Digstring: Charl-Pierre Naudé. Twee diewe

Twee diewe

 

Alles wat aan my behoort, het ek dié dag verloor.

Besteel, rot en kaal, totaal onverwags.

Deur twee vreemdelinge, ‘n jong vrou en ‘n dogtertjie.

Die buurt is gewaarsku oor hierdie nuwe taktiek.

Hulle gebruik onskuldiges, en oorval jou dan van agter.

Ek het die sagte geklop aan my voordeur gehoor.

Soos ‘n besoeking van oorkant die groot skeidslyn.

‘n Toets natuurlik, of iemand tuis is of nie.

Ek het geluister vir die breekysters, ‘n broodmes in my hand.

Tot die kristalsakrament, die gelag, verdwyn het.

In ‘n fladdering, soos twee duiwe wat uit ‘n sysak ontsnap.

Maar ek het op my hoede gebly.  Dis wat ek nie verstaan nie.

Ek’t die waarskuwing ernstig opgeneem.  Ek het geweet hulle sal terugkom.

Maar dit alles het my nie gevrywaar teen die bedrog nie.

Ek het die deur oopgemaak, mes agter die rug.

Hulle het amper moed opgegee, het die vrou gesê.

Haar dogter wil graag ‘n blaar van my boom hê, omdat dit silwer is.

Ek het verby hulle gespeur, vir die gevaar

wat agter skuil, die rede vir die lokval.

Hulle was brandarm, maar ryklik gekroon met hul glimlagte.

Vra God vir ‘n blaar, dis sy boom, sê ek nors.

‘n Ander man wou ons skiet, het die kind trots gesê,

salig onbewus dat sy dan dood sou wees.

Ek het gekyk hoe hulle wegstap, geklee in hul klanke.

Moeder en dogter.  Met hul blaar, hulle wonderwerkie.

Niemand het my aangeval nie.  Niks meer het gebeur nie.

Daardie twee diewe het my kaal gestroop. 

 

(c) Charl-Pierre Naudé (uit: “In die geheim van die dag“, 2004: Protea Boekhuis)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Charl-Pierre? Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig rondom 2000 geskryf. Ek het ‘n vae atmosferiese ingewing gehad, wat toe tot ‘n idee gestol het. ‘n “Digterlike idee” is, vir my,  ‘n wesensidee  – dus ‘n paradoks of ingewing of insig wat iets wesenlik sê oor die lewe of die ervaring. Ek probeer om sulke wesenlike “idees” te beliggaam in baie spesifieke terme. Daar ontstaan dus ‘n spankrag tussen die wesenlikheid (universaliteit, vryswewendheid, “oorkoepelende bevatting”, objektiwiteit)  en spesifiekheid (subjektiwiteit, geworteldheid, stolling).

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die eerste, wesenlike weergawe het baie vinnig gekom, in ‘n oggend, in een sitting. Die finale weergawe was jare later gefinaliseer tydens die uitgewersproses. 

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

“Gegee”: (70%). “Bloedsweet”: 50%.  

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek is nie seker wat om te verstaan onder “ordeningsbeginsel” nie. Dit was eerstens baie belangrik dat die vers een strofe moet wees.  Miskien vir ‘n “slice of life” gevoel? Verder moes die illusie bewaar bly deurgaans, dat iets gesê word waarvan dit die teenoorgestelde is wat EINTLIK gesê word. ‘n Bepaalde vaart van ontplooiing is belangrik by narratiewe liriese verse, vandaar die feit dat my tweede bundel oënskynlik effens minder beeldend is as sy voorganger: Beelde vat plek op. Beknoptheid is allerbelangrik by hierdie tipe vers. En ook: die vertelling self word die beeld.  

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee, aan niemand gewys nie. Geen klankbord.  Deesdae gebruik ek ‘n kollega of twee as klankbord.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers is vir die eerste keer deur Tirade-tydskrif, Nederland, gepubliseer (in Afrikaans) in die afloop van Poetry International 2000, Rotterdam, waar ek ‘n vroeër weergawe daarvan voorgelees het.  Ek dink dis ook in ‘n Noorweegse tydskrif gepubliseer, in vertaling natuurlik. Die vernaamste verstelling wat plaasgevind het daarna was die weglating van twee reëls na aan die einde. Dié briljante voorstel is gedoen deur Jeanette Ferreira, my teksversorger by Protea tydens publisering.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Ja, ek wou ‘n storie skep – dus fiksie – wat ‘n aktuele werklikheid (die misdaad en paranoia daaroor in SA) – dus feit –  weerspieël. ‘n Aspek van hierdie soort vers wat soms misgekyk word, is die fiktiewe aard van die verteller. Vir hierdie vers se doeleindes was dit belangrik om ‘n vertelstem te skep wat ‘n “val” teen die einde beleef; juis nie ‘n tragiese val nie, die teenoorgestelde daarvan – want die verteller moet juis ‘n effens verwronge (oftewel baie feilbare) mens wees.

Vergun my ‘n verdere opmerking: Dis baie belangrik vir die begrip van hierdie soort (liries-narratiewe) vers om te besef dat die vertelling self die voertuig vir die hermetiese eienskappe van die vers is. In die tradisionele liriese vers is die narratiewe aspek meestal ‘n meer vasstaande gegewe, juis ‘n ankerpunt, die hermetiese aspekte van die vers lê elders. Hierdie swyende feit oor die oorgelewerde liriese vers word soms verkeerdelik van toepassing gemaak op die latterday narratiewe liriese vers, soos “Twee diewe”. Die narratiewe aspek by laasgenoemde soort vers is juis ontsporend, misleidend, oëverblindery, vol gate, vol inversies, hiatusse, ellipse, ensovoorts.  Die vasstaande aspek word verplaas na (byvoorbeeld) die sintaksis. Dit moet so deadpan as moontlik wees.     

Is dit ‘n narratiewe vers?

Ja.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dis ‘n vraag wat geen digter behoort te beantwoord nie. J

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

Die tafereel-aspek van Van Wyk Louw se vers “Arlesiennes” het ‘n invloed gehad.  Geen musiek of film nie, hoewel ek reken dat die invloed van film en film-matigheid (soos die Nuus op TV, byvoorbeeld) ‘n invloed gehad het op die ontstaan van hierdie soort liriese vers, ook elders in die wêreld. Ek het Wislawa Szymborska gelees ten tye van die skryf van die gedig; of daar ‘n invloed is, weet ek nie.  Ek dink Ceszlaw Milosz het eerder ingefluister.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ontvanklik.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis minder “konvensioneel” liries as my eerste gedigte. Maar ek dink daar is ‘n soort vormvastigheid daaraan wat bloot ‘n “vertaling” is van die sonnet-vorm van my eerste bundel.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die storie daarvan.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Ek het dit beslis afgehandel. Dis nou soos dit moet wees.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, ek dink so.

 

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé werk as vryskutjoernalis en woordpraktisyn en woon in Stilbaai. In 1995 publiseer Tafelberg sy debuut, Die nomadiese oomblik, waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys wen. Sy tweede digbundel In die geheim van die dag verskyn by Protea Boekhuis in 2005 en hy ontvang die MNet-prys en Protea Poësieprys hiervoor. Laat in 2007 verskyn ‘n tweetalige bundel met nuwe Afrikaanse gedigte met Nederlandse vertalings, Sien jy die hemelliggame, wat gunstig in die pers bespreek is in Nederland en te lande.

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Digstring: Charl-Pierre Naudé. Twee diewe”

  1. Desmond Painter :

    Ander mense kan oordeel oor die literatuurteoretiese goed wat Charl-Pierre hier skryf, maar van my kant: wonderlike gedig, fassinerende bundel. Ek het, nadat Charl-Pierre my eenkeer met blou verf wou toetakel, die bundel vir ‘n rukkie geboikot, maar deedae geniet ek dit weer 🙂

  2. Bibi :

    Desmond, jy kan bly wees dit was blou verf en nie ‘n broodmes nie.

    Baie dankie vir hierdie digstring… dis ‘n fantastiese gedig en baie helder bespreking.

  3. Petrus Malherbe :

    Hierdie is vinnig besig om een van die klassieke verse in Afrikaans te word. Indien ek – of wie ook al – ooit bedenkings gehad het oor die sogenaamde “vertelvers”, staan hierdie gedig as toonbeeld van watter effekte daardeur verkry kan word.
    Ten slotte – dankie vir ‘n fantastiese webblad en veral dankie vir al die digters wat dit vir ons as gewone poësieliefhebbers so ‘n heerlike kuierhoekie maak.
    My rekenaar se muispad elke oggend Versindaba toe is telkens die hoogtepunt van my dag.