Daniel Hugo. Die wording van ‘n vertaler

Daniel Hugo: Die wording van ‘n vertaler

 

The Low Countries

The Low Countries

Hierdie essay word geplaas met die vriendelike vergunning van The Low Countries wat met hul nuutste uitgawe (2010/18) ‘n spesifieke fokus op Suid-Afrika bevat. Hul kontakbesonderhede volg hieronder:

The Low Countries. Arts and Society in Flanders and the Netherlands (2010, nr.18)

is a yearbook which aims to inform the English-speaking world about

the culture of Flanders and the Netherlands.

 

PUBLISHER

Flemish-Netherlands Association ‘Ons Erfdeel vzw’

Murissonstraat 260, B-8930 Rekkem, Belgium

Tel. +32 56 41 12 01 – Fax +32 56 41 47 07

www.onserfdeel.be and www.onserfdeel.nl

thelowcountriesblog.onserfdeel.be

tlc@onserfdeel.be

 

Price South Africa:  € 45

inclusive of shipping costs (+ € 22.39 for payments by cheque).

 

 

In my ouerhuis het ‘n geraamde spreuk gehang. Op swart satyn in goud geborduur het daar gestaan: “Gezelligheid kent geen tijd”. Dit was ‘n geskenk uit Nederland van my pa se broer wat in die vyftigerjare klassieke tale aan die Universiteit van Utrecht gestudeer het. Dit was my heel eerste kennismaking met Nederlands. Al kon ek die betekenis onmiddellik snap, was die spelling, die grammatika en die lewenshouding van dié swierige woorde vir my vreemd.

In Afrikaans sou dié spreuk só klink: “Geselligheid ken nie tyd nie”, of idiomatieser: “Geselligheid steur hom nie aan tyd nie”. Maar met die Afrikaanse dubbele negatief gaan die bondige trefkrag van dié rymende spreuk verlore. Dat hierdie einste dubbele negatief my jare later as vertaler dikwels ‘n skeelhoofpyn sou besorg, kon ek tóé natuurlik nie weet nie. En wat daardie so kernagtig geformuleerde lewenshouding betref: In die geroetineerde, Gereformeerde pastorie waarin ek grootgeword het, was daar beslis nie veel tyd vir geselligheid nie. Baie jare later eers sou ek besef dat hierdie spreuk sy oorsprong heel waarskynlik in die gemoedelike, Katolieke suide van die Lae Lande moes gehad het, eerder as in die Calvinistiese, strenge noorde. Ek weet dat ek my hier aan ongeoorloofde stereotipering skuldig maak, soos later sal blyk.

My eerste bewuste kennismaking met die Nederlandse literatuur was in die jaar 1964. Ek was toe nege jaar oud en die boek was die Afrikaanse vertaling van die Vlaamse skrywer Leopold Vermeiren se Die Rooi Ridder. Dit begin só: “Die silwer klanke van die trompette sny deur die môrelug. Die swaar valbrug word neergelaat oor die breë kasteelgrag, en die jong Oerold, groot en sterk, ry op sy pikswart perd deur die poort. Hy hou ‘n oomblik die teuels in. In die ooste lê die son nog jonk en rooi, suidwaarts strek die vrugbare lae polderland, en in die weste, anderkant die rivier wat die hele laagland in twee sny, lê die geweldige groot Dagonwoud.” Dae lank het dié adjektiefryke Middeleeuse wêreld my geboei – dáár in die afgeleë, snikhete, droë Namibië waar ons gewoon het. Per kerende pos het ek aangesluit by die “Orde van die Rooi Ridder”. Dié ridder was die skrik van die wrede kasteelhere, maar die vriend en beskermer van die armes. Ek het ook die res van die reeks verslind, met my lapelwapentjie (‘n eiketakkie met drie akkers) trots op my bors vasgesteek. Totdat die reeks abrup en sonder verduideliking in die middel van die Rooi Ridder se avonture as Kruisvaarder onderbreek is.

In die “Ou Suid-Afrika”, waarvan Namibië (destyds Suidwes-Afrika) deel uitgemaak het,  moes hoërskoolleerlinge ‘n Nederlandse boek lees as deel van die vak Afrikaans. Ons voorgeskrewe boek in die vroeë sewentigerjare was Aart van der Leeuw se De kleine Rudolf. Van die verhaal onthou ek byna niks meer nie. Veel Nederlands het dit my ook nie geleer nie, omdat ons onderwyser die boek al voorlesende in Afrikaans vertaal het. Die literatuurhistorikus G.P.M. Knuvelder slaan die styl van hierdie boek nogal hoog aan: “… onder de pen van deze auteur gaat ook de taal bloeien, krijgen de woorden klank en kleur, dragen de zinnen zich voort op een bekoorlijk ritme”. Van dié klank, kleur en ritme het ons uiteraard niks gemerk nie. Die onderwyser het nooit ‘n woordeboek geraadpleeg nie, en was sekerlik ook onbewus van die tallose valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands. Ek is heeltemal daarvan oortuig dat hy op dié manier ‘n alternatiewe verhaal geskep het. Vandag sou ‘n mens dit seker ‘n postmodernistiese leesstrategie kon noem.  

Dit was eers aan die Universiteit van Stellenbosch dat ek werklik met die Nederlandse letterkunde kennis gemaak het – in lesings aangebied deur professore wat in Nederland gestudeer het in die dae van onbelemmerde kulturele uitwisseling. Die bekendste van hulle was ongetwyfeld prof. W.E.G. Louw, die digter en broer van N.P. van Wyk Louw. Hy het vanaf 1935 tot 1939 aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer en het perfekte Nederlands gepraat. Hy kon ook gedrae en roerend voordra uit Gorter, Leopold, Achterberg en Nijhoff.  

Ondanks die offisiële opskorting van die kulturele betrekkinge tussen België en Suid-Afrika is ek toegelaat om in 1983 aan die Katholieke Universiteit van Leuven te studeer. Ek was destyds ‘n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, en daar het ‘n informele skakeling tussen die twee universiteite bestaan. Ek het klas geloop by onder andere Hendrik van Gorp en Hugo Brems. En in die universiteitsbiblioteek kon ek al die boeke vind wat destyds in Suid-Afrika verbied was! Dit was vir my ‘n openbaring en ‘n opvoeding. Vir die eerste keer het ek besef presies hóé onderdrukkend en onmenslik die apartheidsregering was. Ek het toe ook besef dat ‘n kulturele boikot ewe nadelig is as die sensuur van ‘n diktatuur. Albei hou mense onkundig. Ek sal die Universiteit van Leuven altyd dankbaar bly dat ek gedurende die hoogty van apartheid daar kon studeer.

Een van die hoogtepunte vir my daardie jaar was die Antwerpse Boekebeurs, “Het andere boek”, waar ek die pas vrygelate Breyten Breytenbach in ‘n vraaggesprek sien optree het. (Breytenbach is die voorafgaande sewe jaar in gevangenisse in Suid-Afrika aangehou weens beweerde “terroristiese bedrywighede”.) Die gespreksleier was die digter en joernalis Herman de Coninck. By dieselfde boekebeurs het ‘n baie jong, bekkige en rebelse Tom Lanoye sy gedigte “perform”.

Nooit het ek tóé kon dink dat ek twaalf jaar later Herman de Coninck én Tom Lanoye in Afrikaans sou vertaal nie. Ná hierdie twee Vlaminge het ek ook die Nederlanders Herman van Veen, Harry Mulisch, Gerrit Komrij en Karel Glastra Van Loon vertaal. En ter wille van die Noord-Suid-balans toe weer ‘n Vlaming: David van Reybrouck. Met die uitsondering van Mulisch het al dié skrywers Suid-Afrika met die bekendstelling van die vertalings besoek, en sodoende die kwynende vlammetjie van Nederlands in “donker Afrika” brandend help hou.

“Gezelligheid kent geen tijd” sê die Nederlandse spreuk. En ná my jaarlange studieverblyf in Leuven was ek daarvan oortuig dat hierdie lewensmotto sy oorsprong in nonchalante, gemoedelike Vlaandere gehad het. Maar hoe misleidend stereotipering kan wees, het ek ook in Vlaandere uitgevind. ‘n Paar jaar gelede woon ek ‘n vertalerswerkswinkel by wat deur die Nederlandse Taalunie georganiseer is en wat in Nederland én België plaasgevind het. In ‘n lesing oor die kultuurverskille tussen Noord en Suid beweer die spreker dat Nederlanders absolute stiptelikheid van ‘n mens verwag. Maar as jy in Vlaandere na iemand se huis genooi word en jy klop betyds aan, is die huismense heeltemal onkant betrap. Die gasheer het dan nog sy pantoffels aan en die gasvrou staan in haar voorskoot voor die stoof. In Vlaandere is dit goeie maniere om ten minste ‘n halfuur laat te wees, verseker daardie kultuurkenner ons. Tydens die Belgiese been van die werkswinkels in Antwerpen word ek vir aandete uitgenooi na die huis van die radioman Jean-Pierre Rondas. Die afgespreekte tyd is sewe uur. Met my nuutgevonde kennis sit ek op die Concience-plein en wag tot om half agt voor ek aanlui. Mevrou Rondas maak die deur oop en is baie verlig om my te sien – want Jean-Pierre ry al ‘n halfuur lank op sy fiets rond op soek na my. Hy dag ek het verdwaal!  

 

Bronne

 

Daniel Hugo: “Nederlandse literatuur in Afrikaanse vertaling”, Filter, September 1998.

 

G.P.M. Knuvelder: Beknopt handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde, sesde druk, Malmberg Den Bosch, 1974.

 

Leopold Vermeiren: Die Rooi Ridder – Vertaal deur Elma Hartman en Deon van den Heever, Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1964.

 

Daniel Hugo (1955) is ‘n omroeper, digter en vertaler. Hy woon op Stellenbosch.

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ‘n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou ‘n vryskut-taalpraktisyn.

Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, uitgewer en bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke.

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Daniel Hugo. Die wording van ‘n vertaler”

  1. Evgeny Artemov :

    Geselligheid ken nie tyd nie, maar dit ken grense. Koue Oorlog. Ystergordyn. Internasionale sanksies. Isolasie. Sensuur. Ons die vertalers kan baie vertel. Hoeveel geleenthede het
    verbygegaan — maar hoeveel gelukkig was ons om ons skaars kanse te vang!