Pieter Hugo. Kom in Gert kom in
BLOGFOKUS
Aangeheg is my “brief” oor ‘n besondere Afrikaanse digbundel. Goed, ek het die opdrag ‘n bietjie “gerek”. Dit gaan oor Gert Vlok Nel se enigste digbundel, “Om te lewe is onnatuurlik“, maar ek het van sy songs ook betrek. Sy digbundel en sy CD, “om beaufort-wes se beautiful woorde te vergeet”, het kort na mekaar verskyn en is onlosmaaklik aan mekaar verbind, sowel poëties as verteenwoordigend van, dusver, Gert se volle gepubliseerde ouvre.
Julle sal ook my gedig, “Kom in Gert, kom in”, uit “Nuwe Stemme 4“, hierin raaklees, maar hierdie is ‘n laaaaang uitbreiding van genoemde gedig (eintlik is die NS4 gedig ‘n drastiese inkorting van hierdie stuk, maar ek sal julle nie nou met die storie daaragter verveel nie…)
Groete
Pieter Hugo
KOM IN GERT KOM IN
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert kom in kom in gert kom in
gert sê hy
hoekom skryf jy nie meer i gedig gedigte nie gert
nie meer ‘n CD vol songs nie gert ons
wag nou al jare en jare maar al
al die treine het gaan staan
ons beautiful afrikaans het net een gert maar al
die lyne is dood tussen my hart en jou mond
se mooiste woorde wat nog wag op geboorte in
die magnificent woord van die môre nee nee nee
daars niks nie gert jy’t jouself argeloos illusieloos
uitgesjant op ‘n sideline spoorloos op beautiful-west
onthou jy gert onthou jy die dag toe jy amper ons grootste
digter sou word gert hoe het jou storie toe verder geloop gert
treine wat sjant treine wat altyd hier in kringe ry
hoekom gert hoekom wat maak in die meantime alles jou bang
dat jy in ‘n taal so ver as moontlik van afrikaans af gaan woon
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert ons lees nou bloot in kringe op jou spoor ons
word ongerymd opgeruimd al is jou verse so swart soos bybel
jou verse wat soos i trein inseil in die mooiste vallei jou songs
so beautiful gewas met timotei shampoe jou verse soos ‘n brief
van someone somewhere in my hand so bekend so doodgewoon
so dodelik hartseer soos die lewe soos ‘n storie uit die huisgenoot
soos klein attie in die gang
attie wat huil in die gang van die trein alleen met sy tassie
gert jou verse is die essensie van dié treinrit maar gert
nou moet ons min of meer maar net al hierdie dinge rekonstrueer want
al die treine het gaan staan
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert jy is nie afrikaans se grootste digter nie jy
skryf nie slim sonnette nie maar hy lieg wat van oupa op sterwe
jy was nie in die tronk nie jy is nie
‘n letterkunde professor wat eksistensiële
marxistiese leksikale morfologiese & andersinse verbande
tussen disparate dinge en desperate mense verdig nie
maar
ons beautiful afrikaans het net een gert & mooi mooi mooi
was jou woorde wat daai sweet sweet dinge vir ons sê soos
miskien moet ek gelukkiger lyk
want jy is ons leonard cohen gert en ek weet nie of jy ooit
‘n song van cohen geluister het nie gert maar in take this walz skryf hy
there’s a shoulder where death comes to cry on
en gert iemand wat so ‘n reël geskryf het kan tevrede sterf
tevrede eindelik gaan lê onder dun bome in die more anderkant
maar gun jou fans dan nou nog beautiful poetry gert don’t
go gently into that night moenie
dat ons net moet retrace op jou ou steps nie gert
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert gert got gert al het jy niks anders
reggekry nie gert het jy ons treine verlos van die transkaroo
na matjiesfontein op die ontstemde uur op die beliggaamde landskap
met jou versskap wat soos i sediment i beautiful sediment in
ons gemoed kom lê en sê om te lewe is onnatuurlik
en dat alle dinge uiteindelik
nie eintlik help nie
nie eintlik help nie
dat niks uiteindelik oorstelp nie
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert nee nie dit nie nie noodwendig dit nie gert
mens kan nooit van mense werklik weet nie mense wat
desnieteenstaande i fokken cruel lonely summer veroorsaak
anderster etters warse wetters en ma’s wat uitgehol kom en
ons soos wasgoed inneem voor die reën mense
wat verdig word tot die onredelike blydskap in september
wat alles iets te doen het met hartstog en jare en lyding & leed en
sukses & seks mense wat
weggaan en sterf ίn in die heiliger nag in
toe die liefde nog nie intertekstueel was nie en
alles & god altyd weer gevind kon word
maar mens kan nooit van mense werklik weet nie nooit
van jou werklik weet nie gert
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert jy’s donker & lig & lieg ineen gert
jy’s ‘n eenvoudige spoorwegstorie gert jy
interteks beautiful met vanwyklouw gert jy’s black soos label
jy’s kouewateromoskoon jy’s op nightshiftduty jy’s die
diepste woord jy dink jy’s smart met jou alfokkenewige i
likewise interweef jy postmodernistiese poems op jou eie model van
cervantes se versos de cabo rato gert het jy hom al ooit gelees
gert bestorm jy nog windmeulens met jou pen in die hand gert
daar op die laaste stasie op die derde planeet op beautiful-wes
waar jou ou dikwielfiets vanself moeg verbyrym
het jy nog katte & komete op die tong
of is daar nou nog net i trein wat ysig vir jou fluit gert
hoekom sjant jy jou uit
uit uit die gedigte uit
inner inner in die skemer in
hoekom is jy so fokken wel ter stilte gert
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert
gert sê hy
dis tyd dat jou wasgoed weer baldadig
wapper in jou vooryard gert
kom uit jou formidabele slaap
uit jou skugtige voortvlugtigheid op die dorp waar
die treine fluit en die sjanters nag na nag die
treinerige treine trein
laat die nag volledig breek
laat ons verlos word op alle vlakke al
kan jy nooit weer so onverwags klink soos met daai eerste
beautiful aweregse treinjazz wat jy uit afrikaans getoor het nie gert
al dink jy jy het jou mooiste plaat klaar van die draaitafel af
laat val weet ons jy kan weer ‘n trein dig wat die nag knip soos ‘n skêr
weer gedigterige omvattendhede dig
ons weer op grafte en op treine laat vry
ons erens subtiel & brutaal in alle erns laat sterf want
jy kan net jy kan presies so die woorde soos waens in
die verstreine sjant gert ons weet dit vat nagte nagte nightshiftduty
om die songs so beautiful oor die spore te laat rol dit lyk
so maklik jy laat dit so doodgewoon beautiful klink gert om al
die liegstories van die kollektiewe siel so terloops met
die duskant van jou hand aan te raak soos van ‘n eenvoudige
poëet maar nee nee dis nagte nagtelank gesjant tot
jy soos ‘n kamma obskure plattelandse digter so kamma
eenvoudig met jou beautiful woorde goël maar so goed
dat ek nou hierdie pleitmosaiek kan konstrueer gert uit die sak
steentjies van jou poëtiese woorde wat klaar klaar almal perfek
geslyp is wat maak dat ons nou
net die rook en die sweet in beaufort-wes onthou
en die lang cream callico gordyne wat soos
hande by die venster uit bye bye waai
en al daai poetry shit soos ‘n overexposed
foto uit ‘n ou familie foto-album moenie
moenie ons hier vergeet nie gert
moenie vir ons alleen agterlaat op
hierdie planeet waar die here nie meer van ons weet nie
want woestyn is die woord waardeur ons nou reis
moenie laat jou woorde leeg in jou hand lê nie gert
anyway laasjaar nou die dag eergister
moet jy weer droom dat jy weer in jou eie mooiste woorde woon
soos op die môre van die agste dag
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy is van morrison ja daai een gert die einste moerse moerige morrison en
hy sê gert
gert sê hy
the show must go on
© PIETER HUGO




