Marius Swart. Die “editing”-ding.

Kort voor die naweek woon ek ’n Professional Editors’ Group-kongres by met die titel “The editing of fiction and narrative non-fiction”. Wanneer ’n mens nou dié kongres se titel in Afrikaans probeer vertaal, loop jy jou vas in ’n probleem wat die vorm aanneem van een van ’n paar vrae. Wat is “editing” tog nou? Is dit proeflees? Is dit redigering? Is dit taalversorging? Is taalversorging redigering? Is proeflees en teksredaksie dieselfde ding? Wat is ’n redakteur en wat is die verskil tussen ’n redakteur en ’n redigeerder? Is daar ’n verskil tussen ’n redakteur en ’n taalversorger?

Hoewel die begrippe vir die meeste mense seker nie vreeslik belangrik is nie, was daar duidelik by die (enkele) Afrikaanse deelnemers veel meer vrae oor hierdie definisies as by die (veel groter) Engelse groep. In die Engelse geval is “editing” nou maar “editing” en ’n paar van die dames het my met uitsonderlike verbystering aangekyk as ek vra “But what is editing?” en dan geantwoord met die antwoord wat duidelik na hulle mening alle twyfel by my (een van enkele manlike bywoners, terloops) uit die weg moes ruim: “Editing is just, well, you know, editing”.

Groot geeste uit hierdie gedeelte van die Afrikaanse boekmaakruimte het ook die storie bygewoon. Ek dink aan mense soos Danie Botha en Louise Steyn, om maar twee te noem. Albei sou beskryf kon word as “redakteurs”, maar doen tog ook proefleeswerk, redigering, taalversorging…duidelik nog nie ’n oplossing vir my aanvanklike vraag nie. Dit was interessant om te hoor hoe verskeie sprekers elk ’n verkose begrip het; party praat van “wanneer ek redigeer”, ander van “wanneer ek taalversorging doen”. Een sê prontuit “wanneer ek die boek sit en regkry”.

Deur die loop van die twee dae is dié kwessie in verskeie vraesessies geopper. Op die ou end het dit vir my gelyk asof daar ’n hiërargie is wat opgestel word in terme van die omvang van die wysigings wat die persoon mag aanbring. ’n “Redakteur” mag naamlik aan die storie krap en hoofstukke verskuif of skrap, maar ook paragrawe. (Danie Botha vertel met smaak hoe dit aan die begin van sy termyn in die bedryf letterlik met ’n skêr, ’n kwas en ’n pot gom gedoen is.) Volgende is daar dan die redigeerder of taalversorger wat kyk na formulering, sinskonstruksie, ensovoorts. Dié persoon kan ook nog wysigings aanbring deur byvoorbeeld sinne te herskryf of te verskuif, maar mag nie aan die storie self “krap” nie. Hierna word die boek geset en dan is dit die taak van die “proefleser” om die finale proewe te lees en al wat hier gewysig mag word, is dinge soos tik-, spel- en formateringsfoute.

So geordend en ideaal verloop die proses egter selde, indien ooit, veral vandat die meeste van die bogenoemde take by ’n gegewe teks deur hoogstens een persoon verrig word, indien enigsins. Dit is waarskynlik ’n simptoom van die era waarin jare se kundigheid na die vryskutmark verskuif vanweë allerlei soorte herstrukturering in die bedryf. Die konsensus is wel dat dit jammer is, want daar is nie ’n geleentheid vir jong redakteurs om by meer ervare redakteurs te leer nie en vryskutwerkers is op hulle beurt so afhanklik van die werk dat hulle ook nie kan bekostig om te leer deur te fouteer nie.

Verskeie mense het al geskryf oor die gebrek aan agting wat daar is vir die waarde wat ’n uitstekende redakteur tot ’n teks kan toevoeg. Ek vra dus toe op ’n paar plekke vir die gesoute redakteurs of hulle werk behels om ’n skrywer te laat briljant lyk. Die antwoord is deur die bank “ja”. Party verwoord dit diplomaties en elegant deur te sê hulle bring die skrywer se talent en werk duideliker na vore. Van my mede-afgevaardigdes vra ook of dit behels dat ’n teks soms redelik baie gewysig word, tot so ’n mate dat die redakteur amper spookskrywer is. Weereens is die antwoord grotendeels “ja”. Wanneer daar egter gevra word hoe ver die redakteur/redigeerder in die teks mag inklim en daaraan mag verander, is die antwoorde uiteenlopend, verskillend en meestal iets in die lyn van “Dit hang af van die verhouding tussen jou en die skrywer”. Of daar in die huidige stelsel plek is om hoegenaamd so ’n verhouding op te bou, is ’n ope vraag.

Ek het dus met meer vrae as antwoorde daar uitgestap, wat ’n goeie teken is vir ’n kongres. ’n Paar goed het egter by my vasgesteek. Eerstens is daar die heersende gevoel dat ’n resensent wat ’n beperkte aantal woorde vir ’n resensie het, nie sy tyd behoort af te staan daaraan om te kla oor hoe swak ’n boek geredigeer is nie, selfs as dit wel die geval is. Hiervan sou verskil kon word. Tweedens is daar nogtans die algemene neiging dat wanneer iets oor ’n boek se redigering gesê word, dit meestal negatief is, terwyl positiewe opmerkings daaroor nie genoem word nie. Die rede hiervoor is waarskynlik dat goeie redaksionele werk juis onsigbaar is. Die laaste opmerking wat ek onthou, is hoe Michiel Heyns sê hy het iewers gelees: “Editing is a lot like brushing your teeth”, menende dat daar nie werklik ’n groot beloning of erkenning daarvoor is nie, maar dat dit baie vinnig duidelik word as dit nie gedoen is nie, of as dit swak gedoen is. ’n Mens moet nogal wonder hoeveel “goeie” tekste is deur redakteurs en/of redigeerders goed gemaak.

Om af te sluit: iemand vra ’n paneel oor die kwessie van “moeilike” skrywers. Die konsensus is dat die skrywers wat die minste hulp nodig het, gewoonlik ook die toeganklikste is vir voorstelle, moontlik oor hulle juis weet hoe om hulle eie werk krities te beoordeel en hoe belangrik dit is. Daarenteen is die “hulpbehoewendstes” in baie gevalle juis die onwilligste om hulp of raad te aanvaar. Vir my is dit ook opmerklik dat skrywers wat in terme van aansien die minste nodig het om iemand te bedank, gewoonlik hulle redakteur en/of redigeerder pertinent noem, indien hulle wel bedankings in die teks het. Laat mens dink.

’n Mens sou kon vra: “Wat is ’n skrywer sonder ’n redakteur?”

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Marius Swart. Die “editing”-ding.”

  1. Bibi :

    Hallo Marius

    Hierdie was vir my baie interessant en informatief… Sal jy asseblief nog oor die tema skryf?
    Ek wil ook weet of jy enige spesifieke gedagtes rondom die redigering van digkuns het. Tot watter mate verskil dit van die redigering van prosa en nie-fiksie? Wanneer is ‘n gedig so “ge-edit” dat dit nie werklik meer dieselfde “asem” as die oorspronklike deel nie?
    Geen pressure om die vrae te antwoord nie, ek dink eintlik maar net hardop!

    Lekker dag.
    Bibi

  2. Lewies Botha :

    Marius

    ‘n Baie goed “ge-edited” stuk:) Interessant. Ek dink nou aan die onderhoud met Fanie Olivier waarin hy sy ongelukkigheid uitspreek oor die foute wat tydens die redigerings proses ingesluip het met sy vertaling van JM Coetzee se “Disgrace”, gedagtig daaraan dat die topic van vertaling ook iets is wat jy mos seker in belangstel?

    Groete
    Lewies

    http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=79373&cat_id=178

    Ek haal aan:

    Is daar enigiets in die vertaling wat jy in ’n tweede uitgawe sou wou verander?

    Aangesien ek nie die hele gepubliseerde vertaling gelees het nie, is dit moeilik om te sê. Maar ooglopende foute wat ’n mens by bladsyproewe-lees sou agtergekom het. Dus ook die klompie setfoute deur resensente uitgewys; die openingsin (wat nie myne is nie); die onvergeeflike “opsie” op die eerste bladsy en ander wat nog elders mag skuil; die setfoute wat misgekyk is; die tipografiese fout wat ek met die deurblaai raakgesien het en dié wat nie raakgesien is nie. Maar andersins is dit gedane sake, en daaroor het ek nogal ’n vasterige filosofie: dat dit ook nie omgekeer word nie, en dat dit (op die mooi Nederlands) ook nie moet “verkeren” nie.

  3. Marius :

    Hallo Bibi en Lewies

    Dankie vir julle kommentaar en belangstelling.

    Bibi, ek sal beslis weer daaroor skryf, want dis ‘n problematiese saak. Dis ook moeilike en goeie vrae wat jy vra. Al wat ek kan dink, is dat daar tussen die digter/prosaskrywer en die redakteur ‘n vetrouensverhouding (moet/behoort te?) bestaan, waarna dit nie meer so duidelik sal wees wat nou eintlik wie se idee was nie, en ook nie meer saak maak nie, solank die teks hulle goedkeuring wegdra. Let wel, dis my persoonlike mening. Ek dink nie ‘n mens kan regtig ‘n streep trek en sê “HIER is dit nou nie meer my gedig nie”, daarvoor is die medium en die dinge wat ons laat skryf, te ingewikkeld. Maar dis ‘n baie goeie vraag, wat ek nou nie eintlik beantwoord nie! Ek dink ook dit verskil wel van prosaredigering, maar ‘n goeie stuk prosa is volgens my niks minder presies en gestruktureerd as ‘n goeie gedig nie. Die enigste verskil is moontlik maar die vlak van gestrooptheid of woordekonomie?

    Lewies, dankie vir jou vrae ook. Dis altyd die geneuk: ‘n mens doen ‘n vertaling of ‘n redigering en dit gaan na die skrywer en/of redakteur terug vir die finale sê, waar wysigings soms sonder jou medewete aangebring word, want dit is tog “die skrywer se teks”. Dan staan daar op die ou end goed in die teks op grond waarvan jy beoordeel word, terwyl jy dit nie eers daar ingesit het nie en goed weet dat dit maar een van ‘n klomp moontlikhede was. Dis ‘n baie groot probleem en ek dink dit begin by die gebrekkige erkenning vir hoe gespesialiseerd (en skaars) ‘n werklik goeie vertaler en redigeerder is en hoe ‘n moeilike professie dit eintlik is.

  4. J. Labuschagne :

    Marius
    Dit was vir my baie insiggewend om “Editing”-ding te lees. Dis ‘n baie goeie uiteensetting van als waaroor ek al gewonder het.

    Ek wonder of jy my dalk raad kan gee? Ek wil graag ‘n kursus doen oor redigering/proeflees. Kan jy dalk ‘n plek/persoon aanbeveel waar ‘n mens dit oor die internet kan doen?

    Ek is nog BAIE groen met alles.

    Byvoorbaat baie dankie.

    Juria Labuschagne