Johann Lodewyk Marais. Die stryd van die kwatryne

Platrand Gedenkteken

Platrand Gedenkteken

By Platrand, digby Ladysmith in KwaZulu-Natal, waar op 6 Januarie 1900 ‘n bloedige slag tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het, is ‘n kwatryn van Ernst van Heerden op een van die mure van die gedenkteken aangebring. Dit lees soos volg:

Deur hierdie hande het ‘n groter Hand

gestorte bloed so mildelik gesprei,

dat vingertoppe oor die heuwelland

na akkers wys waaruit die vryheid groei.

Die digter D.J. Opperman, wat in Noord-Natal gebore en grootgeword het, het die volgende kwatryn oor Platrand geskryf, wat moontlik as ‘n enigsins geïrriteerde ‘antwoord’ op Van Heerden se kwatryn beskou kan word:

PLATRAND BY LADYSMITH

Met vergesigte oor ‘n ou slagveld

lig ons beskermend en diep ontsteld,

O Heer, bo hierdie Burgerbeendere:

betongebare uit die groot geweld.

In die 1970’s het daar byna op Platrand ‘n Afrikaanse universiteit tot stand gekom. Die grond is deur die kinderlose mnr. Thys Jacobs, ‘n welgestelde boer van die distrik en oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch, en sy vrou vir ‘n takkampus van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat beskikbaar gestel. Volgens oorlewering was Jacobs so vermoënd die Stadsraad van Kaapstad het by hom ‘n lening gehad!

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Die stryd van die kwatryne”

  1. Daniel Hugo :

    Johann, is die Opperman-kwatryn êrens gepubliseer? Ek kry dit nie in Kannemeyer se Opperman-biografie nie.

  2. “Platrand by Ladysmith” verskyn in J.C. Kannemeyer se D.J. Opperman: ‘n Biografie (1986), p. 492. Ernst van Heerden se kwatryn is afgedruk in Standpunte 152, Maart 1981, p. 39.

  3. Daniel Hugo :

    Baie dankie, Johann. Ek sien dit verskyn in ‘n voetnoot. Jy het beter gelees as ek!

  4. Johann Lodewyk Marais :

    “Baie interessant! Is ek van lotjie getik dat ek Van Heerden s’n beter begryp?” skryf prof Fransjohan Pretorius (UP) in ‘n e-posboodskap aan my na aanleiding van die twee kwatryne.