Bernard Odendaal. Prosodieë van hoor en sien

’n Mens hoor nogal dikwels digters sê dat ritme en klank, waarvoor hulle ook musikologiese terme soos “kadans” of “melodie” gebruik, die beginpunt van baie van hulle gedigte is. Lees ’n mens Afrikaanse gidse oor die lees van poësie soos T.T. Cloete se Hoe om ’n gedig te ontleed (1982) en A.P. Grové se Woord en wonder (vierde uitgawe, vierde druk 1977), sien jy dis presies ook die digterlike boustene waarop eerste in húlle gefokus word.

Deesdae dring heelparty besinners oor die poësie – byvoorbeeld Giorgio Agamben in The end of the poem (1999) en Brian McHale in “Beginning to think about narrative in poetry” (2009) – aan dat die wesenskenmerk van dié genre die segmentering tot versreëls is (in onderskeiding van byvoorbeeld prosa, waar die teks ongeveer die hele bedrukbare bladsy dek). Ook Chris van der Merwe en Hein Viljoen, in Alkant Olifant. ’n Inleiding tot die literatuurwetenskap (1998:77), wys op hierdie tendens – hoewel hulleself verder redeneer dat betreklike verskille tussen prosa, poësie en drama, op grond van tradisionele onderskeidings wat al deur die antieke Grieke en Romeine getref is, in terme van ’n paar kriteria aangestip sou kon word: die aard van die kommunikasiesituasie (liriek = monologies, drama = dialogies, verhaalkuns = monologiese of dialogiese inbedding in die vertellersteks), die abstrakte inhoude (epiek en drama mét verhaalstrukture vs. poësie daarsónder), tematiek (poësie = ontboeseming van gevoelens, drama = uitbeelding van handeling en konflik, epiek = beskrywing van karakters en hul doen en late), styl (prosa en drama = nader aan spreektaal, poësie = besonder sterk gestileerd), uitwerking/pragmatiese werking (informatief, oorredend, ekspressief, ontroerend, ensovoorts) en tipografiese vorm (waar die baie wit op die bladsy by poësie opval).

Hulle beklemtoon deurgaans tereg dat sulke kriteria met betrekking tot genretipering soms moeilik steek hou, of glad (nie meer) nie. 

Omdat dit tans so relevant lyk, wil ek in ’n paar blogaflewerings die aandag toespits op tipografiese vorm, met name die ‘afkapping’ tot versreëls, as onderskeidende kenmerk van die digkuns, al dan nie. Ek hoop dat geïnteresseerdes kommentaar sal lewer en sodoende verdere gesprek hieroor aan die gang sal sit.

Dis deur die segmentering tot versreëls dat spanninge tussen sins- en versbou ontstaan en die tegniek van enjambering moontlik gemaak word. Danie Marais, in sy essay “Effe onmusikale worshonde, oftewel die poësie in die raamwerk van die verhalende vers” wat hier gelees kan word, toon aan hoe die fokussering en die tempo in tekste hierdeur geraak word – iets verwant aan sekere verfilmingstegnieke. Die ‘afkapping’ tot versreëls het derhalwe ook ritmiese effekte.

Trouens, dis eintlik nogal ironies dat klank en ritmiek, aan die een kant, en segmentering tot versreëls, aan die ander kant, ’n bietjie tot strydige opinies uitgegroei het oor wat die basiese elemente van die digkuns is. Die vroegste ‘gedigte’ in die literature waarvan ek meer as slegs iets weet, was in die meeste gevalle juis liedtekste; tekste wat vanweë musikale passasiebou – letterlik vanweë die praktiese eis dat by die singery van tyd tot tyd asemgehaal moes word – tot versreëls afgekap is. ’n Versreël het ’n basiese musikaal-ritmiese eenheid voorgestel; strofes groter sulke eenhede.

En eers toe liedtekste so opgeteken, tot boeke saamgestel en sedert die uitvinding van die boekdrukkuns massaal verspreid geraak het – en dus ook ‘gelees’, dit wil sê sonder die musiekbegeleiding ‘gekonkretiseer’ is tot ‘estetiese objek’ (soos resepsie-estetici dit sou stel) – is begin om verdere betekeniswaardes van die tipografiese vormgewing raak te sien.

Twee basiese stelle poësiekenmerke, of twee soorte prosodiese boustene, het herkenbaar geword en is ontwikkel. Die een soort is ouditief van aard (al is dit net met die geestesoor ‘hoorbaar’): die klank- en ritmiese aspekte, wat onder meer metriese en rympatrone inhou. Die ander is met die oog waar te neem: vers-, strofe- en gedigbou (en dus ook enjambemente); die kontoere wat die gedrukte letters teen die agtergrond van die (meestal wit) bladsy vorm (soos by konkrete of kontoerverse); ensovoorts.

Gioia et al. (2004:90-92) skryf oor die Engelstalige versifikasietradisie dat dit tot voor die hoogbloei van die modernisme deur die klankmatig-ritmiese aspekte oorheers is, daarna deur die visueel-prosodiese. “Modernism did not reject auditory prosody, but it developed a rival system based on the visual appearance of the poem on the printed page. If auditory poetry was originally the product of preliterate, oral cultures, the new verse was the result of the typograpic print culture of books, newspapers, and journals. […] The visual arrangement of type on the white space of the page became the canvas on which they worked. […] Poets like [William Carlos] Williams began to arrange their lines on the page in ways that created visual rhythms unlike anything in traditional auditory verse. [E.E.] Cummings and [Ezra] Pound experimented with expressive visual arrangements that were sometimes impossible to read aloud.”

Bostaande is ook in ’n groot mate waar van die Nederlandstalige, en deels ook van die Afrikaanse digkunste.

Vanaf die volgende blogbydrae gaan ek die betekenisimplikasies van segmentering tot versreëls aan die hand van ’n aantal ouer én nuwer Afrikaanse gedigte prakties aan die tand voel.

 

Bronverwysings

Agamben, Giorgio. 1999. The End of the Poem. Studies in Poetics (trans. Daniel Heller-Roazen). Stanford California: Stanford University Press.

Gioia, Dana; Mason, David; & Schoerke, Meg. 2004. Twentieth-century American Poetry. New York, ens.: McGraw-Hill.

Mchale, Brian. 2009. Beginning to think about narrative in poetry. Narrative, 17 (1): 11-30.

Van der Merwe, Chris N. & Viljoen, Hein. Alkant Olifant. ’n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.