Onderhoud met Kobus Lombard

Om met ‘n woordmes vlerke te kerf

Louis Esterhuizen gesels met Kobus Lombard

 

 

Kobus Lombard

Kobus Lombard

Kobus Lombard is in 1952 in Waterval-Boven gebore en het as ‘n aangenome kind – uit die Maria Klopper-kinderhuis – in Gobabis, Namibië grootgeword. Nadat hy matrikuleer in Windhoek aan die hoërskool Jan Möhr, voltooi hy sy verpligte diensplig in die SA Lugmag. Hy studeer in die handelswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en doen sy nagraadse studie in sielkunde deur UNISA. Sy loopbaan begin in Kaapstad en hy verhuis in 1980 terug na Namibië. Tans is hy werksaam by die Stadsraad van Windhoek as opleidingsbestuurder en is getroud met Zouna, gebore Joubert. Sy debuut bundel. ‘Geknipte naelstring’, word uitgegee deur Protea Boekhuis in 2001 waarvoor hy in 2003 die kortlys haal vir die Ingrid Jonker-prys. Sy tweede bundel, ‘Tussen wysvinger en duim’ en sy derde bundel, ‘Vlerke vir my houteend’ verskyn onderskeidelik in 2005 en 2010, ook beide uitgegee deur Protea Boekhuis.

 

 

Kobus, jy is etlike jare al woonagtig in Windhoek, Namibië. Ervaar jy dié (relatiewe) isolasie ten opsigte van die literêre aktiwiteit in Suid-Afrika as ʼn frustrasie of pluspunt?

Vir my is dit meer ʼn pluspunt as ʼn frustrasie. Dit gaan vir my oor die balans tussen letterkundige blootstelling en die afstand wat ek as skrywer benodig om te skryf. Dié balans sal beslis wissel van persoon tot persoon. Persoonlik verkies ek heelwat afstand om te skryf. Dit beteken nie dat ek die waarde onderskat om in voeling te bly met letterkundige aktiwiteite en tendense nie. Geleenthede soos die jaarlikse Versindaba, Woordfees en boekepraatjies is beslis verrykend om by te woon. Maar ek wil dit nie noodwendig gereeld bywoon nie. LitNet en Versindaba se webwerwe is eweneens nuttig om te besoek – met die voordeel dat jy die ‘afstand’ maklik kan beheer. In Windhoek is daar ʼn boekbesprekingsgroep wat gereeld nuwe publikasies bespreek. Ek woon dit egter ook nie gereeld by nie, omrede te veel blootstelling aan dié tipe letterkundige ontledings my as skrywer inhibeer.

Vlerke vir my houteend” is reeds jou derde digbundel.  Vertel ons so ietsie oor hoe dié bundel tot stand gekom het en meer spesifiek: die implikasie(s) van die bundeltitel?

Ek kies nooit vooraf ʼn titel of tema  om ʼn bundel oor te skryf nie. Ek skryf gedigte soos hulle hulself by my aanmeld.  Sou daar op ʼn stadium genoeg verse wees om ʼn bundel saam te stel, kyk ek terug om te sien wat die verse sê en probeer dan om dit tematies te orden. Vir ʼn bundel wat oor meerdere temas handel is dit uiteraard moeilik om ʼn oorkoepelende bundeltitel te kry. ‘Vlerke vir my houteend‘ is die titel van ʼn vers  waarmee die “ars poetica” afdeling  afsluit.  Dit dui op die skrywer wat met sy woordmes vlerke vir sy houteend kerf. Die vers poog om iets van die skeppende asook die bevrydende proses  deur te gee. Dieselfde ‘bevrydende’ idee is ook ʼn onderstroming in verskeie ander verse in die bundel. Dit dui op ʼn losmaak van geykte ritmes – om op ʼn ander manier na ou bekendhede te kyk, selfs ook na God, soos byvoorbeeld in ‘Bedelaar’. In dié sin is daar ook ʼn verband  tussen hierdie bundeltitel en die vorige twee bundels. Met ‘Geknipte naelstring‘ het die losmaakproses begin en in ‘Tussen wysvinger en duim‘ lê die antwoord nie meer regoor die wysvinger nie, maar tussen die wysvinger en die duim.

Heelwat van die temas uit jou vorige bundels, “Geknipte naelstring” en “Tussen wysvinger en duim” vind ons weer terug in jou nuutste. In welke mate voel jy is daar ʼn veranderde ingesteldheid jeens dié bekende temas uit jou oeuvre?

Die temas wat deurloop is die religieuse, die ma verse, die Namibiese landskap en die tema oor die lewensloop [veroudering en verganklikheid]. Die veranderde ingesteldheid is waarskynlik die gevolg van ʼn  rypingwordingsproses.  Soos reeds genoem, om met nuwe oë na die reeds bekende te kyk.  Dit lyk my my grense verskuif binnewaarts eerder as na buite.

ʼn Prominente tema in jou digkuns is die kwessie van godsdiensbelewing; dikwels met ʼn ietwat ongewone invalshoek, soos in “Bedelaar“, byvoorbeeld. Kan jy dalk vir ons ʼn kykie gee na jou besonderse godsbelewenis?

Ek is bly jy sê ʼn kykie gee, want ek is steeds nie seker hoe my godsdiensbelewenis werk nie. Lyne wat dalk deurloop is die toenemende besef van my nietigheid voor God [‘Water, hout sand’], die vernuftige [en tipies menslike] maniere waarop ons God probeer beïndruk [‘ Onder die wildevy’] en die feit dat God heel dikwels verrassend naby aan ons is in die alledaagse [‘Beelddraers’].

Nog ʼn tema wat in “Vlerke vir my houteend” ʼn terugkeer maak, is die kwessie van jou twee ma’s. (Ek vind veral die vers “Ma se erflating” ʼn hartskeurmooi vers om die bundel mee af te sluit.) Is daar ʼn bepaalde rede waarom jy soveel prominensie aan die moederfiguur gee in jou verse?

Die twee ma’s in my lewe is my aanneem-ma en my biologiese ma. Met die skryf van my eerste bundel het ek nog nie geweet wie my biologiese ma is nie. ʼn Aangenome kind [so neem ek aan] sal altyd wonder wie sy biologiese ma was. ‘Geknipte naelstring‘ is sterk hieraan ontleen. Tydens die skryf van my tweede bundel is my aanneem-ma oorlede, maar het ek ook die besonderse ervaring gehad om my biologiese ma op te spoor – wat ongelukkig reeds oorlede was. Dit het beslis tot ʼn nuwe ma-hoofstuk in die tweede bundel gelei. Tydens my laaste bundel kon ek my biologiese ma se spore naloop.  ‘Ma se graf’Aletta Johanna se huis’ en ‘Ma se erflating’ vertel iets hiervan. 

Die soeke na my biologiese ma het uiteindelik ʼn wyer soeke geword. ʼn Soeke na basiese antwoorde oor baie dinge. Helaas beїnvloed dit seker die oog waarmee ek dinge waarneem – en uiteindelik daaroor skryf.

ʼn Besonderse toevoeging tot jou nuutste bundel is verse wat as “ars poetica”-verse beskryf kan word. In dié opsig wil ek veral die vers “Visserman” (p. 33) uitsonder; meer spesifiek die reëls “pluk jy nou te sterk / aan sy delikate bek / ontsnap die vangs in vlakker water”.  In resensies oor jou vorige bundels is daar dikwels na jou verse verwys as geskryf in ʼn “sober, gestroopte taal” of “eenvoudige taal met helder beelde”. Is ek korrek dat jy met die gedig “Visserman” die leser júís ʼn kykie wil gee op jou werkswyse as digter?

Die metafoor in hierdie vers is waarskynlik  redelik duidelik, maar dalk kan ek een ooreenkoms tussen verse skryf en visvang uitlig. Dit is die voortdurende [en dikwels delikate] balans tussen geluk en vernuf. Amper iets van die ‘digstring- vraag’ of die vers ‘gegee’ is en of dit die resultaat van swoeg en sweet is. Net soos met visvang dink ek vernuf speel ʼn rol, maar beslis net tot op ʼn punt. Daar is ook die nie-rasionele proses wat ʼn gedig laat ‘gebeur’ – wat vir my nader aan ‘geluk’ as aan vernuf voel. Dis waarskynlik die deel waar die gedig homself skryf [of is dit wat ons die skeppende proses noem?] Enersyds hou dit my as skrywer nederig, in die sin dat as die gedig hom nie wil laat ‘vang’ nie, ek dit nie op ʼn ‘slim’ manier sal regkry nie. Andersyds maak dit my dankbaar, dat al is ek nie so slim met skryf nie, ek soms die geluk het om wel iets raak te sê.

ʼn Vraag wat dan eintlik direk verband hou met bogenoemde, is om te vra watter poësie jy graag lees en welke digter (of digters) jy as ʼn persoonlike gunsteling sal beskou?

In die laaste tyd ruim ek veral tyd in om die nuwe Groot Verseboek te lees – en om dit nie selektief te lees nie. Dis juis om weg te kom van die geneigdheid om net te lees waarvan jy hou. So ontdek ek telkens nog, vir my, onbekende skrywers en veral hoe wyd die grense van die digkuns lê. ʼn Digter wat baie aanklank by my vind, is Dolf van Niekerk – veral sy Karoosange. Dalk omrede ons beide uit (en oor’n droë wêreld skryf, asook sy gesprek met God in die verband. Daniel Hugo se vernuf om met min woorde iets te sê, bly vir my ʼn besonderse vermoë.  

Kobus, jou bundel wemel van treffende verse, juis vanweë die gestroopte en gefokusde aanslag daarvan; iets wat dit lynreg plaas teenoor die kwessie  van praatverse en die oproep tot groter aktualiteit in ons digkuns wat deesdae dikwels in die media bepraat word. Wat is jou siening hieromtrent?

Louis, dankie vir jou waarderende opmerking. Al wat ek hier kan antwoord is dat ek nie op ʼn bepaalde manier probeer skryf nie. Hoe dit ‘uitkom’ is seker  ʼn gevolg van vele invloede, die meeste daarvan onbewustelik. Ook wil ek dit nie volledig verstaan nie, want dit kan met die skeppende proses inmeng. T.o.v. die debat of gesprek waarna jy verwys, sou ek my liefs nie wou waag aan ʼn uitspraak of opinie nie. Ek laat dit vir die letterkundiges.

Dankie vir die geleentheid tot gesprek, Kobus. En veral: Veels geluk met ʼn besonder mooi en treffende bundel. By wyse van afsluiting – en ter wille van die leesnuuskierigheid van lesers – wil ek vra of jy so vriendelik sal wees om ʼn persoonlike gunstelingvers van jou hieronder te plaas.

Van my kant ook baie dankie vir die gesprek. Dit was ʼn goeie geleentheid tot introspeksie. Sterkte met Versindaba se belangrike bydrae tot die digkuns.

              

Ryping

 

somers buig my pen

as dit vrug wil dra

herfs begin my ink vergeel

teen die winter kruip my skryfding

nog dieper in sy dop

 

een lentemôre

loop die ongesegde

soos  bloeisels uit op wit papier

 

(c) Kobus Lombard (Uit: Vlerke vir my houteend, 2010: Protea Boekhuis)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.