Digstring: Carina Stander. Lima

Digstring

Lima

Peru

 

probeer om te vergeet

 

waarsku die stad om lig te loop

want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie

gesig versluier agter vuillug garúa

 

probeer om te vergeet

die koue kind ruik Mercado del Indios

se alpakkatruie en musse van wol

 

laat die stad in vlamme opgaan

want ek wil haar nie so sien nie

 

die kind staan met hartseer speelballe

in ‘n stad van waansin 

waar sy stiptelik om spitstyd

al op die stippellyn wawiel

die munte traanblink in haar hand

 

steeds is haar voete duiwe

duiwe al op die stippellyne

kwetterend bo-oor die praatsang van priesters

swiepend oor verlamde moeders wat llamalammers brei

singend teen niksseggende vaders met arendsneuse

en koppe van klei

 

en haar voete praat luider as die stemme van priesters

en haar voete vleg vinniger as die hande van moeders

en haar voete dink verder as die koppe van vaders

 

fladderend in wawiele

is haar voete tweelingduiwe in vlug

asof die shajshas se bokhoewe ratel

en iemand ‘n vyfsnaar-charango

tokkel teen haar vel

 

moet die geluid van remme nie onthou nie

en die kras gefluit van die wind deur die straat

 

probeer vergeet

probeer vergeet

dat Lima ‘n dogtertjie was

 

© Carina Stander. Uit: woud van nege en negentig vlerke. Tafelberg, 2009

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Carina?. Hoe het dit ontstaan?

Op 7 November 2005 forseer ‘n oorstopvlug in Lima vir my en Gerrit om ‘n middag deur dié lugbesoedelde metropool met sy ritse dobbelhuise deur te bring. Elke stad het ‘n gesig. Die hoofstad van Peru se gesig is agt maande van die jaar versluier agter garúa, ‘n mislike mistigheid.

Mercado del Indios is ‘n kleurmal mark in die voorstad, Miraflores.  Tussen stapels wolmusse en kussing, sien Gerrit ‘n piepklein rooi rokkie.  Dit het ‘n kappie en is borduur met wolke wat reën oor kaktusse en llamalammers.  “‘n Poncho vir ons dogtertjie vir eendag,” sê hy. 

Spitstyd vleg ons deur die verkeer. Naby die lughawe sien ek haar. Sy is skaars drie jaar oud. Sy staan tussen die karre en gooi balle in die lug vir geld. ‘n Seuntjie van so ses maak wawiele op die stippellyn. Die motors jaag soos duiwels om hulle. My munt in haar hand. En sy kyk na my deur die oop karvenster. Sy kyk stip. Ek wil aan haar skouer raak, oor haar vuil hare streel. Om te dink, sê Gerrit, hoe mooi hierdie kind in ‘n rooi poncho sou lyk. Ek hoor hy wil huil.

Toe die verkeerslig verander, skryf ek in my notaboek: “Lima is ‘n dogtertjie.”

Daarna agtervolg die kind my vir weke lank – deur Arequipa, Titicaca, in Cuzco, oor die Andes en later ook in die Pantanal, die Amasone, Rio de Janeiro, Parati, selfs in Salvador da Bahia sien ek haar in elke straatkind.

Dalk het ek die gedig geskryf om van haar ontslae te raak. Of miskien was dit meegevoel wat my gedryf het om te skryf. Ek wou haar vry skryf. Ek wou vryheid oor haar profeteer. Ek wou vir haar voete gee – “tweelingduiwe in vlug”. 

ʼn Peruviaanse dogtertjie. Foto: Carina Stander

ʼn Peruviaanse dogtertjie. Foto: Carina Stander

 

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek skryf gereeld reisartikels vir tydskrifte – ‘n goeie manier om die wydheid van ‘n anderwêreldse ervaring te kondenseer. Dikwels vat ek dié kondensasie verder en maak verse daaruit. “Peru toe” was ‘n reisartikel oor die Peruviaanse Andes wat Mei 2006 in die Media24 tydskrif, Lééf verskyn het. Daarin het ek vir die eerste keer die verhaal van die kind in Lima vertel. ‘n Jaar later het ek dit in ‘n gedig omskep. Daar was maklik twintig weergawes van die vers, maar alles in een dag. Ek gaan slaap nie sommer voordat ‘n gedig of artikel of kortverhaal of watookal klaar is nie. Ek is heeltemal te nuuskierig om die slot te lees.:)

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

 Die impuls is aan my gegee.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Anders as met my digdebuut, is woud van nege en negentig vlerke vol vaste versvorme. Dit was vir my ‘n breinoefening om te sien of ek tot meer as vrye verse in staat is. Die uiteinde was ‘n villanelle, pantoen, rondeau, triolette en haikoes, maar meeste van die sewentig gedigte in dié bundel is vrye verse. “Lima”, het ek van die begin af geweet, moet ‘n vrye vers wees. ‘n Vertelvers. ‘n Liriese verhaalvers. Só kon ek na aan die werklikheid bly.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Eers nadat ‘n gedig duidelik vorm aanneem, lees ek dit vir Gerrit. Hy is een van daardie gevoelige linkerbreiners, ‘n ingenieur met meer as verstand. Maar letterkundige truuks beïndruk hom min – ‘n vers werk as geheel of dit werk nie. Punt. In die begin het hy my woedend gemaak, maar die laaste drie jaar of so vind ek hom ‘n besonderse nuttige eerste leser.

My uitgewer, Etienne Bloemhof, het beide die vloedbos sal weer vlieg en woud van nege en negentig vlerke aan Henning Snyman en Joan Hambidge gestuur vir keuring. Hulle albei was ook my dosente tydens die MA in Kreatiewe Skryfkuns by UCT – hulle ken my goed en hulle sien waarheen ek mik. Dit is my keuse om nie ‘n enkele vers te publiseer sonder dat een van hulle dit onder oë had nie. Meestal is die reaksie kort en kragtig: “Slot kort aandag” of “Snoei terug.” Maar om te weet daar is twee letterkundige indoenas en een nie-letterkundige impi wat my verse lees voordat ek dit die wye wêreld instuur, laat my veiliger voel. Meer oorlogbestand.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek het die gedig in 2007 geskryf. In September 2008 het LitNet gevra vir ‘n ongepubliseerde vers as deel van ‘n onderhoud met die nuwelinge van die Groot Verseboek. Ek het “Lima” ingestuur – presies soos wat dit nou is. As ‘n vers eers eenmaal verskyn het (op die internet, in ‘n koerant of waarookal) verander ek dit byna nooit.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Ek het ‘n lewendige belangstelling in antropologie en geografie en sonder uitsondering gebruik ek naslaangidse wanneer ek fasette hiervan in my werk betrek. ‘n Reiservaring is ook altyd vir my ‘n geleentheid tot navorsing;  ‘n versameling van feite én fiksie vir werk én speel. Deur reise is ek opsoek na ‘n moontlike wêreld, ‘n eie mitologie, ‘n nuwe beelding.

Wat “Lima” betref: garúa is werklik ‘n grys mistigheid in die winter in Lima; Mercado del Indios was werklik stampvol “alpakkatruie en musse van wol”; die Peruviaanse mans het werklik “arendsneuse” en die priesters “praatsing”. In  Arequipa het ek kennis gemaak met tradisionele herdersmusiek (“asof die shajshas se bokhoewe ratel/ en iemand ‘n vyfsnaar-charango/ tokkel teen haar vel”.) En natuurlik was daar die dogtertjie in Lima. Stiptelik. Om spitstyd. Op die stippellyn. Alles in die gedig is feit. Alles is waar, behalwe die geluid van remme in die straat. Of dalk probeer ek om te vergeet.

Is dit ‘n narratiewe vers?

Ja, dit vertel ‘n ware verhaal. Die verhaalvers ís ‘n universele medium, skryf Robert Frost: “Narrative is a mode of reconciliation, of healing, and of self-forgetfulness… At one level your ethnic or cultural background must influence your response to the linguistic medium. This is one reason why transparency in the telling can be not simply an artistic, but moral and political obligation as well. Once beyond words… stories are nation-blind” (2002:102).

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

In die bundel is “Lima” deel van ‘n afdeling getiteld “Vasteland, Wankelland”. Vastelande is nie vas nie, hulle wankel – ekologies, sosio-ekonomies, moreel, histories. Soos die ander verse in dié afdeling gaan “Lima” ook oor vernietiging en hoop, verwonding en verwondering, inperking (slawerny) en verbeelding of kreatiewe uitlewing as ‘n tonnel na vryheid.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

My maandlange reis deur Suid-Amerika in 2005 was die grootste impuls. En ek het Uys Krige se Spaanse Dans gelees – sy vertalings van gedigte deur Lorca en Neruda en Jiménez, openbaar die psige van die Latino wêreld. Ek kan nie onthou watter musiek ek geluister het toe ek die gedig geskryf het nie, maar ek het beslis na iets geluister. Wanneer ek vashaak met die skryf van ‘n gedig, skakel ek altyd musiek aan. Klassieke musiek (Rachmaninov, Satie, Beethoven) of world music van Bulgarye, Frankryk, Kenia, Ierland, Brasilië, Peru.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

‘n Bepaalde leser? Nee. Ek hou my deure oop vir die literati én die nie-letterkundiges. Ek wil inklusief skep, want elitisme is die dood van die kunste. Ek skryf beslis nie net vir myself nie, anders sou ek nie wou publiseer nie. Poësie is klankkuns – dit moet gehóór word.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit is ‘n intieme vers oor iemand wat ek nie ken nie.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee. En dis ook nie tipies Peruviaans nie. Wat tema en vorm betref, is dit een van die mees universele verse wat ek geskryf het. (Sien vraag nr. 8).

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Ek publiseer net ‘n gedig as ek bereid is om dit in lewende lywe voor ‘n gehoor te lees – dus, as ek bereid is om myself ten nouste aan daardie vers te koppel. Die verse wat ek abandon het, is almal op my rekenaar in ‘n lêer met die heerlike dubbelsinnige titel, “Gedigte om te verwerk.” Dit is 117 bladsye lank.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Die herhaling, klankrykheid en emosionele opbou van die gedig maak dit ideaal vir voorlesing en daarom het ek dit by feeste en bundelbekendstellings voorgelees. Elke keer is ek verras deur trane in die gehoor.

Vir interessantheid het ek nou weer na die resensies gaan loer. Een resensent noem “Lima” een van die “aangrypendste gedigte” in my bundel, terwyl ‘n ander  reken dis ‘n ongeslaagde voorbeeld van “onskadelikstelling.” Dit, dink ek, was ‘n vinnige afleiding, want daar word immers gesuggereer dat die kind verongeluk (“die geluid van remme”). Tog, met die betrokke resensie het ek gewen aan die wonderlike term, “onskadelikstelling”. Dit het ‘n baie waardevolle vonk in my losgeskiet: die besef dat ek onskade wil skep. Dat dit vir my ‘n kreatiewe uitdaging is om verby obvious verdoemenis te skryf. Om hard en ver na rariteite soos ongereptheid en veral vryheid te soek en dit dan te omskryf, is my rebellie teen wreedheid. ‘n Aanklag teen sosiale apatie. Mens sou “Lima” as ‘n protesvers kon lees.

 ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Op laerskool was ek skaam en stil, maar ek het ‘n maatjie gehad, Leonie. Dit was vir my die wonderlikste ding op aarde wanneer vreemdelinge dink ons is ‘n tweeling. In 1985 (ons was agt jaar oud), is Leonie se pa na ‘n ander provinsie verplaas. Ek was so verskriklik hartseer, ek kon skaars praat. Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my besoek.  Ek het dit dadelik neergeskryf – die “Leonie-week” was ‘n hele bladsy lank.  As ek eendag groot is, het ek gesê, gaan ek gedigte skryf.  My ma het gesê hierdie is ‘n gedig en vir my ‘n boek gegee waarin ek my versies kon neerskryf. Van daardie oomblik af het ek geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord wou wy. In die middae na skool het ek met Opperman se Groot Verseboek en ‘n gehawende HAT gesit en lyste gemaak van woorde wat vir my mooi is. Op elf het ek begin om elke tweede Sondagmiddag ‘n gedig te skryf – ‘n ritueel wat ek volgehou het totdat ek 17 jaar oud was. 

Leonie het nooit my briewe beantwoord nie. Twee jaar nadat sy weg is (ek was toe tien jaar oud) het ek die hele verdomde gedig met ‘n vergrootglas op ‘n plankie gebrand en vir haar gestuur. Steeds geen woord van haar nie. Sy is in ‘n motorongeluk dood toe ons 21 jaar oud was. Sy was my eerste liefdesteleurstelling.

 

Carina Stander

Carina Stander

Carina Stander het op ‘n plaas in Limpopo grootgeword. Nadat sy ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria behaal, werk sy vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan uitstallings met beelde en skilderye wat natuur en bonatuur verken. Haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg (Tafelberg, 2006), verskyn nadat sy ‘n meestersgraad (cum laude) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad behaal.  Dit word gevolg deur woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009.) As vryskutjoernalis by verskeie tydskrifte, is sy twee keer Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf. Van haar kortverhale is voorgeskryf vir hoërskole. Sy woon in ‘n kuswoud saam met haar man en seun.

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Bron:

Fraser, Robert. 2002. Ben Okri: Towards the invisible city. Devon: Northcote House.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Digstring: Carina Stander. Lima”

  1. Wysneus :

    die skeppende woord het ons geskep
    as ons woorde skep
    is hulle geskape.

  2. Evette Weyers :

    Dankie vir jou pragtige eerlike anywoorde en die konteks wat jy skilder waaruit die baie besonderse vers gespruit het. Die vers het my oorspronklik so getref en by my gebly. Deels ook oor ‘n ironiese teenstelling daar ek jou skeppende vlug met poësie en magiese realisme sien as jy wat onbevrees wawiele draai op die stippellyn van besige handels strate waar geld die magiese toe damp met rook en uit dreun met die lawaai van geld. Weens jou gawe kry hulle nooit reg om jou uit te doof nie. Vlieg voort en betower ons! Jy kry dit reg!!

  3. Evette, wat ‘n wonderlike stuk insig – jy laat my nuut kyk na my eie vers! Dankie hiervoor.

  4. Marié Jacobs :

    “Lima” is ‘n beeldskone gedig. Ek was heeltemal verwonderd nadat ek dit die eerste keer gelees het. ‘n Mens weet onmiddellik dat Carina ‘n rare digterstalent het.