Digstring: Marius Swart. Liefdes-e-pos

liefdes-e-pos

 

 

geliefde,

ek stuur vir jou

‘n rewritable DVD

 

daar’s ‘n paar nice songs op wat ek

op limewire afgelaai het

en ‘n show van Jeff Dunham ook

daai ou met die poppe, jy weet?

Achmed the dead terrorist en hulle?

fokkit, hy’s funny!

jy sal dit LOVE.

ek hoop jou DVD player lees die ding,

anders moet jy maar op die laptop kyk.

 

ek sit vir jou ‘n potjie fish paste ook by

ek weet dis moerse random,

maar ek weet ook jy hou daarvan

en ek is in elk geval mos nie nou daar om te keer

as jy my met ‘n visasem wil soen nie.

 

verder wil ek maar net sê

ek het vir jou ‘n gediggie probeer skryf

met woorde soos borsies en donsige perskes en hart

 

maar toe dink ek by myself:  fokkit, bra, haar pa gaan

jou mos nou totally dik bliksem

as hy dít ooit moet lees.

 

so toe los ek die perskes

jy weet tog, enige iets peach-erig maak my anyway

                                                            instantly naar

ná daai episode met die bottel Hooper’s perske-schnapps.

 

ag jirre, ek kon anyway nog nooit sentimenteel wees nie.

of minstens nie as ek nugter is nie.

 

elk geval.  die gedig was ‘n fokop, soos jy kan aflei.

 

ek sal môre weer ‘n slag foto’s

op facebook sit,

kyk maar daar.

 

o ja, die gedig, voor ek groet,

dit het so geëindig:

my wange mis jou hart wat klop

en my neus mis jou nek.

 

(c) Marius Swart (uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Marius? Hoe het dit ontstaan?

Toe ek destyds deur my voorlegging van 7 gedigte vir Nuwe Stemme 4 lees, het dit skielik vir my geklink asof daar iets kort wat klink soos hierdie goed wat hulle “praatverse” noem en deesdae so promoveer. Toe probeer ek om een te skryf. Een van my vriende het een keer gespot en gesê “Almal wat dink hulle is skrywers, probeer mos altyd daai gedig van Breytenbach van die duif oorskryf”, toe doen ek dit sommer ook.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit het redelik vinnig gegaan, maar die heel eerste weergawe was baie los en slordig en het heeltemal te veel woorde gehad. Daar het ek gesnoei en toe het ek dit ingestuur, waarna ons dit by die NS4-werksessie bespreek en nog daaraan gesnoei het. Ons het by die werksessie eintlik besluit om hom liewer uit te gooi, vanweë die probleme met die oorspronklike slot, maar toe gaan werk ek die aand aan moontlike slotreëls, want ek het gehou van die res van die ding. Ek skat daar was so ses weergawes van die gedig, waarvan vyf bykans identies was, uitgesonder hulle slotreël(s). Ek kan ook nie verseker dat hierdie weergawe die laaste een is of sal wees nie, maar op die oomblik is dit.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

‘n Deel is aan my “gegee” in die sin daarvan dat ek met so ‘n bekende openingsreël begin, maar dit was vir my moeilik om die “stem” in die res van die gedig op die punt te kry waar dit my oortuig sonder om my te laat voel dat dit net ‘n pratery is. ‘n Groot deel is ook vir my “gegee” aangesien ek in die praatstyl kan skryf oor goed wat alledaagse ervarings is, maar terselfdertyd is ‘n mens op dun ys wanneer jy in hierdie soort “like, actually, bra”-sleng begin skryf, want dit is eerstens moeilik om dit oortuigend te doen en tweedens het dit die ongelukkige gevolg dat die gedig baie vinnig verouder en na my mening dan sy trefkrag verloor. Om vir Jeff Dunham, Facebook, Limewire en ‘n DVD op die naam te noem, dateer die gedig onmiddellik baie sterk. Dis soos om te sê wat iets kos of wat jy op die TV gekyk het. Ek voel sterk bewus daarvan dat die gedig ‘n punt sal bereik waar toekomstige lesers dink “wtf???” (om dit in die gees van die gedig te stel!).

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Danie Marais en prof. Ronel Foster se insette by die NS4-werksessie het my gehelp deur my te wys op die probleme met die gedig se (oorspronklike) slot, maar ek het die gedig nie vir iemand gewys of met iemand bespreek voor ek dit vir NS4 ingestuur het nie. Ek het wel deur die jare by Marlene van Niekerk baie raad gekry oor tipiese slaggate en hebbelikhede wat ‘n mens moet probeer afskud en ek probeer om onder die invloed daarvan krities met my eie werk om te gaan. Ek is ook in die baie bevoorregte posisie dat ek en sy gereeld gesels, onder andere oor my gedigte. Met NS4 het ek egter ongemaklik gevoel om sewe gedigte in te stuur waarby sy my raad gegee het, so van dié wat uiteindelik in die bundel verskyn het, is net een onder haar oë deur. Dit het ek ook aan die keurders genoem by die werksessie. Die ander se eerste lesers was die twee keurders. Ek wys ‘n gedig gewoonlik eers vir iemand as ek voel ek is nou klaar daarmee, of so ver soos ek op my eie gaan kan kom.

O ja, nog ‘n laaste ding wat ek darem moet noem: dié gedig se huidige titel is een wat tussen Danie en prof Foster uitgekom het, want my eie titel kon ek nie heeltemal reggeklap kry nie. So die titel is ook vir my “gegee” en ek is baie dankbaar daarvoor.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek het dit laat in September 2008 geskryf en dit het vroeg vanjaar in NS4 die eerste keer verskyn.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Iemand vra my die ander dag of die “geliefde” in die gedig dan nou nie meer in my lewe is nie, want dis hoe sy dit verstaan aan die slot van die gedig. Ek is ook al gevra of dit aan iemand opgedra is. Die gedig is beslis nie vir of oor een spesifieke persoon of verhouding geskryf nie.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Seker maar oor langafstandverhoudings en versugtinge en die liefde en die tyd waarin ons leef. Ek weet nie. Ek het ‘n hele boel ervarings en herinneringe en gewaarwordinge, my eie en ander, geneem en daaruit ‘n vers gemaak wat hopelik raakpunte het met ervarings wat baie van die potensiële lesers al gehad het. Ek het byvoorbeeld nie ‘n ernstige oortuiging vir of teen vissmeer nie, maar die “potjie fish paste” is ‘n beeld waarvan ek hou. Net so het ek self nog nooit Limewire gebruik nie, maar ek hou wel van Jeff Dunham en ek aanvaar dat sy materiaal daar beskikbaar sou wees. Volgens my handel die vers dus oor iets wat ‘n ou en bykans holruggeryde tema is, byvoorbeeld die verlange na die geliefde ten tyde van skeiding, maar aangebied in (my poging tot) ‘n relatief moderne idioom.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Daar is natuurlik die paar woorde in die openingsreël wat ek by Breytenbach gekry het, maar verder is die groot invloed dalk eerder hierdie rare wêreld waarin ons leef, met die internet en buiksprekers en potjies vissmeer in pakkies wat per pos versend word en expats en sulke dinge. Dit en die feit dat ek wou kyk of ek ook ‘n “praatvers” kan skryf.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nie regtig nie. Daar is wel hier en daar ‘n merker in ‘n gedig wat moontlik nie aan alle potensiële lesers bekend sal wees nie, soos die reeds-genoemde voorbeeld van Jeff Dunham, maar ek dink nie eintlik aan ‘n spesifieke leser wanneer ek skryf nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek het hier baie doelbewus probeer om te skryf in die taal wat mense van om en by my ouderdom, asook jongeres, in ‘n informele konteks sal gebruik. Ek skryf hier naamlik soos wat “jongmense praat”, as ek dit so mag stel, maar nou is dit uit die aard van die saak ook ‘n problematiese stelling om te maak. Wie is ek immers om my dié klassifikasie aan te matig? Dit is tog al male sonder tal uitprobeer en opgefoeter. Wel, ek probeer maar om dit geloofwaardig te hou. Ek verneem wel dat hoërskoolleerders die gedig geniet, so ek het dit óf reggekry om hulle te oortuig met die stem in die gedig, en van die spreker se geloofwaardigheid, óf hulle vind net ‘n gedig met woorde soos “fokkit, bra” grappig en val vir die vloekwoorde. Hoe dit ook al sy, die gedig verskil van die ander in die sin dat ek gewoonlik probeer om woordekonomie as eerste riglyn te stel, maar hier duidelik meer “praterig” skryf as in enige van die ander. Dit is ook ‘n gedig waarby ek deurentyd duidelik bewus was daarvan dat ek nou maklik ‘n indruk van valsheid of aangeplaktheid kan skep as ek te hard probeer om in hierdie idioom te skryf.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dit hang af van hoe jy dit lees. Aan die een kant gaan die gedig juis oor redelik algemene dinge: ‘n outjie se meisie se moeilike pa, die eerste eksperimentering met drank, die (natuurlik totaal onwettige, hoewel algemene) verkryging en verspreiding van TV-programme en ander vermaak op ongemerkte CD’s en DVD’s, Facebook, langafstandverhoudings, die irriterende gewoontes van ‘n mens se geliefde, ensovoorts. Aan die ander kant probeer ek wel om hulle op te skryf in ‘n spesifieke (Suid-)Afrikaanse idioom, maar ek dink nie dis spesifiek Suid-Afrikaans nie. Iets soos die gedeelte “maar toe dink ek by myself: fokkit, bra, haar pa gaan jou mos nou totally dik bliksem as hy dít ooit moet lees”, byvoorbeeld, sou ewe goed kon lees “but then I thought to myself: dude, her dad is so gonna fuck you up if he ever reads that”.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Hierdie een het my lank laat wakker lê en ek weet nog steeds nie of hy klaar is nie. Dis hoe ek oor die meeste van my gedigte voel. Daar kom wel ‘n punt waar ek relatief tevrede is en moed opgee, maar geen een van my gedigte moet te rustig slaap nie. Ek weet Ingrid Winterbach het al na haarself verwys as ‘n “kompulsiewe fine-tuner“, wat vir my ‘n baie mooi beskrywing is. Ek hou ook nogal daarvan om kort-kort ‘n ou gedig te vat en weer ‘n bietjie aan hom te werk. Dis egter ‘n geval van voorkeur en obsessiwiteit, nie juis van ‘n spesifieke metode nie. Ek dink ‘n mens kan ook ‘n gedig opneuk deur te veel met hom te sukkel.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek was en is stomverbaas oor die reaksie daarop. Dit lyk my dis die een wat by mense vassteek. Ek het dit nooit voorsien nie, maar dis natuurlik ‘n welkome kompliment. Wat my wel opval, is dat mense sommer aanneem dit is outobiografies, hoewel dit as ‘n geheel nie is nie.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek verbeel my dit was ‘n vreeslik verbitterde en kwaai, dramatiese vrye vers oor ‘n moord of ‘n verkragting of iets in daai lyn. Die eerste vers wat vir my gevoel het soos ‘n “regte” gedig, was “Skipskop”.

 

Marius Swart

Marius Swart

Marius Swart is ‘n kind van die Overberg wat op Bredasdorp gebore is en daar in die distrik sy verstand gekry het. Daarna is hy Stellenbosch toe. In 2008 het hy sy Meestersgraad in Vertaling voltooi oor die vertaling van Afrikaanse romans in Engels. Van sy gedigte het in 2006 en 2007 in die studentedigbundel Penseel, asook in die 2008-Versindababundel, verskyn. Deesdae werk hy by die departement Afrikaans en Nederlands aan die US. In sy vrye tyd het sy naastes blykbaar vreeslik ergernis om hom weg te hou van die plaas af, want dis waar dinge vir hom begin en eindig.

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.