Digstring: Melanie Grobler. Die eerste vrees is hier

 

Die Eerste Vrees Is Hier.   

 

Waar die rivier soos ʼn skepbeker deur die mere loop

kom ek om middernag by die grenspos, hoog op ʼn heuwel aan.

Murgsat na ʼn uitgestrekte tentatiewe reis na die ewenaar

tuur ek suid, na onder toe die onvermydelike sigbaar word.

In ʼn brose teeplantasie omarm ʼn jong man die horison

voordat hy met dwalerende krete oor ʼn bruin grondwal spring.

Die eerste vrees is hier.

 

Die krygers se griewende machette lig die katedrale van slagting

na die planete.  Toe die sekelmaan kerf aan die blou vlies

van die hemel, blom en swel liggaam sonder ʼn vlerk wat roer.

Stemme en liedere sal nooit weer oor hierdie kliphuisies drup nie

want ou vroue dra reeds hul drome na oggendwolke getint met bloed.

Oumansstories word opgevreet, soveel waardige veldslae gaan verlore.

Paniekbevange vlug die beeste na ʼn duisend veraf heuwels.

 

Net die wind onthou die yl stemme van kleuters wat swermende

spore in die as van die begrafniswond trap.  Rotse kreun as die eruptiewe

krater wolke hoog die lug in slinger.  Ek dink aan Atlas gebuk onder die juk

van die omwolkte wêreld.  Die dop van my lyf weeg swaar as ek buk

onder die juk van krassende swart kraaie.  My siel huil in my hand

en my voetsole buig ʼn boog oor die dooies.  Nog ʼn keer en tevergeefs

draal die dreungesange oor die stad van strooi.  ʼn Afgebreekte fort.

 

© Melanie Grober. Ongepubliseerde gedig. 2010

 

 

Funeral Bruise.

 

I arrive with the night wind on my brow.

Arrive at the border post near the equator

 

where I hunch quietly waiting for the blind inner eye

to bridge the thin line of apprehension.

 

A young man jumps over a brown ground wall

and when the militia step forward people stiffen.

 

Grievous the machettes gleaming like mountain dew

when the funeral bruise erupts  from the Verunga Volcanoes.

 

The cries of orphans roaming along paths of scavenging crows

raise the cathedrals of slaughter to the sky and I think of Atlas

 

near the end of the world bending beneath his yolk

of clouds.  Bending under the weight of the genocide

 

my soul cries in my hand.  My raining feet covers

the raw wound of daybreak with love.

 

Vert. Melanie Grobler. Ongepubliseerde gedig. 2010

 

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf.  Hoe het dit ontstaan?

 

Ek het twee jaar die geleentheid gehad om saam met Lara en Andreas deur Rwanda, geleë in die Groot Mere Distrik in die oostelike gedeelte van Sentraal Afrika en omring deur Uganda, Burundi, Tanzanië en die DRK, te reis om nuwe roetes vir GPS Tracks for Africa te karteer.  Ons het met die Pajero gereis na die Groot Gedenkklip waar Livingstone en Stanley mekaar vir die eerste keer ontmoet het en toe na die Verunga Vulkane waar Dianne Fossey se berggorillas woon.  In die Nyungwe Oerwoud was ʼn kennisgewing wat die oorsprong van die Nyl aangedui het.  Maar Kivu Meer, een van die twaalf diepste mere in die wêreld, word meer as enige ander plek in Rwanda onthou vir die Groot Menseslagting van 1994.  In die Vallei van ʼn Duisend Heuwels, lees ek destyds in ʼn gidsboek, was die landelike gebiede bestrooi met verminkte lyke, dat honde en kraaie die land weer skoongemaak het.  Paradoksaal tot vandag toe is daar weinig honde in Rwanda te siene.  Ook die wonderlike tradisionele Ankole koeie met hul lang regop horings, wat die indirekte oorsaak van die eerste Menseslagting in Rwanda was, is heeltemal afwesig.  Maar dis ʼn ander storie waaroor Ryszard Kapuściński geskryf het.  Net die kraaie van Kigali laat mens aan die gruweldade van destyds dink.  Anders as in die res van Afrika, sing beide die Tutsis en Hutus nie meer nie.  Die enigste musiek wat ek gehoor het was die eentonige dreunsang van ʼn diep verwonde nasie. Tydens die jaarlike herdenking van die Genocide word hierdie musiek dag en nag, oor en oor gespeel.  Tydens die skryfproses het vrae die heel tyd by my opgekom.  Kan enige gedig die omvang van so ʼn gebeurtenis verwoord?  Kan al mens se besoeke aan die vele plekke van slagting omskryf word?  Kan enige woorde die ellende van ʼn Menseslagting dra?  Ek weet dat my gedig nie die gebeure van 1994 kan verwoord nie.

 

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

Ek het die eerste gedagtes oor die Menseslagting reeds in die restaurant Heaven, in Kigali, in ʼn notaboek opgeteken en alhoewel ek ses weke daar was en die geleentheid gehad om daardie notas te omdig, kon ek nie.  Ek het wel ʼn titel vir ʼn titel vir ʼn gedig gehad.  Terug in Pringlebaai het ek ʼn onverwerkte vers geskryf en dit in ʼn legger vir onvoltooide werk op die rekenaar gebêre.  Ek het Die Eerste Vrees nader gesleep toe die uitnodiging om die vrae (onderhoud) van Digstring, my per e-pos bereik het.  Intussen het twee jaar verloop sedert my eerste gedagtes oor die Menseslagting vasgepen is.  Genadiglik stomp mens se emosies met tyd af.  Maar dit neem my laaaaank om gedigte te skryf en ek skryf stadig.

 

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

Ek het oor twee dae Die Eerste Vrees en ʼn onafhanklike Engelse gedig, Funeral Bruise, voltooi.  Die Afrikaanse gedig het veel meer hoofbrekings gebied.  Na twee dae se gesukkel het ek gaan slaap en toe ek opstaan het my onderbewussyn (?) sy of haar besluit aan my openbaar.  Die Eerste Vrees, moet uit.  Die gehalte van die vers is nie op standaard nie.  Hoekom nie? vra ek myself af.  My eerste gedagte is dat dit nie die metafisiese kwaliteit van Funeral Bruise het nie.  Wat beteken die woord metafisika, wil ek van myself weet.  Waar ek op die oomblik skryf is geen woordeboeke nie en ek kan nie die betekenis van die woord navors nie.  Dis vroeg in die oggend en dis nog donker buite.  Dit het die heel nag lank gereën en dis koud hier.  Ons het gisteraand ʼn sms van die Overstrand Munisipaliteit gekry dat ʼn groot reënstorm Pringlebaai deur die nag gaan teister.  Ons is in Stellenbosch en ons kat, Matewis, is alleen by die huis.  Ek bekommer my nie net oor die kat nie, maar ook oor my besluit om Die Eerste Vrees uit die onderhoud te sny.  Ek hoor nog hoe roep die kat my toe my onderbewussyn vir my ʼn nuwe stukkie inligting uitgooi.  Die Argeoloog.  “Hier’s hy”, dink ek opgewonde.  “Hiermee kan ek werk.”  “Maar is dit nie te hoogdrawend nie?”  Hoekom moet die Afrikaanse gedig dan nou kwansuis uit?  Gaan die lesers van die onderhoud nie kwaad wees as ek ʼn Engelse gedig aanbied nie?  En dit nogal op Versindaba wat soveel vir die Afrikaanse digkuns doen!  Op ʼn meer ernstige noot.

Kom ons sê dat my bedoeling is om ʼn gedig as argeologiese artefak aan te bied.  Om hierdie stelling verder te neem; gedurende die ontginningsproses sif die argeoloog deur die grond (onderbewussyn) met die doel om ʼn argaïese objek, voorwerp of spore van lewe te vind.  Gewoonlik is daar groot opgewondenheid in die kamp as iets gevind word.  Na vele besluite denkprosesse en navorsing word die artefak na ʼn spesifieke museum geneem waar die kurators ook sekere besluite neem.  Maar eers wanneer die museumganger voor die gevonde objek staan kry dit ikoniese waarde.  Mens kan hier dink aan die replika van Lucy se skedel wat in die Maropeng Museum, gebou in die Wieg van die Mensdom Bewaringsgebied, uitgestal word.  Lucy dien reeds as ikoon vir baie mense, wat in die afwesigheid van godsdienstige ikone, hierdie waarde aan  haar toeskryf.  In Afrikaans weet ek, het Ingrid Jonker en sekere van Breyten Breytenbach se gedigte ikoniese waarde.

Miskien, dink ek by myself, het Funeral Bruise reeds ʼn dun lagie patina.  Maar Die Eerste Vrees het niks.  Dis bloot ʼn klip wat in ʼn nuwe landskap rondlê. Na nog ʼn nag se slaap, staan ek op en haal diep asem.  Na ʼn eienaardige nagtelike haelbui is die landskap hier in Pringlebaai besonders.  My man en ek ruim die kombuis op.  Ons het gisteraand mense vir supper, soos die Bolanders lief is om te sê, oorgehad.  Nadat die skottelgoedwasser aangeskakel is en my man uit is vir sy daaglikse stappie na Pringle Mingle, die plaaslike koffiehuis, het Die Eerste Vrees kiers regop voor my kom staan.  “Nou ja, ons gaan verder aan my werk.  Of nie?”  “Ja” antwoord ek gedwee.  Ek maal Rwandese koffiebone wat per geleentheid vir ons aangestuur is, voltooi my daaglikse oggend ritueel, versamel my skryfgoed en gaan na Bloublom, die buitevertrek waar ek skryf, rol my vinger op die iPod, kies die musiek van die Portugese sanger, Amália Rodrigues en begin weer aan die gedig werk.

 

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik?  Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

 

As daar sprake van ʼn ordeningsproses was, was dit daardie onbewuste dissipline om die intellektuele en emosionele woordordening so na as moontlik tot ʼn perfekte digvorm te bring.

 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek?  Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

 

Die vers is onafhanklik geskryf en daar was niemand wat ek as klankbord kon gebruik nie.

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer?  Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Beide die verse is ongepubliseerde werk.

 

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Hierdie vers handel oor ʼn Menseslagting en alhoewel ek Rwanda persoonlik besoek het, het ek na my tuiskoms in Suid-Afrika so veel moontlik boeke gelees en na films oor die gebeure gekyk.  Die wyse waarop die gedig geskryf is plaas dit op ʼn metafisiese vlak en daarmee bedoel ek, dat dit in die gebied tussen fiksie en feit lê.  Dis reeds getransformeer.

 

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Die vers handel hoofsaaklik oor ʼn enkele insident van ʼn jong man wat oor ʼn bruin grondwal spring. Hierdie enkele gebeurtenis dien as ʼn metaforiese vertrekpunt wat sy loop neem en eindig met ʼn metafisiese interpretasie van die Menseslagting van 1994.

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

 

Miskien die film, Hotel Rwanda?

 

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

 

Ek hou altyd die leser in gedagte.  Ek wil graag helder en deurdagte verse skryf; al is die tema swaar en gewigtig moet dit maklik leesbaar wees.

 

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Alhoewel Menseslagtings regoor die wêreld voorkom verwoord hierdie vers ʼn gebeure wat in Afrika plaasgevind het.  Ek glo nie dat ek ryp genoeg was vir so ʼn vers in my digbundels, Tye en Swye van Hester H en die Waterbreker nie.  Miskien sal hierdie vers nuwe deure oopmaak.  Wie weet?  Mens sal maar moet sien.

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Ek kan hierdie vraag net beantwoord deur ʼn ompad te loop.  ʼn Vliegtuig wat op die punt was om te land in Kigali waarin die President van Rwanda, Juvénal Habayarimana en Cyprien Ntaryamika, die Hutu president van Burundi gereis het, is op 6 April 1994 afgeskiet.  Die skuld is op Hutu ekstremiste geplaas.  Die land is in chaos gedompel en berigte van die eerste menseslagting in die landelike gebiede, het na Kigali gestroom..  Beide die Verenigde Nasies, België, die voormalige koloniale heersers, en die res van die wêreld het hulle nie aan vroeë waarskuwings gesteur nie. Binne honderd dae is byna ʼn miljoen mense, beide Tutsis en gematigde Hutus, wreedaardig met pangas opgekap.  Dae nadat die vliegtuig afgeskiet is, het Belgiese soldate van die UNAMIR, die Eerste Minister vergesel na ʼn gebou waar sy uitsendings oor die radio sou doen om die volk te kalmeer.  Maar die weermag het die gebou bestorm en beset.  Teen twaalf uur het die presidensiële wagte haar vermoor.  Later is tien Belgiese soldate dood gemartel.  Daar is ʼn spesiale gedenkplek vir die Belgiese UNAMIR Personeel van België in hierdie geboutjie opgerig.  In die museum is ʼn uitstalling waar die belangrikste voorvalle van menseslagting opgenoem word; die uitwissing van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, Joegoslawië, Armenië, Pakistan, Manturië, Suid-Amerika, Uganda, Rwanda, Irak, Kambodja, Australië en belangrik vir ons die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog.  Mens sou dus my gedig kon opdra aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het.

 

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Beide is gedigte is nuwe werk en ek weet nie of hulle werklik voltooi is nie.  Sal eers oor ʼn jaar kan sê.

 

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

Beide die gedigte is ongepubliseerd.

 

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou?  Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

 

So ver ek kan onthou is my eerste gedig, Die Kosmoloog, deur Andre Brink, wat toe die redakteur was, in die laaste uitgawe van Standpunte opgeneem.  Ek sal na ʼn biblioteek toe moet gaan om weer toegang tot die gedig te kry.  ʼn Ander vroeë gedig uit die digbundel, Tye en Swye in die Lewe van Hester H. 1991, is die volgende:

 

Afrika

 

Om hier te lewe is om verteer te word

heeltemal helder en heeltemal stil –

brand weer saam met my my lief

as jy Afrika aanvaar

kan jy hier sterwe.

 

 

Melanie Grobler

Melanie Grobler

 

Melanie Grobler debuteer in 1992 met Tye en Swye in die lewe van Hester H. Vir die bundel verwerf sy die Rapport-prys van daardie jaar. Die waterbreker het in 2004 verskyn.  In Tye en Swye in die Lewe van Hester H word die “ek” se posisie in die speelveld van magstrukture ondersoek, veral in die politiek, die voorgeslag en die gesin. Die waterbreker beeld die bewussynsreis van die self uit. Daar word weer eens na die verhouding van die “ek” met die gesin gekyk. In plaas van die biologiese word daar oor die digtersvoorgeslag geskryf. Melanie woon op Pringlebaai.

 

 

 

 

 

___________________________________________________________________________

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.