Die skyn van tuiskoms

Die skyn van tuiskoms. ‘n Keur uit die gedigte van Lina Spies. Saamgestel deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5144-3. Prys: R160.

Die skyn van tuiskoms

Die skyn van tuiskoms

By die oorhandiging, in 1973, van die Ingrid Jonker-prys aan Lina Spies vir haar 1971-debuut Digby Vergenoeg (sy het ook die Eugène Marais-prys daarvoor ontvang), het Uys Krige ‘n standpunt oor literêre oorspronklikheid herhaal wat hy al voorheen uitgespreek het: “‘n Digter moet ‘n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ‘n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders – oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.” (Terblanche, 2009)

Veertig jaar later is die digterstem van Spies steeds so “herkenbaar” haar “eie” as destyds (luidens die samestellerswoord op die agterplat van die onderhawige keur uit haar werk).

Daarvoor sorg eerstens die “meditatief-outobiografiese” inslag van haar werk (E.C. Britz, 1999:588), en die herhalende terugkeer van sekere uitstaande onderwerpe en temas:

  • familiefigure en jeugherinneringe;
  • ‘n voorliefde vir bepaalde omgewings, met name die Noord-Vrystaat (Harrismith waar sy grootgeword het), die Boland (veral Stellenbosch) en Nederland (veral Amsterdam);
  • in samehang met laasgenoemde, die reistema;
  • (hoofsaaklik onvervulde) liefdesverhoudings en vriendskappe (wat soms in afkerigheid eindig);
  • vrouwees en kinderloosheid (waarin die intieme en kwesbare van die liggaam soms verken word);
  • (‘n indiwidualistiese) godsdiensbelewing, wat meermale opstandigheid jeens dogma tot gevolg het;
  • verknogtheid aan die aarde en die aardse;
  • kuns en kunstenaarsfigure “met wie sy ‘n sterk verwantskap voel en in wie se nood sy haar eie kan verreken” (agterplat);
  • kinders (in verse waarin sy “onskuld, weerloosheid en verbondenheid deur die gebruik van die volkse, sprokies en kinderrympies [ondersoek]” – agterplat).

 

‘n Verdere faset van haar eiesoortige posisie in die Afrikaanse poësielandskap word eweneens deur Britz uitgewys: Dat sy “as ‘t ware ‘n Sestiger [is] wat haar ouderdom betref, en ‘n Sewentiger in terme van die publikasiedatums van haar eerste bundels, maar as digteres […] nie werklik ‘n kind van sestig óf sewentig nie. Haar ontroerde, meditatiewe of belydende betoë, haar fraai en soms speelse poëtiese segging en haar preokkupasie met haar emosionele, spirituele en sosiale verhoudings maak haar nog die beste vergelykbaar met Elisabeth Eybers.” (Britz, 1999:588)

Spies identifiseer derhalwe nie net met Eybers nie, maar veral ook met iemand soos die Amerikaanse digteres Emily Dickinson. In die gedig “Vir Emily Dickinson” bestempel sy laasgenoemde as “naaste geesverwant”.

‘n Ietwat ouderwetse, elitêre estetiese houding spreek uit haar verskuns sowel as uit sommige van haar openbare uitsprake, veral vergeleke met die werk van haar dikwels eksperimenterende tydgenote. Onder meer hierom was sy meermale “vatbaar vir miskenning en selfs ridikulisering onder die meer radikale verteenwoordigers van die generasies van sestig, sewentig en ook tagtig” (Britz, 1999:589).

Voeg hierby dat sy van tyd tot tyd sterk en omstrede, selfs strydvaardige standpunte ingeneem het oor sake soos homoseksuele en nie-responsiewe mans, oor godsdiens, oor Pretoria as woonplek wat in haar oë sleg afsteek by byvoorbeeld Stellenbosch (in gedigte soos “Verpot” en “Verootmoediging” uit Van sjofar tot sjalom), oor die miskenning van Afrikaans … selfs oor die vraagstuk of katte in die hemel sal kom, al dan nie. Sulke standpunte het, soos reeds gesien, ook haar verse binnegedring (veral in sekere “haatgedigte” – Britz, 1999:592). Trouens, haar poësie neem meermaals ‘n betogende trant aan, vergestalt in hoofsaaklik beheerste maar dikwels ook woordryke, retoriekbesmette vryeverse, wat hoogstens “amusant” aandoen vanweë die felheid wat dit kan aanneem (Britz, 1999:595). In sulke gevalle mis ‘n mens dan die gedistansieerdheid en (self-)ironie, of taaldurf van byvoorbeeld ‘n Elisabeth Eybers en ‘n Emily Dickinson. Dit word volgens Britz (1999:591 & 592) “nogal breedsprakige ‘praatverse'” met ‘n gebrek aan “intensiteit”.       

Oor sulke dinge is Spies dan ook in die kritiek oor die kole gehaal.

‘n Keur soos die onderhawige, wat baie van bogenoemde ‘besondigings’ wegsnoei, laat ‘n mens egter die sterker kante van Spies se werk sien. En laat myns insiens duideliker uitstaan dat Digby Vergenoeg (“haar oerbundel” – Britz, 1999:589) en Hiermaals uit 1992 (“‘n ryp, volwasse bundel” – Britz, 1999:595) hoogtepunte in haar oeuvre verteenwoordig.  

‘n Groeipunt ná Hiermaals is die groter religieuse nederigheid in die aangesig van die naderende lewenseinde. Ná die rebelserigheid van Hiermaals en ook nog Die skaduwee van die son (1998), is daar in Duskant die einders (2004) ‘n religieuse inkeer te bespeur (al staan sy steeds “wars van elke leer”, luidens “Wyding”). Dis ‘n aantreklik aardse, sintuiglike religiositeit wat verwoord word. Die lewe duskant die graf word ervaar as ‘n bestek van verwondering. 

Na my smaak is Spies op haar beste wanneer sy as spreker meer op die agtergrond tree, soos in sekere portrette, en baie van die kuns- en kunstenaarsgedigte wat verspreid deur haar oeuvre voorkom. Hoewel die onvermydelike vergelyking wat die intertekstuele verwysings in laasgenoemde gevalle tot gevolg het, meermale ongunstig vir Spies uitval.

Momente van weerloosheid, wat in Spies se later bundels steeds dikwelser verwoord ord, en waartydens sy dan suggestiewer te werk gaan as in die betogende gedigte, is ‘n ander bron van haar aantreklikste digkuns. Die slotgedig uit Duskant die einders is ‘n voorbeeld:

 

Heemkeer

            For I am homesick after mine own kind

            Ezra Pound: “In durance”

 

Daar is donker en valstrikke in ‘n bos

maar smagtend op pad na eie soort

moet jy daardeur; moet jy roep of skree

dat ‘n waaksame jou hoor,

‘n vuur maak of ‘n lamp aansteek

dat jy die spoor nie byster raak,

tuiskom by wie jy hoort.

 

Die titel van hierdie samestelling deur Johann de Lange is derhalwe eintlik ‘n goeie een om Spies se onthoubaarste bydraes tot die Afrikaanse poësieskat te benoem. By wyse van die relativering impliseer Die skyn van tuiskoms dat reis en verlange eintlik die sentrale motiewe van haar oeuvre is. Britz (1999:589) het juis aangetoon dat die meerderheid van die titels van haar vroeër bundels “met die idee van ‘n lewensreis verband hou” (soos ook enkele van die lateres): Digby Vergenoeg, Winterhawe, Dagreis, Oorstaanson, Duskant die einders… In ‘n aantal gedigte (byvoorbeeld “Weteringschans”, “Wie die verlange ken”, “Tweespalt” en “Manifes”) word die verlange as digterlike leitmotief pertinent uitgehef. Vergelyk laasgenoemde gedig:

 

Ek wil die heimwee behou

na al die Edens van my wêreld

sodat Goethe se versugting

na die land waar die sitroene bloei

nooit aan my vreemd sal word nie

en my verse kan leef

omdat die verlange

die asem is van die poësie[.]

 

So word die tema van die voortdurende (emosionele sowel as fisiese) migrasie tussen die genoemde drie streke waarin sy haar besonders tuis voel (veral die Boland en Holland), gesinjaleer. Ook, by uitbreiding, haar verse oor die kosbare, wonderbaarlike aardse – maar waarin dan dikwels juis ‘n bewussyn figureer van die tydelike van die belewing vanweë die mens se sterflikheid, óf waarin die lig van die hemelse afskyn (soos in “Heemkeer” hierbo). Die spanninge tussen bestaanekstase en bedroënheid, tussen liefde en onvervuldheid/afkerigheid, tussen kunsskepping (waaronder die “taalspel” en “tekstase” van die digkuns, wat op die boemlesingagterplat vermeld word) en ontnugterende werklikheid, word eweneens in die bloemlesingtitel opgevang.  

De Lange se keur versterk dus Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter wat miskien nie poëtikale en tematiese berge versit het nie, maar toeganklik skryf “oor sentimente en menslike probleme van baie poësieliefhebbers […] sodat sy altyd ook ‘n besonder gewilde en selfs geliefde digteres was” (Britz, 1999:589).

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bronnelys  

Britz, E.C. 1999. (Profiel oor) Lina Spies (1939-). In: Van Coller, H.P. (redakteur). Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies. Bladsye 588-597.

Terblanche, Erika. 2009 (geplaas op 5 Maart). Lina Spies (1939). Sanlam/ATKV/LitNet Afrikaanse Album. http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_itme&cause_id=1270&new... (Besoek op 25 Mei 2010.)

Bookmark and Share

Comments are closed.