Marcelle Olivier. Die Driepennie-opera inderdaad

Marcelle Olivier

Marcelle Olivier

Marcelle Olivier is ‘n digter en argeoloog wat haar tans in Cambridge, Engeland bevind, waar sy in ‘n herboude eende-skuur in ‘n appelboord op die wal van die Cam Rivier bly. Ná skool op Stellenbosch het sy BDram en Engels honneurs by Maties studeer, en daarna by Oxford Universiteit meesters en doktorale navorsing in feminisme en prehistoriese rotskuns gedoen. Sy het klasgegee in menslike evolusie en argeologiese teorie by Oxford en Cambridge Universiteite, maar werk deesdae as vryskutskrywer en deeltyds ook as hoofeksaminator vir Afrikaans vir University of Cambridge International Examinations. Sy dig meestal in Engels, en jy kan van haar werk lees in onder andere New Contrast, Carapace, Oxford Poets, en The May Anthologies.

 

 

Nuus uit Brittanje: Die Driepennie-opera inderdaad

Die onlangse Britse eleksie is nie eintlik die tema waarmee ek op Versindaba sou wou begin blog nie, maar dalk skuil daar tog wel iets poëties daarin. The Guardian het die afgelope paar weke baie oor Gordon Brown se tyd as Eerste Minister geskryf, en Lucy Mangan het dit wonderlik tragies opgesom toe die nuwe Konserwatiewe-LibDem goewerment uiteindelik verklaar is: ‘[The Conservatives] are easy to laugh at. And you are a better person for laughing at them. Laughing at Gordon Brown always felt wrong. It made you as unhappy as he is. Was. Is.’

Gordon Brown se opgang en ondergang in die VK Arbeidersparty was inderdaad iets wat ou Will Shakespeare kon geskryf het. Na jare se wag in die ante-kamers wat Tony Blair se skaduwees so sonder skaamte om homself gegooi het, en met ‘n relatiewe suksesvolle en stabiele tydjie as Kanselier agter die rug, het Brown die mantel, sonder nasionale eleksie natuurlik, van Blair oorgeneem en probeer om ‘n beter man as sy voorganger te wees. Die tragedie is dat dit vanselfsprekend altyd ‘n ramp sou wees – êrens in die agtergrond was daar ‘n heks, ‘n gatekeeper of fool, wat alreeds die hele storie in ‘n driepootpotjie of glas port sien uitspeel het, Brown iewers in die stegies van Westminster voorgekeer het, en die boodskap van sy toekoms enigmaties aan hom voorgelê het. Dalk met behulp van ‘n stokkie ‘n prentjie in die ekstra-netjiese Engelse roosbeddings geteken het, of ‘n Harrods-spieël voor hom opgehou het en gesê het: Kyk mooi! Wat sien jy? Of, eintlik: Wat sien jy nie?

Want dit was nie Gordon Brown se politiek wat die Arbeidersparty so erg omver gewerp het dat hulle die 2010 eleksie verloor het nie. Dit was sy totale onvermoë om charismaties met die media te kon werk wat hom (en seker maar die publiek ook) nagte lank wakker gehou het. En ‘n gebrekkige gevolg wat heeltyd rondom hom Grieks-koor ‘Glimlag! Glimlag!’ in die dwase hoop dat Brown eendag net so oppervlakkig-natuurlik soos Blair met ‘n groep kettingrokende tiener-ma’s in ‘n sement-parkie in een of ander godsverlate noordelike voorstad kan omgaan. Brown se hele verhouding met die media kan in sy pre-stemdag faux pas vasgevang word; Blair was, soos hulle sê, savvy genoeg om sy eie vooroordeel goed van die kameras te kan kamoefleer.

Toe Brown die week voor laas die laaste keer by 10 Downing Street uitstap (o, en gaan loer gerus na hierdie foto en die meegaande analise van Brown se laaste minute in die ‘oorlogskamer’ in Downing Street), met sy twee klein seuntjies hand aan hand, het almal gewonder hoekom hy so lank op hierdie pakkie dinamiet gesit het – almal weet tog dat familie-foto’s van gelukkige ouers en oulike kinders stemme win! En tog het die feit dat hy en sy vrou hulle gesin so diep agter die swart deur weggesteek het dalk sy hele houding teenoor sy pos geïllustreer. Dalk wou hy net sorg dat die land aanhou funksioneer; deur al die simpel Afganistan- en Irak-gemors, die wêreldwye finansiële krisis, en die parlementêre-skandale kon kom sonder om te veel internasionale gesag te verloor. Dat dit nie oor sy persoonlikheid (of te wel sy tekort aan ‘n populêre persoonlikheid) sou wees nie. En dalk het hy gehoop, ten spyte van die orakel se waarskuwings, dat die noodlot hom nie vooruit beseël is nie. Dit is in elkgeval hoe baie dit sou wou sien. Hoe dit ook al sy, ek het nooit een keer gedurende my dekade-lange vertoef hier in die VK Brown naastenby so ontspanne gesien as toe hy saam met sy gesin die pad vat weg van Downing Street af om, in een van daardie eksentrieke Britse tradisies, die Koningin te gaan vra of hy maar liewers nie meer EM kan wees nie. Nou dat ek weer daaroor dink, miskien is dit nie ‘n ware tragedie nie – Gordon Brown is dalk blind, maar wees – soos arme Lear of Malvolio – is hy definitief nie.

David Cameron, ons nuwe EM (Nick Clegg, die LibDem-leier, is sy adjunk), is uiteraard Blair-gereïnkarneer, met ‘n media-gerigte charisma wat die stemme laat inrol het. Cameron het al dieselfde vooroordele van Tony Blair (en ‘n hele paar meer natuurlik – moet tog nie vergeet hy is ‘n Konserwatiewe man nie!) maar steek hulle net so goed weg soos Blair. Hy het ook die vermoë om skynbaar ontspanne en gelukkig voor te kom maak nie saak of hy met een voet in die graf en die ander in Clegg se mond staan nie, om ernstig te lyk en ernstig te klink wanneer hy oor ernstige dinge debatteer, en het ‘n kaalvoet, swanger vrou wat sopas haar werk opgegee het om, so neem ons aan, in die 10 Downing Street kombuis te gaan staan en kos kook. Soos dit ‘n goeie eggenote betaam. Dit is dus nie verrassend dat Jan Publiek eerder vir ‘Dave’ as vir Gordon Brown op hulle koerant se voorblaaie wou sien nie. En wat presies ons gaan maak met die Nick Clegg-effek – SuperClegg, soos party koerante hom gedoop het – in terme van persoonlikheid, sal net die volgende vyf jaar van koalisie-regering ons kan leer. Hy het wel onlangs genoem dat die lewende persoon wat hy die meeste bewonder JM Coetzee is, terwyl beide Brown en Cameron (en omtrent elke ander MP in Westminster) Nelson Mandela gekies het. Dalk is die pad wel korter as wat dit op die oomblik lyk…

'n Natuurramp?

Vir die rekord, die koalisie tussen die Konserwatiewe en LibDem Partye het ‘n groot bohaai veroorsaak, veral onder die jong, idealistiese Britte wat voel dat Nick Clegg hulle verraai het. Ek sit self nog en wonder oor die presiese redes hoekom hy langs Cameron in die bed ingekruip het (ek hoop heimlik dis deel van ‘n groter plan om die Tories permanent êrens in ‘n ou skoorsteen in te sement), maar dalk is my immigrant-perspektief effens anders as dié wat hier onder die waterige son gebore en getoë is. Dis opsigself ‘n interessantheid op sy eie – ek wat kan stem omdat Brittanje óf nog steeds skuldig voel oor kolonialisme óf op ‘n agterbakse manier graag ‘n vinger in die Commonwealth-pastei wil hou (en kom ons sit maar nou die tragiese Shakespeare-verwysings finaal opsy; en ja, ek weet dis nie werklik so simplisties nie – die Commonwealth is ‘n vreemde ou dierasie…). Dus, op die 6de Mei 2010 het Suid-Afrikaanse ek, soos met elke plaaslike en nasionale eleksie die afgelope tien jaar, afgehuppel na ‘n dorpsaaltjie iewers in die land en my reg om ‘n kruisie met ‘n stomp potlood te trek, uitgeoefen. En soos dinge hier in Engeland maar werk daag jy sommer net op, of jy nou jou ID by jou het of nie, sê jou/’n naam vir die outjie of vroutjie by die tafel en wys met jou vinger na jou/’n adres op die lysie, en siedaar! – ‘n stembriefie in die hand. Ek kon maar eintlik enigiemand gewees het, Gordon Brown-glimlag of te not. Ware demokrasie, as jy my vra. Aan die ander kant, die honderde mense wat nog in toue gestaan en wag het toe die deure om 10nm op stemdag in hul gesigte toegeslaan is, het heelwaarskynlik ‘n ander siening van ‘ware demokrasie’.

Wat my terugbring na die quasi-romantiek van die Brown-affêre. Nie dat ek ooit eintlik van die man gehou het nie, maar soos Lucy Mangan het ek altyd effens skuldig gevoel wanneer ek vir hom gelag het. Mens moenie eintlik lag as iemand dit nie kan help nie. Of dalk net blootweg: as iemand nie kon help nie. Om die bekoorlike Dorothy Parker hier aan te haal: ‘They were progressive days. We thought we were going to make the world better – I forget why we thought it, but we did.’ Brittanje het ‘n fantastiese reputasie vir politiek-gerigte satiriese komedie, en ek moet sê dat ek so baie daarna uitsien om vir ‘n verandering weer vir ‘n Eerste Minister te kan lag sonder om die kwilt oor my kop te gooi en net so met een oog deur die hekel-gaatjies na die televisie te loer. Selfs ons stoere Poet Laureate, Carol Ann Duffy, weet dat ‘n bietjie swart humor ongoddelik belangrik is, en publiseer die dag na die eleksie die volgende gedig:

Democracy

Here’s a boat that cannot float.

Here’s a queue that cannot vote.

Here’s a line you cannot quote.

Here’s a deal you cannot note …

and here’s a sacrificial goat,

here’s a cut, here’s a throat,

here’s a drawbridge, here’s a moat …

What’s your hurry? Here’s your coat.

Dalk het die storie van die Konserwatiewe MP Douglas Hogg, wat meer as £2,000 (dis ‘n goeie R23,000) van die Goewerments-pot geeis het om die grag rondom sy herehuis (onder wie se vorige bewoners die skoonsuster van Geoffrey Chaucer tel!) te laat skoonmaak, tog die Suid-Afrikaanse koerante gehaal? Daar was ook die £1,600 eis vir ‘n drywende eend-huisie van Peter Viggers (nog ‘n Konserwatiewe MP) en ‘n £10 kwitansie vir twee blou films wat Jacqui Smith, MP vir die Arbeidersparty, se manlief van die internet af gelaai het. Die lysie is nimmereindigend, en die messe in rûe erg tragies. Tragies? Wat sê ek tog! – ek bedoel: snaaks. Erg snaaks. Ja-nee, die parlementêre skippie gaan maar sukkel om by die hawe uit te kom, maar ten minste lyk dit of die vermaaklikheidsentrum op die HMS Westminster se Lido-dek in goeie werkende orde is.

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Marcelle Olivier. Die Driepennie-opera inderdaad”

  1. Pieter Wolmarans :

    Welkom, Marcelle! Ek hou sommer baie van jou tong-in-die-kies-benadering. Skitterend geskryf. Beslis beter as enige nuusdekking hier by ons …
    Veels geluk met nog ‘n wonderlike inisiatief, Louis & Marlise. Julle is omtrent besig om die pot te roer, nè. 🙂

  2. booswig :

    Janee, beslis welkom hier in ons doemprofetiese beriggewing van moord en doodslag op iedere voorblad, middelblad, kommentaar en agterblad waar die voorspellings vir ‘n wen deur Bafana maar dof is. Hoop een van die dagblaaie vra Marcelle vir ‘n gereelde rubriek sodat sy wyer dekking kry, sou sy dit natuurlik verlang. Netnou word sy uitgelewer as iemand wat grappies maak oor ons nasionale nar, Malema, hoewel sy naam natuurlik deur etlike ander narre vervang sou kon word. Bravo, Marcelle! Doe zo voort.

  3. Chris Coolsma :

    Haai, Marcelle, wat is dit ‘n groot genoege om jou hier te lees! Ek is jammer dit is nie ‘n gereelde rubriek in ‘n UK nuusblad, hulle kan ‘n ironiese immigrante opinie goed gebruik. Ek is ook jammer jy is nie ‘n immigrant in my moeraslandjie nie. Ons kan ‘n skerpe én humoristiese analiste goed gebruik. Oor ‘n week gly ons af na ‘n konservatiewe kabinet, hier dreig ‘n populistiese koalisie met doorgeslae angsthase en Thatcheriaanse neoliberals aan die roer. Chapeau Marcelle, ek sien uit na jou volgende blogs.

  4. marcelle olivier :

    Sommer baie dankie vir die positiewe verwelkoming! Nou wonder ek natuurlik of ek met hierdie handjievol goedgesinde Afrikaans-Nederlandse kommentare by die Mail & Guardian of The Guardian se redakteurs kan gaan bedel vir ‘n stukkie gereelde skryfwerk wat meer soetwyn, kersies en Britse-seisoen aspersies op my tafel sal sit? (Ek neem wel aan dis dalk die verkeerde seisoen om aan te bied om Malema toesprake vir hom te begin skryf, reg?) O, en laat my tog weet hoe vorder daardie Kontinentale Angs, Chris…

  5. Chris Coolsma :

    Marcelle, skryf vir ‘n jaar jou bydrae in Afrikaans, vertaal jou Afrikaanse bydrae in English, bundel daai bydrae en stap binne in die Mail & Guardian met die bundel onder jou arm. Dit sal kersies reen.
    Oor die Kontintale Angs later meer. Te kompleks vir my op hierdie moment.