Carina Stander. My rol in ‘n Skotse cartoon

    Gister wonder ek uit die bloute of Gerald nog leef. Google hom en kom af op http://www.geraldlaing.com/. Ja wragtag, die briljante ou blikskottel se kunskliere werk nogsteeds oortyd!

    Gerald Laing is ‘n volbloed Skot wat in 1960’s deel was van die Pop Art-beweging in New York. Só kon hy genoeg dollars verdien om ‘n Skotse kasteel te koop. Die afgelope 40 jaar woon en werk hy in die sewentien eeuse Kinkell Castle met sy enorme beeldhoutuin vol klippaadjies en kersiebloeisels. Gerald word gereken as een van Skotland se voorste grafiese kunstenaars, skilders en beeldhouers. Sy werk is in talle museums van Japan en Duitsland tot Puerto Rico, in universiteite soos Harvard, in die Tate en National Gallery in Londen, in die Britse koningin se versameling.

galina-series-dreaming

galina-series-dreaming

    In 2002 het ek vir ‘n halwe jaar in die Skotse Hoogland gewoon. Werkolis Gerald was op daardie stadium 66 jaar oud en doenig met twee solouitstallings en drie commissions vir publieke beelde, dus het hy ekstra hande nodig gehad. Die eerste dag het ons met klei gemodelleer: ‘n skaalmodel van ‘n eenhoring wat later in ‘n lewensgroot bronsbeeld omskep is. ‘n Ander keer moes ek vir agt aaklige ure aanmekaar ‘n blok swart graniet met die grinder skaaf - die basis vir ‘n beeld vir Isle of Skye. Ek moes ook breinlose werk doen soos hout saag en bokse bou waarin ons sy beelde kon verskeep, maar later het Gerald my darem genoeg vertrou om sy beelde te elektroplateer.

    Een middag sit ons in die tuin, eet eendsop, tuisgebakte brood en vrugtekoek, toe hy na die vallei beduie en kos in die kies vra: “I wonder what those people are doing with their lives.” Those people, sou ek hom kon sê, het nie in die minste gewonder wat in sý lewe aangaan nie – hulle was oortuig hulle weet. Sien, een maal ‘n jaar het Gerald sy kasteel se hekke oopgestoot en die valleimense gestiek vir ‘n somersparty. Ná die tyd is daar wild en wakker geskinder oor presies hoe skatryk en suksesvol hy is; dat hy ewe bekend behoort te wees vir befoeterdgeit as vir beeldkuns; dat sy studio so georganiseerd soos ‘n militêre basis is. En natuurlik het dit gegons oor sy drie beeldskone vroue (en drie egskeidings), sy ses kinders tussen die ouderdom van 5 en 35 en sy nuutste minnaresse. Die mense vertel toe Pavarotti destyds vir ‘n borsbeeld kom poseer het, het hy dit gewaag om die modelleermes uit Gerald se hand te gryp en self in te spring. Gie-gie, giggel hulle, dink net: twee grumpy geniuses onder een dak! Maar self het ek Gerald nie as beneuk ervaar nie. Stiptelik, ja, en soms arrogant, maar altyd beleef. Galant.

    al die gewerskaf aan die uitstallings was my biseps en triseps nogal iets aanskouliks. Gerald het gevra dat ek sy seiljag help restoureer - skuur, verf, vernis. Dit was ‘n lieflike Ierse jag wat uit die oorlog dateer. Hy het graag naweke daarmee op Loch Ness gevaar. Gerald had baie speelgoed. Behalwe vir die seiljag en kasteel was daar sy 1925 Austin Seven en Audi, twee brulmoterfietse, ‘n 4 X 4 en natuurlik sy meisie, Emma. Sy was 37 jaar jonger as hy. ‘n Cambridge gegradueerde klipkerwer. ‘n Vat-g’n-twak ontluikende intellektueel. Wanneer sy en Gerald stry kry, het hy my weggestuur om te gaan tee maak. As ek so met die skinkbord in die kasteelkombuis staan, het dit vir my gevoel asof ek in ‘n cartoon speel. Ek sien nog die prentjie: doer buite stap Gus die tuinier – ‘n middeljarige, getatoeëerde buksie met ‘n kop vir ‘n bar fight. Voor die venster staan Gerald. Uitgevat in ‘n statige baadjie sing hy opera uit volle bors saam met die radio terwyl hy die heup van ‘n vrou modelleer. En eenkant sit Emma: mooi en emosieloos in haar grys trui, lang swart rok en los bruin hare, besig om dag en nag, week na week ‘n meter breë granietblok vol Latynse gesegdes en Keltiese simbole te beitel, totdat die blok in ‘n oomblik middeldeur kraak en voor haar voete val en sy wegspring, haar mond vertrek asof sy wil skreeu. Sy het stil omgedraai en uitgestap, kil soos ‘n koningin.

    In die deur was ek met ‘n beker koue rooibostee in die hand, besig om die intrige te vertaal: ‘n bars van die beitel af dwarsdeur die sterre loop.

galina-series-an-american-girl

galina-series-an-american-girl

Bookmark and Share

Los kommentaar