Digstring: Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm

Moderne Psalm

 

Ek dra u woorde soos entmerke

op my liggaam, waar ek ook gaan;

in die supermark, in die vliegtuig,

in my kantoor.

Ek bid tot U as ek in my motor ry,

want U is daar. U troos my.

Ek roep u naam

in die operasiekamer

en waar ek kinders baar.

Geen medisyne of kliniek

of mammogram

kan my van U skei nie.

Geen wêreld van beelde, woorde,

geen daggeruis

verdring u blik en hand nie.

Met my geliefdes eer ek U.

Ons bid u seën, u naam

oor alles af;

Here, U is vir my

naby.

 

 

(c) Zandra Bezuidenhout (Uit: Aardling. Protea Boekhuis. 2006.)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Zandra? Hoe het dit ontstaan?

Dis iewers  in 2004 geskryf, maar presies wanneer en hoe dit ontstaan het, onthou ek nie meer nie. Dit was in elk geval nie na aanleiding van ‘n spesifieke gebeurtenis nie – meer in reaksie op ‘n bepaalde ingesteldheid. Ek kom oor die laaste jare steeds duideliker, oorweldigend selfs, onder die indruk van God se nabyheid en onmiddellikheid, en voel voortdurend die behoefte om my daaroor uit te druk. Die gedigvorm staan trouens vir my na aan die gebedshandeling. Ek is werklik intens en deurlopend van hierdie mistieke teenwoordigheid bewus en dit maak vir my die lewe opwindend, uitdagend, troosryk en betekenisvol. Klein en groot dinge (en ervaringe) word deurstraal met ‘n goddelikheid wat ek nie kan beskryf nie. In die NG-Moederkerk op Stellenbosch word daar ook baie klem gelê op hierdie immanente godsbelewenis, en ek vind aanklank daarby. Ek skryf dus heelwat gedigte daaroor, maar publiseer nie alles nie. Daar staan wel ‘n paar soortgelyke verse in die afdeling “Gees” in my bundel Aardling van 2006, asook in Dansmusieke van 2000 wat onlangs weer herdruk is.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit is toevallig een van dié wat spontaan vorm gekry en feitlik net so bly staan het. In die finale redigeringsproses het my redakteur Martjie Bosman by Protea-uitgewers wel aanbeveel dat twee versreëls effens anders bewoord word, en sy het toe my alternatiewe voorstelle aanvaar. Sy was ook ten gunste van ‘n gewysigde titel vir die gedig, maar gelukkig het sy toegestem dat my oorspronklike keuse behoue bly.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Hier kon ek net aanstip, sonder enige “wroeging”. Miskien is dit van die gedigte waarvan sekere versreëls reeds onbewustelik (herhaaldelik?) deur my kop gemaal het in die sleur van elke dag, soos wanneer ek motor bestuur. As ek dan by die rekenaar kom, dink ek nie veel na nie. Dis ‘n kwessie van ingesteldheid, belangstelling en ‘n gepreokkupeerdheid met die krag en magie van taal; nee, met die vervlegting van denke, ervaring en taal. En ‘n verwondering en verslaafdheid aan moontlikhede van die spel, sonder om te veel te wroeg (dis makliker om die halwe gedig weg te gooi), maar in sommige gevalle kos dit darem ‘n goeie maat swets en sweet. Soms skaaf ek ure lank aan ‘n paar reëls of woorde, net om weer min of meer na die oorspronklike terug te kom. Mens kan die “hart” van ‘n gedig wegskaaf; dit so klinies-korrek maak dat net ‘n stukkie breinwerk word. Aan die ander kant moet jy ook nie lui wees, of onkrities nie. Dit gaan om balans, geduld, en BAIE liefde vir waarmee jy besig is. Tyd moet stilstaan as jy met ‘n gedig besig is; en kuiermense moet wegbly, al is ek net in my kop besig.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Nee, ek het hoegenaamd nie vooraf aan ordening gedink nie. Soos ook met die gedig “Middag van die ooms” uit Dansmusieke wat dikwels voorgedra of aangehaal word. Dit lyk my lesers het ‘n ekstra sintuig vir so ‘n “moet-wees” gedig. Party gedigte kry net eenvoudig hul lê en wil nie mee gepeuter word nie. In so ‘n geval meld die inhoud en vorm hul absoluut gelyktydig aan; ek dink dit gebeur wanneer mens oortuig is van wat jy skryf, en van die noodsaak om dit te sê. En juis só te sê. Ongeforseerd, opreg, pretensieloos, eerlik – met genoeg selfkritiek en ondervinding om te weet wat jy doen. Geen gedig wat te hard “probeer” om iets te wees, werk ooit nie. Ek “melk” nooit ‘n vers nie, en weet binne die eerste paar woorde as ek met so ‘n sotterny besig is. Soms is ek egter nuuskierig om te sien wat mens met ‘n idee kan “doen”. Dan speel ek ‘n bietjie rond met invalshoeke en slotte, maar as die aandrif en oortuiging (en vakkennnis, tegniese vermoë en nog ‘n paar dinge) nie daar is nie, kan jy dit maar opskeur. Ook dit  is ‘n waardevolle oefening!

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee, ek wys of bespreek nie graag my gedigte met iemand nie. Af en toe sal ek een vir my man neersit om te lees, of  ‘n religieuse gedig wat moontlik na aanleiding van ‘n preek ontstaan het aan een van ons predikante stuur; net as terugvoer op die preek. En uiters selde deel ek iets met  ‘n vriend/in, maar ook liewer nie, want ek glo mens moenie andere met jou skryfsels vermoei nie. Hulle weet in elke geval nie waarom jy maak wat jy maak, en waarom hulle dit moet lees nie. Dit het net lastigheidswaarde. Ek is ook nie afhanklik van andere se kritiek, lof of goedkeuring nie. Al vind iemand dit “mooi” of  “goed”, is ek nie noodwendig tevrede met die gedig nie. Ook maak dit nie vir my sin as andere moet insette lewer nie; ek wil weet dis my eie, met of sonder vratte. En tog is my man ‘n uitstekende klankbord, in dié sin dat hy altyd raaklees wat my in elk geval gepla het. Hy gee ook nie te maklik regmerkies nie; so as iets by hom verbykom, weet ek: “Feel it, it’s here”. Die “iets” is dikwels net ‘n moontlikheid dat dit die moeite werd is om voort te werk. Maar ek gaan nietemin my eie gang nadat ons oor sekere aspekte van die gedig gesels het. Oor “Moderne Psalm” het ek met niemand gepraat nie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers is kort na sy ontstaan, binne maande of so,  by ‘n manuskrip ingesluit, en het nie vooraf elders verskyn nie. Dit is ná publikasie in my bundel Aardling (2006) tydens ‘n erediens gebruik, waarna iemand die kopiereg aangevra het vir publikasie in Gebedeboek vir die Lewe (Lux Verbi, 2007). Dis een van die gedigte waaroor ek die meeste terugvoer kry, waarvoor ek dankbaar is, want ek wou graag ‘n stuk waarheid of werklike geloofsbelewenis in alledaagse taal en gewone besonderhede giet; op ‘n ongekunstelde en nie-prekerige manier.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Al die gegewens of voorbeelde in my verse (en seker dié van enige digter of skrywer) moenie as “feite” gelees word, in die sin dat elke verwysing noodwendig met ‘n werklike gebeurtenis ooreenstem nie. ‘n Skrywer is voortdurend op ‘n verbeeldingsvlug wat hoogstens raakpunte het my die sogenaamde eie “werklikheid”. Ek het bv. nooit self  ‘n mammogram (sien gedig) gehad nie, maar van  my vriendinne wel, en ek reageer op hulle angs en vertwyfeling – soos wat dit aan  my vertel is, of soos ek dit vermoed. In ‘n ander gedig praat ek oor my ma se graf in die Paarl, omdat haar hele gees om verskeie redes met die Paarlse Strooidakkerk verweef was en sy eintlik graag daar begrawe wou word. Dit het egter nie gebeur nie, maar vir my (en vir haar!) lê haar gebeente tussen dié van haar voormense in daardie Paarlse kerkhof. Vir my is dit waar, al is dit fiksie. Maar tog, wat “Moderne Psalm” betref, sou ek nooit ‘n geloofsoortuiging kon uitspreek wat nie werklik in my leef nie. Dit sou rowery wees; skrywers steel graag, en soms onwetend, maar vir my is daar ook ‘n onaantasbare terrein waaroor jy óf die waarheid praat, óf swyg. Veral die religieuse vers moet integriteit hê. Ek dink in elk geval dit skyn gevaarlik deur as jy oor wesenlike dinge lieg. Hieroor sou lesers, digters en kritici uiteraard kon verskil.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Hierdie vers spreek vir homself; dis ‘n belydenis van ‘n geloofsoortuiging, maar ook ‘n preek vir myself – ingevul met byna banale voorbeelde waarmee ons aardse sterflinge maklik kan identifiseer. Toe ek eenmaal taamlik  beangs was, het ‘n predikant my op my eie gedig gewys. Baie dinge wat ‘n mens opskryf is nie werklik finale sekerhede nie, maar die behoefte daaraan. Dit word dan soos ‘n inkantasie waardeur jy die werklikheid skep en herskep; of dit openbaar bestaande sekerhede nog helderder, wat tot versterking lei. Waaroor die vers dus handel? Oor ons almal se verlange na koestering,  beskerming, vertroosting – nie net myne nie. En die hoop dat die gedig help om hierdie geestesgesteldheid op te skerp. Dis tegelyk ‘n loflied en ‘n noodroep – ‘n paradoks, omdat die sekerheid in die noodroep ingebed is, en in die hoop.

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die bostaande antwoorde beantwoord reeds hierdie vraag. Geen besondere aanleiding was hier ter sprake nie; maar wel die voortdurende verbasing aan die krag van gebed, die aanwesigheid van die onsienlike, en die blootstelling aan gebede in die Heilige Skrif. Ek is natuurlik geen engeltjie nie; inteendeel, en wil allermins daardie indruk skep. Elke dag het maar sy flops, of struikelinge, as jy dit so wil noem. Maar as aardling smag ek na ‘n bowe-aardse vervulling en kalmte. Genadiglik het ons in hierdie lyflike bestaanwyse ons oomblikke, ons voorsmake. Ook daaroor skryf ek graag – Dansmusieke staan as getuie.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee, beslis nie. Vaagweg wonder ek soms of ‘n leser ‘n metafoor of beeld sal snap; en of die gedig wel met iemand sal “praat” – eintlik meer ter wille van die uitgewer! Maar dis nie my eerste oorweging nie. Ek skryf uit ‘n bepaalde aandrif wat niks met enige iemand anders se verwagtinge te doene het nie. Dis soos iets wat verlos moet word, en moontlik by enkelinge in ‘n gesiglose massa ‘n dergelike ervaring sal losmaak – maar nie in die eerste plek ter wille van die leser nie. Baie lesers sê hulle hou van my gedigte omdat hulle dit “verstaan”, maar ek hoop regtig hulle lees dit nie net op eerste vlak nie – alhoewel dit ook beter is as niks. Elke ding wat ek noem of aanraak, staan eintlik as vermomming vir (of eksemplaar van) iets anders – want dis hoe poësie werk. Die gedig is veel meer as wat die woorde op sigwaarde oordra, anders sou dit maar bra oppervlakkig wees. Ek vermoed lesers voel aan dat die goeie gedig om meer as die ooglopende gaan, al kan hulle nie self hulle reaksies verwoord nie. Tydens besprekings kom dit dikwels na vore hoeveel lesers eintlik die onderliggende betekenisse of moontlike interpretasies vermoed, maar nie altyd hulle intuïsie vertrou nie. Besprekings help lesers om die steunfunksies van vorm, klank, ritme, beelde, assosiasies, stylgrepe, woordkombinasies, ens. in te sien, en dan te besef waarom die “woorde” hulle geraak het – al was dit veel meer as die blote woorde.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit is in pas met die ander gedigte wat ek skryf. Diegene wat hoofsaaklik my sintuiglike en/of seksueel gelade gedigte ken, mag dalk verbaas wees dat ek ook gedigte met ‘n geestelike inhoud skryf – hoewel daar tog in die liggaamlikheid ook ‘n stuk geestelikheid sit. Vir my is dit maar twee kante van die munt wat mens ons kondisie as “aardling” kan noem. Selfs die gebed “Moderne Psalm” sit vol verwysings na die menslike liggaam. Die lyf en gees (of lyf-in-gees, of omgekeerd) bly vir my die wonderbaarlikste van die skepping. En soos reeds genoem, bevat elk van my twee bundels ‘n slotafdeling met ‘n meer “geestelike” oriëntasie. Maar ek skryf alle soorte verse; ook kinderverse, lawwe verse, natuurverse en alles tussenin. Ek hou veral ook van bespiegelende, filosofiese verse, maar weet dat uitgewers jou potensiële mark dophou. Die publiek koop nie graag “diep, duister, onverstaanbare” gedigte soos ‘n geneesheer onlangs teenoor my genoem het nie. My “diepsinnige” en meer abstrakte verse bly dus voorlopig in die laai, of vlieg hul eensame vlug in ‘n literêre tydskrif. Die ideaal is natuurlik om die filosofiese in die konkrete in te bou, en dit het ek tot dusver probeer doen.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee wat, eerder tipies van daaglikse gang en nood van die mens in al sy of haar  bedrywighede. Miskien tog wel tipies van ‘n groep mense wat hul gevoels- en denkwêreld aan ‘n (uitgesproke) geloofsdimensie koppel, wat in die Suid-Afrikaanse tradisie nog taamlik sterk staan, hoe uiteenlopend dan ook.  My eie geloofsbelewing is ruim en sluit nie die belewenis van spiritualiteit in velerlei vorme uit nie. Ek sien dit trouens as onderling aanvullend en bevrugtend.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Die gedig loop vir my op ‘n natuurlike punt ten einde. Ek het nooit gevoel dat ek nog iets wou byvoeg nie. Daarom het ek ook die kernwoord, “naby”, as enigste woord in die slotreël geplaas. ‘n Gedig moet ook nie te lank aanhou en alles “weggee” of verklaar nie. My pa sou gesê het die gedig is net ‘n “kick start”. Laat ons maar sê: ‘n stootjie van die digter se kant om leser aan die dink te sit. Baie lesers vind dit vreemd; hulle wil “alles” op ‘n skinkbord hê, maar hulle verwagtinge sal (en moet) verander namate hulle meer met die poësie omgaan.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, ek het dit reeds deels beantwoord. Die positiewe terugvoer was nuttig, veral ook omdat ek daardeur ontdek het watter behoeftes en waardering onder lesers van alle range, stande, ouderdomme ens. leef. Ek skryf egter nooit ter wille van moontlike lesersreaksie nie; maar as dit wel gebeur, en meestal as ‘n verrassing, gee dit tog die gevoel dat ons mekaar hier en daar verstaan! Miskien is daardie rakelingse handevat my grootste bron van inspirasie. Maar daar was ook diegene wat minder van die bundelafdelings met religieuse verse gehou het, terwyl andere dit weer as die bestes beskou het. Dit hang natuurlik van die tipe leser en sy/haar verwagtinge af; wat jou weer bring by die vraag vir wie jy eintlik skryf… maar tot dusver nie my kardinale oorweging was nie – ek hoop maar iets vind iewers aanklink in hierdie klein gediglesende poel van ons. Ek dink darem die reaksies toon dat my werk oor die algemeen iets vir almal bied. Insluitende diegene wat miaau of piep of juig of swyg. Dis in elk geval deel van die pakket as jy publiseer!

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dis nou een ding wat ek baie goed onthou: hoe ek as tienjarige op my maag in die middagson lê en huiswerk doen. Die opdrag was: skryf ‘n gedig. Sonder om te weet waaraan ek my waag, het ek weggeval met die voorspelbare lentegedig, wat darem uiteindelik die Jongspan gehaal het. My ma was verheug, maar ek het so groot geskrik vir haar oortuiging dat sy ‘n skrywer gebaar het, dat ek eers ná haar dood gewaag het om weer te publiseer.

Ek sluit my poging tot ‘n (vrye) Engelse weergawe van die gedig “Moderne Psalm” in:

Latter-day Psalm

 

Your words are grafted onto my skin,

undulating in my limbs as I move about

in the supermarket, on the plane,

in my office or when I drive

until my body breathes your words

as I sense your presence, Lord,

and you console me

by instilling a psalm on my lips.

I remember saying your name

in the operating theatre

and when I was in labour

how I called upon your mercy.

No medication, clinic or mammogram

can obliterate your grace;

no images or verdict,

no daily din can erase your gaze

or unlock the clasp of your hand.

With my loved ones

I hold your vows in reverence.

Together we seek your blessing;

for Lord, in all your godliness,

how real you are,

how close.

 

  

Zandra Bezuidenhout

Zandra Bezuidenhout

Zandra Bezuidenhout is gebore en het grootgeword in die Strand. Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy werk onder meer as vertaler, onderwyser en deeltydse dosent, en tans as vryskuttaalpraktisyn.

Later studeer sy verder aan die Universiteite van Stellenbosch en Leiden en in 2005 behaal sy ‘n doktorsgraad in eietydse poësie van Afrikaans- en Nederlandstalige vroue. Sy publiseer ook kortverhale, artikels, rubrieke en resensies. Haar debuutbundel dansmusieke (2000) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon en die tweede bundel Aardling verskyn in 2006 by Protea Boekhuis.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.