Digstring: Kobus Lombard. Kameeldoring

Digstring

 

 Kameeldoring   

kleintyd was jy die agterplaasboom

die klimboom en die tekenboom

vir my dom hande

in ydeler jare was jy net ʼn ver boom

op die horison, ʼn vryboom

met die maan agter sy takke

maar nou is jy die nabyboom –

ons bas het ewe vaal en skurf geword

ons wortels tas na dieselfde kalmte

nes jy moet ek my kroon vol dorings

met gekromde arms dra

 

(c) Kobus Lombard (Uit: Vlerke vir my houteend, 2010: Protea Boekhuis)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Kobus? Hoe het dit ontstaan?

Ek skryf ʼn datum by die ontstaan van elke gedig neer. Op daardie stadium is dit nog die eerste handgeskrewe poging. Hierdie gedig se geboortedatum is 25 November 2008. Die rypwording van ʼn gedig loop egter sy eie onsigbare pad binne in/deur jou ervaringswêreld. Wanneer dit gaan ontstaan, weet jy nooit. Vir lank het ek probeer om in gesprek te tree met ʼn kameelboom -‘n boom wat seker elke Namibiër na aan die hart lê. Maar nooit wou ‘n vers na my toe kom nie. Ek dink dis omdat ʼn kameelboom te ‘groot’ en oorweldigend is. Eers toe ek net na sy bas begin kyk, selfs net elemente daarvan, kon ek iets begin verwoord. Dis dalk hoe gedigte met my werk. Ek moet eers oor die splinters begin skryf voor ek iets oor die boom gesê kry.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Min verse is ooit reg gebore. Ek dink omrede hierdie vers lank rypgeword het, het dit redelik na aan sy finale vorm uitgekom. Ek behou die verskillende weergawes van elke gedig (handgeskrewe en per rekenaar), want soms wil ek teruggaan na die oorspronklike teks. ʼn Vroeëre sleutelwoord of frase kan jou weer op die spoor plaas. Maar die afrond van ʼn paar klein aspekte vat soms veel langer as die herskryf van groter gedeeltes.

Hierdie vers spesifiek wou my verlei om te veel te sê – veral omrede die boom so lank al met my praat en die sentiment daaraan baie sterk is. Die afrond was dus veral die wegsnoei van onnodige of té lowerryke takke.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

ʼn Kameeldoringboom groei onwillekeurig in elke Namibiër. In dié sin is die vers vir my gegee. Hoe dit egter in elkeen van ons groei, sal verskil soos wat elke boom se krommings verskil . Swoeg en sweet is deel van skryf – of seker van enige vaardigheid se toepassing. Of die swoeg en sweet ‘swaar’ gaan wees, hou verband met hoe na die vers aan jou hartsnare lê. In hierdie geval was daar darem ʼn  effense soutsmaak aan die sweet.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Redigering hou bykans nooit op nie, maar iewers voel jy aan dat verdere afronding eerder skade gaan doen as waarde toevoeg.  Meestal sit ek gedigte lank neer om eers weer vars oë daarvoor te kry. Hierdie spesifieke vers het ʼn volle jaar ‘gerus’ voor finale afronding. Teen die einde het dit sterk sy eie loop geneem – homself klaar geskryf. Die slot het sterk ‘toegemaak’, wat my ʼn gevoel van finale vorm gegee het.

Met die eerste skryf is die ordening sekondêr, sodat die gedagtes vry kan vloei – liefs ongeorden. Met die afronding kan die linkerbrein met ordening help. Omrede ek van nature redelik sistematies is, moet ek doelbewus waak teen te vroeë ordening. Elke skrywer moet homself ken in die opsig. Die ordening in hierdie gedig hou verband met die fases van ouer word.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek wys nie graag ʼn vers aan iemand in die vroeë stadium van skryf nie. Die gevaar bestaan dat hy/sy jou vers se vonk steel (of blus) nog voor dit vers kon word – al is dit ook met goedbedoelde kommentaar. Wanneer ʼn aantal verse redelik ‘klaar’ geskryf is, soek ek ʼn klankbord. My vrou Zouna is ʼn goeie klankbord omrede sy nie huiwer om eerlike terugvoer te gee nie. Verder gee ek my gedigte vir ten minste een ‘kundige’ in Windhoek voordat ek die finale afronding doen. Meerdere letterkundige opinies trek soms in te veel rigtings en dra nie positief tot afronding by nie. 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers is eers in September 2009 voltooi en verskyn in die bundel “Vlerke vir my houteend’ wat in Februarie 2010 gepubliseer is.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Soos genoem het die vers sy ontstaan uit my eie omgewing en ervaring. Die boom was fisies teenwoordig deur my hele lewe, so ook my ervaringe rondom die boom. Op die stadium dat ek één word met die boom, gaan die vers seker oor na fiksie. Is dit hoe ʼn metafoor werk? Die letterkundiges moet maar help!

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die vers probeer m.i. aandui hoe ek met die kameelboom identifiseer het deur die verskeie fases van my lewe. In vroeëre stadia het die boom bepaalde rolle vervul [om in te klim, dit te teken of agter hom te vry]. Uiteindelik, soos ons albei ouer geword het, raak die identifikasie só nou dat ek bykans een word met die boom. Selfs die gehardheid wat hierdie semi-woestynland vra van mens en natuur [plante], word ʼn gemeenskaplikheid tussen my en die boom. Hierdie is maar een interpretasie van die vers. Hopelik leen die vers hom tot nog wyer interpretasie(s) deur die leser.  

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Baie dinge uit jou omgewing neem jy aanvanklik as van selfsprekend – soos ʼn kameeldoringboom. Dan op ʼn dag tref die besondersheid daarvan jou. Dié tipe waardering kom seker met die ouderdom en met die besef van verganklikheid. So ek het die kameelboom as’t ware herontdek op ʼn latere tydstip in my lewe.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Met die aanvanklike skryf dink ek nie bewustelik daaraan nie. Dit kan inhiberend wees. Maar ek vra myself na die tyd af of die deursnee leser sal kan identifiseer met dit wat ek wou sê. Skrywers het seker almal ʼn onsigbare luisteraar vir hy hy/sy iets wil vertel. Hoekom wil jy dan iets sê as jy dit vir niemand wil sê nie?

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Die vers is in lyn met verskeie van my ander verse – wat op terugskouende wyse probeer klaarheid kry oor ons lewensloop. In die laaste bundel sluit dit veral aan by die idee om nie antwoorde te ver te soek nie – dis dikwels verkrygbaar onder ʼn boom op jou eie werf.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Soos reeds gesê, is die Kameeldoringboom tipies Namibies – en seker ook Suid- Afrikaans. Die ander beelde in die vers kan met enige boom verbind word.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Hierdie vers het my die gevoel gegee dat dit klaar geskryf is – of moet ek sê dat hy homself klaar geskryf het. Dit was een van die ‘gelukkige’ verse wat tot en met die finale redigering nie veel moes verander nie.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het nog nie spesifieke terugvoer oor hierdie vers gekry na publikasie nie. Tydens die finale afronding het dit ʼn regmerk gekry sonder spesifieke kommentaar. Die tipe reaksie kan bedrieglik wees.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was ʼn liefdesvers tydens my tweede jaar op universiteit. Begin ons nie maar almal so nie? Ek het nooit die moed gehad om dit vir haar te wys nie. Die gogga wat toe gebyt het was meer ʼn liefdesgogga as ʼn skryfgogga.

 

 

Kobus Lombard

Kobus Lombard

KOBUS LOMBARD is in 1952 in Waterval-Boven gebore en het as ’n aangenome kind – uit die Maria Klopper-kinderhuis – in Gobabis, Namibië grootgeword.

 

 

Nadat hy matrikuleer in Windhoek aan die hoërskool Jan Möhr, voltooi hy sy verpligte diensplig in die SA Lugmag. Hy studeer in die handelswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en doen sy nagraadse studie in sielkunde deur UNISA. Sy werkloopbaan begin in Kaapstad en hy verhuis in 1980 terug na Namibië. Tans is hy werksaam by die Stadsraad van Windhoek as opleidingsbestuurder en is getroud met Zouna, gebore Joubert. 

Sy debuut bundel. ‘Geknipte naelstring’, word uitgegee deur Protea Boekhuis in 2001 waarvoor hy in 2003 die kortlys haal vir die Ingrid Jonker-prys. Sy tweede bundel, ‘Tussen wysvinger en duim’ en sy derde bundel, ‘Vlerke vir my houteend’ verskyn onderskeidelik in 2005 en 2010, ook beide uitgegee deur Protea Boekhuis.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Bookmark and Share

Comments are closed.