Digstring: Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg

Digstring

 

Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg

 

winter

 

dinsdag 17 junie

na die storm brul

die berg barnsteen-skuim al

met haar nate af

 

woensdag 18 junie

ek kan nie na jou kyk

nie – nie vandag nie.  met afgewende

oë gaan ek my elke-

dagse gang.  daar’s nie meer plek vir die

vrywillige aanbod

van my self aan jou klipvervuldheid

 

nie.  oor my bevreesde

lyf beweeg my hand telkens op na

my bors in die hoop dat

die dooie klei-sel daar nie sal wees

nie, dat die hand haar net

verbeel het, dat dit intussen wel

 

verdwyn het.  die berg staan

skoongesny en deurgebrand.  ek leef

by die asem van die berg.

ek het geen ander vermoëns nie.

aan die vloeikant sing ligsome, aan

die lykant is niks, nie

 

eens ‘n enkele lyn

wat van my weet nie.  sterflikheid lê

soos sweet op my bo-lip

ek wil weet/wil nie weet nie/wil weet

wil als/wil niks weet nie

 

donderdag 19 junie

onsigbaar die berg in

die mis – soos ‘n klont van verdriet waar-

op alles alles stuit.

jou gedagtes probeer sagkens daar-

omheen, jy tas versig-

tig die geknelde klip af, die doods-

 

heid, die onbeweeglik-

heid, jy sien nie kans om die volle

omvang te bepaal nie

jy wag op die uitslag.  penskant en

blindelings verbeel jy

jou heimlik heel, jy probeer die op-

 

stand van jou liggaam teen

jou liggaam ontlont.  laat die klipklont

maar kil word in die mis

die dennebome soos sambrele

kantel in ‘n stoet, laat

gedagtes rypstoom in verdriet, ek

 

self, ek is vanoggend

besig:  lipsel my borste saggies

los in room, laat hulle

lustig dommel en geur, dan spoel ek

hulle helder skoon in

heuning en daar waar die mammogram

 

sy swartste stolsel wys

daar seur ek lig in, daar sloep ek die

allerlieflikste toon-

aard van asemhaal, van liglittig

bengelende geluk

daar week die lig so verblindend in

 

dat die swart membraan hom

deur blou bemin voel en sy taai tok-

siese poliepe ver-

dun, en opgelos laat wegvloei.  kyk

hoe bloei roet soos bies uit

my tepels.  heel soos ‘n sweepslagknel

 

wíl ek die aarde bewoon

 

                                          (laataand)

fokkol.  ek voel fokkol

vir die hiernamaals – dis nóú wat ek

wil leef.  dis hiér wat ek

 

wil leef.  as ek na jou

kyk, word ek droef – droef so ver die hart

kan inkyk.  dis omdat

 

ek sterflik is dat jy

so godweet lieflik is.  ek wil vir

 

ewig sterflik wees

 

sondag 22 junie

niks kom nie.  my keel klem.

‘n gelate verdriet brand rokend

op in my bors.  my hart

kerm aan haar skarniere.  ek wil

iets aanraak, iets vashou,

die heelheid opwek wat eens myne

 

was.  ek wil terugkeer

met my voormalige liggaam.  ek

is nie ek sonder my

liggaam nie.  slegs deur my liggaam kan

ek die aarde bewoon

my siel is volledig my liggaam

my liggaam beliggaam

wat ek is.  moenie teen my draai nie

moet my nie verlaat nie

moenie rondom my ingee nie.  moet

nie van my wegstort nie

moenie van my afsterf, moet my nie

 

onbetuig laat nie.  ek

het ‘n liggaam, daarom is ek.  tree

vir my in die bresse –

jy’s my heel enigste mandaat om

die aarde lief te hê

 

maandag 23 junie

ek wil nie diep dink oor

die woord “kwaadaardig” nie, dis die “nie”

die nie-kwaadaardig wat

my vel soos ‘n lieflike syserp

oor die lyf laat glip.  ek

haal vry asem.  die lug pols effens

 

ek drink oggendtee.  my

oë verorber die berg in haar

statige gang, maar iets,

wat weet ek nie, het bygekom – in

doodse stilte pak dit

teen die ruite – alles voel omlyn

 

om te keer dat dit tot

niet gaan.  om te verhoed dat jy heel-

huids oorhel weg in jou

hare, trek mens die berg na.  sterflik

hand die gehele wê-

reld skielik en loei in fragmente

 

op die deken word jou

buitelyne uiteindelik dowwer,

jou teenwoordigheid gaan

een oggend soos stof van ‘n boekrak

gevee word.  sonder lig-

gaam oorleef jy nêrens nie.  selfs ná

 

die dood kan die lyf op

foto’s jou hart nog hersê.  jy spalk

jou bloed, jou pols klop vry

soos ‘n pas ontsnapte, maar sterflik-

heid is reeds aan boord.  die

liggaam begin om afskeid te neem.

 

vrydag 27 junie

die laaste winterreëns val

vinniger as verlange of win-

terbome met limfstel-

sels teen die winterlug.  dis asof

ek weer jonk is in my

bo-arms, skielik, en gaaf oor my

 

agterkop.  my liggaam

glans volledig, my elmboë

hang glad met al my sin-

tuie oop oor my vel.  ek kyk na

die berg wat haarself op

haar kranse in stand hou, haarself in

 

klip as klip bymekaar

hou, volledig net sigself is.  sy

verweer met die aarde

in die taal van ewigheid – ek kan

nie anders as om

snyskoon en brulhelder in haar op te vaar

 

© Antjie Krog. Uit: verweerskrif, Umuzi, 2006

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het my kind gehelp met ʼn kunstaak oor Cézanne wat die berg Sainte Victoire meer as sestig keer van sy huis af geskilder het. Toe onthou ek hoe Ingrid Winterbach die maan oor en oor beskryf het in daardie nie -genoeg volprese boek “Belemmering”. Skielik was ek bewus van my veranderde gevoel oor die Vrystaatse landskap en begin dink dit is dalk juis omdat ek dit so met volgehoue toewyding sedert my eerste skryfsels beskryf het. As ek nou deur die Vrystaat ry gryp dit my nog net soos altyd aan, maar in plaas van gedrewe voel om dit in taal vas te vang, kom my eie reëls nou by my op: daardie soort lig is so beskryf, die wintersgras is so verbeeld, die Oos-Vrystaatse berge het ek in daardie boek vasgevang. Ek ry dus in volkome vrede deur die landskap asof ek daarin tot rus gekom het. Intussen bly ek al byna agtien jaar in die kaap en kon nog nooit werklik oorgaan om dit te konfronteer nie – hier en daar wel, maar nie op ʼn sistematiese manier nie. Mens het ook akademies begin bewus raak van landskapbeskrywing, van die verband tussen eienaarskap en grond, om grond toe te eien deur taal, so ek het dit aanvanklik gelos. Maar na “A change of tongue” wou ek terugkeer na gedigte en moes my forseer na die anderkant van my brein. Ek het toe begin met ʼn soort dagboek en twee weke lank in elke seisoen elke dag op verskillende tye inskrywings gemaak. Ek moes en mag niks probeer “sê” nie; net bloot formuleer wat die oog sien. Geen denke nie, net sintuig en vir my is taal ook ʼn sintuig. Die berg moes nie ʼn metafoor of simbool van iets wees nie, net oor en oor en oor beskryf word, neutraal, skoon. Maar soos wat die proses verloop, het allerhande ander dinge oor my pad gekom wat neerslag in die beskrywings gevind het. Daardie soort van skryf lei ook natuurlik tot sy eie simboliek. Ek het begin navorsing doen oor die verskillende kleure klip van die berg, die plantegroei as ek gaan stap, die rede waarom die wolke so afstroom en dan verdamp, ek het taalloos gesit en kyk na die brutale woede van die suidoos wat die berg afstorm, die wonderlike pers hittevlam in die somers, die brande. Ek het ook gevind soms kon ek die berg op geen ander manier as menslik beskryf nie.      

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Vanaf die dagboek het dit het verskeie en nogmaals verskeie vorme ondergaan. In Bellagio in Italië het ek vir drie weke ononderbroke tyd gehad om die finale gedig aanmekaar te sit.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Daar was ʼn groot hoeveelheid gegee-de materiaal en dis altyd uiters belangrik want dit sorg vir die onmiddellikheid en outentisiteit van ʼn gedig, die egtheid en deurleefdheid. Maar mens moet dan besluit of jy dit so ongevorm los, wat voordele en nadele het, of jy gee dit vorm. My jeugwerk het absoluut geen vorm gehad nie, maar hoe ouer ek word hoe meer glo ek aan vorm omdat dit ʼn soort kwaliteitsbeheer kan toepas. Dit het natuurlik gevare soos dat jy ʼn gedig met vorm versmoor, maar ek moes iets maak met die groot groep impressionistiese oomblikke. Hoe bied ʼn mens dit aan? Watter soort vorm sal die meeste reg laat geskied aan die dagboek inskrywings?

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “ordeningsbeginsel” toegepas?

Ek het besluit om by die dagboek vorm te bly, sodat die seisoenveranderinge die hoofnarratief bly. Die datums bly dus staan en suggereer dat dit impressies is en soos wat //Kabbo sy storie van die jagveld oor drie maande vertel het, so het ek die datums binne in die teks gehou pleks van te gebruik as titels of in hakies onderaan. Maar toe alles bymekaar is, moes daar een of ander beheer oor die materiaal plaasvind. Ek het toe die lettergreep vorm van Marianne Moore gebruik wat ook in Hebreeuse poësie voorkom: 6 versreëls waarvan die hoeveelheid lettergrepe soos volg is: 1. (3 lettergrepe); 2. (7); 3. (6); 4. (8); 5. (3); 6. (5). Dit forseer ʼn moeiliker bladspieël en lees vanaf die papier af, maar ek het dit geweldig nuttig gevind in die manier waarop die lynbreuke betekenis oopforseer deur woord- en ritme-verskuiwings. Hoewel dit nie oor ritme gaan nie, en die beeld daarvan op papier dus glad nie is soos ek dit sou voorlees nie, vorm dit vir die leser wat stil by haarself lees ʼn onrustige tydelikheid en onklaarheid. (hoop ek!!) So ʼn vorm help dus in die eerste plek die snoeiproses en tweedens, het dit met die dagboek stemming en kort indrukke gehelp.  Toe die gedig na Engels vertaal moes word het dit natuurlik ʼn absolute brutale nagmerrie veroorsaak. Hou mens nou by die Moore vorm, of naas moontlike vertaling? Wat prof Andries Wessels gedoen het was kort duskant die mirakelagtige.      

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

My gedigte wys ek vir niemand. Ek lees dit hardop vir myself as ek dink dit is klaar en dan moet dit werk. Soms probeer ek iets uit tydens ʼn voorlees-sessie, maar dis nie werklik ʼn goeie manier nie, omdat ʼn goeie voorleser eintlik enige iets kan weg- of regmaak of ʼn sekere soort gehoor kan jou laat dink iets werk nie. Ek wys niks vir iemand voordat die hele bundel klaar is nie. Ek dink dit is maar ʼn oorblyfsel van die Opperman generasie. Omdat hy so volledig en soms ingrypend met my eerste vyf bundels gewerk het, het ek na sy dood nie gevoel om iemand te vra nie. Ek onthou ook hoedat hy op ʼn keer uitgevaar het teen ʼn digter wat ʼn spul gedigte bymekaar sit en dan van hom verwag om te besluit watter om uit te gooi en selfs te kies uit die drie titels wat hy voorlê. Na die eerste twee of drie bundels moet ʼn digter verantwoordelikheid neem vir sy werk, het hy geglo. Dit is die kern van digter-wees, dat jy kan sien watter gedigte swak is en dat jy dit uitgooi. Toe ek die eerste keer kom vra het of ek die laboratorium kon bywoon (die een waarin Gerrit Olivier en Marlene van Niekerk hulle was) het hy my die bundel waarin hulle werk naamloos opgeneem is gegee en ek moes so voor hom sit en sê dit is goed, die een nie, daarteen kan gaan, dit is briljant. Wat jou natuurlik laat uitbars in sweetfonteine. Toe ek klaar is het hy gesê: jy het dit. Jy kan kom.

My prosawerk is anders – daar wys ek dit vir my man en uiteindelik lees my uitgewer Stephen Johnson en Ivan Vladislavic. Met hulle okays en advies gaan ek dan verder maar die Engelse tekste is ʼn totale aparte nagmerrie.      

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek publiseer nie graag “elders” nie – ek hou van ʼn bundel wat myself verras – en wil graag die gedigte vir die eerste keer in druk sien in ʼn bundel waar hulle tot hulle reg kan kom. Dit is ook maar ʼn oorblyfsel uit my jeug. Ek het so jonk begin skryf en toe gepubliseer sonder dat ek eers geweet het iets soos ʼn literêre tydskrif bestaan. Ons het op skool ʼn afgerolde blaadjie uitgegee en ek moet erken dit is baie lekker vir ʼn wordende digter om skielik iets van jou gedruk/getik te sien, jy kan dit lees asof dit nie joune is nie en krities begin dink daaroor. Maar dit voel my asof ek nie daaraan kan verander as dit eers gedruk is nie. So ek hou dit so lank moontlik terug vir moontlike veranderinge.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Gedigte werk nie vir my binne die raamwerk van feit of fiksie nie. Dit ontstaan so op ʼn ander vlak in mense se psige dat ek werklik nie in hierdie terme daaroor kan dink nie. Jou oë sien iets en jou binnekant gooi haar lyn in die water en die hoek wat taal is, raap dinge op. Of so iets.

Is dit ’n narratiewe vers?

Nee (en ja). Dit kan oneindig aanhou en menslike taal val uiteindelik soos skille van die berg. Ek kan onthou dat toe ek die berg as onsterflik beskryf (ook in skryfode waarin ek sê: alles gaan tot niet, behalwe hierdie adembenewende taferele, het ek wel gedink, sjoe mense sal verskil so met die osoonlaag ens. Maar al hoe meer blyk dit tog dat die aarde ons makliker kan afskud as wat ons ooit vermoed het.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ek weet nie Louis – miskien is dit bloot ʼn psalm. ʼn psalm wat patrone van verbondenheid besing.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

Sien bo.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nooit. Gedigte is iets wat in my is wat gesê wil word. My enigste lojaliteit is om dit so helder as moontlik gesê te kry. Daarom gebruik ek Afrikaans, nie om enige ander rede as dat dit die vishoek is wat in my die helderste taal na bo bring.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit val binne die patroon van my bundels (sedert Dogter van Jefta) wat gewoonlik met ʼn lang slotgedig eindig. Wat dit anders maak is dat dit nie verhalend is of probeer wees nie. Dit is ook ʼn soort tuiskom in die Kaap. Die landskap van my hart is die Vrystaat, maar dit het my eindelik gevoel dat ek die band tussen besit en besing kon breek in die gedig. En hoewel ek weer eens tot ruste gekom voel oor die buie van die berg (bv. as ek laatmiddag gaan stap en die nagloed vang Duiwelspiek so dan dink ek, ja, kweperlig, dis hoe ek dit beskryf het) kry ek soms lus om ʼn nog skoner, kaler, killer reeks te maak. Sal maar sien.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Daar is mense wat sê dat Afrikaners, of dit nou skilders is of skrywers, met hulle kunswerke die land opgevreet het. Jou eiening is volkome gemaak deur jou kuns. Jy sê: ek besing dit want dit is myne. So miskien sien sommige die gedig so, ek dink egter dit sêe die teenoorgestelde.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Die dagboek is opgegee. Die gedig kon met enige seisoen ophou, maar omdat dit aan die einde van die bundel is praat groter kragte mee, dus het ek rondgeskuif. Aanvanklik was die laaste word be-hemel. Eers na die Engelse vertaling het ek dit uitgekrap en verander na ont-hemel.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek weet glad nie van lesers se reaksie nie Louis. Oor die algemeen was die boek vanaf die voorblad tot die menopousale inhoud so konfronterend dat ek net ondergeduik het en wag dat die tyd verbygaan. Die feit dat die verkoop van die boek ook deesdae deel van die verantwoordelikheid van die skrywer word, vind ek al meer ondraaglik. Mens weet boeke moet verkoop word, mens weet, en veral julle twee weet, dat jy graag boekwinkels wil help, maar ek skop in op automatic pilot en probeer dit dan so beskaafd as moontlik afgehandel kry. Dit maak dit moeilik om jouself gefokus te hou op wat jy wil/moet skryf en nie te begin doen wat lesers gaan plesier nie. Iemand beskuldig my grappenderwys nou die aand dat ek doelbewus literêre vorms, titels en voorblaaie kies wat lesers afstoot, sodat die wat dan tog lees en koop ʼn bende gelouterde lesers is!    

 

Antjie Krog

Antjie Krog

Antjie Krog is digter, joernalis en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het elf Afrikaanse digbundels en twee bundels kinderverse gepubliseer. Haar twee niefiksiewerke, Country of my skull (1998) en A change of tongue (2003) verskyn in Engels.Vir haar poësie het Krog onder andere die volgende pryse ontvang: die Eugene Marais-prys (1973), die Rapport-prys (1987), die Hertzogprys (1990), die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000). Vir haar vertaling van gedigte uit die inheemse tale, Met woorde soos met kerse (2002), ontvang Krog in 2003 sowel die Toekenning vir Voortreflike Vertaling van Poësie as die Toekenning vir Beste Vertaler van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 2003. Gedigte van Krog is in Engels, Nederlands, Frans, Spaans, Duits en Italiaans vertaal. In 2009 verskyn ’n keur uit haar werk, Digter wordende , by Human & Rousseau.

 

 

 

 

 

 

 

Luister ook hier na ‘n voorlesing deur Antjie Krog van een van haar gedigte Land van genade en verdriet. [Your Tube]

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering

 op sy weblog How a poem happens”..

 

Bookmark and Share

Comments are closed.