonderlike manier om oor iets te kom.  Maar as enige iemand anders die brug gaan oor – en dit is tog seker wat ‘n mens as digter ingedagte het – sal daar ernstige ingenieursvernuf aan die dag gelê moet word.

Ek verbeel my ‘n brug wat elke oorkruiser êrens anders heen neem.  Of ‘n brug wat op ‘n pragtige maar totaal onbekende plek eindig.  Ek vra my argitek-vriend uit oor brûe.  Ek haal hom sommer aan:

“You get heavy compression bridges and lightweight, tensile bridges with fairy lights.  Some are steel, some have many cables.  A heavy bridge is like one over the highway: no tension members, just compression structure… cheap and heavy. You’ll like the old cast iron bridges which are riveted together.  Before the advent of steel… they’re wonderful.”

Hy verwys my na die volgende wonders:

Hierdie is die Millau Viaduct, ontwerp deur die Franse strukturele ingenieur Michel Virlogeux en die Britse argitek Norman Foster.  Dit is die hoogste voertuig-brug in die wêreld, en die hoogste punt is effe hoër as die Eiffel toring.

Hier bo is die Alamillo Brug in Seville, ontwerp deur Santiago Calatrava.  Ek kan nie veel daaroor sê nie …  behalwe dat ek baie graag daaroor sal wil loop!

Ek is dadelik geïnspireer om sulke dig-brûe te bou.  Niks meer hangbrûe vir my nie (…okay, behalwe in ‘n noodgeval).  Maar van nou af gaan ek hard werk aan beplanning en struktuur en my gedigte ontwerp en afrond tot brûe waaroor ander ook sal loop, sonder vrees vir afval of verdwaal, en hopelik met ‘n bietjie verwondering.  Ek wil stukke brug uit yster giet en dit met moeite aanmekaar rivet, ek wil bloudrukke teken en somme maak en weet waarom ek wat aanvang.  Ek wil gedig-brûe bou waaroor selfs Annie sal stap, moontlik met ‘n ligte huppel.  Of dit nou een van die swares oor die snelweg is of een met fairy lights en kabels, ‘n gedig moet meer word as ‘n twyfelagtige roete uit jou persoonlike niemandsland uit.

Ek werk hieraan. En om meer kieskeurig wees met die brûe wat ek self kies om oor te steek.  Ek sien mos nou wat gedoen kan word.

(‘n Nagedagte vir Ilse:  as ‘n mens gedigskryf as brugbou sien, het swak kuns ERNSTIGE nagevolge.  Ek trap versigtiger nou.)

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Bibi Slippers. Huppel-huppel oor die hangbrug.”

  1. Bibi die is verseker ‘n vreeslose en vreemde soort van geskrif wat my my dag gemaak het.
    Groete
    Lize

  2. Bibi :

    Lize,
    Jy maak MY dag nou! Ek besef die is ‘n effense vreemde enetjie, en moontlik nie eintlik die soort ding wat mens in die publiek moet uitstal nie… maar hier is hy nou, en al cringe ek bietjie is ek bly as die vreemdheid tot jou spreek!

    Dankie vir die kommentaar.
    Bibi

    PS. Jou gedig “Calvinis” is my gunsteling in die bundel. Danie en Ronel het die lekkerste vir laaste gelos. 🙂