Digstring: Ronelda S. Kamfer. Stof

Digstring

 

 stof   

die aanklag kantoor het geruik na stof

die juffrou wat my gebring het se kar het ook so geruik –

stof

die hoof se kantoor

die maatskaplike werker met die sweterige hande

die pastorie

die verbeteringskool se siekeboeg

alles het na stof geruik

maar die aanklagkantoor se stof was anders

dit het geruik soos stof wat kleintjies gekry het

en almal het gevrek

die polisieman wat net verklarings doen

het nie in my oë gekyk nie.

hy’t gesê dat ek hom enigiets kan vra

toe vra ek hom wat hy van stof dink?

stof?

het hy gevra

ja, stof, het ek sy oë gekry

hy kyk my toe stip en sê

dat hy nie regtig aan stof dink nie

ek sê toe dat ek altyd aan stof dink

dat stof oral is dat stof groot geheime ken

dat ek sommige dae stof soek dat ek weet dat stof ruik

dat stof die dood beteken en dat ek wens ek was stof

 

ek het hom vertel dat stof nie tot stof kan gaan nie

maar mens kan tot stof gaan

het hy vinnig bygevoeg

ja, wys jou net hoe nikswerd mens is

 

wat nooit eens aan stof dink nie

 

© Ronelda Kamfer (Uit: Noudat slapende honde, 2008: Kwela Boeke)

 

 

Wanneer het jy die gedig geskryf, Ronelda. Hoe het dit ontstaan?

Stof“‘ is een van die gedigte wat ek as tiener geskryf het, ek was sewentien. Ek het nooit geskryf met die doel vir publikasie nie, maar na Nuwe Stemme 3, het ek terug gegaan na my dagboeke, skoolboeke, note pads, voorgeskrewe handboeke, skoolboeke se agterblaaie, oral gaan soek vir enigiets wat soos ‘n gedig klink. ‘Stof’, was in agter in my Aardrykskunde-boek geskryf. My skool, Eersterivier Sekondêr, is naby ‘n verbeteringskool geleë, ‘n paar van die ‘reformed’ meisies was in my klas. Dis die konneksie en ontstaan.

Kon jy die bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit is een van die gedigte wat ek met die eerste keer eenkeer kon skryf.

Hoeveel van die vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Ek probeer so min as moontlik wroeg en sweet. Ek het die vers redelik maklik geskryf. 

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek was baie jonk en wou net vreeslik besig lyk in my Aardklas.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ʼn vers werk?

Niemand het regtig geweet ek skryf nie, ek het dit self nie geweet nie. Ek wys nie regtig een vers vir mense nie. My suster Allisen was glad nie lief vir lees nie en om haar te martel moes sy my goed lees.  Na Nuwe Stemme 3 het ek en Danie Marais goeie vriende geword en hy het altyd alles eerste gelees, deesdae is dit ‘n kombinasie van vriende en dosente.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

2007, in die Nederlandse publikasie Bunker Hill, 8 jaar na ek dit geskryf het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in die vers?

Daar is altyd ‘n bietjie feit in my fiksie.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ag, i guess, ek wou die hele onsigbaarheidsgevoel wat tieners ervaar vasvang, so vir my gaan dit daaroor.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ʼn bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nee, nie vir die vers nie.

Het jy ʼn bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ʼn vers werk?

Nie terwyl ek skryf nie, ek dink nie ek sou kon skryf as ek aan die leser moes dink nie, baie selfsugtig, dink net aan my self.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek weet nie, ek vergelyk nie verse teenmekaar nie, ek kan nog nie, moontlik as ek ouer is sal ek verskille kan sien.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Eish, dis Afrikaans, wat is nou meer tipies as dit?

Kon jy dié vers tot ʼn bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Ek dink ek het, ek is nooit heeltemal tevrede met wat ek skryf nie, maar ek probeer.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, baie, en verbaas. Dit is een van die verse in die bundel Noudat Slapende Honde wat ek nog net goeie terugvoer ontvang het.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja, dit was vir graad 11 Engels en ons moes ‘n gedig oor LOVE skryf. Ek het ‘n sonnet geskryf, wat my onderwyser, Mr. Wayne Erasmus, hardop vir die klas gelees het. Ek het dit nog steeds maar niemand het nodig om dit te sien nie. Ek was sestien, het gehou van Shakespeare en my gunsteling song was Semisonic se ‘closing time’. Ek vat dit saam graf toe.

 

Ronelda Kamfer

Ronelda Kamfer

Ronelda S. Kamfer is in 1981 in Kaapstad gebore. Sy bring haar grootwordjare in Blackheath en Grabouw deur. Sy matrikuleer in 1999 aan Eersterivier Sekondêre Skool. Sy was al verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ‘n bemarkingsmaatskappy. Van haar gedigte verskyn in Nuwe Stemme 3, My ousie is ‘n blom en Bunker Hill. Haar debuutbundel, Noudat slapende honde verskyn in 2008 by Kwela. Die bundel is 2009 bekroon met die Eugène Marais-prys.

 

 

 Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.