Digstring: Gilbert Gibson. Another roadside attraction

 

 

 

another roadside attraction

 

die motor was ’n wit almera

ses jaar oud

met honderd en sewe

duisend kilo’s op

bande effe afgeloop

(veral regs agter)

en ’n duik in die deur.

voor het die ma gesit

die pa agter die wiel

boetie agter ma

en die babasussie

in komberse toe

die boetie het met

’n balletjie gespeel en

probeer om die headrest

voor hom raak te gooi

elke paar sekondes

’n sagte plof

ma was besig om te brei

penne klikklik terwyl sy

die speedometer uit die hoek

van die oog dophou,

die grysbroek-pa het met ’n toon

sy been wat jeuk probeer krap

baba van die dreun

aan die slaap gesus

wange te warm rooi

een van boetie se gooie

het die balletjie

by ma se bril verby laat trek

teen die truspieël vas

af tot in pa se skoot

sy oë op sy bene

neergeslaan

die hande gewar

die vingers verstyf

 

die lorrie vandeventer vervoer

ingelyf

 

© Gilbert Gibson (Uit: oogensiklopedie, 2009: Tafelberg)

 

 

 

 

 

1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan? 2. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel? 3. Hoeveel van dié vers is aan jou”gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”? 4. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdenings beginsel toegepas? 5. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as”klankbord” gebruik het terwyl jy aan ‘n vers gewerk het? 6. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy gepubliseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn? 7. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers? 8. Is dit ‘n narratiewe vers? 9. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel? 10. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaaldeinvloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het? 11. Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?12. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte? 13. Is daar iets in dié verswat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou? 14. Kon jy dié vers tot ‘nbevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak? 15. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (ofpublikasie) daarvan? 16. Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

 

 

 

Die gedig geskryf in Junie 2008, een aand om en by ses uur, net voordat ek huis toe gegaan het: só rapporteer Windows se lêer-inligting. Dit was vir ’n uitstalling wat Bernard Odendaal en Ben Bothma in Bloemfontein wou hou waarin digters en beeldende kunstenaars mekaar (in teorie altans) kreatief ontmoet. (Kyk: http://versindaba.co.za/2009/07/09/uit-die-palm-van-die-land/). Ek sien in en om my werk dikwels die gevolge van motorongelukke, en was poëties gerat om iets rondom hierdie spesifieke tema doen. Die keuse van die motor wat in die ongeluk sou wees, was lukraak. ‘Almera’ klink die mooiste.

 

 

Die gedig het homself geskryf en vinnig tot finaliteit gevorder, sover ek onthou. Oorlede Izak de Villiers het ’n vroeë vorm elektronies gelees, maar niks daaroor gesê nie. Ek dink hy het nie baie daarvan gehou nie.

Die lyn tussen feit en fiksie is hier, soos in baie ander verse, maar vaag.  Daar het sekerlik nie ’n insident presies soos hierdie gebeur nie, maar dit sou kon. Daarom is dit heilige, en absolute, waarheid. In my kop vind hierdie ongeluk plaas iewers naby Malmesbury in die Kaap.

 

 

 

As agtergrond seker JG Ballard se verhaal Crash, ‘n literêre ontleding van motorongelukke (verfilm deur Harley Cokliss)

 

 

– dié een en dieselfde Ballard wat in die 1980’s beïndruk met Empire of the Sun.

 

 

 

Die titel van die vers natuurlik Thomas Eugene Tom Robbins se Another Roadside Attraction, Balantine, New York (1971). (Kyk:  http://aftrlife23.appspot.com/)

 

Ek wou dit lank another fatal roadside attraction noem, maar het dit later (bes moontlik onder druk van my redakteur, Francois Smith), net another roadside attration genoem. Die vers handel in wese en voor-die-hand-liggend (uit die palm van die land) oor ’n gesin per motor na ’n onbekende bestemming.  Almal is besig met hulle eie dinge – om dié rede is daar reeds afstand by mense wat op die oog af naby aan mekaar is.  Die vers gaan oor hierdie mense, oor hierdie afstand, en eindig waar hulle in ’n (noodlottige?) ongeluk kom, waar die baba wat slap in die komberse lê, styf word. Ek probeer in die gedig die gevoel van dreigende onheil wek: ‘n angor animi, daardie simptoom van impending doom wat pasiënte soms kry – die absolute geloof dat hy of sy gaan sterf – soos dikwels by miokard-infarksie, pulmonale embolisme, of angsversteurings met paniekaanvalle.

 

Ek het geen spesiale leser of gehoor in gedagte gehad nie.

 

Daar is belangrike/ onbelangrike ooreenkomste met ander van my verse – miskien die opeenstapeling van beelde wat dan lei tot oënskynlike oplossing. Ek het die vers so bevredigend geskryf soos wat ek dink ek kon.  Die grys langbroek van die pa kom van poliëster klere van ouers jare terug.

 

 

As kind het die tannies van Suid-Afrika gebrei.

 

 

Maar in die vers het die wit smallfamilycarbuiltbynissan finaal tot stilstand gekom. Sê William Carlos Williams ‘To Elsie’ (1923):

 

while the imagination strains

after deer

going by fields of goldenrod in

 

the stifling heart of September

somehow

it seems to destroy us

 

It is only in isolate flecks that

something

is given off

 

No one

to witness

and adjust, not one to drive the car

 

Die eerste vers wat ek ooit geskryf het, onthou ek gelukkig nie. Ek is daarvan oortuig dit sou swaar dra aan die liefde; dat woorde soos sag, leeg en reën daarin figureer het.  Die skrywe daarvan sou maklik gekom het.

 

Vandag egter, is die skrywe moeiliker.  Dit gaan meer langsaam, die drif is minder, en uiteindelike ontknoping bly ontsnap. Ek gebruik net soms ’n klankbord vir ’n komende gedig, soos wanneer ek by die huis iets uit die bloute opsê of aanhaal wat dikwels die res van my gesin verstom met die ontoepaslikheid daarvan.

 

2008 se winter http://www.wmo.int/pages/index_en.html was ’n koue seisoen. Nie droog nie. Nie wit nie.

 

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en skryf matriek aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer medisyne aan die Universiteit van die OVS en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou.

Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool was. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg met  die digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg.

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.