Digstring: Daniel Hugo. Ontnugterde digter

Digstring

 Ontnugterde digter 

dít het hy geglo op vyf-en-twintig:

jy moet al die oseane bevaar

as jy gesout en wêreldwys wil dig

met ‘n bottel het hy die boot beman

en ‘n dekade lank hom dol gedra

toe tussen dek en kaai oorboord gegaan

op vyf-en-twintig – na baie skande –

weet hy jy kan die ryme ook takel

teen die kimme van jou kamerwande

hy wens hy kon die reis van voor begin

dan sou hy beslis uit die pekel bly

deur ‘n skip in die bottel te versin

© Daniel Hugo (Uit: Dooiemansdeur, 1991: Tafelberg)

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Daniel? Hoe het dit ontstaan?

Die gedig staan in die bundel Dooiemansdeur wat in 1991 verskyn het. Ek het in 1990 vanuit Bloemfontein na Kaapstad verhuis en ek vermoed die gedig is in Kaapstad geskryf, gesien die teenwoordigheid van die see in die vers. (In Bloemfontein is daar wel ‘n Naval Hill, maar ek het nooit die branders daar hoor breek nie.) Ek sien nou dat die spreker in die gedig – word daar nog gepraat van die “liriese subjek”? – sê dat hy vyf-en-dertig jaar oud is. Aangesien ek in 1955 gebore is, moes die gedig dus wel deeglik in 1990 geskryf gewees het. Skaamteloos vereenselwig ek dus hier die liriese subjek met die prosaïese skrywer.

Van die ontstaansgebeure onthou ek niks, maar dit was klaarblyklik ‘n reaksie op D.J. Opperman se bekende gedig “Digter” wat handel oor ‘n krygsgevangene wat tydens die Anglo-Boereoorlog na Ceylon (vandag Sri Lanka) verban is en die tyd verdryf deur skippies in bottels te bou. Opperman se gedig lyk so:

Ek is gevang

en met die stryd

êrens in die ewigheid

op ‘n Ceylon verban

waar al my drange

na ‘n verlore vaderland

my dag na dag geëiland

hou met horisonne en verlange,

en in die geel gloed van die kers

snags deur die smal poort

van die wonder elke woord

laat skik tot klein stellasies vers

wat groei tot boeg en mas

en takelwerk – en die uiteindelike

reis met die klein skip

geslote agter glas.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek skryf ‘n gedig selde “in einem Guss” soos die Duitsers sê. Daar is waarskynlik baie gewik en geweeg, geskaaf, gewanhoop en gekarring. Dié gekarring behels onder meer rymwoorde vind vir die vier tersines waaruit die gedig bestaan en bloedsweet om elke reël presies tien lettergrepe lank te kry. (Ek is veral trots op die ryme “skande” / “kamerwande”. Daar is natuurlik ook bewuste alliterasie, soos: bottel, boot; dekade, dol; kimme, kamerwande. Verder is daar die woordspel “dekade” / “dek en kade” en die verletterliking van die idioom “in die pekel wees”, d.w.s in die moeilikheid wees, as “in die sout water of seewater beland”.)

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die gegewe was die Opperman-gedig wat ek al sedert my universiteitsjare ken. Die res was waarskynlik “wroeg en sweet”, ja.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die ordeningsbeginsel was klaarblyklik die vaste strofevorm, rymskema en reëllengte. Verder beskryf die gedig inhoudelik ‘n tydsverloop in die lewe van die “hy” (wat inderwaarheid “ek” is): van vyf-en-twintig tot vyf-en-dertig – dit wil sê van 1980 tot 1990, my Bloemfonteinse jare.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee, ek wag tot ‘n vers myns insiens afgerond is voordat ek dit vir iemand wys of voorlees. Die afgelope dekade is dit my vrou Carina wat ‘n byna feillose oordeel het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die vers is in ‘n groot mate feitelik outobiografies, maar in ‘n verdigte, intensiewe, gemetaforiseerde mate. Op geen ander manier kan tien jaar se lewenservaring in 120 lettergrepe vertel word nie.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan oor ‘n jong digter wat glo dat hy soveel as moontlik in die lewe moet ervaar voordat hy “diepsinnige” en “wyse” gedigte sal kan skryf, soos sy rolmodel D.J. Opperman (strofe 1). Hy het toe met die hulp van alkohol vir tien jaar lank losgebreek uit sy Calvinistiese pastorie-agtergrond. Ten slotte het hy te ver gegaan in sy bevrydingspoging (strofe 2, hoewel die godsdienstige repressie nie hier genoem word nie.) Dit was algemeen bekend dat sy idool Opperman ‘n alkoholis was. Opperman se laaste voltooide bundel handel juis oor iemand (hyself) wat in komas versink het weens ‘n alkohol-vergiftigde lewer. Die jong digter besef uiteindelik dat hy ook goeie gedigte sal kan skryf as hy hom doodgewoon huislik en burgerlik gedra (strofe 3). Soos Opperman se banneling sal hy voortaan by wyse van spreke ‘n skippie in die bottel bou, in plaas van “al die oseane” te wil bevaar (strofe 4). Inderwaarheid volg hy dus Opperman se “voorskrif” vir digterwees noukeuriger as wat die biografiese, werklike Opperman dit self gedoen het.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

In hierdie geval beslis ‘n leser wat die klassieke Afrikaanse digkuns ken. In ander gevalle lesers wat weet hoe die logika van ‘n gedig, en in besonder ‘n vernufsvers, werk.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Nee, ek dink dit is ‘n tipiese gedig.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, die intertekstuele verwysing na Opperman.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is tevrede.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Daar is ‘n gepubliseerde interpretasie van Carina van der Walt waarmee ek dit uiters oneens is. Andersins is ek in my skik dat dié gedig opgeneem is in ‘n paar bloemlesings.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was ‘n natuurgedig oor die aandson op die Erosberge suid van Windhoek. My slaapkamervenster het ‘n pragtige uitsig daarop gebied. Ek moes so vyftien jaar oud gewees het, en die gedig gaan so:

            Die aandson kleur die berge pers

            en in my styg hierdie vers.

Daardie vers is nog steeds aan die styg in my. Ek wag geduldig.

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ‘n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK word hy ‘n vryskut-taalpraktisyn. Tans werk hy as vertaler & redigeerder by Protea Boekhuis.

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Digstring: Daniel Hugo. Ontnugterde digter”

  1. Joan Hambidge :

    Vintage Hugo! Ek het nog altyd Daniel Hugo se tegniese vernuf bewonder.

  2. Bernard Odendaal :

    “Vernuf” sit volgepak met betekenis in hierdie verband. Ook die Duitse “Vernunft” (rede, verstand) speel mee m.b.t. die gedigstrekking.

  3. Pieter Hugo :

    ‘N CLERIHEW VIR DANIEL

    Die beroemde digter, Daniel Hugo,
    Wat ewe lustig aan wyn en woorde proe,
    Is, volgens die kerk, ‘n ongelooflike ketter,
    Maar tog verkondig hy die liefde in “Die Twaalfde Letter”.

    Hiermee, broer Daniel, my vernufmentor, ‘n stukkie kleinvernuf wat plesierig eggo wat jy sê in “Ontnugterde digter”.

  4. Daniel Hugo :

    Dankie, broer. Jy is goed geleer!

  5. Evgeny Artemov :

    Dankie, Daniel
    Ek wens net ek het dit as mp3 gehad.:)