Andries Bezuidenhout. Rubrieke, rockers, digters en sulke goed

Gisteraand saam met Diff-olie by Steak & Ale gegig. Dis Stiaan van der Walt se band, van die dae voor Afrikaanse rockvideos op MK uitgesaai is. Dís hoe vinnig dinge verander. Deesdae is daar seker meer as ʼn honderd Afrikaanse rock bands. Maar in 2001, toe Pieter Redelinghuys die “nuwe revolusie” in Afrikaanse rock in ʼn artikel in Insig bespreek het, was daar maar ʼn handjievol wat hy as voorbeelde kon noem. Diff-olie was een van hulle. Hulle het intussen opgebreek, maar gisteraand weer hulle byle uitgehaal vir ʼn reünie. Hulle het lank gelede saam met ons in die Abelarde Sanction in Brixton gespeel. Ook ‘n slag by Carfax in Newtown.

So van Brixton gepraat; kom nou die dag op ʼn vreemde cover van The Clash se “Guns of Brixton” af – deur Calexico. Luister gerus hier. Ek dink ek hou daarvan omdat dit so NIE Londen is nie, maar Deep South – op die grens tussen die VSA en Meksiko.

Dis vreemd hoe intens mense kan reageer oor die hele kwessie van digters as rocksterre, ʼn beeld wat meestal heel tong-in-die-kies gebruik word. Ek dink Antjie Krog is die eerste persoon wat die frase “die digter as rock-ster” gebruik het, in haar N.P. van Wyk Louw-gedenklesing in 2004 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. In daardie tyd was daar reeds samewerking tussen musikante en digters – soos daar met musiek en liriek in die sewentigs was en met Voëlvry in die tagtigs. Maar die samewerking, meestal in ondergrondse kroeë, het nie juis die media se aandag getrek nie. Eers in 2008, toe ʼn kombinasie van musiek en digkuns by plekke soos Aardklop verskyn, het die hoofstroommedia notisie begin neem; sien byvoorbeeld hierdie artikel deur Kirby van der Merwe.

Vreemd genoeg het die aandag wat poësie in die hoofstroommedia begin geniet het, tot ʼn teenreaksie gelei. So, byvoorbeeld, vaar Maritha Snyman uit teen die aandag wat digterlike debatte in koerante geniet: “Waarheen gaan ons met die sogenaamde literêre kussinggeveg? Soos ek dit het, is al die Afrikaanse dag- en weekblaaie gemik op die gemiddelde Afrikaanse leser. Tog is onder meer By die afgelope paar weke oorgeneem en opgeneem deur ‘n gesprek oor die meriete van ‘n resensie oor ‘n digbundel… Dít terwyl ons weet dat hoogstens 300 eksemplare van digbundels verkoop… Dié diskoers oor poësie raak dus ‘n totaal onbeduidende deel van die geteikende leserspubliek.” (Ek haal nou slegs die kontroversiële deel aan. Snyman se argument is dat lesers ernstige letterkunde begin lees as hulle op ʼn minder intimiderende wyse aan boeke bekendgestel word. Lees die hele artikel hier.)

Nietemin, in reaksie hierop het ek toe by digtervriende uitgevind hoeveel digbundels hulle verkoop en besef dat dit meestal baie meer as die genoemde 300 eksemplare is. In die proses het ek ook weer onder die indruk van die feit gekom dat verkope nie noodwendig as maatstaf vir kwaliteit gebruik kan word nie (iets wat ek as nie-hoofstroom musikant lankal in die oë moes staar, MK se videos het net soveel namaaksels veroorsaak as wat dit ‘n ruimte vir oorspronklike musiek geskep het). Ek skryf toe ʼn tipe spoof op die idee van hoe dit sal wees as digters rocksterre was. Lees dit hier.

Stephanie Nieuwoudt het die rubriek toe met ʼn artikel opgevolg – oor digbundelverkope en die gewildheid van poësie. Lees dit hier. Die artikel is eers lank na dit geskryf is gepubliseer, met Loftus Marais se gedig oor “Die digter as rockstar” seker die belangrikste toevoeging tot die gesprek wat nie in die artikel genoem is nie. Jaco Barnard-Naudé het weer hierop gereageer. Lees dit hier. Met die meeste van sy argumente stem ek saam, alhoewel ek voel dat hy my so effe as ʼn strooipop opgestel het om te karnuffel.

Ek tree binnekort uit as rubriekskrywer by Rapport. Ek dink ek het een of ander tyd in 2005 met die rubrieke begin en ek is bly ek gaan ʼn ruskans gegun word. Om elke tweede week met iets oorspronkliks vorendag te kom is nie maklik nie. Soms tref jy die kol. Meestal mis ʼn mens die teiken of die punt heeltemal. Hier is een van my laaste rubrieke dus, oor hierdie onderwerp wat nou al van verskillende kante bekyk is: Die digter as rockster. Al verskil is dat dit nou so half andersom begin werk: Die rockster as digter:

“Waar en wie is die nuwe jong digters?” vra Antjie Krog ‘n paar jaar gelede. “Poësie is die barometer van ‘n taal se welstand. Te oordeel na wat gepubliseer word, belewe Afrikaans ‘n noodtoestand. So wat gaan aan?” vra sy. Toe sy jonk was, wou almal digters wees. Deesdae wil hulle rocksterre word. Wat het dan verander?

Sy skryf: “My teorie is dat jong wit mense op alle plekke gekontesteer en betwis voel?… My vermoede is dat die jong mense instinktief aangevoel het: bly weg van al die dinge waaroor Afrikaners in hoofletters dink: Politiek, Rugby, Digter. Soek ‘n plek wat hulle niks van weet nie, waar hulle onwelriekende verlede jou nie sal opspoor nie. Soek ‘n plek waar ek hoegenaamd nie contested is nie – aangesien oumense nie die internet verstaan en digiote is, aangesien coloured uitwyk na hip-hop, rap en gospel toe, wyk ons uit na litnet, rock en punk toe.”

Dis vreemd hoe vinnig dinge kan verander. Destyds in 2004, toe Antjie Krog haar toespraak geskryf het, was daar maar min nuwe digters wat in Afrikaans gepubliseer het. Almal was egter opgewonde oor wat in rockmusiek gebeur het. Daar was Karen Zoid en Fokofpolisiekar. Kort daarna het Jan Blohm ook op die toneel verskyn.

Miskien is dit tyd, ses jaar nadat Antjie Krog ‘n hele bohaai met haar toespraak veroorsaak het, om weer na haar argument te kyk. Daar het sedertdien ‘n groot verskuiwing plaasgevind. In plaas van digters wat rocksterre wil word, lyk dit my, wil die rocksterre nou digters word. Laat ek probeer verduidelik.

Deesdae word daar ‘n hele aantal debuutbundels per jaar gepubliseer. Hulle verkoop goed en wen pryse. Dink maar aan Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Johannes Prins. En dan is daar onlangse debutante wat reeds tweede bundels publiseer, soos Danie Marais en Carina Stander. Die pasgepubliseerde Nuwe stemme 4-bundel, wat ‘n geleentheid aan nuwe digters gee om gehoor te word, kry ‘n rave review van Joan Hambidge.

Dis ook baie interessant hoe hierdie digters met musiek praat. Loftus Marais skryf ‘n wilde gedig oor die digter as rockstar, wat “woorde trash in hotelkamers”. Ronelda Kamfer praat met Tupac Shakur en Radiohead in haar gedigte. Danie Marais weef lirieke in as deel van baie van sy gedigte.

Dit lyk vir my asof die digters met die rockers in gesprek tree.

Maar iets anders het ook begin gebeur. Ewe skielik begin die rockers hul lyf digter hou. Fokofpolisiekar besluit om hul lirieke as ‘n bundel te publiseer. En in die reeds genoemde Nuwe stemme 4-bundel maak Hunter Kennedy, die liriekskrywer van Fokofpolisiekar, sy buiging as digter.

Is die rede dalk dat rockmusiek besig is om vervelig te word? Waar is die nuwe klanke? Dit voel vir my asof te veel van die Afrikaanse rock bands soos Fokofpolisiekar probeer klink en nie ‘n eie klank ontwikkel nie.

Al werklik nuwe klanke kom op die oomblik van mense soos Die Antwoord en Jack Parow, wat in elk geval hip-hop doen, nie rock nie. So daardie ding van hip-hop as “coloured” en rock as “wit” is ook besig om te vervaag.

Destyds, in 2004, wou Antjie Krog weet of Afrikaanse digters kan skryf oor “stadsheid, ongeankerdheid, enorme bereidheid om te akkommodeer, renons in issues, abandonment, dwelms, vigs, die internet.”

Wel, in 2010 lyk dit asof daardie kwessies sentraal staan tot die digkuns. Stemme wat voorheen van die kantlyn af moes praat, is nou die hoofstroom – gay, bruin, emigrant.

As taal se welstand aan die poësie gemeet word, lyk dit vir my daar is in 2010 glad nie meer sprake van ‘n noodtoestand nie.

Dis so amper asof jong digters van iewers, uit donker hoeke te voorskyn getree het om Antjie Krog te beantwoord.

Bron:

Antjie Krog. “Die beautiful woorde van Van Wyk Louw.” In: Willie Burger (red.) Die oop gesprek: N.P. van Wyk Louw-gedenklesings (Lapa, 2006), pp. 447-464.

Lees ook Annie Klopper se studie van Fokofpolisiekar se lirieke.

My oorspronklike rubriek is hier.

Foto uit 2001, deur Sally Shorkend vir Insig (RIP)

Foto uit 2001, deur Sally Shorkend vir Insig (RIP)

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Rubrieke, rockers, digters en sulke goed”

  1. Het rofweg dieselfde kommentaar by die Rapport-rubriek ook gelos

    Ek is nie seker of ‘n mens die aanspraak kan maak dat ‘rockers nou digters wil word’ en dit dan bloot staaf met verwysing na Fokofpolisiekar en Hunter Kennedy nie. Afrikaanse rock is wragtig darem al lankal veel meer as net hulle, nie waar nie?

    Wie is die ander rockers wat ook wil dig?

  2. Andries Bezuidenhout :

    Johan Swarts bv?

  3. Waar kan ek my CD koop? 😉

  4. Andries Bezuidenhout :

    Johan, ek het maar gedink iemand wat met ‘n kitaar-amp in sy katterbak rondry moet ‘n rocker wees (en die foto, natuurlik). Ek antwoord later in meer detail.
    A

  5. Lewies Botha :

    Ek wil rock & roll, los maar die rympies rym gee vir my ‘n liriek vir ‘n super hit.

  6. Andries Bezuidenhout :

    Johan, my antwoord:
    Ek dink ook nie ‘n mens moet Hunter en sy bands (al die nuwe off shoots) se invloed onderskat nie. Alhoewel hulle beslis nie al is wat daar is nie, was daar lanklaas ‘n dampkring wat so wyd en met soveel invloed uitgekring het. Dalk juis omdat hulle aanvanklik die hele tradisie Afrikaanse rock voor hulle geïgnoreer het.
    Oor wie die rockers is wat wil dig verwys ek jou maar na Bernard Odendaal se blog: http://versindaba.co.za/2010/04/17/afrikaanse-digkunsontwikkelinge-die-afgelope-dekade/
    Ek dink nie dis wys om van my rockervriende se digterlike ambisies hier te out nie. Laat hulle dit self doen as die tyd reg is. Laat ek iets wat ‘n ander Hunter gesê het, Hunter S. Thompson, aanhaal, al is dit nou ‘n bietjie geyk: “The music business is a cruel and shallow money trench, a long plastic hallway where thieves and pimps run free, and good men die like dogs. There’s also a negative side.” Wel, die Afrikaanse digkuns scene is amper so goed. Ek weet nie of rockers (ek daarby ingesluit) die balls het daarvoor nie, as ek ‘n seksistiese beeld mag gebruik.
    Lewies, shots en dankie vir jou blog in reaksie.
    Groete
    Andries

  7. Ek dink ons stem meer met mekaar saam as wat dalk met die oogopslag blyk.

    I think this merits a blog post. Dankie 🙂

  8. Pierre :

    waar kan ons download,’n demo mp3 dalk?

  9. Marlise :

    Andries waar is hierdie Steak & Ale?

  10. Andries Bezuidenhout :

    Marlise, dis in Bothalaan in Lyttelton, langs die treinspoor in een van daardie voorstedelike strip malls met ‘n swop shop en ‘n kafee. Die eienaar is Sheila Concussions van Oopmond-faam. Ons doen binnekort (19 Junie) weer ‘n gedigte-musiek-ding daar, met onder andere Yabadaka (van “My ousie is ‘n blom”), Piet Botha (op musiek), Black Cat Bones (ook op musiek), Kabous Verwoed, Niel v Deventer, Ronel Nel, iemand met die naam Abjater Ronkedoor en baie ander. Ek sal die Indaba op hoogte hou.
    A