Marcelle Olivier. Gode en godeskemerings

Nuus uit Brittanje: Gode en godeskemerings

 

‘The shades work like the wind, invisibly.

And they have always been our companions,

dressed in the flesh of the children they reared,

[…]

not such spirits that they can’t be scolded

not such mortals that they can be profaned’

 

 

Bostaande reëls kom uit Chris Mann se bekende gedig ‘In praise of the Shades’. Iemand het my onlangs gevra oor gode in Afrika, en dié vraag het toe aan ‘n lang gesprek oor mites en mitiese karakters geboorte gegee. Per toeval het ek weer kans gehad om Mann se gedig te lees binne die konteks van my gedagtes oor hierdie gesprek, nadat ek gaan registreer het vir hierdie jaar se eleksie vir Oxford University Professor of Poetry.

Oxford Universiteit

Oxford Universiteit

Die pos is gesog, en lesers sal dalk laasjaar se storie onthou, toe Ruth Padel die eleksie gewen het nadat Derek Walcott onttrek het as gevolg van ‘n anonieme veldtog teen sy aanstelling. Briewe en fotokopieë van ekstrakte uit ‘n boek wat handel oor die aard van Walcott se verhoudings met van sy vrouestudente is aan studente, lektore en College-hoofde gestuur (elke student en dosent by die Universiteit het ‘n eie posbussie, en dit is redelik maklik om te sorg dat almal wat jy graag wil bereik jou stukkie papier in die hande sal kry). Padel het kort voor die begin van die akademiese jaar bedank (en tegnies dus nooit die eerste vrou geword om die amp te beklee nie) nadat sy verantwoordelikheid aanvaar het dat van haar epos-kommentaar teenoor joernaliste van Oxford Universiteit veroorsaak het dat iemand (nie Padel self nie) die veldtog begin het.

Dit was ‘n nasionale skandaal aan hierdie kant, en digters, akademici en joernaliste het vir weke lank in die koerante en op die radio daaroor gedebatteer en, as ons dan juis oor gode wil praat, het hierdie episode Oxford ‘n groot tree nader aan ‘n godeskemering gebring. Maak nie saak hoe positief mens voel oor die intellektuele kwaliteit of ryk geskiedenis van Cambridge en Oxford nie, dié universiteite bly plekke van diep-gesetelde en soms baie eng persepsies en tradisies wat hulle reputasie binne Brittanje self, erg aantas. In Suid-Afrika, seker amper oral anders in die wêreld, hoor mens nie van al die argumente teen die voortbestaan van hierdie twee Universiteite in hulle huidige gewaad nie. Die feit dat hierdie skandaal eintlik by enige ander universiteit kon gebeur het, het nie saak gemaak vir dié wat gevoel het dat dit aanduidend is van die bekrompe, elitistiese, en insestueuse kultuur wat hier gekweek word nie. Dus het die gode net ‘n klein bietjie nader aarde toe geval. Nie te ver nie, natuurlik, maar nog steeds – dit was nie goeie PR nie. In elk geval, ‘n diskussie van die goeie en slegte kante van Oxford en Cambridge is eintlik ‘n storie vir ‘n ander blog. So, kom ons keer terug na die digterlike gode.

Die pos van Oxford Professor vir die Digkuns het toe vir ‘n jaar bly lê – stof en sulke dinge – en begin van laasmaand is die nuwe nominasies vir die vyf-jaar ampstermyn bekend gemaak. Alle lede van die Konvokasie mag stem, maar tot en met vanjaar moes jy dit in persoon doen by die Universiteit se Eksamenskole; nou kan ek my kruisie in die virtuele ruimte trek. Ek het gaan registreer vir my aanlyn-stembriefie, en toe gaan loer presies wie die kandidate is. En daar is sommer ‘n hele spul meer as die gewone drie of vyf genomineerdes. Omdat beide ek en hy by Keble College studeer het, het ek geweet dat Geoffrey Hill op die lysie is (hy blyk verreweg die vernaamste – en soos dit op die oomblik lyk, mees-populêre – kandidaat te wees), maar groot was my vreugde toe ek ons eie Chris Mann ook op die webwerf raakloop. Hy was ‘n Oxford Rhodes Scholar, en ek dink nogal daar is iets te sê vir sy aktiewe, en baie persoonlike, belangstelling in Suid-Afrikaanse kultuur en politiek wat ‘n belangrike rol sou kon speel in hoe ons literatuur in die buiteland waargeneem word. Die feit dat Walcott ‘n Karibiese agtergrond met hom sou saambring was een van sy groot verkoopspunte voordat hy onttrek het, en ek sou hoop dat dieselfde argument – ‘n literêre geskiedenis wat gedeeltelik en soms met moeite op Brittanje se koloniale invloed rus – dalk ook sou kon geld vir Mann. Jy kan sy verklaring hier gaan lees, terwyl jy terselfdertyd asseblief styf duimvashou.

Chris Mann

Chris Mann

 

 

Ander nuus is dat die Hay Literêre Fees op die oomblik in volle swang is – ‘n week en ‘n half van praatjies en prentjies deur allerlei gode uit die ryke van die kunste, die politiek, en die akademie. Soos elke jaar is die fees hierdie jaar naby aan uitverkoop, selfs al weet feesgangers die Walliese reën gaan weereens almal se skoene laat muf trek, die anti-terrorisme polisie gaan jou kaas-en-tamatie toebroodjie uitmekaar skiet as jy dit by die tent probeer insmokkel waar Pervez Musharraf sy onderhoud het, en ten minste een persoon gaan aangekla word van iets verskrikliks omdat hy ‘n foto van sy twee-jarige kind geneem het waar sy kaal in ‘n waterplas staan en roomys eet. Selfs al weet feesgangers dit gaan hulle meer kos as ‘n tweeweke lange vakansie in ‘n vyfster hotel in Kreta. Want tussendeur die reën en die verkeersknope is daar die kans om langs Stephen Fry in die tou vir bier te staan, om vir Nick Clegg direk te vra of hy verkies om aan die linkerkant of die regterkant van sy en David Cameron se huweliksbed te slaap (sien laasweek se blog), om ‘n verflenterd-geleesde, geliefde kopie van ‘Oranges are not the only fruit’ deur Jeanette Winterson te laat teken, en om ‘n vetkryt met Quentin Blake te deel. Om ‘n tent langs iemand op te slaan wat uit die goedheid van sy hart vir jou ‘n ekstra slaapsak sal leen, omdat jy joune aan ‘n Bob Dylan-tipe karakter met ‘n vergeelde kitaar oor sy skouer verkwansel het in ruil vir ‘n kaartjie om Nadine Gordimer te hoor praat oor die boekwaarde van woorde. Orraait, ek moet seker toegee dat die slaapsakstorie nou nie met my gebeur het nie, maar dit kon wel met iemand daar gebeur het. Die punt is: Gode, van watter aard en in watter gedaante ook al, loop hier tussen ons.

Ongeveer 80 000 gode sak in Meimaand toe op die dorpie van Hay-on-Wye met sy 1450 inwoners (Hay spog met een boekwinkel vir elke 36 van daardie 1450!) – slegs omrede daar oor boeke en skrywers gepraat word. Moet ook nie dink Hay is so populêr omdat dit die enigste groot literêre fees nie; daar is menigte ander okkasies vir boekerige dinge, insluitende die Latitude Festival. Laasgenoemde het ook musiek en drama, maar daar is aparte verhoë vir digkuns, prosa én nie-fiksie. Hier, soos met Hay, is mense ook bereid om in die modder te kampeer en geduldig in ‘n lang tou voor ‘n ry blou latrines te wag asof dit Glastonbury of Woodstock is, solank hulle ‘n kans het om Kazuo Ishiguro te hoor voorlees en enige een van die twee David Mitchell’s se hand te kan skud. En, soos met Hay, verdwyn die kaartjies so vinnig soos tradisionele Victoria sponskoek by ‘n Engelse gehuggie se kerkbazaar sodra die program gepubliseer word.

'n Meisie lees in die reën by Hay-on-Wye

'n Meisie lees in die reën by Hay-on-Wye

Ek is lief vir die feit dat mense hier in Brittanje dit so entoesiasties normaal dink om te lees. Elke televisiekanaal het ‘n joernalis wat vir tien dae permanent in Hay gestasioneer is, op soek na daardie eerste scoop van ‘n hittige argument tussen twee Groot Digterlike Name oor die realistiese toekoms van die haiku-vorm in moderne rap-musiek, en die BBC Radio saai daagliks ‘n paar hoogtepunte uit vir die van ons wat by die huis sit en tee drink. Die groot dagblaaie publiseer elke dag ‘n opsomming van die vorige 24 uur se gebeure, komplimenteer fees-sessies met addisionele koerant-onderhoude, en sit audio-skakels op die web. Selfs die ponie-koerante maak spasie daarvoor – nou dalk nie op bladsy drie nie (daar waar ‘n godin van ‘n totale ander aard haar verskyning maak), en dalk nie noodwendig met ‘n fokus op hogere intellektualisme nie, tog ‘n beriggie of twee sal daar altyd wees. Maar hierdie jaar was daar ook ‘n paar meer ernstige stories, want terwyl Ian McEwan by Hay gelamenteer het oor die feit dat niemand anders boeke skryf oor klimaatsverandering nie, was die Sweedse skrywer Henning Mankell (wat veronderstel was om te praat oor sy beminde maar droewe gods-tipe karakter Wallander – onlangs weer deur Kenneth Branagh vertolk) in ‘n effense meer dringende posisie. Dit nadat hy as deel van die flotilla wat hulpvoorraad aan Gaza probeer bring het deur die Israeli goewerment in hegtenis geneem is. Godeskemerings, inderdaad.

 

En nou lees ek weer grepe uit ‘American Gods’, Neil Gaiman se opus oor die ewigdurende bedrog van gode en die bedrieglikheid van godeskemerings. Gaiman se studie van moderne en mitiese snoodheid (en dié woord moes ek gaan opsoek, om seker te maak dit is wat ek wel bedoel; ek het dit baie lanklaas gebruik) en attraksie, en die ophemeling van rede, invloed, en afhanklikheid in die individu se soeke na sin of onsin, is uniek selfs al sou dit net wees vir die normalisering van die ou persepsie dat gode vlees van ‘n aard is en saam met ons leef.

‘He don’t want to see you. I don’t want to see you neither. You bad news.’

That’s because I don’t come if it isn’t important.’

Ek het nogal lank getob oor hoe die betekenis, en implikasies, sou verander as die sin hier bo sou lees: ‘That’s because I only come if it is important.’ Op die ou end het ek besluit dat dit gaan oor wie in beheer is: die gode – dié (on)gewone mense wat ons lewe so beïnvloed dat ons selfs plek maak vir hulle in ons drome – ís, en is selfsugtig. Dat daar ‘n verskil is tussen wat belangrik is vir ons omdat dit ons aangaan, en wat belangrik is vir ons omdat dit die gode aangaan. Dalk is dit veiliger om ons daarby te berus. ‘[D]ressed in the flesh of the children they reared‘.

Dít sal ek dan ook in ag neem wanneer ek later die week voor my virtuele stembussie gaan staan en vir iemand anders se god stem.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Marcelle Olivier. Gode en godeskemerings”

  1. weskuslady :

    Amazing Marcelle dat soveel agter die skerms tussen die literati en digters gebeur! En op die ou end kom die stories maar uit tot groot verleentheid. Ek sou graag daardie Hay-on-Wye fees wou bywoon. Dit klink oorweldigend, byna burlesk.

  2. Louis :

    Dankie vir hierdie verslag, Marcelle. Ook ek volg die verwikkelinge rondom die Oxford Professor of Poetry-verkiesing met groeiende belangstelling. Die een nominasie wat my in die besonder interesseer, is dié van die 75-jarige Michael Horovitz wat meer bekend is as Beat-digter en saksofoonspeler.
    Volgens ‘n berig in The Guardian ( http://www.guardian.co.uk/books/2010/apr/29/michael-horovitz-oxford-poetry-professor ) het hy hom soos volg uitgelaat oor die nominasie: “I would hope to shake things up – not in a negative, destructive way but in a truly Shakespearean way, restoring the authority of poetry in one of the great centres of culture … My hope with everything I do is to try and bring audiences and poetry together.”
    Vraag: Hoe ernstig moet sy nominasie beskou word; of word verwag dat die feit dat hy hiermee nogal in ooreenstemming met Carol Ann Duffy se siening is, júís in sy guns gaan tel? Ook – speel ouderdom ‘n rol met hierdie aanstelling? Is hierdie aanstelling ook vir ‘n 10 jaar periode soos dit die geval is met die poet laureate?
    Nietemin, ‘n fassinerende ene, dié. Ek skat egter dat ek saam met jou duim vashou vir Chris Mann. 🙂
    Mooi bly.
    Louis

  3. marcelle :

    Weet jy, Louis, ek’s nie seker hoe ‘n saksofoon nie in iemand se guns kan tel nie! Maar of dit sal help om te wen is ‘n heeltemal ander vraag. Bitter min mense het in die verlede ‘n kruisie getrek (as jy dink hoe groot die Konvokasie regtig is), en ek sou dink dat ‘n groot aantal van die wat moeite sou gedoen het, sou stem vir die persoon met die bekendste, mees internasionale naam. Dus gaan dit in daardie sin nie eintlik oor wie die interessantste agtergrond of die mees unieke idees het nie, maar oor wie die meeste geld en publisiteit sal inbring. Maar alles kan dalk verander vanjaar, aangesien dit die eerste keer is wat lede elektronies en van oraloor die wêreld kan stem. Ek weet daar is fluisteringe oor en ondergrondse doenighede ten bate van die joernalis, Stephen Moss, wie geensins ‘n ernstige opvolger vir Auden, Heaney en Graves is nie, maar wat juis daarom populariteit onder veral voorgraadse studente gewerf het. En in terme van kersies op die koek – ek dink dat solank die persoon gesond genoeg voorkom om vir die volgende vyf jaar (die lengte van die termyn) op sy of haar voete voor ‘n mikrofoon te kan staan en grotendeels sin praat, maak ouderdom eintlik bitter min impak op hoe die stemmery sal verloop. Viva demokrasie!