Digstring: Pieter Hugo. Honde

Digstring

 

HONDE

 

Ons honde blaf opgewonde

by die voorhekkie toe ek van die werk af kom.

Op die tafel lê ‘n briefie.

 

Hulle smeek keffend vir ‘n stappie.

Ek steek jou briefie in my sak

en ons gaan uit.

 

Die honde blaf uitgelate

toe ek hulle in die park loslaat.

Hulle snuffel oral vir verlore skatte en

ek sit onder ‘n boom en lees jou briefie.

 

Later blaf hulle al om my bene vir aandag.

Ek sit met jou brief,

met die brief in my hande.

 

Die honde blaf heelpad huis toe,

sleep my saam van hek tot hek.

Ek smyt die stuk papier in die drom,

gee die honde kos,

staar na die TV,

klim by jou

reuk in die bed.

 

© Pieter Hugo (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Pieter? Hoe het dit ontstaan?

Ter voorbereiding vir DigBY se poësieslypskool in die winter van 2007, moes ons onder andere ‘n gedig oor diere skryf. Sover ek kan onthou, was dit my eerste dieregedig. Geen wonder die eerste weergawe was afgryslik sleg nie.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Goeiste aarde, nee! Dié vers het deur tientalle weergawes ontwikkel. Dit is maar die proses met die meeste van my gedigte. Behalwe vir die gegewe van die honde en die brief, is daar hoegenaamd geen ooreenkoms tussen die eerste weergawe en die uiteindelik gepubliseerde weergawe nie.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Dié vers was 100% wroeg en sweet.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die vers is klaar, reg en goed. Anders sou ek hom nie vir publikasie voorgelê het nie.

Ordeningsbeginsel? Dis die hele storie van hierdie vers. Ek het aanvanklik begin speel met twee dinge. Eerstens moes daar honde in wees, want ek moes mos ‘n gedig oor diere skryf. Tweedens het ek probeer speel met ‘n vormstruktuur wat nou te ingewikkeld is om hier te probeer verduidelik. (As jy belang stel, gaan lees my blog, “Die geboorte van ‘n gedig“, by die Nuwe Stemme blogs op Versindaba.) Snaaks genoeg, het die gedig uiteindelik eers begin “lewe” toe ek, op professionele aanbeveling en redelik teen my sin, hom van daardie vormstruktuur verlos het.   

Het  jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het ‘n hele arsenaal “klankborde” vanuit ‘n verskeidenheid agtergronde, van “professionele poëte” tot lekepoësieliefhebbers. Terugvoer van ‘n hele handvol plus van hulle, deur verskeie stadia van hierdie vers, het bygedra tot sy vorming.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Van ek dit aanvanklik geskryf het, was dit amper vier jaar tot publikasie, maar die finale (en kardinale) veranderinge het ek gedoen net voor dit ingegee moes word vir publikasie.

Kan jy iets sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Hierdie gedig is suiwer fiksie. Dit is op geen werklikheid, ervaar óf waargeneem, gebaseer nie. Die enigste werklikheidsooreenkoms is dat ek ‘n hond het en soms met hom gaan stap. Jammer, liewe leser, maar ‘n goeie roman kan jou emosioneel aanspreek al weet jy dis fiksie. Waarom nie ‘n gedig ook nie?

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die oomblik van waarheid as jy ‘n “dear Johnnie” van ‘n geliefde  kry, kamma subtiel verdoesel in die alledaagse gebeure van om met die honde te gaan stap.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Niks direk nie. Ek moes die gegewe van die gebeure seker maar iewers uit my ongeordende stoorkamer van geheue, aangehelp met ‘n bietjie verbeelding, gehaal het.

Het  jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

As ‘n mens gedigte skryf is daar mos in elk geval nie veel lesers nie! J Nee, ek werk meestal maar aan ‘n vers vir eie plesier, maar hoop terselfdertyd dat dit darem vir ‘n paar ander mense ook ‘n oomblik se glimlag of traan of frons sal verskaf.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek skryf nie net een soort vers nie, maar hou van speel met verskillende skryfstyle en tradisies, van formele vorme tot vrye verse. Die meeste van my verse, in watter styl dit ook al geskryf is, het wel die deurlopende ooreenkoms van gestrooptheid en, hopelik, gepoleerdheid.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, nie spesifiek nie.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Na al die geswoeg en gesweet met dié een, is ek eintlik verras met hoe goed hy uiteindelik is. Hy het vir lank in my laai van mislukte gedigte gelê, maar gelukkig gooi ek NIKS weg nie (tot my arme vrou se frustrasie). Toe ek weer aan hom begin werk het, het ek, uiteindelik, genadiglik wel daarin geslaag om my aan toepaslike kritiek te steur eerder as hom net weer te versaak.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, hy lok verassend positiewe reaksie uit na publikasie en met voorlesings, veral na sy vroeëre weergawes meestal lou tot negatiewe reaksie gekry het.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons iets daarvan?

Ek kan dit baie goed onthou. Ek was in Standerd 7 (Graad 9) en Aardrykskunde was my gunstelingvak. My ouer broers was al op universiteit en ek het by hulle die studentewoord “blok” geleer. (Ek weet nie of deesdae se studente nog vir eksamens blok en of hulle bloot maar net sit en studeer nie.) Dit was natuurlik eksamentyd en ek het een hele aand se bloktyd omgespeel met die skryf van dié gediggie:

 

ek blok en ek blok

maar die kennis bly

lê soos ‘n blokberg

voor die vlakte van my vaal verstand

 

 

Pieter Hugo

Pieter Hugo

Pieter Hugo: Ek is ‘n pastoriekind, ‘n bibliotekaris en nou, uiteindelik, net-net, ‘n gepubliseerde digter. Overgesetsynde dus, leef ek weens, vir en van die geskrewe woord. Dit doen ek tans in Kaapstad, maar vorige adresse sluit in Beaufort-Wes, Bonnievale, Worcester, Malawi, Stellenbosch (student), Windhoek (kind) en Greyton (baba). 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.