Willem Fransman blog binnekort
Willem Fransman jr. skryf in feitlik elke genre en is al beskryf as ’n Renaissance-man. In 1997 is hy die eerste wenner van die RSG/Sanlam radiodrama-kompetisie met Om te bedel is ’n kuns. Ander opdrag-radiodramas is Die belofte in ’n skilpaddop (die verhaal van Sarah Baartman in die vreemde) en Martelaar van Calvinia (verhaal van die bruin versetleier, Abraham Esau, gedurende die Anglo-Boereoorlog.) Die volgende dramas uit sy pen is al by kunstefeeste opgevoer: Om te bedel is ’n kuns (1999), Die mense van Langesaan (2000), Leipoldt soos nog nooit vantevore (2004-opdragwerk), Ma se melk (2005) en Paljas van Dirk Ligter (2006-opdragwerk). Fransman is ook ’n grafiese kunstenaar, rubriekskrywer vir Die Burger en Kaap Rapport, kortverhaalskrywer, digter en storieverteller. Hy was ’n stigterslid en gewese nasionale voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.





