Notas uit die empire

Notas uit die empire. Deur Hans Pienaar. Alto Media, mwhanspi@mweb.co.za. ISBN 978-06-620-4509-0.

 

Notas uit die empire

Notas uit die empire

Hans Pienaar, joernalis wat vanweë sy beroep dikwels buitelands reis, is ietwat van ‘n geleentheidsbesoeker aan die Afrikaanse poësiewêreld.

Meer bekend vir sy drama- en fotografiekunsbydraes by kunstefeeste (waarvoor hy al vir pryse in aanmerking gekom het), of vir sy nie-fiksie-skryfwerk (in 1992 is die Rapportprys vir die geskiedskrif Die derde oorlog teen Mapoch aan hom toegeken), het ‘n klompie gedigte van hom tog wel oor die jare in literêre tydskrifte en verskunsversamelings verskyn. En in 2002 het Die taal van voëls die lig gesien, ‘n selfgepubliseerde bundel deur Pienaar.

Teen die tyd dat ek egter kontak met hom kon maak om daardie bundel aan te skaf, was dit nie meer beskikbaar nie – volgens Pienaar te wyte aan een van die bekendste kwale van Suid-Afrika: misdaad. (Die dose met die meeste van sy bundelkopieë is gesteel, as ek korrek onthou, met die motor waarin dit was en al.)

Ek lei af dat ook André P. Brink nie Die taal van voëls onder oë gehad het nie, want die vyf gedigte van Pienaar wat in die 2008-uitgawe van Groot verseboek opgeneem is, kom almal uit Nuwe stemme 2 van 2001.

‘n Opvallende verskil tussen hierdie vyf gedigte en die verse in Notas uit die empire (voortaan: Notas) betref die vormgewing en stilering. Waar die vroeër gedigte vryer vorme gehad het, is die neiging in Notas na vastigheid, en daarmee saam na stilistiese eksperiment en geswollenheid.

Hierdie kenmerke van Notas staan vermoedelik in verband met, of verteenwoordig waarskynlik ‘n vorm- en stylvergestalting van die (gewelddadige) magsuitoefening en retoriek wat met imperiale politiek geassosieer word. Historiese én eietydse imperiums en tirannieke staatsbestelle word te berde gebring, soms op a-historiese wyse deuréén. In byvoorbeeld die openingsgedig, “Lank leef”, is die funksie van die a-chronologiese aanbod om die terugkerendheid van die imperiale strewe te beklemtoon:

 

Dis eenvoudig. Solank daar elektrisiteit

op hierdie aarde van gods (sic! – BO) is. Solank

die nulpunt sonder huiwering (Allah

sy behaag) staan by sy aansprake. So

dikwels as wat die koeie gemelk word

in lugverkoelde stalle (Boeddha bo).

So ver as wat die blote oog kan sien,

panteïsties ofte nie. Shakespeare is

die kommissaris van ede, Marco Polo

die doeanedokter, Hammoerabi houvas

die mikrofoon. Solank sekondes sekondes

is, en tril in hul orbitale soos Helena

van Troje op haar tone in haar desperate

striptease: Ek is die verdunner in jou bloed,

die asem van mag in jou murg.

 

Die empire is dood. Lank leef die empire!

 

Pienaar wil sodanige magswellus blootlê, ook die meer verhulde vorme daarvan, byvoorbeeld die hedendaagse variante wat onder die dekmantel van “demokrasie” voortleef, maar beheers word deur die (weer eens hegemoniserende) ideale van tegnologiese vooruitgang, inligtingsvloei en welvaartskepping. Hy skryf op die agterkant van die bundelomslag: “Vandag is daar […] net ‘empire’ wat dwarsdeur die heelal strek, en in die virtuele ruimtes tussenin en daaromheen. Sy hoofkwartiere en hoofstede is oral te vinde, en nêrens. Almal staan in diens daarvan, en almal kom in opstand daarteen.”

Uit sommige gedigte in Notas spreek ‘n byna apokaliptiese wanhoop in hierdie verband. Nie verniet word George Orwell se 1984 deur middel van suggestie én direkte verwysing (die dubbele reeks “Tweeduisend-en-vier”) betrek nie. Vergelyk ook die slotsonnet uit die reeks “Die smarte van die empire”:

 

Later jare sal die ryk se uitverkorenes

hul seëninge en gemodifiseerde gene

in die suiwer bloed van eersgeborenes

tel. Die regering van die algemene

belang en gedrang sal gaan oor homo sapiens

sapiens en hoe in ‘n heelal van gebrek

ons sorg vir oorlewing van die mens.

In verrinneweerde woude en gestrek

oor megaplakkerstede sal die misrook

dryf waarin goddelike gedaantes spook

om groter aanhang onder die afvalliges.

En so sal ons aanbid word, die helde

wat die aarde nog moet red en selde

iets kan doen vir sy armsaliges.

 

Slegs in die enkele liefdesgedigte, soos “Hals” en “Maaglandskap”, is spore van behae en suggesties van ideologiese onbevangenheid te vind.

Treffende momente kom in bepaalde gedigte voor: sekere beelde in “Dienaar”, “Au clair de lune”, “Ete in die burokratiese hoofstad” en “Gedeeltelike sonsverduistering”; en ‘n gedig soos “Die tyd is ryp vir die revolusie” bevredig byna in sy geheel. Verder is daar egter werklik te min wat die mas op kom in vergelyking met die gedigte van Pienaar wat uit Nuwe stemme 2 in Groot verseboek oorgeneem is.

Die strenger vorme en gewaagde stilistiese aanpak wat hy gekies het, het, soos al deels gesê, té dikwels iets gedwonge, gesogs of geswolle tot gevolg: rymelary en rymdwange, byvoorbeeld bewerkstellig deur geforseerde sintaktiese omkerings, valse of twyfelagtige woordkeuses (“temende lewe”, as klaarblyklik in die eerste plek iets soos “wemelende lewe” bedoel word), en afkappings waarin selfs die gewone lettergreepbreuke geïgnoreer word (“meesterlik” wat as “mee- / sterlik” afgekap word om met “smee” te rym); dreunende klankherhalingsvorme, soos alliterasies en akkonsonansies, wat gepaardgaan met vertonerige maar weinig treffende woordspel en -nuutskepping (“om pletterbote / ploeter myne, tenks vertrap, vermink, vermank / beter al beter, monderige wonder verteer / bajonet, koeël, granaatgespat…”); lomp of ongewone, implikasietroebele fraserings en beelde (“winde […] skuur / hul af teen hierdie mure”; “verdampte voetsole / in ‘n nulgrond”).

Die vyfde ‘sonnet’ in die reeks “Die smarte van empire” (ek plaas ‘sonnet’ tussen aanhalingstekens, want dit kom my nie voor of dié gedigte die wesenskenmerkende wending van die sonnet vertoon nie) illustreer baie van hierdie stylgeforseerdhede:

 

Ou tale glinster op uit versigtig ontblote

palimpseste, en in fyn beplande mutasies

ontflikker hul in skimpe van hergeboorte

en wil luister gee aan ou ryke se murasies

in ‘n futurale lig van nostalgiese verval.

Waar offerandes eers gemaak is en bloed

gestort is ter wille van vermaak spel pal

die logoletters wette uit van voorspoed.

In die kampanjes om ons drome, die beleg

van skadu’s om ons idiome, is die uitweg

afgesluit soos opgeskorte woordeboeke.

Die tale van ons harte waarin ons skuiltes

eenmaal veilig was weergalm uit die holtes

van die hinterland se afgesperde hoeke.

 

Die styl- en vormspel word ver gevoer in party gedigte, sodat dit soms grens aan konkrete poësie (“Tombe-taal”, “Vigelied”, “Prozac Dreams”) – maar myns insiens sonder besonder verdiepende effek. Dieselfde geld die gedigte-by-foto’s in die afdeling “Tweeduisend-en-vier”, wat meestal bly steek in impressieverwoordings wat implikasiegewys nie die spesifieke situasies wat deur die foto’s en die plekaanduidings ingegee is, verbygestreef kry nie. Alternatiewelik doen die pogings tot “betekenisverdieping” bepaald geforseerd aan.

Één voorbeeld van laasgenoemde (bladsye 94-95): By ‘n foto van ‘n windverweerde muur met die oorblyfsels van ‘n haarwasmiddel-advertensieplakkaat daarop, geneem by Mampong in Ghana, staan die gedig “Sand”.

 

Winde waai al dekades lank en skuur

hul af teen hierdie mure, laat laag

op laag van stof gevang in sweet

en dalk bloed sodat die blindelingse

tyd wat die skrif in braille kom lees

kan voel hier was mense ook, al kan

hy nie sien al wat hul wou hê is een laaste

vlaag om die hare te skik soos ‘n voël

haar vere as sy regmaak vir die vlug[.]

 

Meer indrukwekkend is die Peter Blum-agtige woordwaansin oor die Amerikaanse besetting van Irak in “Edenode” – maar weens die uitgesponnenheid daarvan begin dit op die duur ongelukkig verveel.  

Die ironie is dat die stilistiese en vormlike ‘geweld’ wat die taal aangedoen word, die ontstemming oor die verwoorde menslike vergrype ontkrag of fnuik. Pleks daarvan om belewing van afgryse en onthutsing oor die verwoorde gebeure en verskynsels te wek, trek die bombastiese stem van die spreker die aandag. Hiertoe dra die neiging tot abstrakte segging in baie gedigte (eerder as verlewendigende, verbeeldingprikkelende uitbeelding) nie weinig by nie. ‘n Gedig soos die volgende bly slap mededeling – ook omdat die beeldspraak wat wel voorkom, al geyk is:

 

Die empire heers diktatorloos en sonder

keiserlike dekreet of edik van konings.

Algar is nou howelinge aan die wonder

of hul ontvangers van belonings

is of teikens van messe in die rug.

Die gewone man dink dis demokraties

en klou aan die hardnekkige gerug

dat hy sy eweknie tot mag verkies.

Gemiddeld is sy wense en gematig

sy proteste teen alles wat te statig

plaasvind om ooit iets te kan vermag.

Dat sy wil swig voor groter besluite

geneem deur leiers wat hul te buite

gaan het hy nog maar altyd verwag.

 

Blykens ‘n gedig of twee uit die reeks “Die smarte van empire” besef die digter self iets van hoe sy digterskap te kort skiet – hoewel, weens die (lawwig-)ironiese trant waarin die gestel is, nie in die werklik kritiese sin soos ek dit hier moet aanvoer nie.

 

[…]

Die ritmes, gans te stadig, en ryme

wat hul lesers dwing tot swyme,

kan net trane pers uit weduwees.

 

Notas, tematies én in omvang ‘n nogal ambisieuse bundel, is mooi deur Pienaar self uitgegee (en sy fotografie dra heelwat tot hierdie indruk by). Ek skep dus geen behae daarin om soveel kritiek daarop te lewer nie.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bookmark and Share

16 Kommentare op “Notas uit die empire”

  1. Hans Pienaar :

    Dis konvensie dat die onderwerp van ‘n resensie nie mag terugpraat nie, maar aangesien ek graag konvensies verbreek, net die volgende opmerkings oor Bernard Odendaal se resensie:

    1. Nee, Bernard, al die eksemplare van die Taal van voëls is nie gesteel nie, ek het hulle almal verkoop en ‘n goeie winsie gemaak. Moenie die skuld op Suid-Afrika se misdadigers probeer pak omdat jy te laat wakker geskrik het nie.
    Hoekom het jy my nie gekontak om die feite te kry nie? My e-pos- en posbusadres is voor in die boek, en op die persvrystelling. En het Versindaba nie ‘n redakteur wat waak oor sulke goed nie? Ek kon maklik ‘n eksemplaar vir jou ge-epos het. (Jy kan maar vergeet, jy kry nou niks by my nie.)

    2. Hoe aanvaarbaar is dit om ‘n hele bundel van 144 bladsye te vergelyk met vyf gedigte uit ‘n vorige bundel wat gekies is deur iemand anders vir ‘n bloemlesing? (En Andre Brink het myns insiens nie die bestes gekies nie – wel die wat verwys na seks op een of ander manier – en beslis nie die wat die etos van die bundel verteenwoordig nie.)

    3. Jy praat van bombastiese taal, maar ek moet tog daarop wys dis nie ek as digter nie, dis HY, die spreker of verteller in die gedigte. In die aangehaalde voorbeelde is die een ‘n CIA-agent (Edenode) en die ander ‘n politieke joernalis of akademikus (Die smarte van empire). Hulle praat aspris so. (Al gehoor van die dramatiese monoloog?)
    Dis my gat se deksel hoe resensente heeltemal verby lees wat voor hul oë staan. In die Taal van voëls byvoorbeeld, is die titelgedig eenvoudig geignoreer, hoewel dit die titelgedig en die heel eerste gedig in die bundel is.
    Net so bied Bernard gedigte aan as enkele items wanneer hulle so duidelik deel is van of ‘n reeks of ‘n lang gedig. Dis duidelik uit die tipografie dat Die smarte van empire een lang gedig is wat uit dertien POGINGS tot sonnette bestaan. Die spreker is ‘n hoogdrawende poepol wat hom allerlei aanmatig oor sy gewaande status as ‘n digter, terwyl die aarde om hom vergaan. Die hele ding is ‘n oefening in ironie.

    4. Van wanneer af moet ‘n sonnet ‘n sonnet wees? Wie skryf nog sonnette? Dis tog duidelik uit die dertien keer wat dit gebeur in Die smarte van empire dat die spreker anti-sonnette pleeg, teen die sonnet-vorm inskryf, soos duisende ander digters deesdae. Die feit dat daar nie die verwagte wending is nie, is een van die dinge waaroor dit gaan.

    5. Jy skryf oor die uitgesponnenheid van Edenode – is dit nie maar net omdat jy die pas nie kan volhou nie? Probeer weer, dis ‘n klein dramatjie met ‘n ontknoping teen die einde rond (wat ek nie gaan weggee nie). (Vraag: dink jy iemand soos Joseph Brodsky se lang gedigte is ook uitgesponne?)

    5. Jy skryf: “Pleks daarvan om belewing van afgryse en onthutsing oor die verwoorde gebeure en verskynsels te wek.” Ek neem eksepsie hierteen. Waarom moet ek nog ‘n pornografie van geweld en atrositeit produseer terwyl daar reeds so baie is?
    Ek spel dit uit op die flapteks en spreek dit aan in die eerste gedig, Lank leef, die sleutelgedig – hoe ons almal deel het aan die gemors en daarop teer, “die asem van mag in jou murg” die murg wat die bloed maak wat in jou are pomp.
    Die foto op die voorblad gee die toon aan: Iemand wat aan die onderpunt van die samelewing se leer is en tog nes skop by ‘n plakkaat van die Statue of Liberty. Ons almal is onderaan die een of ander leer maar ons almal droom van New York, New York.
    Ek spreek die skisofrenie aan, die paradoksale wat uitloop op ‘n soort stasis (soos in Ete in die burokratiese hoofstad – die tekens teen die mure wat iets beteken of niks beteken nie – ons weet net nie). Die aakligheid van hierdie verlamming is een van die leitmotive in die bundel.

    6. Ek is tog ook nie op soek na verdieping nie. Verdieping is ‘n illusie en bedrog, en fotos is ‘n daaglikse demonstrasie hiervan.

    7. Ek stem saam daar is baie rymdwang en allerhande afgryslikhede wat mense tienduisende rande aan bestee om te probeer afleer in MA-werkswinkels. Wel, ek wil net sê, dit was lekker en ek gaan dit weer doen.

  2. Pieter Wolmarans :

    Hans, dit is darem jammer dat ‘n digbundel nie met ‘n handleiding uitgegee word nie, is dit nie? Dink net hoeveel misverstande daardeur tussen digter en leser uit die weg geruim sal kan word … En dan hoef ‘n digter nie soveel tyd te mors deur die heeltyd te moet verduidelik wat sy gedigte éíntlik beteken nie.

    Maar ek wil jou vertel van die ou skedonk op ons plaas. Dit kan lankal nie meer ry nie; om die waarheid te sê: al die vernaamste onderdele is verwyder en die kar staan jare al op blokke. Sy air conditioner werk darem nog goed. Ek gebruik dit dus ‘n geruime tyd al as koelkas vir nie-bederfbare goed. Die probleem is net dat die kinders dit nog steeds as ‘n kar sien en dan klim hulle in om kastig op die plaas mee rond te ry en dan staan die deure oop en my bier word warm.

    Toe verf ek die volgende sonnet op die deur en nou is al my probleme opgelos:

    SONNET
    Dis ‘n koelkar hierdie –
    Moenie eens probeer om ‘n mening te vorm nie.

    (Jy sal sien dis ‘n perfekte sonnet met 13 lettergrepe. Die wending kom na die 6de lettergreep.)

    Terloops, ek het ook jou bundel gekoop en gelees. Aanvanklik was ek baie opgewonde daaroor; het gedink jou taalverwringing is iets soortgelyks aan wat Gilbert Gibson doen. Later het ek egter verward geraak; nie seker wat de hel nóú aangaan nie en later het ek nie meer omgegee nie. (Let wel: die feit dat ek jou bundel verwarrend gevind het, is nie jóú skuld nie; jy weet mos presies wat jy daarmee wou sê.)

    Die jammerte is dat daar werklik mooi gedigte in “Notas uit die empire” is, so ook in “Die taal van voëls”. (Dit is hoekom ek jou nuwe bundel gekoop het). Dit is die bundel in die geheel (as konsep) wat vir my nie lekker gewerk het nie. Jammer daaroor. Maar as jy sê dis ‘n goeie bundel, sal ek jou woord daarvoor vat. Jy is tog die digter, is jy nie?

  3. Louis :

    Hans, ek verstaan nie mooi wat jy bedoel met die volgende nie: “En het Versindaba nie ‘n redakteur wat waak oor sulke goed nie?” Bedoel jy dat ons ‘n kopie van “Die taal van voëls” vir Bernard moes gestuur het? Maar Versindaba het dan nog nie toe bestaan nie? Ook – normaalweg is dit die uitgewer se verantwoordelikeheid om resensie-eksemplare uit te stuur.
    In ieder geval – lees net Bernard se openingsparagrawe mooi deur; ek vermoed dat jy sy verwysing na “Taal van voëls” en jou gedigte in GV verkeerd verstaan.

  4. Bernard Odendaal :

    Hans, ek het in my plakboeke nagegaan of ek nie perdalks iets van ons korrespondensie van destyds oor “Die taal van voels” bewaar het nie, maar, helaas… As daar dus nooit sprake was van ‘n klomp eksemplare van daardie bundel wat soek geraak het nie, vra ek om verskoning dat my geheue my so parte speel. (Maar, jong, my geheue bly hieroor koppig; wil nie heeltemal bes gee nie!) Ek wou met die vertelling daaroor uitlig dat ek nie “Die taal van voels” ken nie, dus voorheen net gedigte van jou te lese gekry het in “Nuwe stemme 2” en in enkele tydskrif- en geleentheidsbundel-publikasies. Dis al betreffende jou oeuvre waarmee ek “Notas” kon vergelyk.

  5. Hans, ek het nog nie jou bundel gelees nie, maar ek sal dit graag wil aanskaf. Ek vind dit verfrissend dat jy jou mond durf oopmaak teen die konvensie in. Dit is vir my abnormaal dat ‘n digter nie mag/durf reageer op ‘n resensie nie, selfs al is daar feitefoute in. Digters is van die eerstes wat skuimbek teen staatsensuur, maar as dit (stilswyend) in eie geledere afgedwing word, speel die meeste ewe soet en stilwyend saam. Dis vir my so half ‘n boelie-kultuur (ek het ondervinding daarvan).

    Die digter se reaksie op ‘n resensie dra tog by tot die “oopmaak” van sy/haar gedigte, ‘n voortgesette gesprek daaroor, ‘n ander verstaan daarvan as dié van die resensent. Vir my sal dit opwindend en ‘n volwassewording van die delikate ego’s van die “poësiepolisie” (term met erkenning aan Lawrence Ferlinghetti) wees as digters vry is, nee, GENOOI word, om te antwoord op resensies van hul gedigte/bundels. Sal dit nie ‘n bietjie lewe blaas in die vervelige, beleefde, onder-die-kombers-stekery nie?

    Nou wag ek vir die doodklap of die doodswyg.

    Viva, Hans!

  6. Louis :

    Jelleke, van “doodklap” of “doodswyg” is hier nie sprake nie. Waarom dink jy word die resensies geplaas met ‘n ruimte vir kommentare daarby? Dit staan enigeen vry om kommentaar te lewer en/of aan ‘n gesprek deel te neem. Mits dit natuurlik nie beledigend is, óf die grense van fatsoenlikheid oorskrei nie.

  7. ‘n “Ruimte vir kommentaar” waaraan “enigeen” kan meedoen, is na my mening geen wegdoen van die konvensie “dat die onderwerp van ‘n resensie nie mag terugpraat nie”, in die woorde van Hans Pienaar.

  8. Louis :

    Jelleke, my kommentaar het betrekking op jou slotopmerking van “doodklap” of “doodswyg”. Op die bestaan van bepaalde konvensies soos waarna jy verwys, kan nie ek kommentaar lewer nie, aangesien ek nie kennis dra van so ‘n “konvensie” nie. Hoe dit ook al sy – by hierdie webblad, synde ‘n interaktiewe webblad, staan dit ook die “onderwerp van ‘n resensie” vry om te reageer.

  9. Desmond :

    Ek stem in beginsel saam met Jelleke en sekere van Hans se stellings was wel verhelderend. Ek het nog nie genoeg van die bundel gelees om te besluit of ek met Bernard saamstem of nie. Tog is Bernard se mening eerlik en reguit aangebied, en beslis nie ‘n poging tot ‘sensuur’ of ‘agterbaksheid’ nie, soos daar baie amper in sommige kommentare hierbo te kenne gegee word. Digters kan in elk geval nie net wil saamgesels wanneer hulle kwaad is oor ‘n resensie nie. As dit dan sodanig gaan oor die digter se perspektief op sy of haar eie werk, waarom skryf hulle nie ook briewe en reaksies op positiewe resensies nie? Is die positiewe resensensie altyd reg, daar is niks om by te voeg of van te verskil nie?! Komaan, put your money where your mouth is en kritiseer ‘n slag ‘n resensent oor hy jou oorskat het!! Die manier waarop resensente soms oor die kole gehaal word, bloot omdat hulle hulle kritiese taak verrig, en dikwels in die proses boonop professioneel verdag gemaak word (asof dit vir die meerderheid resensente lekker is om ‘n negatiewe resensie te skryf), kan nie goedgepraat word deur te verwys na ‘n gewaande opstaan teen ‘sensuur’ nie, en dit het niks met ‘konvensies’ te make nie. ‘n Mens kan nie een oomblik vir die onafhanklikheid van ‘n resensent wees, en dankbaar vir sy insigte, wanneer hy jou komplementeer nie; maar hom dan beskuldig van ‘sensuur’ en agterbaksheid wanneer hy kritiek lewer nie. Dan word die “kommentaarboksie” en die koerantbrief nie ‘n demokratiewe ruimte waar waardevolle perspektiewe geartikuleer en uitgeruil word nie, maar self ‘n vorm van intimidasie. Wie is dit dan wat sensuur probeer toepas: die resensent wat sy mening oor ‘n werk eerlik weergee; of die digter wat die resensent uit die hoogtes daaroor aanval?

  10. Joan Hambidge :

    Ek het gedink Bernard Odendaal was dalk te krities oor hierdie bundel. Ek het ‘n hele paar verse goed gevind.
    Maar smaak verskil.
    Die konvensie waarna hier verwys word, naamlik dat ‘n skrywer nie behoort te reageer op ‘n resensie nie, is nie ‘n vorm van sensuur nie.
    Dit is eerder om jou teen jouself te beskerm. ‘n Mens klink en lyk kleinserig.
    En om in die hitte van die stryd te reageer, is ook nie goed nie.
    Wanneer ‘n bundel gepubliseer word, moet die bundel vir sigself praat. As die skrywer agterna moet verduidelik, beteken dit die gedigte werk nie. En die tyd wys altyd oor- of onderskattings uit.
    Alle digters moes al striemende kritiek verduur. Gaan lees wat is oor Plath of Sexton geskryf.
    Breytenbach se andersoortigheid het die kritiek onkant betrap; latere lesers begryp sy werk.
    Net een saak: die Ingrid Jonker-prys waarna Hans verwys in sy publisiteitspamflet, is ‘n prys waarvoor alle debute in aanmerking kom.

  11. Hans Pienaar :

    Jammer ek reageer nou eers – ek was ‘n bietjie besig. Dis duidelik dat ek oorreageer het, en Joan is reg: ‘n Mens kom kleinserig voor. As die bundel flop, dan flop hy. ‘n Paar mense geniet dit darem en se gelukkig ook so. Maar met die herlees van alles, bly ‘n paar dinge tog steek (en ek gaan voort met die gesprek omdat dit sake aanraak wat lesers hopelik sal interesseer).

    Aan Louis: Myns insiens behoort ‘n mens nie ‘n resensent toe te laat om ‘n opinie te baseer op ‘n vergelyking met ‘n bundel waarvan hy/sy net ‘n paar gedigte gelees het nie. So ‘n resensie behoort terug gestuur te word om die vergelyking uit te haal of ‘n ander plan te maak, soos om die digter te vra vir ‘n kopie (wat ek wel elektronies het) as hy/sy dan nou regtig wil. Die Taal van Voels is ‘n eenheidsbundel, net soos Notas uit die empire.

    Daar is ander feitefoute ook: Waarom word gese dis self uitgegee? Daar is geen sodanige aanduiding in die publisiteitsmateriaal nie. Die uitgewery is Alto-Media, en dit is nou wel my eie uitgewery en produksiemaatskappy, maar ek het ‘n viertal baie bedrewe (en betaalde) mense gehad wat my bygestaan het met die bundel. Ek is deel van ‘n “konstellasie” soortgelyke entiteite, en ons is besig om allerhande dinge te ondersoek om die huidige benarde situasie met befondsing en die resessie te probeer oorkom. (Bernarde?)

    Aan Pieter: Dis snaaks van die koelkar. Miskien moet ek ‘n foto kom neem. Maar lees weer, ek het nie probeer om die gedigte uit te le nie. Hulle moet self spreek, ek stem saam.

    My probleem, soos ek gese het, is wanneer goed wat op die bladsy voor jou staan, misgelees word. Die aanwysing by die een reeks gedigte se duidelik: “In ‘n stadige trant, vervelige toon”. Dit impliseer tog ‘n ironiese spel, maar dan kom die resensent met ‘n “direkte” lesing. Aanvanklik was daar ‘n sub-titel, “uit die dagboek van ‘n politieke verslaggewer”, maar ek het dit uitgehaal omdat ek gedink het bogenoemde is genoeg, en ek wou juis nie te veel aanwysings gehad het nie.

    Eweneens is die reeks fotogedigte getitel: 1984, en is daar ‘n aanhaling uit die roman deur George Orwell: “It was a bright cold morning, and the clock was striking thirteen”.

    Nou sal kenners van die roman allerhande dinge kan raaksien, soos dat daar dertien fotos in elke reeks is en dertien hoofstukke in elke afdeling van die roman. Maar ek verwag nie van gewone lesers of selfs eksperts om dit te doen nie. Wel hoop ‘n mens dat die omkeer van die cliche “bright sunny day” en “clock strikes thirteen” iets van ‘n ongerustheid oordra, wat die toon aangee vir die reeks. (Daar is niks verder by nie, net dit, so dit gaan net oor daardie ekstra (ongelukkige, wanstaltige) uur wat aan die horlosie toegeken word, nie oor allerhande politieke stellings nie). Die fotogedigte is eintlik almal ‘n herhaling van die motto. Maar ek kan dit tog nie in die bundel se nie, of moes ek by elke fotogedig geskryf het: Lees eers die motto en die titel van die reeks weer?

    Voorts: almal weet tog van Big Brother, via die TV-reeks, wat elke klein dingetjie wat jy doen dophou? Met die kamera wat in jou kamer is? En weet liefhebbers van die letterkunde nie minstens dat die arme Winston Smith probeer het om goed in die geheim op te teken nie?

    Fotografie is ‘n magiese medium omdat daar altyd goed is wat jy agterna ontdek wat jy nie gesien het toe jy die foto geneem het nie. Die goed wat Big Brother miskyk. Daar is boeke vol geskryf oor hoe dit werk, en die psigo-analis Jacques Lacan is ook goed toepaslik. Maar jy hoef nie te gaan BA sielkunde swot nie, jy hoef nie verder te gaan as jou eie snaphots nie, waarna jy oor en oor kyk want daar is altyd iets wat jy nie voorheen gesien het nie. Dis waaroor my fotogedigte gaan. Dis glad nie dieselfde as die baie (voortreflike) gedigte wat oor skilderye geskryf is in Afrikaans, of ikoniese fotos soos Marilyn Monroe en haar rok nie. Daar is geen strewe om “goeie”, diep gedigte te produseer nie, net om na die foto te kyk en uit te lig “what is not there”, soos die meester-fotograaf Diane Arbus dit stel, maar dan terselfdertyd tog aanwesig is. Trouens, my bekommernis was dat die gedig die foto sou “upstage”, en ek het daarom doelbewus die bietjie vernuf wat ek het, terug gehou met die saamstel van die fotogedigte.

    Ek weet nie, miskien is dit te veel gevra van lesers om net na die foto te kyk, en dan na die gedig-wat-nie-heeltemal-‘n-gedig-is-nie, en dan weer na die foto. Ek het so gereageer teenoor Bernard omdat ek gevoel het hy behoort beter ingelig te wees oor die visuele kunste. Maar miskien is ek verkeerd, sy vakgebied is tog die letterkunde. Myns insiens is dit onsinnig om die gedig te probeer behandel in die resensie, maar nie die foto te wys nie. Die twee kan nie apart nie. As ek ‘n alleenstaande gedig moes skryf oor die toneel tydens die neem van die foto in Ghana byvoorbeeld, sal dit heeltemal anders uitwerk (en hopelik beter wees).

    ‘n Laaste nota: Waarom wil mense nie he ek moet die frase “temende lewe” gebruik nie? Bernard wil selfs he ek moet se “wemelende lewe”, wat tog ‘n cliche is. Een van my medewerkers het ook gevra daaroor. “Temende lewe” kom voor in ‘n fotogedig oor ‘n slaapkamertoneel in die presidentspaleis van die president van die Sentraal-Afrikaans Republiek, saam met wie ek en ‘n paar ander Suid-Afrikaners geeet het. Dit was die gewone Afrika-storie – arm mense wat die wereld vol loop, en ‘n hele skare het voor die paleis saamgedrom. Dit was glad nie duidelik of hulle ons wou aanval toe ons daar aankom nie, en of hulle ons verwelkom het nie. Orwelliaans. Ek kon die minagting van die president en sy ministers vir die gewone mense sterk aanvoel. Vir hom was hulle “temende lewe”, die kermende gepeupel daarbuite,’n frase waarmee ek ook die oerwoud buite Bangui probeer oproep het. Enigiemand wat al in ‘n oerwoud was, sal weet dit kan ‘n helse geraas wees. Ek het niks van wat ek nou skryf gese in die fotogedig nie, want soos Winston Smith se skelm notas was dit ‘n skelmfoto, soos die meeste fotos in die tweede reeks (met die titel 2004, twintig jaar na 1984, get it?)

    Ek voel by Bernard ‘n anglisismevrees aan, en eweneens by hom en ander ‘n rymvrees en ritmevrees. Maar om ons teem dit van die anglisismes. Afrikaans en Engels is onherroeplik aanmekaar vas. Ek het my probeer verlos van hierdie anglisismevrees, maar terseldertyd probeer om oor te dra hoe die Amerikaans-Engelse empire ons lewens beheers. Dis ‘n “skisofreniese” toestand waarin ek die anglisistiese taal wat ons almal daagliks gebruik, beide “lekker” probeer maak en iets horribaals.

    Ek skryf maar betreklik kort nog gedigte, en het doelbewus geeksperimenteer met rymdwang want daar was nie lektore om my te keer nie. Ek kan dit sterk aanbeveel. Natuurlik kan dit te erg raak, maar dit maak allerhande dinge los, help die beeldspraak en beslis die ritme aan. Soms raak die nastreef na sagte ryme of die naarstigtelike vermyding van rym vir my te erg; dan word dit self ‘n keurslyf. Dis soos om by ‘n dam te sit en na die water te staar – niks verkeerd daarmee nie, maar rymdwang laat jou toe om ‘n plotselinge vis uit te pluk. As jy ‘n gedig oor ‘n bombastiese soldaat wil skryf, is daar ook geen beter middel nie. (‘n Parallel sal die kru, harde skilderye van George Grosz of Norman Valentine wees). Geforseerde ryme saam met ‘n klank- of ritmepatroon wat skielik omkeer, is vir my ook ‘n lekker oefening in die moontlikhede van taal. En lekker is tog waaroor dit gaan.

  12. Desmond :

    Hans, ek hou ook nogal van “temende lewe”, maar kan nie juis verduidelik hoekom nie… Dit werk vir my, suiwer op die klink af.

    Wat ek ook baie van hou is dat jy in jou bundel, of dit nou as geheel werk of nie, ‘n soort politieke fokus het wat myns insiens oor die algemeen afwesig is in Afrikaans: ‘n politieke fokus wat nie net gaan oor die voor en na van apartheid nie, maar wat globale kwessies, die feite en gevolge van prosesse wat op globale vlak afspeel en in verskillende lokaliteite repurkussies het, op ‘n digterlike manier probeer verwoord en aanspreek. Mens kry seker ‘n bietjie hiervan by Breyten Breytenbach, maar benewens hom kan ek nie nou dink aan Afrikaanse digters of skrywers wat werklik tematies aansluit by die meer transnasionale politieke debatte en krisisse van ons tyd nie. Wat die politiek as tematiek betref is daar maar min “kosmopolitiese” digters in Afrikaans, en is ons digkuns dalk meestal “nasionaal” en “kultureel” gerig. Voor BB was daar darem, Uys Krige wat in iets soos Lied van die Fascistiese Bomwerpers politieke knelpunte en solidariteite verwoord het wat die nasionale verbystreef… In elk geval, dit is vir my goed en nodig dat iemand soos jy ook hedendaagse kwessies soos Empire en globale politieke prosesse in Afrikaanse gedigte deurtrap. Moenie ophou nie!

    Kan ek jou vra: was jy teoreties beinvloed deur Hardt en Negri se konseptualisering van Empire? Daardie idee van Empire as orals, maar ook nerens, of ten minste, as sonder ‘n sentrum? Nie dat ek jou gedigte tot ‘n teoretiese posisie wil verskraal nie: ek wonder maar net om interessantheidshalwe.

  13. Hans Pienaar :

    Dankie Desmond vir jou bemoedigende kommentaar, en jammer ek reageer weer so laat – ek was weer oorsee en het pas die week teruggekeer. Ja, Negri en Hardt het my algemene denke sterk beinvloed en daarom die bundel ook. Die woorde op die flapteks kon net sowel uit hul werk gekom het. In hul boek Empire het hulle so te se die Irakese oorlog voorspel en ook die finansiele krisis. Wat ek van hul benadering hou is dat ‘n mens die beste uit die Marxisme kan neem en die val van die kommunisme daarby kan inwerk om jou eie analitiese metodes uit te werk wat nie die werklikhede van die nodigheid vir markte en die vergrype van die derde wereld ignoreer nie. Vir my het my digeksperimente middels en meganismes verskaf om verder as hierdie analises te gaan en tot nuwe insigte te kom oor die aard en alomteenwoordigheid van empire. Byvoorbeeld “Die koninkryk van dooie tyd”: Uiteraard is party van die gedigte nie bedoel om met die eerste lees plesierig te wees nie, en as jy vaskyk teen die rymdwang van hierdie gedig (wat doelbewus daar is in ‘n hiperboliese graad sodat die leser kan meelewe aan die koninkryk van neutraliteit geskep deur ons onderworpenheid aan die “dead time” by lughawens, langs rekenaars en in verkeersknope en tegnologie oor die algemeen) gaan jy die sin van die gedig mis en hoe dit geen ontsnaproete verskaf vir die leser nie. Dis ‘n soort kontra-estetika, een van verskeie wat ek pleeg, en tot dusver sien resensente dit glad nie raak nie (ander lesers wel). Bernard verstaan die lang gedig Smarte van empire glad nie, en kla oor die cliches, maar die cliches is doelbewus daar en is gesit in ‘n dalende klank- en rympatroon wat dertien keer herhaal word om die vasgevangenheid van die neerbuigende, selfingenome spreker in hierdie cliches op ‘n ironiese wyse te probeer uitdruk. Bernard se eie konserwatiewe ideologie is die eintlike probleem – soos die kritici van die apartheidsdae skram hy instinktief weg van enigiets wat sogenaam “polities” raak. So ook die ander resensente. Dis jammer, want ek het gehoop op ‘n gesprek rondom maniere om die empire teen te staan, soos met die digkuns, veral omdat dit besig is om Afrikaans en ander klein tale te verniel. Ek is gevra vir ‘n onderhoud op Versindaba waarin ek gehoop het om so ‘n gesprek te begin, maar dit het skynbaar deur die mat geval.

  14. Louis :

    Hans, jou slotopmerking oor die onderhoud het my tot in my voetsole geruk. My eerste reaksie was dat jy nooit reageer het op my versoek nie, maar nadat ek weer deur ons korrespondensie gesnuffel het, het ek ontdek dat jy wel jou bereidwilligheid verklaar het; weliswaar was dit deel van korrespondensie oor die voorraad-bestelling, ens. Jy het selfs die manuskrip daarby aangeheg soos versoek.
    So – ek staan volledig en vierkantig skuldig. En daaroor is ek baie, baie jammer.
    Ter versagting kan ek net noem dat ons korrespondensie gedurende die tweede helfte van Februarie was en daardie tyd is dit sardientjietyd in my besigheid agv die begin van die akademiese jaar by die plaaslike Universiteit.
    Jammer, jammer.
    Met waarderende groete,
    Louis

  15. Desmond :

    Hans, dankie vir die uitvoerige antwoord. Baie interessant.

    Ek dink die gesprek waarop jy gehoop het (“rondom maniere om die empire teen te staan, soos met die digkuns, veral omdat dit besig is om Afrikaans en ander klein tale te verniel”) is uiters relevant, en daar word beslis te min aandag aan gegee in Afrikaanse kringe. Myns insiens.

    Ek dink mense bly of te verknog aan ‘n apartheid/post-apartheid of Koue-Oorlog/post-Koue-Oorlog optiek, of hulle aanvaar te maklik die (verregaande) idee dat ons ons in post-politieke en post-ideologiese tye bevind.

    Daar is amper ‘n soort refleksreaksie teen “politiek”. Mense maak dikwels stellings soos: “Sorg net dat jy Afrikaans/taal/watookal nie politiseer nie.” Myns insiens moet mens JUIS politiseer; jy moet net REG politiseer!! (My probleem met PRAAG bv. is nie dat hulle die taal politiseer nie, maar dat hulle politiek uitsigloos en dom is. Maar goed, ek dwaal nou af van die onderwerp.)

    Ek wil maar net weer benadruk dat ek wel waardering het vir die politieke ruimtes (ook ruimtes van verset) wat jy in Afrikaans probeer oopskryf.

  16. Hans Pienaar :

    PRAAG is nog vasgevang in die politiek van die Koue Oorlog empires. Die nuwe empire het ‘n strik gestel – nie noodwendig vir hulle nie – waarin hulle netjies getrap het, en waardeur enige nie-rassistiese taalstryd outomaties as rassisties afgemaak word. ‘n Mens durf nie pro-Afrikaans praat nie of jy word as gevolg van Praag se besetting van die taalstrydruimte in die spervuur van die empire ingetrek.

    Maar politisering of ontpolitisering is juis die moeilike ding. Deel van die empire se heerskappy is om alles in ‘n ewigdurende reeks mediagolwe van politiek te omspoel. Die internasionale media – en ‘n mens moet onthou CNN ensomeer is net ‘n paar dekades oud – nestel enige gebeurtenis onmiddellik in ‘n waas van politieke of moralistiese signifikasie. Die nuus is oral, selfs op jou hart wanneer jy selfoon begin wriemel. So die onmiddellike vraag is: staan jy die empire teen deur die nuus af te skakel, soos Johannes Kerkorrel aanbeveel? Of is ‘n mens juis besig om te doen wat die empire wil he: Jy raak so gatvol vir al die politiek dat jy net wil wegkom en hom/haar/hulle vrye teuels gee. Een van my probleme met die ANC se mediatribunaal is nie net dat hulle nuusbronne wil sensor nie, maar ou nuus wil laat voortlewe, in ‘n geperverteerde gedaante. (Die ANC is wel deeglik deel van empire).

    Kreatiewe skryfwerk teen dit alles in is een oplossing, maar die Achilles-hiel is: gaan genoeg mense dit lees? En hoe kry ‘n mens mense sover om dit te lees sonder om die empire van bemarking te join?