Andries Bezuidenhout. Kraak in die toring: ʼn Besoek aan die kerk by Op-die-Berg

Ontbyt by ʼn restaurant genaamd “Die Sitrus”. Dis nog koud, maar die son skyn. Gister het dit erg gereën en die eienaar van die drankwinkel in Citrusdal het gedink dis steeds nie ʼn goeie idee om die grondpadpas in die rigting van Ceres te ry nie; nie met ʼn klein huurkarretjie nie. “Probeer maar,” sê hy, “julle sal binne die eerste paar kilometer weet of julle dit kan doen.” Die pad is mooi en die modderplasse darem nie te diep nie. Asemrowende berge en proteas se vaal blare. Iewers plante met name soos jakkalsgaring, krulblaarkoorsbos, kaaimanstert, kleintaaibos en die giftige klipharpuis. Water loop in skaduwees teen kranse af, flits soms as die oggendson dit vang.

Hulle noem die area die Koue Bokkeveld. ʼn Ent voor Op-die-Berg begin ʼn teerpad. Dit loop al die pad verby Prince Alfred Hamlet tot in Ceres. Die pad is meestal goed, maar hier en daar is ʼn stukkie met slaggate en pogings om die pad te lap. Padtekens waarsku: “Slaggate.” Kort voor Op-die-Berg ʼn industriële elektrisiteitsubstasie; tekens van Suid-Afrika se landelike moderniseringsprojek van lank gelede.

Dis sitrusplase met besproeiingstelsels – kapitaalintensief. Netjiese opstalle. Dalk verklaar dit hoekom die gemeenskap só ʼn kerk kon bou.

Op-die-Berg is ʼn klein dorpie: ʼn Handelaar, vulstasie, polisiestasie, ʼn paar huise. Natuurlik ook ʼn township op die dorp se soom. Die dorp is waarskynlik die jongste van al die sogenaamde kerkdorpe in Suid-Afrika – dorpe wat ontstaan het rondom ʼn boeregemeenskap se behoefte na ʼn eie plek van aanbidding. Hier is geen teken van geboue uit enige tyd voor die tweede helfte van die vorige eeue nie; die dorp is eers in 1964 gestig. Bome in herfskleure in die hoofstraat. En dan die kerkgebou. Ons draai regs af.

Die foto hier bo wys hoe die kerk van voor af lyk. Dis deur die argitek A.P.S. Conradie ontwerp. Hy het die opdrag daarvoor in 1962 ontvang en die kerkgebou is op 31 Julie 1966 in gebruik geneem. David Goldblatt het baie verder terug gestaan toe hy sy foto van die kerk op 23 Mei 1987 geneem het; ook in Mei, maar ʼn bietjie later in die maand as ons dus. Op sy foto kan jy die berge in die agtergrond sien, die kerk se strak lyne in kontras met die berge se growwe, grys klippe; die kerktoring se punt wat net verby die berghorison steek.

Mense is lief daarvoor om te sê dat modernistiese argitektuur landskappe domineer. Goldblatt self skryf oor die gebou: “Of the many triumphant churches built in the 1960s perhaps none expressed the spirit of the times with greater conviction and clarity than Conradie’s Op-die-Berg. Dominant over the unyielding landscape, it celebrated the ascendancy of the volk and its faith.” Ek weet nie of dit meer die geval is nie. Van waar ek staan lyk dit vir my of enige gebou sal sukkel om hierdie “unyielding” berge klein te laat lyk. Alhoewel die kerk ʼn ambisieuse ontwerp het, is dit nogal klein in skaal; kleiner as wat dit op Goldblatt se foto voorkom.

 

Van die hoek hier bo kan ʼn mens van die detail ʼn bietjie beter sien. Driehoeke en ruite word deurgaans herhaal. Let op die detail voor op die toring, in die middel waar die klipwerk ophou. Regs bo die ruit kan ʼn mens sien dat die sementwerk al effe begin kraak het. Miskien word die kerk nou eerder ʼn monument vir tye waarin “the volk and its faith” in vertwyfeling staan.

 

Hier is Karien du Plessis, my skoonsuster, voor die kerk. Sy het die meeste van die foto’s geneem. Kyk na die ruitvorm van die lig bo een van die kerk se voordeure.

Dis nogal ʼn dramatiese effek as ʼn mens reg voor die kerk staan en boontoe kyk. Die dak wat oorhel en die houtwerk in die buiteplafon gooi aanskoulike skaduwees teen die vensters. Ek hou van die verskillende teksture hier – klipwerk, hout en glas. Altyd die skurwe berg in die agtergrond.

Hier bo is ʼn sywaartse blik van een van die kerk se voordeure af. ʼn Mens kan die effek van die oorhellende dak hier beter sien. Kyk ook na die berge. ʼn Mens kan nie help om die berge se tekstuur raak te sien nie, al kyk jy vir die kerk.

Ons stap rondom die kerk. Hier bo kan ʼn mens die vensters aan die kerk se agterkant sien. Daar is ewe veel aandag aan detail hier bestee. Weer die kombinasie van ruite en driehoeke.

Steeds aan die agterkant. Hier, vanuit ʼn effe ander hoek, kan ʼn mens sien hoe vorm en vlakke met mekaar speel.

Hier bo is wat jy sien as jy by een van die twee voordeure instap. Die inskripsie in die graniet lees: “Op die berg van die Here sal dit voorsien word.” Dit kom uit Genesis 22, vers 14. Weer die ruitpatroon. Deur die vensters kan ʼn mens die preekstoel sien, maar die herfslug en bome weerkaats ook daarin.

In die kerk se hoofvertrek kyk ʼn mens dan na die preekstoel. Orals – die ligte teen die plafon, die vensters en deure langs die preekstoel, selfs in die doopvont – word die driehoek- en ruitpatroon herhaal. In een van die deure langs die preekstoel staan die koster wat ons binnegelaat het.

As jy vorentoe stap en omdraai, sien jy die balkon en orrel aan die agterkant van die kerk. Die lig in die gebou was pragtig toe ons daar was. Op die foto hier bo kan ʼn mens ʼn idee daarvan kry. Let op die patrone wat deurgaans deurgevoer word as bindingselement vir die ontwerp. David Goldblatt het later teruggekeer na die kerk. Op 16 Desember 1991 het hy ʼn foto van die balkon geneem, maar vanuit ʼn ander hoek – hy het verder links gestaan.

As ʼn mens dan kant toe draai, is dit hoe die banke, mure en vensters lyk. Weer ʼn kombinasie van teksture – hout en glas, en die lig van buite. Let op die patrone wat die lig teen die plafon maak.

Hier bo stap Irma by die trappe op na die balkon toe. Ruite op die vloer en ongelooflike lig deur die ruite. Dis een van die mooiste ruimtes in die kerk. Hout, glas, graniet.

Hier bo kyk die kamera van die balkon op die kerkbanke neer. Ek hou van die detail in die traliewerk.

Die orrelpype van nader. Ek hou van die lig teen die plafon op die foto. Ook van die patroon wat weer herhaal, die blou insetsels in die pype. Dit grens aan obseen.

Hier bo is ʼn blik op die trappe na die balkon vanuit ʼn ander hoek. Weer die kwaliteit van die lig, die patroon as spieëlbeeld in verskillende teksture.

Weer die lig. Hierdie is die gang na die konsistorie, vanuit een van die deure langs die preekstoel.

Selfs die konsistorie se tafel is geruit. Die meublement getuig van skrynwerkers wat handvas met beitel en skaaf kon werk. Die volgende vier foto’s wys hoe die patrone deurgaans herhaal word in detail, ornamentele vensters binne en buite, die trappe voor die kerk, en selfs die elektrisiteitskas agter die kerk! Op die foto van die elektrisiteitskas kan ʼn mens weer die berge in die agtergrond sien.

Ontwerp gaan oor smaak. My gevoel is dat die wyse waarop die driehoek- en ruitpatroon herhaal word amper oordadig is. Ek verkies skoner oppervlaktes, lyne wat nie so besig is nie. Tog kan ek nie help om Conradie te bewonder vir die gedetermineerde wyse waarop hy patroon kon deurvoer nie – in bykans elke ruimte, meubelstuk, ornament of hoek.

David Goldblatt het A.P.S. Conradie in 1994 ontmoet en daarna ʼn aantal vrae oor die gebou aan hom gestuur. Conradie het op 19 September 1994 in ʼn brief geantwoord, in Afrikaans. Goldblatt het dit vertaal en dit volledig in sy boek South Africa: The Structure of Things Then weergegee.

Op ʼn vraag oor invloede brei Conradie eers uit oor sy eie agtergrond as kind wat op ʼn arm sendingstasie grootgeword het. Sy pa het die pastorie met sy eie hande gebou en het houtwerk gedoen. Hy verwys ook na sy ma se gevoel vir estetika. Die invloed van houtwerk is duidelik sigbaar in die ontwerp van die Op-die-Berg kerk. Dan skryf hy verder oor die invloed van Frank Lloyd Wright. Interessant genoeg het hierdie Amerikaanse argitek ook uit ʼn religieuse huis gekom. Een van sy beroemdste ontwerpe is die kerk van die First Unitarian Society of Madison in Shorewood Hills, ʼn voorstad van Madison. Gaan kyk gerus hoe lyk hierdie gebou hier. Ek dink die ooreenkomste is treffend. Conradie skryf oor sy waardering vir Frank Lloyd Wright se warmte, vreedsaamheid, funksionaliteit en eerlikheid en hoe hy as Conradie sy eie styl ontwikkel het wat Suid-Afrika se natuurlewe, klimaat en lewenstyl in ag neem. Hy skryf: “I always had the feeling that he [Frank Lloyd Wright] would have understood my aims and my thoughts, and this gave me tremendous support and also confidence and boldness in my designs in a world in which I was pretty much alone.”

Op Goldblatt se vraag oor of hy die landskap in ag geneem het met sy ontwerp, brei Conradie uit oor die verband tussen die Skurweberge en berge in die Bybel – die opslaan van oë na die berge, asook die teks in die ingangsportaal. Hy skryf: “For that reason the building had simply to be out of the earth, of the earth. The stone of the area was simply the ideal material to bring about both the growth from the earth and the adaptation to nature. It was simply a fusion of colour, texture and lines.” Hy verwys na die ontwerpbeginsel dat vorm funksie navolg en dat die driehoekpatroon die stygende diagonale mure se vorm herhaal.

Goldblatt se laaste vraag is die volgende: “In what way did you give expression to the strivings of the Afrikaner volk in Op-die-Berg?” Conradie antwoord deur eers te sê dat hy waarskynlik nooit bewustelik probeer het om sy mense se strewe uit te beeld nie. Maar, skryf hy, omdat hy is wie hy is, is daar waarskynlik uitdrukking gegee aan sy gevoel vir die land en sy mense. Die feit dat die kerk deur ʼn spesifieke gemeenskap se behoeftes tot stand gekom het – as gemeenskapsgebou – het ʼn eie inspirasie meegebring. Die blou in die ontwerp moet miskien gesien word as “die blou van onse hemel”, skryf Conradie. Op sekere dae is die lug daar presies die kleur wat in die gebou gebruik is en God is die rots waarop die kerk gebou is, borduur hy voort.

Lees Conradie hier elemente in wat nie werklik daar was toe hy die gebou ontwerp het nie, of was die ideologie net só deel van hom dat hy onbewus was daarvan? Ek vind sy gebruik van die woorde “must perhaps be seen” (in Goldblatt se vertaling) veelseggend – ʼn kombinasie van die lydende vorm die woord “miskien”, miskien “dalk” in die oorspronklike Afrikaans. Conradie skryf homself as’t ware as agent uit die storie uit. Maak hy dit op soos hy skryf, in reaksie op ʼn leidende vraag? Soos hy skryf blyk hy egter sekerder te word van sy antwoord: “To summarise. It certainly isn’t possible to divorce your way of thinking in such a design from what you are as human being. If you were to do that, you would be faithless [“unfaithful” sou dalk ‘n beter vertaling wees?] to yourself, your people, and your God. I could talk with you for a long time over a cup of tea about motives, implications, etc. In the end something like this becomes a confession of who you are, where you have come from, and where you are going. May I conclude by saying that Op-die-Berg is therefore a manifestation of all these things in a person. What stands there is perhaps the deepest essence of the Afrikaner people as I have experienced and witnessed it.”

Ons tref ʼn aantal gemeentelede wat tafels dek in die kerksaal aan, almal vroue. Ek sê ek bewonder hulle kerk. Hulle sê mense kom besoek dit gereeld, veral vanuit die Kaap. Dit moet ʼn ryk gemeente wees, sê ek, om so ʼn kerk te kan bekostig. Die een vrou lag. Dalk lank gelede, sê sy. Tog lyk dit nie of die gemeente heeltemal nek onder die lyf is nie, soos hulle hier rond sou sê. Sy sê hulle sien nie juis die gebou raak nie. In die kerk self is plakkate met die gemeente se doelstellings (of só iets) opgeplak. Kokipen op karton geskryf, met plastiek oorgetrek. Die plakkate breek die ontwerp se vloei. Daar is ook luidsprekers en kameras gemonteer. Ons neem nie foto’s daarvan nie.

Ek dink oor die teenstrydighede in A.P.S. Conradie se relaas. Aan die een kant voel hy alleen; dis slegs die gedagte aan wat Frank Lloyd Wright sou dink van wat hy doen wat hom moed en inspirasie gee. Aan die ander kant simboliseer die kerk beide ʼn volk en ʼn spesifieke boeregemeenskap se strewe. Dalk is daar ʼn spanning tussen modernisme as suiwer ontwerp en modernisme as ʼn baie werklike, plaaslike projek van selfhandhawing en dominasie. Modernistiese argitektuur en ontwerp het immers in legio gedaantes voorgekom – kolonialisme, fascisme, kommunisme, ongebreidelde Amerikaanse kapitalisme en die institusionalisme van die Europese welsynstaat. Wat alle modernistiese argitektuur in gemeen het, is ʼn afwesigheid van ironie, waarskynlik weens ʼn vaste geloof in die toekoms. Ek dink – gestroop van plaaslike konnotasies, hetsy bedoel of gewaan – sou hierdie kerkgebou in enige ander plek óók ʼn merkwaardige argitektoniese prestasie gewees het, maar waarskynlik net so gekompromitteer ook.

Ek dink na oor my eie reaksie op die gebou. Ek het georganiseerde religie lank gelede reeds verlaat; die kerk waarin ek as kind moes sit, Sondag ná Sondag, waar van die ouderlinge op ʼn kerkraadsvergadering kapsie gemaak het teen die feit dat swart mense in die kerk se bussie gery het (“dit stink nou”), waar swart mense nie eers in die kerkgebou toegelaat is nie (later uitsonderings vir bediendes met begrafnisse van werkgewers), waar ʼn bemoeisieke obsessie met mense se liggame en seksualiteit (eie aan monoteïstiese religie) oneindige sielkundige skade aangedoen het – geslag na geslag.

Vir my is dit slegs die geboue wat oorbly. Dalk is kerkgeboue mooier sonder mense. Dalk geld dit vir alle modernistiese argitektuur: Dis dalk net mooi sonder mense – mense met hulle bont, funksionele dekens, ornamentasies, asbakkies, potplante met grond wat op oppervlaktes mors, wollerige gordyne wat ʼn uitsig op die berge versmoor, gehekelde doilies en lappies, soetsappige gesegdes uitgedruk in krullerige lettertipes, yskasmagnete, kiekies met omgevoude ore van vuil kinders, ʼn verwelkte stuk papier wat op ʼn tafeloppervlak lê – alles onbeholpe pogings om koue elegansie leefbaar in te rig.

Weer wolke voor die son. Die ou maerman, soos hulle die wind hier noem, waai koud van die berg af. Die kamera se batterye is pap. Ons klim terug in die huurkar om met die teerpad aan te ry. Ek is verras oor die nostalgie wat A.P.S. Conradie se kerk oor my bring, hoe die kraak in die toring my ontstel. Vreemd hoe ironies die geskiedenis uiteindelik kan omgaan met eens selfversekerde projekte.

Bronverwysings en erkennings:

David Goldblatt. South Africa: The Structure of Things Then (The Monacelli Press, 1998), pp. 140-141, 234-235.

Anton F. Prinsloo. ʼn Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal (Protea, 2009).

Informele gesprekke met die argitek Jaco-Ben Roos in Desember 2009/Januarie 2010 by Bril-zijn-Dam naby Verneukpan in die Noord-Kaap.

Foto’s deur Karien du Plessis en Andries Bezuidenhout.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Kraak in die toring: ʼn Besoek aan die kerk by Op-die-Berg”

  1. Riet :

    Sjoe, dis absoluut amazing. Dankie Andries vir hierdie ‘toer’ deur die kerk! Wonderlike fototjies.

  2. Ivan Mocke :

    Ja-nee, Andries. ‘n Mens kan heelhartig saamstem met Riet se kommentaar. Maar wat ‘n geskakeerde mens is jy nie! Dankie hiervoor. Dalk ontmoet ons nog eendag, wie weet … saam met jou sal ek darem regtig ‘n glasie wyn of wat ook al wil geniet. 🙂

  3. Albert Versfeld :

    Andries, hierdie wonderlike stuk van jou het my sommer tot die skryf van ‘n gedig geïnspireer! (Tog wonderlik dat daar ‘n webblad bestaan waar ‘n mens ‘n gedig as kommentaar kan plaas sonder om bekommerd te wees dat mense mag dink dis pretensieus of onvanpas, is dit nie?!)
    Hier’s die gedig en nogmaals dankie vir jou insiggewende stukke.

    Sonsondergang, Op-die-Berg

    By ‘n gehuggie genaamd Op-die-Berg
    word ook nog hierdie fenomeen besleg:
    om met hoop as uitgestelde limiet
    hierdie kerkie van hout, glas en graniet
    in sy greep op laaste lig te verdwerg.

  4. Bernard Odendaal :

    Janee, regtig onderhoudend, Andries!

  5. Andries Bezuidenhout :

    Dankie almal! Ek wens ek het Toast Coetzer of Dana Snyman se job by “Weg” gehad sodat ek die heeldag deur die kontinent kon reis, of St Helena toe, soos Toast ‘n ruk gelede. Albert, ‘n spesifieke dankie vir die besonderse gedig.