Onderhoud: Melt Myburgh

 

“Die plofkrag van poësie lê vir my in beeldspraak”

 

 Marius Crous gesels met Melt Myburgh

 wie se debuutbundel Oewerbestaan pas verskyn het.

 

 

Melt Myburgh. Foto: Johan Steyn

Melt Myburgh. Foto: Johan Steyn

Melt Myburgh, die eertydse bekkige webmeester by SêNet, debuteer met die bundel Oewerbestaan. Tans is Melt verbonde aan die Woordfeeskantoor te Stellenbosch en hierdie paar vrae het Marius Crous aan hom gestel so ten midde van al sy bedrywighede – Woordfees 2011, die launches van sy bundel en sy besige sosiale kalender. Wat hier volg is die ernstige Melt aan die woord – die joviale gees van die partytjie moet eers terugstaan vir die woordwoekeraar. (mc)

 

Hoe het jy op die titel besluit? Wat wil jy alles met hierdie titel oordra?

Vir my was dit omtrént ʼn treurmare om die titel te finaliseer. Oewerbestaan verwys uiteraard na die wêreld van die Noord-Kaap waar die Oranjerivier soos ʼn lewegewende slang seil. In die bundel is daar egter ook ander riviere wat dien as voedingsbron vir die bestaan van gemeenskappe en individue, soos die riviere wat loop deur Lorca se lewe, die Rio Darro in Granada en die Manzanares in Madrid.

Oorkoepelend, dink ek, roep Oewerbestaan iets op van ʼn geïsoleerde bestaan – die individu wat deel van ʼn gemeenskap langs ʼn rivier is, maar tegelyk staan hy ook op die oorkantste bank en kyk.

Voordat ek op Oewerbestaan besluit het, was dit “Refleksies van ʼn oewerbestaan”, ʼn aanpassing van ʼn reël uit my “upington”-gedig. Maar dit klink uiteindelik soos die titel van ʼn romantiese novelle, nie waar nie?

Federico Lorca speel deurlopend ʼn belangrike rol in jou bundel. Vanwaar die belangstelling in Lorca en sy werk?

Toe ek ʼn kind was langs die Oranjerivier het ek ʼn wit-en-swart TV-produksie met Wilna Snyman gesien as die matriarg in Lorca se Die huis van Bernarda Alba. Ek was onmiddellik geroer daardeur. Op Universiteit het Hennie Aucamp op ʼn dag, so in die verbyloop, ʼn kopie van Lorca se bekende gedig, “Ode aan Walt Whitman” in my hand gedruk. In daardie besondere teks van ʼn klein Hollandse uitgewery, was die Spaanse, Engelse en Nederlandse weergawes van die gedig gedruk wat in Afrikaans sy beslag gekry het deur Uys Krige se vertalingspen. Die verskil in omvang tussen Krige se Afrikaanse weergawe en die oorspronklike vers het my dadelik opgeval.

Natuurlik is my fassinasie met Lorca aangevuur deur sy ongelooflike aardse talent, sy seksualiteit en die tragiese einde van ʼn jong lewe. Nadat ek Ian Gibson se biografie oor die skrywer onder oë gehad het, het ʼn verskeidenheid ooreenkomste tussen my jeugwêreld en dié van Lorca soos ʼn seëning oopgeval: die Oranje wat deur die Noord-Kaap loop en die Rio Darro en die Genil en die Gubillas in Lorca se jeugwêreld. Die vloede wat die landerye in Fuente Vaqueros oorstroom en vrugbaar laat, net soos in my wêreld. Die besproeiingskanale waarmee ek grootgeword het, ensovoorts. Wat natuurlik in die Noord-Kaap ontbreek, is monumente wat die landskap kleur soos die Alhambra in Granada.

In Oewerbestaan probeer ek om iets van die Noord-Kaapse landskap te sê soos wat dit nog nooit voorheen gedoen is nie. Ek wou wegkom van die gemoedelike humoristiese verhale wat dié streek besing, en Lorca se jeugwêreld, dink ek, het my in staat gestel om die blik op my jeugwêreld op ʼn unieke manier te verruim. Of ek daarin slaag, sal die tyd leer.    

Ek staan nederig teenoor die grootsheid van Lorca se geskiedenis. Terselfdertyd was ek aanmatigend genoeg om dit op ʼn manier vir myself toe te eien om betekenis te probeer gee aan my eie jeug.

Hoekom was dit vir jou nodig om op Lorca se spoor te gaan loop?

In 2004 het ek en ʼn vriendin (Elsa, wat figureer in ʼn paar gedigte in die bundel), vakansie gehou in Portugal en in Spanje. Ons het ons roete so uitgewerk dat ons die bakens op Lorca se lewenspad kon aandoen. Ek het destyds ʼn artikel op LitNet se ReisNet geskryf oor my besoek aan Fuente Vaqueros, die dorpie buite Granada, waar Lorca kind was. Voor die reis het ek heelwat van die gedigte in Oewerbestaan se Spaanse afdeling, “om federico”, geskryf. Ek wou gedigte soos “Fuente Grande” gaan toets aan die werklikheid van die landskap self.

Tot my verbasing was dit nie nodig om die “verbeelde besoeke” wat in die gedigte aangeteken is, te herskryf nie. Alles was wonderbaarlik akkuraat.

Daar het wel ʼn handvol gedigte bygekom op grond van die Spaanse besoek, en ek kon byvoorbeeld gedigte maak waarin ek figure uit my landskap verplaas na Lorca se landskap, soos in die gedig “nét hier”.

Opvallend vir my is die beeldrykheid van jou verse. Hoe besluit jy of ʼn beeld of ʼn metafoor geslaagd is, al dan nie?

Ek staan onder die invloed van Opperman; daar is min beeldbouers soos hy in Afrikaans. Ek is waarskynlik outyds in my benadering, maar ek beskou beelding sentraal aan die poësie. Toe ek student op Stellenbosch was, het ek Breyten Breytenbach by die UWK hoor praat oor die beeldingskrag van poësie, en hy het ʼn gedig vergelyk met ʼn handgranaat. Die impak daarvan moet ʼn leser van balans ruk. Daardie plofkrag van poësie lê vir my in beeldspraak. Dit maak vir my sin dat ʼn gedig die leser se gedagtewêreld só moet roer of ontstig dat hy of sy op ʼn nuwe wyse na die wêreld kyk.

As ʼn vergelyking of metafoor enigsins “corny” aandoen of hoegenaamd bekend klink, is dit vir my ongeslaagd.

In jou gedig “upington” praat jy van “geliefde stad”. Jy is seker (so ver ek weet) die enigste digter in Afrikaans wat so liries kan raak oor Upington. Waarom is dit vir jou nodig om so terug te gaan na jou jare op Karos / in Upington? Is dit ʼn geval van ʼn gelukkige kindtyd wat jou laat skryf?

Die gedig “upington” is ʼn ironiese verheerliking van my geboortedorp, soos wat Ampie Coetzee tereg aandui in ʼn resensie van Versindaba 2008, waarin dié gedig opgeneem is.

Nadine Gordimer het baie waar woorde gespreek toe sy gesê het ʼn debuutskrywer probeer altyd afreken met sy kinderjare. My kinderjare was dikwels ekstaties, maar meestal kompleks.

My gedigte oor my kinderjare is ʼn poging is om demone te besweer. Min mense besef watter impak die institusionele geweld van Klein Apartheid op die gestel gehad het van iemand wat in die sewentiger- en tagtigerjare in ʼn afgesonderde wêreld soos myne grootgeword het. Ek het met my eie oë gesien hoe mense gebrutaliseer is in die waan van ʼn siek politieke bestel, en dit het my minder mens gelaat.

Op hoërskool het my Geskiedenisonderwyser rottang in die hand vertel dat, indien swart mense in ons klasse toegelaat word, hulle tafeltjies op bakstene sou moes staan sodat die tokkelossie onderdeur kon stap. Die idee van militêre diensplig het in my tienerjare soos ʼn swaard oor my kop gehang.

Die liriese mildelikheid word onderlê deur die spanning van ʼn verdagte realiteit.

Die gedig “parque Federico Garcia Lorca” verwys na die drie klippe en die blaar. Speel dit in op ʼn spesifieke gedig van Lorca? Of waaroor handel dit?

Die gedig handel oor drie klippe en ʼn olyftakkie wat ek teruggebring het van die plek waar Lorca begrawe is, vandag omhein en gehek onder ʼn bord wat lees “Parque Federico García Lorca”. Die blare het intussen weggeraak en ek het twee van die klippe uitgedeel aan mentors. Dit was die naaste wat ek aan fisiese kontak met Lorca self kon kom – ek vermoed sy DNS kleef aan die klippe en voed die olyfboom.

Jou verse is baie plekgebonde in die sin van gekoppel wees aan bepaalde plekke, bv. Grahamstad, Kaapstad of Upington. Hoekom? Hoekom juis hierdie plekke?

Ek is sedert my studentejare gefassineer met die ruimte-aspek van letterkunde. So het ek my M.A.-verhandeling geskryf oor die ruimte in ʼn Wilma Stockenström-roman. Ruimte is vir my die sleutel tot beelding. Die plekke wat jy noem is waar ek in my lewe gewoon en geskryf het. Ek glo mens se lot word bepaal deur jou verhouding met die ruimte waarbinne jy jouself bevind.

“Inkdood” vind ek ʼn baie mooi titel vir die een afdeling. Wat wou jy daarmee oordra?

Die afdeling handel uiteraard oor verlies en dood. My uitgewer, Protea Boekhuis, beskryf dié afdeling só op hul webwerf, in Engels nogal:

The last section, “inkdood’, deals with the poet’s attempts to restore the destruction wreaked by death and decay.

Ek volstaan daarby.

Die vaderfiguur word in van jou gedigte aangespreek. Is daar by jou `ʼn worsteling met die vaders in jou lewe? Wie is die vaderdigters in jou lewe?

Ja, ek worstel met vaderfigure – van my landlord tot by die engel Gabriël homselwers. Hoewel ek ʼn groot Opperman fan is, sal ek oneerlik wees as ek na “vaderdigters” moet verwys. Die digtersfigure in my literêre hemel is eerder vrouefigure soos Krog en Stockenström.

Beteken dit ek het ʼn moederkompleks? Ag nee, net nie dit nie!

Die liefdesgedigte in jou bundel is subtiel en geensins uitgesproke eroties nie. Hoekom? Die slotgedig met sy “islamitiese knop” wil neig na die teenoorgestelde. Is dit so?

Nee, ek dink daar is tog eksplisiet erotiese gedigte. “Duende” en “Swem in die kanaal” is voorbeelde. Ek laat eksplisiet erotiese verse oor aan kenners.

By LitNet was jy nou betrokke by resensies en jy het self o.m. resensies in Rapport geskryf –  gaan jy jou steur aan wat die resensente oor jou boek gaan kwytraak? Wie sou jy graag wou hê moes jou boek resenseer?

Ek steur my graag aan goeie, kundige resensente. Ek het my voorgeneem om afstand te doen wanneer dit gepubliseer word. My gewig gooi ek graag in sover dit bekendstellingspartytjies aangaan – sover in Grahamstad en in Stellenbosch. En dit is dit.

Die baba is te water gelaat; hy moet self swem of sink.

***

Twee gedigte uit Melt se debuutbundel ‘Oewerbestaan’

 

granada blindelings

vir hennie aucamp

 

op die plaza nueva

verwelkom die stad my

palm na bo:

 

‘n aanbod van gifte

wat bagasie word

 

aanvanklik probeer ek tussen lyne lees, suutjies

trap, maar struikel telkens oor die plaveisel

waaronder die rio darro in donkerte loop

 

om blind te wees in ‘n stad

wat binnensmonds praat

verg ‘n bedelaar se oor

vir die sakrale ruising

waarmee stemme vanuit

die heuwels bo alfacar

uit massagrafte styg

 

karos

40 km buite upington

 

hoegenaamd nié pastoraal, hierdie vega van my;

hier moet die rivier konstant walgooi teen die

oranje bekruip van die woestyn

 

sonder die omhelsing van ‘n sierra

wat gypsies huisves of reënwolke keer

lê my wêreld bloot en brak aan ‘t verweer

 

hiér word die sambok gereeld ingelê

hiér dikteer dooies windlangs uit sipresse

hiér heers geitjiedrolle teen kakhuismure

 

ek onthou die vroetel in my ma se skoot,

die koplosdans van hoenders om die kapblok

die eindelose vleg van wingerdlote,

skaapslag, vetderm op kole uitgedop,

‘n nodelose geskoffel teen die vyfvoetige prik

van duwweltjies voor dit goudgeel blomme word

 

ek herinner my

films wat vasbrand in skoolsale

die klanke tydens ‘n tombola-aand

‘n opwekkingsdiens met skyfies oor die wederkoms

die swiepslag van francisca, ‘n sirkusarties

‘n piekniek vir ‘n drenkeling langs die rivier

die trossige asem waarmee peule ryp word

en sterf aan die voet van ‘n jerusalem-doring

 

hoe skryf ek, dierbare frederik, hiérdie landskap vir jou oop

sonder om reëlreg my eie graf in te loop?

 

 

[Uit:Oewerbestaan, Melt Myburgh. Protea Boekhuis, 2010]

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.